Efesiërs 4:17-5:20 – Die Heilige Gees vervul ons om heilig en in liefde te leef
‘n Heilige lewe – 4:17-24
Dit is interessant vir my dat Paulus se appèl op ‘n heilige lewe (vers 24) gebaseer is op wat God reeds vir hulle gedoen het (vers 20), en wat in die kerk se groei na Christus toe geïllustreer word (vers 15-16).
Paulus sê nie vir hulle: kry julle lewens reg sodat julle deel van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges kan word nie. Hy sê in teendeel: julle is deel van die kerk en van die gemeenskap van gelowiges – tree dan op as mense van wie dit waar is. Dit is ómdat ons die Here leer ken het, en ómdat ons in ‘n gemeenskap van gelowiges tereg gekom het, dat ons eintlik nie anders kan as om regtig te breek met die ou sondige mens in ons, en ons gees en gedagtes nuut kan word.
Ons roeping om as nuwe mense te lewe wat na die beeld van God gespek is, begin by ons insluiting in die liggaam van Christus, iets wat God in ons lewens bewerk het. En dit help my verstaan dat veroordeling van mense vir hulle onkunde of selfs losbandigheid (vers 19) nie help nie, want daardeur druk jy mense weg van presies die plek waar hulle kennis en genesing kan kry. Wat wel ongelooflik belangrik is, is dat ons ‘n ernstige beroep op mense kan maak (wat onkundig of losbandig lewe) dat hulle moet optree soos hulle Christus leer ken het, en moet breek met dít wat na regte agter hulle lê.
‘n Lewe in liefde – 4:25-5:5
Paulus brei hier uit op hoe só ‘n lewe lyk. En hy fokus op baie praktiese aspekte:
- Om die waarheid te praat, veral omdat ons een familie is (vers 25);
- Om nie te sondig as jy kwaad raak, en veral nie lank kwaad te bly nie (vers 26-27);
- Om hard te werk sodat jy iets het om die armes mee te dien (vers 28);
- Om opbouende gesprekke te voer (vers 29);
- Om die Heilige Gees toe te laat jou lewe te beheer (vers 30);
- Om niks te doen wat sleg is nie (vers 30);
- Om goedgesind en hartlik te wees (vers 32);
- Om in liefde te lewe, soos God dit vir ons ‘n voorbeeld gegee het (5:1-2);
- Om soos heiliges (dit is die Griekse woord wat met gelowiges vertaal is) te lewe (5:3-5).
Dit herinner aan Paulus se woorde aan die gemeente in Filippi (4:4-9).
Vervul met die Heilige Gees – 5:6-20
Paulus gebruik die baie bekende metafoor van die verskil tussen lig en duisternis om die Efesiërs te help onderskei tussen die onwaarhede waarmee mense baie keer vir ons probeer mislei. ‘n Eenvoudige maatstaf is of ‘n spesifieke optrede in die lig gedoen kan word, en of jy dit eerder in die donker wil doen, en wil hê dat ander mense nie daarvan weet nie. Laat ‘n mens dink aan die riglyne vir Corporate Governance (King) wat insluit dat iets wat jy in ‘n maatskappy doen aan die volgende vier toetse onderwerp moet word: deursigtigheid, verantwoordbaarheid, verantwoordelikheid, en billikheid.
Maar dit gaan nie net om ‘n eie onderskeiding wat jy moet aanlê om te weet of jy iets mag of nie mag doen nie. Dit gaan oor die liggaam van Jesus Christus wat saam onderskei – let op die meervoud van die voornaamwoorde wat Paulus hier gebruik: “moenie dat iemand julle mislei nie”, Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is”. En daarby moet die lig laat skyn word op dié dinge wat eerder in die geheim en in die donker gehou wil word.
“Wees baie versigtig hoe julle lewe” – vers 15 – veral deur te wete te kom wat die Here wil dat julle moet doen (vers 17).
Vanuit hierdie perspektief van ‘n heilige lewe, wat in liefde geleef word, verstaan ‘n mens dat Paulus se opdrag om die Heilige Gees toe te laat om hulle te vervul die enigste manier is waarop heiligheid en liefde ‘n werklikheid kan word (vers 18). Let ook op dat dit nie net oor die Gees gaan nie, maar ook oor Jesus, die Here (sing tot sy eer), en ook oor die Vader (dank Hom oor alles).
View all posts in this series
- Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012 - December 9, 2011
- Handelinge 18:18-19:40 – God doen wonderbaarlike dinge in Efese - January 31, 2012
- Handelinge 20:17-38 – Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang - February 1, 2012
- Efesiërs 1:1-23 – God seën ons om alles in almal te vervul - February 2, 2012
- Efesiërs 2:1-22 – God woon in die gemeenskap van gelowiges - February 3, 2012
- Efesiërs 3:1-21 – God vervul ons met krag, geloof, liefde, insig, ervaring en Sy volheid - February 6, 2012
- Efesiërs 4:1-16 – Om saam in alle opsigte te groei na Christus toe - February 7, 2012
- Efesiërs 4:17-5:20 – Die Heilige Gees vervul ons om heilig en in liefde te leef - February 8, 2012
- Efesiërs 5:21-6:9 – Ander se belange word eerste gestel in die huwelik, gesin en werkplek - February 9, 2012
- Efesiërs 6:10-24 – Soek julle krag in die Here en in sy groot mag - February 10, 2012
- Selfopofferende versus selfbevredigende liefde - July 5, 2016
Cliff Lotter
wat beteken Paulus as hy die word “onsedelik” gebruik? Defineer asseblief.
Chris van Wyk
Paulus kontrasteer in Efesiërs 5:1-5 selfopofferende liefde met selfbevredigende liefde.
* Selfopofferende liefde is geskoei op die liefde van Jesus wat Homself vir ons aan die kruis opgeoffer het. Dit het geen seksuele konnotasie nie.
* Selfbevredigende liefde daarenteen is geskoei op die liefde vir jouself en die bevrediging van jou eie behoeftes. Dit het veral met seksuele begeertes te make.
“Onsedelikheid” in dié konteks is dus om seksueel immoreel op te tree, d.w.s. sonder geestelike of morele waardes.
Die Griekse woord wat hier gebruik word, is akatharsia en word behalwe in Efesiërs 3:5 ook op die volgende plekke gebruik:
* 1 Tessalonisense 4:7 – “onsedelik” (dit word hier gekontrasteer met ‘n heilige lewe);
* Galasiërs 5:19 – “onreinheid” (die eerste woord “onsedelikheid” word vir ‘n ander Griekse woord “porneia” gebruik wat telkens saam met “akatharsia” in die NT ingespan word);
* 2 Korintiërs 12:21 – “onreinheid”;
* Romeine 1:24 – “sedelike onreinheid” (waar dit in die konteks met onder andere selfdegeslag seksuele gedrag verbind word);
* Romeine 6:19 – “sedelike onreinheid” (waar dit in die konteks saam met wetteloosheid en losbandigheid gebruik word);
* Kolossense 3:5 – “onreinheid” (weereens in kombinasie met “porneia” – “onsedelikheid”);
* Efesiërs 4:19 – “losbandigheid” (“‘n onversadigbare draang aan losbandigheid” in kombinasie met “alles wat vuil is”).
* Openbaring 17:4 – “onreinheid” (hier word die verwante Griekse woord akathartes gebruik in die frase: “die onreinheid van haar onsedelikheid”, weereens in kombinasie met die ander woord vir “onsedelikheid” – “porneia”)