Handelinge 18:24-19:20 – God doen wonderlike dinge deur Paulus in Efese

Paulus begin sy derde sendingreis amper ongemerk.  Nadat hy Jerusalem besoek het – ons weet nie waarom nie – is hy terug Antiogië toe, waarskynlik om terugvoering te gee en ’n tyd lank die gemeente te bedien.  Maar dan vertrek hy weer op ’n geestelike reis van versterking.

Die groot fokuspunt op hierdie reis is Efese.  Eers doen Apollos groot werk, en sit dit voort met die ondersteuning van die gelowiges in Korinte soos ons hier lees en ook later in die Korinte brief (1 Kor 3:1-9 – waar Paulus hulle bediening vergelyk, maar ondergeskik maak aan die groei wat God gee) waarna Paulus self ’n twee jaar in Efese spandeer.

Interessant is die onderwerp van die doop van Johannes wat Lukas hier aanraak, eerstens in die verhaal van Apollos, wat dieper ingelei word in die betekenis van die evangelie van Jesus, en tweedens in die verhaal van die groepie dissipels (die is die woord wat hier met gelowiges vertaal word) in die binneland, wat nog in die verwagting van Jesus en die Gees gelewe het, soos Johannes die Doper dit verkondig het, en nou beide die doop met water en die gawe van die Heilige Gees ontvang.  Let op dat hulle altesaam omtrent twaalf was, wat herinner aan die aanvanklike twaalf dissipels wat Jesus gekies het.

Paulus doen vir nog twee jaar groot werk hier (in totaal uiteindelik 3 jaar lank – Hand 20:31), aanvanklik in die sinagoge, en later in die saal van Tirannus.  Let op hoe die wonderdade wat God deur Paulus doen, uitgelig word, selfs deur sy klere, net soos dit vroeër van Petrus gesê is (selfs sy skaduwee – Hand 5:12-16) en van Jesus (ook sy klere – Mark 5:27; 6:56).  Dit word skerp gekontrasteer met mense wat munt wil slaan uit die nuwe godsdiens, en dan erg uitgevang word as skynheiliges en bedroë daarvan afkom.

Die effek op die stad is dat baie tot bekering kom en afstand doen van hulle bose werke.  Daarmee is die towergodsdiens van Efese ’n gevoelige slag toegedien.  En Lukas sluit hierdie beweging van die Gees daarmee af, waarna die reisverhaal in ‘n verhoor sal eindig en die volgende grens oorgesteek word, dié na Rome toe.

View all posts in this series

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: