Skip to main content

Filippense 2:5-30 – Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld

Hierdie is die hart van die boodskap van Paulus aan die gemeente van Filippi.  Dit is ‘n teks waaroor ‘n mens nooit uitgepraat kan raak nie, en oor en oor moet lees en oor moet nadink, tot dit deel raak van die praktyk van jou lewe.

Jesus ontledig Homself en word deur God verhoog

Die lied in Fil 2:6-11 word in twee dele verdeel: in Christus Jesus se ontlediging (vers 6-8) en verhoging (vers 9-11).  In beide gevalle word dit trapsgewys beskryf.  Jesus het Hom eerstens ontledig (kenosis) deur nie aan sy Goddelike gestalte (morphe) vas te klem nie, tweedens dié van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word, en derdens gehoorsaam te word met die dood aan die kruis.  Omgekeerd word die verhoging in die eerste plek as die verheffing tot die hoogste eer geskets, tweedens as die verkryging van ’n Naam bo elke naam, en derdens die kosmiese erkenning dat Hy Here is.

Vers 6 begin in die oorspronklike Grieks met die woordjie alhoewel.  “Alhoewel Hy in die gestalte van God was …”  Dit kan egter ook vertaal word met omdat.  “Omdat Hy in die gestalte van God was, het Hy sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar het Hy Homself verneder (ekenôsen) deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.” Hierdie antieke lied is daarom nie net ’n nuwe perspektief op wie Jesus is nie.  Dit is ’n nuwe verstaan van God self.  Christus se ontlediging is nie iets wat aan Hom gedoen word nie.  Dit is deel van sy identiteit. Sy ontlediging en menswording is daarom nie ’n afstand doen of ontkenning van sy Goddelikheid nie, maar die manier waarop Hy wys dat Hy inderdaad God is (Gorman)!  Goddelikheid is om te gee, nie om iets te ontvang nie – “not getting but giving” (Moule).  Jesus gebruik dus sy posisie as God tot voordeel van die mensdom en ook die skepping, anders as Adam wat juis sy posisie as beelddraer van God misbruik het en gekies het om op selfsugtige wyse die vrug, “om soos God te wees”, te eet.

Dieselfde gesindheid van selfontlediging moet ook in ons wees

Daar is ’n interessante ooreenkoms tussen hierdie lied en die beskrywing van die voetewas episode in Joh 13:3-17: 1) Bokleed uitgetrek – van Goddelike gestalte ontledig; 2) voete gewas soos ’n slaaf – slaaf en aan mense gelyk geword; 3) Bokleed aangetrek – tot die hoogste eer verhef; 4) Bevestig dat Hy Here is – almal erken dat Hy Here is.  Dit lyk nie asof dit toevallig is nie, veral weens die feit dat Paulus hierdie selfontlediging ook as voorbeeld gebruik om die Filippense aan te moedig om dieselfde gesindheid as Christus Jesus te hê, net soos Jesus ook aan sy dissipels die opdrag gegee het om mekaar se voete te was, deur mekaar lief te hê.  Voetewas is dus ’n praktiese metafoor waarmee ’n mens die boodskap van Filippense 2 deel van jou lewe kan maak. Daarom is kenosis die kern-begrip, en die kern-paradigma wat ons moet navolg.

Ligdraers in die wêreld

Paulus volg sy oproep tot onderskeidende liefde (1:9-10), en eensgesindheid na buite en binne (1:27-2:2) – deur veral aan ander se belange te dink (2:3-4) – op in Fil 2:12-18 deur hulle hier aan te moedig om in alles gehoorsaam te wees aan die kruis-evangelie – soos Christus inderdaad vir hulle die voorbeeld van gehoorsaamheid gestel het (2:6-11).  En die metafoor wat hy daarvoor gebruik, is dat hulle soos ligdraers in die wêreld sal wees (letterlik: “skyn soos ligte in die wêreld” – vgl Jesus in die Bergrede: “Julle is die lig vir die wêreld” – Matt 5:14).  Hy beskou dit as sy priesterlike taak om hulle hiertoe aan te moedig en sy lewe in diens van hulle gehoorsaamheid te gee.  Daarom gebruik hy die verdere metafore uit die offerkultus dat hulle geloof ’n offer is wat hy in diens van God bring, en sy bloed ’n drankoffer is wat daaroor uitgegiet word, waaroor hulle saam met hom moet bly wees (vers 17-18 – vgl ook Rom 15:16 waar hy op soortgelyke wyse skrywe oor sy priesterlike taak om die evangelie van God te bedien).

 “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe” is die NAV se poging om vers 12 se Griekse oorspronklike te vertaal, wat letterlik lui: “met vrees en bewing moet julle jul heil/verlossing/saligheid uitwerk”.  Paulus bedoel kennelik nie hier dat hulle verantwoordelik is vir hulle ewige saligheid nie.  Dit sou op ’n onvanpaste werkheiligheid neerkom wat in stryd met die res van die NT boodskap sou wees.  Hy roep hulle eerder op om vrugte te dra wat by hulle verlossing pas.  Let ook op dat hierdie oproep van Paulus afhanklik gemaak word van God se werk (vers 13) wat juis vir hulle in staat wil stel om gehoorsaam te kan wees: “want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer”.  Hulle gehoorsaamheid is dus nie die aanvulling of voltooiing van God se werk in hulle lewens nie, maar die resultaat van wat Hy in hulle begin het (vgl veral Fil 1:6!) – “creating both the desire and the drive” (Hawthorne).  Die fokus is dus op God se werk in hulle, en om dit prakties deel van hulle lewens te maak.  Dit sluit in dat hulle nie moet kla en murmureer nie (eerder bid – Fil 4:6-7), moet sorg dat hulle opreg en onberispelik optree, sodat niemand hulle van iets slegs sal verdink nie, en bo alles aan die woord van die lewe moet vashou om dit uit te dra (vgl Petrus in Joh 6:68: “U het die woorde wat ewige lewe gee”, waarmee hy ook eksplisiet sy eie vashou aan die Here verklaar het).

