2 Korintiërs 5:11-6:13 – Ambassadeurs van die versoening

Paulus sit sy beskrywing van die evangelie en die impak daarvan in ons lewe voort deur te fokus op Christene as nuwe mense of skeppings van God (5:11-6:13) wat die bediening van die versoening ontvang het en nou God se gesante of ambassadeurs is.

Hy doen dit teen die agtergrond van sy teenstanders wat beswaar maak teen sy bediening.  Sommige skryf hom af as te emosioneel (in geestesvervoering) en ander dat hy te intellektueel (by ons verstand) is. Praat nou van ‘n “catch 22” situasie!  Hy antwoord daarop deur te wys dat innerlike bedoelings belangriker is as uiterlike prestasies, hoewel daar darem ook baie van sy prestasies is waarop hulle trots sou kon wees.  Dit is die liefde van Christus wat hom dring – en nie die oorweging van geldmaak wat by sy teenstanders die hoofmotivering was nie (2:17).

Daardie liefde van Christus is so ‘n groot werklikheid vir hom dat niks belangriker is as Hy nie, en omdat die evangelie vir alle mense bedoel is, kan Paulus nie anders as om net daarvoor te lewe nie. Let op die ooreenkomste met die beskrywing van sy roeping in 1 Kor 9:19-23 – “vir almal het ek alles geword om in elk geval sommiges te red”.  Redding is natuurlik nie vanselfsprekend nie, omdat mense in geloof op die aanbod van versoening moet reageer.  Maar Paulus doen alles wat hy moontlik kan om God se aanbod van versoening by mense uit te bring.

Paulus skets versoening dus hier as die hart van die bediening – versoening met God in die sin van ‘n vryspraak van sonde en ‘n nuwe verhouding met Hom, en versoening met ander deur hulle harte onderling wyd oop te maak vir mekaar.  Maar let op, 1) dit is God se program van versoening waarby Paulus-hulle inskakel – en dit is ook hoe ons die taak van versoening moet behartig, as medewerkers van God, as sy ambassadeurs; 2) dit is bedoel vir die hele wêreld, en moet deur ons na almal geneem word.

Daarmee deel Christene reeds in die nuwe skepping wat God gaan bring, en is eintlik ook reeds nuwe skepsels of skeppinge van God (5:17) deur hulle verhouding met Christus.  Daarom kyk ons ook nou na mekaar uit die hoek van ons Christenskap en die waarde van ons lewe vir die koninkryk en nie meer uit die hoek van ons menslike eienskappe en prestasies en die waarde vir hierdie lewe nie.

Paulus spel dan die praktiese implikasies hiervan uit.  Hierdie genade van God, die aanbod van die versoening, is so ‘n groot gawe dat dit omhels moet word, anders kan dit heeltemal verniet wees.  Dit tref my dat hierdie genade van God vir Paulus so belangrik is, dat hy, soos iemand een keer gesê het, eintlik in die “opposite spirit” lewe, dws: al word hy bedroef, hy is altyd opgeruimd; al is hy arm, is hy bly dat hy ander mense ryk maak (vers 10).  Dit is die paradoks van die Christelike bediening – die dood van die bedienaar is die lewe van die wat bedien word.  Hy stel dit dus as sy eer om ten spyte van belediging en minagting betroubaar te wees (vers 8), want God se genade en Christus se liefde het hom van binne verander.

Soos Chrisostomus, die groot prediker van Antiochië, later hieroor sou skryf: “Just as what brings heat makes things expand, so it is the gift of love to stretch hearts wide open; it is a warm and glowing virtue.”  Dit was Jesus se dryfveer … dit was Paulus se dryfveer … en dit is die enigste dryfveer wat ook ons lewens moet rig – die liefde vir God en vir ons naaste.

View all posts in this series

Korintiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Laetitia de Villiers

    Beste Chris,

    Ek is lief vir woorde en gedigte. In Matt. 5:45 staan mos die Here laat reën neerdaal op die wat reg doen en die wat verkeerd doen.

    Toe skryf iemand in die 19de eeu die volgende scholium daarby :

    ‘The rain it raineth on the just
    And also on the unjust fella .
    But chiefly on the just, because
    The unjust steals the just’s umbrella ‘.

    Op veel ernstiger noot:

    Jou scholium [? ] vir 2 Korintiërs 5:11 tot 6: 13 het my baie beïndruk. Die laaste woorde – Chrisostomos se aanhaling – en dan jou afsluiting daarop is wonderlik.

    Ek het Chrysostomos se woorde so vertaal:

    ‘ Net soos daar iets is wat maak dat hitte materie laat uitsit, is dit die geskenk van die liefde wat harte ruimer laat word – dit is ‘n warm en gloeiende krag. ‘

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: