Filippense 2:5-30 – Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld
Jesus ontledig Homself en word deur God verhoog
Die lied in Fil 2:6-11 word in twee dele verdeel: in Christus Jesus se ontlediging (vers 6-8) en verhoging (vers 9-11). In beide gevalle word dit trapsgewys beskryf. Jesus het Hom eerstens ontledig (kenosis) deur nie aan sy Goddelike gestalte (morphe) vas te klem nie, tweedens dié van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, en derdens gehoorsaam te word met die dood aan die kruis. Omgekeerd word die verhoging in die eerste plek as die verheffing tot die hoogste eer geskets, tweedens as die verkryging van ’n Naam bo elke naam, en derdens die kosmiese erkenning dat Hy Here is.
Vers 6 begin in die oorspronklike Grieks met die woordjie alhoewel. “Alhoewel Hy in die gestalte van God was …” Dit kan egter ook vertaal word met omdat. “Omdat Hy in die gestalte van God was, het Hy sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar het Hy Homself verneder (ekenôsen) deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Hierdie antieke lied is daarom nie net ’n nuwe perspektief op wie Jesus is nie. Dit is ’n nuwe verstaan van God self. Christus se ontlediging is nie iets wat aan Hom gedoen word nie. Dit is deel van sy identiteit. Sy ontlediging en menswording is daarom nie ’n afstand doen of ontkenning van sy Goddelikheid nie, maar die manier waarop Hy wys dat Hy inderdaad God is (Gorman)! Goddelikheid is om te gee, nie om iets te ontvang nie – “not getting but giving” (Moule). Jesus gebruik dus sy posisie as God tot voordeel van die mensdom en ook die skepping, anders as Adam wat juis sy posisie as beelddraer van God misbruik het en gekies het om op selfsugtige wyse die vrug, “om soos God te wees”, te eet.
Dieselfde gesindheid van selfontlediging moet ook in ons wees
Daar is ’n interessante ooreenkoms tussen hierdie lied en die beskrywing van die voetewas episode in Joh 13:3-17: 1) Bokleed uitgetrek – van Goddelike gestalte ontledig; 2) voete gewas soos ’n slaaf – slaaf en aan mense gelyk geword; 3) Bokleed aangetrek – tot die hoogste eer verhef; 4) Bevestig dat Hy Here is – almal erken dat Hy Here is. Dit lyk nie asof dit toevallig is nie, veral weens die feit dat Paulus hierdie selfontlediging ook as voorbeeld gebruik om die Filippense aan te moedig om dieselfde gesindheid as Christus Jesus te hê, net soos Jesus ook aan sy dissipels die opdrag gegee het om mekaar se voete te was, deur mekaar lief te hê. Voetewas is dus ’n praktiese metafoor waarmee ’n mens die boodskap van Filippense 2 deel van jou lewe kan maak. Daarom is kenosis die kern-begrip, en die kern-paradigma wat ons moet navolg.
Ligdraers in die wêreld
Paulus volg sy oproep tot onderskeidende liefde (1:9-10), en eensgesindheid na buite en binne (1:27-2:2) – deur veral aan ander se belange te dink (2:3-4) – op in Fil 2:12-18 deur hulle hier aan te moedig om in alles gehoorsaam te wees aan die kruis-evangelie – soos Christus inderdaad vir hulle die voorbeeld van gehoorsaamheid gestel het (2:6-11). En die metafoor wat hy daarvoor gebruik, is dat hulle soos ligdraers in die wêreld sal wees (letterlik: “skyn soos ligte in die wêreld” – vgl Jesus in die Bergrede: “Julle is die lig vir die wêreld” – Matt 5:14). Hy beskou dit as sy priesterlike taak om hulle hiertoe aan te moedig en sy lewe in diens van hulle gehoorsaamheid te gee. Daarom gebruik hy die verdere metafore uit die offerkultus dat hulle geloof ’n offer is wat hy in diens van God bring, en sy bloed ’n drankoffer is wat daaroor uitgegiet word, waaroor hulle saam met hom moet bly wees (vers 17-18 – vgl ook Rom 15:16 waar hy op soortgelyke wyse skrywe oor sy priesterlike taak om die evangelie van God te bedien).
“Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” is die NAV se poging om vers 12 se Griekse oorspronklike te vertaal, wat letterlik lui: “met vrees en bewing moet julle jul heil/verlossing/saligheid uitwerk”. Paulus bedoel kennelik nie hier dat hulle verantwoordelik is vir hulle ewige saligheid nie. Dit sou op ’n onvanpaste werkheiligheid neerkom wat in stryd met die res van die NT boodskap sou wees. Hy roep hulle eerder op om vrugte te dra wat by hulle verlossing pas. Let ook op dat hierdie oproep van Paulus afhanklik gemaak word van God se werk (vers 13) wat juis vir hulle in staat wil stel om gehoorsaam te kan wees: “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”. Hulle gehoorsaamheid is dus nie die aanvulling of voltooiing van God se werk in hulle lewens nie, maar die resultaat van wat Hy in hulle begin het (vgl veral Fil 1:6!) – “creating both the desire and the drive” (Hawthorne). Die fokus is dus op God se werk in hulle, en om dit prakties deel van hulle lewens te maak. Dit sluit in dat hulle nie moet kla en murmureer nie (eerder bid – Fil 4:6-7), moet sorg dat hulle opreg en onberispelik optree, sodat niemand hulle van iets slegs sal verdink nie, en bo alles aan die woord van die lewe moet vashou om dit uit te dra (vgl Petrus in Joh 6:68: “U het die woorde wat ewige lewe gee”, waarmee hy ook eksplisiet sy eie vashou aan die Here verklaar het).
Ander se belange is Jesus Christus se belange
’n Mens kry in die volgende perikoop ’n kykie in die diep-persoonlike verhouding wat Paulus met hierdie gemeente gehad het. Hulle belange staan regtig voorop in sy gedagte. Daarom wil hy vir Timoteus (Fil 2:19) na hulle toe stuur – Paulus het hom ook na Korinte (1 Kor 4:17) en Tessalonika (1 Tess 3:2) gestuur – iemand wat hulle van die begin van hulle geloofspad af ken, om te hoor hoe dit met hulle gaan. Hy wil ook vir Epafroditos (2:25 – “julle apostolos” [apostel/gestuurde/boodskapper] staan daar in die oorspronklike Grieks) – wat namens hulle vir Paulus kom bystaan het – na hulle toe terug stuur, om hulle kommer oor Epafroditos se siekte (hy is intussen genees) asook sy groeiende verlange huis toe te verlig. Trouens, Paulus sou self graag by hulle wil uitkom (2:24). Let op hoe hy hiermee vir hulle ook drie verdere voorbeelde gee (Timoteus, Epafroditos en hyself) van hoe hulle self teenoor mekaar moet optree, presies soos hy in vroeër in die hoofstuk geskrywe het: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (2:4). Dit sluit die onderlinge gasvryheid in, asook die agting vir geestelike leiers (2:29), in ’n netwerk van onderlinge diens. Let ook op hoe hierdie tipe omgee ten diepste illustreer watter prioriteit ’n mens aan die belange van Jesus Christus gee, in Wie hierdie gesindheid die allerbeste geïllustreer is (2:6-11). Deur aan ander se belange te dink, is ’n mens inderdaad besig om Jesus se belange te dien. Anders gestel: Jesus kom na ons in die gedaante van “die ander”!
Ons hele lewe word “in die Here Jesus” geleef
Paulus werk hier met ’n baie belangrike beginsel in sy beplanning en bediening: “Ek hoop/vertrou in die Here Jesus …” (Fil 2:19, 24 – ongelukkig voorwaardelik vertaal in die NAV: “as die Here Jesus wil”). Om te hoop of te vertrou in die Here beteken nie dieselfde as om onnadenkend iets ondergeskik te maak aan die Here se wil, of soos ons soms met die gesegde DV (Deo Volente) uitdruk nie. “In die Here” beteken dat Paulus doelbewus wat hy doen “in verhouding met die Here Jesus” doen. Of dit nou iets is waarop hy hoop (elpizô in Fil 2:19 – vgl ook Fil 1:23), of iets waarop hy met meer sekerheid vertrou (peithô in Fil 2:24 – vgl ook hierdie Griekse woord se ander voorkomste en vertalings in hierdie brief: Fil 1:6 [oortuig], 14 [vertroue] 25 [oortuig]; 3:3 [vertrou], 4 [vertrou] – sien ook 2 Tes 3:4: “In die Here het ons vertroue in julle …”), dit geskied in verhouding met die Here. Dit is om doelbewus die Heerskappy van Jesus te soek en aanvaar, presies dit wat in die tweede helfte van die gedeelte oor Jesus se selfontlediging en verheerliking in Fil 2:6-11 verklaar is. Dit herinner ’n mens aan die 17de eeuse boekie The Practice of The Presence of God[1] waarin briewe van en ook ’n paar gesprekke met Nicholas Herman – wat die naam Brother Lawrence gekry het in ‘n klooster in Parys waar hy as kok gewerk het – deur Joseph de Beaufort opgeteken is. Nicholas het ’n direkte benadering tot die geestelike lewe beoefen en hom dit ten doel gestel om alles wat hy doen en dink “in die Here” en “vir die Here” te doen en dink. Paulus het hierdie beginsel op ’n harde manier geleer op sy tweede sendingreis, net voor hy die roeping na Europa ontvang het wat tot die stigting van die gemeente van Filippi gelei het (Hand 16:6-9). Die Gees van Jesus het Paulus twee keer verhinder om sy eie kop in die bediening te volg, voor hulle (almal was betrokke!) deur die gesig van die Masedoniese man oortuig is om die evangelie in Europa te verkondig. En dié direkte benadering het nie net sy eie lewe daarna bepaal nie, maar ook die praktiese geestelike lewe wat hy aan die gemeentes voorgehou en voorgeleef het. Dit is ook waarom ’n onderskeidende lewe vir hom so belangrik was, soos ons in Fil 1:9-10 gesien het.
View all posts in this series
- Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012 - Dec 9, 2011
- Handelinge 16:6-40 – Die kerk in Europa begin met die bekering van ’n vrou - Jan 12, 2012
- Filippense 1:1-11 – Laat julle liefde in onderskeiding toeneem - Jan 13, 2012
- Filippense 1:12-2:4 – Wees eensgesind na buite en na binne - Jan 16, 2012
- Filippense 2:5-30 – Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld - Jan 17, 2012
- Filippense 3:1-4:1 – Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde - Jan 18, 2012
- Filippense 4:2-23 – Om saam in die Here te wees, bid en leef - Jan 19, 2012
Anna Marie Voges on Facebook
Is dit nie waar nie en so groot verantwoordelikheid! Het vanoggend met my kinders gedeel !
BIBI
Goeienaand, ek weet dit is in gelooflik laat. Ek soek hulp op Israel visie leringe, sal jy my moontlik kan help met teen verse? Ek sal dit hoog op prys stel. Groete Bibi
Chris van Wyk
Hi Bibi,
Jy kan by die volgende webtuistes meer inligting kry: