2 Korintiërs 1:1-2:11 – God gee moed in elke omstandigheid

Paulus noem homself, soos in 1 Korintiërs 1, weereens ‘n apostel van Christus, deur die wil van God, maar skryf die brief saam met Timoteus (wat vroeër na hulle gestuur is – 1 Kor 4:17), nie Sostenes nie.  Die brief is ook nie net aan die Korintiërs gerig nie, maar aan almal wat aan God behoort in die hele Agaje – die Romeinse provinsie in die suide van Griekeland, waarvan Korinte die hoofstad was (Masedonië was die noordelike provinsie).  ‘n Mens sien hier dus ook die eerste brief wat vir meer gehore bedoel is, wat God se gesagvolle boodskap aan die kerk in die breë oordra, wat in ‘n sekere sin die geboorte van die Nuwe Testament was soos ons dit vandag ken.  Ons lei ook af dat die evangelie verderaan in Agaje verkondig is, waarskynlik met Korinte as basis.

Let op hoe spesifiek Paulus die ontferming van God aan sy Vaderskap verbind, ‘n metafoor wat hy reeds in 1 Tes 2:11 op sy eie bediening van toepassing gemaak het.  Hy wat die begin is van alles, en oor alles is, is die Een wat in elke omstandigheid, in elke moeilikheid vir ons bemoedig.  Die moeilikheid is natuurlik ter wille van die boodskap van Christus, net soos die bemoediging ook deur Christus gegee word.  Die werk in die belang van Christus, word aan die bemoediging wat Hy gee, gekoppel.  Alles geskied dus in ‘n intieme verhouding met Christus.  En dié bemoediging is bedoel nie net vir onsself nie, maar ook sodat ons ander kan bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer om lyding met geduld en volharding te verduur.  God red immers nie UIT die nood nie, maar IN die nood (vgl hoe Paulus hieroor skrywe in 2 Kor 12, dat as hy swak is, is hy sterk, want dan kom God se krag tot sy volle werking).

Paulus skryf oor die swaarkry wat hulle verduur het in die provinsie Asië – moontlik verwys hy na die oproer in Efese (Hand 19:21 vv en 1 Kor 15:32) – en dat dit so erg was dat hulle selfs die hoop op lewe laat vaar het.  Maar God het hulle uit die doodsgevaar gered wat hulle nie net met blydskap gevul het nie, maar ook die hoop gegee het dat Hy hulle ook verder sal red.  Interessant is dat hy krediet gee vir hulle gebede vir hom, want dié gebede het meegewerk tot hulle redding.

Paulus beweeg dan aan na ‘n lang verduideliking van die verandering in sy reisplanne, waarmee hy sy integriteit probeer aantoon deur na sy openhartigheid en eerlikheid te verwys (1:12-2:4).  Die verandering het te make met die feit dat hy hulle nie verder wou kom hartseer maak met ‘n persoonlike besoek nie, maar eerder ‘n brief geskrywe het, die sogenaamde “tranebrief” wat ons nie meer het nie (of deur sommige met 2 Kor 10-13 verbind word).  In elk geval wou hy nie regtig vir hulle hartseer maak nie, maar eerder laat besef dat hy hulle baie liefhet (2:4).

Let op hoe Paulus in die hart van dié perikoop sy integriteit vergelyk met God en Christus se getrouheid, ‘n getrouheid wat die Korintiërs self ervaar het. Net so seker as wat God sy beloftes in Christus sal nakom, net so seker kan hulle hom glo oor sy beweegredes vir sy nie-besoek.  Dit is hoe integriteit werk, om jou woord na te kom, soos wat God dit doen!

Let ook op hoe Paulus hulle aanmoedig om ‘n oortreder te vergewe, sodat hy nie MOED verloor nie, anders kan die Satan die oorhand kry.  Terloops – hoewel ‘n mens geneig is om hierdie persoon te verbind aan die man wat saam met sy stiefma geleef het (1 Kor 5), lyk dit eerder asof hy ‘n teenstander van Paulus was, wat hom onder verdenking probeer bring het.

Wat my bybly, is hoe Paulus die Korintiërs bedank vir hulle gebede, omdat dié gebede meegewerk het tot Paulus-hulle se redding, en die seën van die Here vir hulle meegebring het.  En dat die belangrikste van alles is, om MOED te hou in beproewings.  Dit spreek my as pa ook aan in terme van my eie kinders – my belangrikste taak is om hulle te bemoedig in wat hulle doen.

View all posts in this series

Korintiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: