Skip to main content

1 Timoteus 5:1-25 – Om met oorleg mekaar te onderskraag

Paulus vervolg om vir Timoteus spesifieke werkswyse uit te spel wat hy kan volg ten opsigte van die gemeente, met spesiale aandag aan sy hantering van die geestelike leiers.

Onderlinge onderskraging

Die woord parakaleoo  wat hier met vermaan vertaal word, kan ook met bemoedig of vertroos vertaal word, of selfs met die woord onderskraging.  Dit is die woord wat ook vir die Heilige Gees se werk gebruik word (Johannes noem Hom die Paraklêtos wat met Voorspraak of Trooster vertaal word Joh 15:26, 16:7).  Dit is ook die woord wat vir Jesus Christus se bemoedigende en vertroostende werk in ons lewe gebruik word (Fil 2:1 – “troos in Christus” – paraklêsis).

Om mense te parakaleoo beteken dus om nie soos ‘n ton bakstene op hulle af te kom oor iets wat verkeerd gaan of waaroor verskil van mening bestaan nie.  Dit is om langs iemand te gaan staan, as’t ware jou arm om haar of sy lyf te slaan, en saam die pad na die heelheid wat God bring, te bewandel.

Daarom beklemtoon Paulus dat ‘n mens optree soos jy dit in jou eie familie sou gedoen het.  Hy vra van Timoteus dat hy sy eie pa, ma, susters en broers in gedagte moet hou, as hy moet vermaan, bemoedig of vertroos.  Veral teenoor jonger vroue kon sy naam in diskrediet kom, vandaar die opdrag om hulle soos sy susters, in alle eerbaarheid te hanteer.

Weduwees

Weduwees was meesal afhanklik van die gemeenskap vir versorging, en het daarom spesiale aandag geverg.  Trouens, dit was een van die eerste dinge wat die gemeente in Jerusalem gedoen het, om deeglik te voorsien in die daaglikse voorsiening van die Griekssprekende sowel as die Hebreeuse weduwees (Hand 6).  Timoteus moes dus spesifiek omsien na dié wat werklik alleen was, en nie ander hulp gehad het nie, as’t ware die barmhartigheidsdiens goed laat funksioneer.

Dit lyk of sommige van dié weduwees ‘n besondere plek in die gemeente gehad het, en op ‘n lys van dienende weduwees gekom het, ‘n soort “orde van weduwees”.  Daar is twee maniere om oor hierdie lys te dink.  Dit kan wees dat hulle werk soortgelyk aan die ouderlinge gedoen het, met ‘n spesifiek fokus op gebed, versorging en barmhartigheid. Dit kan ook wees dat hulle doodgewoon gekwalifiseer het om deur die gemeente versorg te word, en só onderskei is van bv jonger weduwees wat nie dieselfde hulp kon geniet nie.

Let op die verwysing na voetewas, waarin dit duidelik is dat die voorbeeld van Jesus as model voorgehou en nagestreef is in die vroeë kerk.

Ouderlinge

Hier spel Paulus ‘n bietjie meer uit van die werk van die ouderlinge.  Let op dat dit prediking insluit, nie net onderrig en leierskap nie.  Gerus iets wat ons in ons hantering van die ampte in ons onderskeie kerke kan navolg!  En hulle is as arbeiders hulle loon werd, eintlik dubbeld, as hulle goeie leiding gee, wat waarskynlik beteken dat hulle ook vergoed is op een of ander manier, as ‘n mens die metafoor van die bees wat graan dors ernstig neem.

Timoteus moet homself ook hier instel om dié ouderlinge met eerbied en waardering te hanteer, maar tog ook reg te help waar dit nodig sou wees.

Ander opdragte

Timoteus se eie karakter en lewe bly egter sentraal in die uitvoering van sy roeping.  En dit moet wys in sy hantering van mense: sonder vooroordeel en onpartydig.  En soos hy oorleg moet toon in sy hantering van mense wat te oorhaastig tot die bediening wil toetree, moet hy dit ook toon in die manier waarop hy leef, om gesondheid na te streef.  Die voorskrif vir wyn was ter wille van herhaalde ongesteldhede, moontlik as gevolg van ‘n te asketiese lewenstyl van Timoteus.

Dit is tog interessant hoe Paulus eintlik hier vir Timoteus sê: haas jou langsaam.  Moenie te gou bevestig nie – wag tot iemand se verbintenis aan sy roeping baie duidelik is.  Moet ook nie te gou oordeel nie – wag tot die persoon se eie lewe wys wat in sy hart aan die gang is, voordat jy optree.

Timoteus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on 1 Kronieke 28-29Groete!
  • Wansen Engelbrecht on 1 Kronieke 28-29Baie dankie. Groetnis Wansen Engelbrecht Klerksdorp
  • Chris van Wyk on Genesis 1:1-2:3Is dit op 'n selfoon?
  • Johan Kirsten on Genesis 1:1-2:3Middag Chris. Ek merk dat as jy op die "menu" hierbo tik, die blok wat aan die linkerkant verskyn, blanko is. Daar is wel "onsigbare" skakels wat jou na die verskillende bladsye neem. Groete. Johan
  • Chris van Wyk on Psalm 11Dankie, Jenny. Ek het self weer baie moed uit dié Psalm 11 gekry. Veral uit die feit dat ons nie baie beheer het oor die fondamente nie, maar op God kan vertrou wat opregtes suiwer en goddeloses skroei, soos dit in die laaste deel van die Psalm uitgespel word. God kan oneindig meer doen as wat ons k…
  • Jenny on Psalm 11Baie dankie vir die boodskap wat weereens soos vorige boodskappe my help om deur baie swaar tye te kan kom. Die laaste jaar is daar so baie berge wat my toesak dat ek net kan vasklou aan God se woord en U maak dit makliker om sekere dinge beter te verstaan en net aan te hou glo en vertrou. Baie dank…
  • Chris van Wyk on Die Twaalf Kleiner ProfeteDankie Johan, waardeer.
  • Johan v Zyl on Die Twaalf Kleiner ProfeteHi Chris net so baie dankie vir die enorme werk wat jy in Bybelskool doen. Ek gebruik dit elke dag in my bediening hier in Lichtenburg Klipkerk. Ek het op 60 die Bybel herontdek met nuwe passie . Jesusliefde Johan v Zyl
  • Chris van Wyk on Salwing in die BybelEk is bly, Stoffie, dat ek kon help. Die waarhede in die Skrif is ons diepste en enigste beskerming teen dwaling.
  • Stoffie Van Dyk on Salwing in die BybelEk het die afgelope Sondag 'n diens bygewoon wat my baie ontstem het - mense in die gehoor is gesalf deur 'n "profetes", en snaakse dinge het gebeur. Hierdie hele skrywe oor die salfgebruik, en van die antwoorde op vrae was vir my baie leersaam omdat dit vir my Skriftuurlik is. Baie dankie
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 18Dankie Lesley, waardeer.
  • Lesley Barnard on 2 Samuel 18Pragtig, ñ mooi toepaslike verduideliking.
  • Chris van Wyk on 2 Samuel 17Hi Hettie. Daar is twee letters in Hebreeus wat amper dieselfde geskryf word, maar verskillend uitgespreek word. Daar is die normale h wat uitgespreek word soos ons dit normaalweg doen. Dan is daar egter ook die letter ḥ (geskryf met 'n h met 'n punt onder) wat anders uitgespreek word. Die uitspraak…
  • Hettie Swart on 2 Samuel 17Baie dankie vir die oopbreek van die Woord. Ek sien dat my Bybel 35 vertaling na Husai verwys en nie Gusai soos in die Bybelstudie aangetoon word nie. Is dit verskillende uitsprake vir dieselfde mens? Help my reg asseblief.
  • Chris van Wyk on Josua 2 – Ragab se ontsag vir Jahwe spaar die verkenners se lewe👍