Die hart van die Christelike geloof
Onthou dat dit nog in die vroeë jare van die vestiging van die Christelike geloof was, skaars 20 jaar na die kruisdood en opstanding van Jesus Christus. Daarom verdedig Paulus nie net sy apostelskap in hierdie brief nie (“Ek is … aangestel … deur Jesus Christus en deur God die Vader” – Gal. 1:2), maar ook die evangelie (“Jesus Christus het dit in ’n openbaring aan my gegee” – Gal. 1:12), veral teen die bedreiging wat sekere Joodse gelowiges se idees oor die belang van hulle kultuurgebruike vir die kerk in die breë gehad het.
Joodse kultuurgebruike?
Een van die kernvrae vir die kerk was: Moet Christene uit die heidene ook die Joodse kultuurgebruike – soos die wet dit voorskryf – aanneem of nie? D.w.s., moet gelowiges uit die heidene 1) besny word, 2) volgens die Joodse eetgewoontes leef, en 3) die Joodse feeste vier, waarvan die Sabbat die belangrikste viering was.
Sommige Joodse Christene het gedink dat die Joodse besnydenis, dieet en feeste lewensbelangrik was vir gelowiges uit die heidene. Paulus het hom egter vurig daarteen verset en wys met hierdie brief die gevaar van só ’n standpunt onomwonde uit. Die nuwe bedeling draai om geloof in Jesus Christus en het afskeid geneem van ’n godsdiens gebaseer op die wet (besnydenis, dieet, feeste). Ons leef nou in die bedeling van die Gees. En almal wat in Christus is, is kinders van Abraham en daarom deel van die een Godsvolk.
Dit is die evangelie, en enigiemand wat 1) Joodse kultuurgebruike op ander af forseer of 2) hulleself afskei van mense wat nie die kultuurgebruike nakom nie (Petrus!) rand die evangelie aan. Dit is die hart van die Christelike geloof en die hart van die boodskap van hierdie brief aan die Galasiërs.
Geen wonder dat Paulus kort hierna – as ’n mens aanvaar dat die brief op sy eerste sendingreis geskryf is aan die suidelike etnies-geografiese gebied, Suid-Galasië-teorie – saam met ander gelowiges van Antiochië in Sirië na Jerusalem toe is om uitsluitsel oor hierdie brandende vraag te kry. En soos Lukas in Handelinge 15 vertel, het hierdie vergadering van gelowiges besluit om gelowiges uit die heidendom nie te dwing om die Joodse kultuurgebruike na te kom nie, soos Paulus inderdaad geleer het.
Daarom bly die Galasiërbrief so belangrik vir die kerk deur die eeue. Telkens as mense afdwaal van die kern van die Christelike geloof deur ander (kultuur) reëls neer te lê vir die Christelike lewe of hulleself afskei van mense wat nie soos hulle leef nie, herinner hierdie brief ons om ons eenheid te soek in ons geloof in Christus, en nie in ons kultuureie nie.
View all posts in this series
- Aan die Galasiërs - October 7, 2010
- Die hart van die Christelike geloof - October 8, 2010
- Vryspraak, verbondsgemeenskap en vryheid - October 11, 2010
- Lees, Luister, Leef - October 12, 2010
- Paulus en sy briewe - October 13, 2010
- Leesplan
- Galasiërs 1-2 – om met vertroue, verwagting en volharding te leef - October 14, 2010
- Galasiërs 3:1-4:20 – VRYSPRAAK: dié wat glo, is kinders van Abraham - October 15, 2010
- Galasiërs 4:21-5:12 – VERBONDSGEMEENSKAP: geloof wat deur dade tot liefde oorgaan - October 18, 2010
- Galasiërs 5:13-6:17 – VRYHEID: dra die vrug van die Gees in die gemeenskap van gelowiges - October 19, 2010
- Die wet in die 3 Formuliere van Eenheid - October 21, 2010
- Thabiti Anyabwile | Gospel Freedom, Gospel Fruit | Galatians 5 - April 18, 2017