Ander se belange is Jesus Christus se belange

’n Mens kry in die volgende perikoop ’n kykie in die diep-persoonlike verhouding wat Paulus met hierdie gemeente gehad het.  Hulle belange staan regtig voorop in sy gedagte.  Daarom wil hy vir Timoteus (Fil 2:19) na hulle toe stuur – Paulus het hom ook na Korinte (1 Kor 4:17) en Tessalonika (1 Tess 3:2) gestuur – iemand wat hulle van die begin van hulle geloofspad af ken, om te hoor hoe dit met hulle gaan.  Hy wil ook vir Epafroditos (2:25 – “julle apostolos” [apostel/gestuurde/boodskapper] staan daar in die oorspronklike Grieks) – wat namens hulle vir Paulus kom bystaan het – na hulle toe terug stuur, om hulle kommer oor Epafroditos se siekte (hy is intussen genees) asook sy groeiende verlange huis toe te verlig.  Trouens, Paulus sou self graag by hulle wil uitkom (2:24).  Let op hoe hy hiermee vir hulle ook drie verdere voorbeelde gee (Timoteus, Epafroditos en hyself) van hoe hulle self teenoor mekaar moet optree, presies soos hy in vroeër in die hoofstuk geskrywe het: “Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander” (2:4).  Dit sluit die onderlinge gasvryheid in, asook die agting vir geestelike leiers (2:29), in ’n netwerk van onderlinge diens.  Let ook op hoe hierdie tipe omgee ten diepste illustreer watter prioriteit ’n mens aan die belange van Jesus Christus gee, in Wie hierdie gesindheid die allerbeste geïllustreer is (2:6-11).  Deur aan ander se belange te dink, is ’n mens inderdaad besig om Jesus se belange te dien.  Anders gestel: Jesus kom na ons in die gedaante van “die ander”!

Ons hele lewe word “in die Here Jesus” geleef

Paulus werk hier met ’n baie belangrike beginsel in sy beplanning en bediening: “Ek hoop/vertrou in die Here Jesus …” (Fil 2:19, 24 – ongelukkig voorwaardelik vertaal in die NAV: “as die Here Jesus wil”).  Om te hoop of te vertrou in die Here beteken nie dieselfde as om onnadenkend iets ondergeskik te maak aan die Here se wil, of soos ons soms met die gesegde DV (Deo Volente) uitdruk nie.  “In die Here” beteken dat Paulus doelbewus wat hy doen “in verhouding met die Here Jesus” doen.  Of dit nou iets is waarop hy hoop (elpizô in Fil 2:19 – vgl ook Fil 1:23), of iets waarop hy met meer sekerheid vertrou (peithô in Fil 2:24 – vgl ook hierdie Griekse woord se ander voorkomste en vertalings in hierdie brief: Fil 1:6 [oortuig], 14 [vertroue] 25 [oortuig]; 3:3 [vertrou], 4 [vertrou] – sien ook 2 Tes 3:4: “In die Here het ons vertroue in julle …”), dit geskied in verhouding met die Here.  Dit is om doelbewus die Heerskappy van Jesus te soek en aanvaar, presies dit wat in die tweede helfte van die gedeelte oor Jesus se selfontlediging en verheerliking in Fil 2:6-11 verklaar is.  Dit herinner ’n mens aan die 17de eeuse boekie The Practice of The Presence of God[1] waarin briewe van en ook ’n paar gesprekke met Nicholas Herman – wat die naam Brother Lawrence gekry het in ‘n klooster in Parys waar hy as kok gewerk het – deur Joseph de Beaufort opgeteken is.  Nicholas het ’n direkte benadering tot die geestelike lewe beoefen en hom dit ten doel gestel om alles wat hy doen en dink “in die Here” en “vir die Here” te doen en dink.  Paulus het hierdie beginsel op ’n harde manier geleer op sy tweede sendingreis, net voor hy die roeping na Europa ontvang het wat tot die stigting van die gemeente van Filippi gelei het (Hand 16:6-9).  Die Gees van Jesus het Paulus twee keer verhinder om sy eie kop in die bediening te volg, voor hulle (almal was betrokke!) deur die gesig van die Masedoniese man oortuig is om die evangelie in Europa te verkondig.  En dié direkte benadering het nie net sy eie lewe daarna bepaal nie, maar ook die praktiese geestelike lewe wat hy aan die gemeentes voorgehou en voorgeleef het.  Dit is ook waarom ’n onderskeidende lewe vir hom so belangrik was, soos ons in Fil 1:9-10 gesien het.

 


[1] Die boekie is gratis op verskeie plekke op die Internet beskikbaar.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Filippense


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda