Romeine 5 – Vryspraak lei tot vrede en vrye toegang
Hoofstuk 5-8 spel nou die gevolge van God se vryspraak in ons lewe uit. Daar is nou vrede tussen ons en vrye toegang (Heb 10:19) tot God. Let op hoe hy nou ook meesal praat van ons en nie jou of julle soos in die eerste paar hoofstukke nie, waarmee hy die gemeenskap van die gelowiges beklemtoon wat God geskep het tussen hulle. Let ook op hoe hy weer van die drietal: geloof (x2), hoop (x3) en liefde (x2) praat, maar dus die klem hier meer op die hoop laat val.
5:1-11: Die eerste perikoop van hoofstuk 5 is ’n lofsang en geloofsbelydenis oor die vrede wat daar nou tussen ons en God gekom het op grond van sy vryspraak.
Let op hoe hierdie genadegawe alles verander: aan die een kant bring dit die hoop dat ons deel sal hê aan die heerlikheid van God self. Aan die ander kant kan ons ons ook verheug in ervarings van swaarkry, want dit bring volharding, wat lei tot egtheid (beproefdheid) van geloof, wat net soseer as die ervaring van genade lei tot hoop.
Wat dit vir my in ’n afgeleide sin sê en beteken is dat ek my kan verheug oor God se voorsiening, want dit skep hoop by my. Maar ek kan my ook verheug oor swaarkry omdat dit net soseer hoop by my skep deur die vrug wat dit bring in terme van volharding en egtheid.
Dit alles is moontlik omdat God se liefde in my hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat my oortuig dat Hy in my woon en in ’n verhouding met God kan laat groei.
5:12-21: Paulus keer terug na die onderwerp van die sonde, maar sit vir die eerste keer Adam op die tafel om daarmee die universele reikwydte van die sonde sowel as die vryspraak te illustreer.
Hierdie is een van die kerngedeeltes wat die erfsonde se bestaan motiveer. In Adam se sonde as die simboliese beginpunt van die menslike geslag het alle mense deel. Adam se sonde het die dood gebring vir alle mense.
Adam – die oorsprong van die menslike geslag – word egter met Christus gekontrasteer – die oorsprong van die nuwe menslike geslag – wat die lewe moontlik maak vir alle mense. Jesus is in ’n baie spesifieke sin die nuwe mens waaruit God die nuwe mensheid laat voortspruit. En deur Hom voer die genade nou heerskappy eerder as die dood met die heerlike vooruitsig dat dit tot die ewige lewe lei.
View all posts in this series
- Die brief aan die Romeine - Oct 20, 2010
- Romeine 1 – God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo - Oct 21, 2010
- Die wet in die 3 Formuliere van Eenheid
- Romeine 2 – Die innerlike lewe lei na goeddoen eerder as die wetsvoorskrifte - Oct 22, 2010
- Romeine 3 – God gee vryspraak sonder onderskeid aan elkeen wat glo - Oct 25, 2010
- Romeine 4 – Die genade van geloof - Oct 26, 2010
- Beoefen vandag Lectio Divina - Oct 27, 2010
- Romeine 5 – Vryspraak lei tot vrede en vrye toegang - Oct 28, 2010
- Romeine 6 – Om vir God te lewe en nie vir die sonde nie - Oct 29, 2010
- Romeine 7 – Die Gees is die agent van verandering, nie die wet nie - Nov 1, 2010
- Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is - Nov 2, 2010
- Romeine 8:18-39 – As God vir ons is, wie kan teen ons wees - Nov 3, 2010
- Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word - Nov 4, 2010
- Romeine 12 – Ons het ’n paar kopskuiwe nodig - Nov 5, 2010
- Romeine 13 – Julle moet mekaar liefhê - Nov 8, 2010
- Romeine 14 – Aanvaarding eerder as argumente - Nov 9, 2010
- Romeine 15-16 – Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het - Nov 10, 2010
- Die fundamentele vertrekpunt in etiese sake - Sep 9, 2017
- Word verander deur die vernuwing van julle gemoed - Jun 13, 2018
- Uitverkiesing en die eindoordeel - Sep 6, 2018
wilfred williams
Ek het per toeval op hierdie website afgekom. En hoe dankbaar is ek in die Here dat Hy dit laat gebeur het. Ek put soveel vreugde uit die leringe hier en dit motiveer/bemoedig my tot bepeinsing van die Woord. Ek is ‘n paramedic by ‘n myn in Namibia en Jesus het my as evangelis aangestel van ‘n klein bediening hier. Dit is nie elke dag maklik nie maar so ‘n vreugde om vir Hom te werk en siele te wen vir die evangelie. Mag die Here u ryklik seen en voorspoedig maak in als wat u aanpak.
Baie baie dankie!!!!
Willy
Chris van Wyk
Ek is so bly. Mag die Here jou bediening seën. Klein is groot in die koninkryk!
Louwena
Baie dankie! Wat ‘n voorreg is dit nie om by wyse van die moderne tegnologie meer en meer te leer van die Woord nie!! Dit is ‘n groot voorreg!! Mag die Here U werk seën sodat Sy Naam in alles verheerlik sal word. {Ps167:1-3)