Vryspraak, verbondsgemeenskap en vryheid
Nadat Paulus in hoofstuk 2 sy greep op die evangelie verdedig het, raak hy drie kernsake in die res van die brief aan:
- die vryspraak (of regverdiging, d.w.s in die regte verhouding met God gebring) wat God aan gelowiges gee in Christus Jesus (Gal. 3:1-4:20),
- die verbondsgemeenskap wat Hy deur sy Gees tussen gelowiges skep (Gal. 4:21-5:12) en
- die vryheid wat gelowiges geniet van beide die Joodse wet sowel as die sondige lewenswyse van die heidene (Gal. 5:13-6:17).
Hierdie gawes van God word deel van gelowiges se lewens op grond van die historiese kruisdood en teenswoordige opstandingslewe van Christus Jesus (Gal. 2:19b-20) sowel as deur die kragtige toerustende en bemagtigende werk van die Heilige Gees in hulle lewens (Gal. 3:5; 5:25).
En die radikale betekenis en impak hiervan mag onder geen omstandighede verswak word deur weer die wet te probeer onderhou (Gal. 2:16) en/of in eie krag te lewe nie (Gal. 3:3). Dan plaas jy jouself immers weer onder die vloek van die (nakoming van die) wet (Gal. 3:10) en is jy uitgelewer aan die begeertes van jou sondige natuur (Gal. 5:16-18).
Daarom skryf Paulus met soveel passie en dringendheid: die evangelie is op die spel. Die vryspraak van God wat jou in die regte verhouding met Hom bring, die verbondsgemeenskap met Hom en mekaar wat ‘n nuwe lewensgemeenskap skep en die vryheid wat Christus deur sy Gees gebring het en ‘n ander lewenswyse moontlik gemaak het, is in gedrang.
En dit is nie net ’n teoretiese stuk lering nie. Dit is van deurslaggewende praktiese belang vir die gelowiges wat uit die heidendom kom. Hulle is juis verbondsgemeenskap ontsê deur sommige gelowiges uit die Joodse geledere en nie as ware kinders van Abraham gereken nie. Daarom dat Paulus soveel tyd spandeer aan sy lering oor wie deel het aan die belofte van Abraham (die woord Abraham word 9 keer gebruik in die brief), wie geloof het soos Abraham en wie sy kinders is. En telkens spel hy dit uit dat die gelowiges uit die heidendom volledig deel van die verbondsgemeenskap geword het. Hulle is kinders van Abraham (Gal. 3:29).
Geen wonder dat Luther so baie van hierdie brief gehou het nie. Dit is aan die een kant ’n baie suiwer uiteensetting van die evangelie, maar aan die ander kant ook van groot praktiese betekenis. Hy noem Galasiërs: “my own epistle, to which I have plighted my troth; my Katie von Bora” (sy vrou – aangehaal in Longenecker, Richard N.: Word Biblical Commentary : Galatians. Dallas : Word, Incorporated, 2002 (Word Biblical Commentary 41).
View all posts in this series
- Aan die Galasiërs - October 7, 2010
- Die hart van die Christelike geloof - October 8, 2010
- Vryspraak, verbondsgemeenskap en vryheid - October 11, 2010
- Lees, Luister, Leef - October 12, 2010
- Paulus en sy briewe - October 13, 2010
- Leesplan
- Galasiërs 1-2 – om met vertroue, verwagting en volharding te leef - October 14, 2010
- Galasiërs 3:1-4:20 – VRYSPRAAK: dié wat glo, is kinders van Abraham - October 15, 2010
- Galasiërs 4:21-5:12 – VERBONDSGEMEENSKAP: geloof wat deur dade tot liefde oorgaan - October 18, 2010
- Galasiërs 5:13-6:17 – VRYHEID: dra die vrug van die Gees in die gemeenskap van gelowiges - October 19, 2010
- Die wet in die 3 Formuliere van Eenheid - October 21, 2010
- Thabiti Anyabwile | Gospel Freedom, Gospel Fruit | Galatians 5 - April 18, 2017
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Onlangse kommentaar