Skip to main content

Romeine 5 – Vryspraak lei tot vrede en vrye toegang

Hoofstuk 5-8 spel nou die gevolge van God se vryspraak in ons lewe uit.  Daar is nou vrede tussen ons en vrye toegang (Heb 10:19) tot God.  Let op hoe hy nou ook meesal praat van ons en nie jou of julle soos in die eerste paar hoofstukke nie, waarmee hy die gemeenskap van die gelowiges beklemtoon wat God geskep het tussen hulle.    Let ook op hoe hy weer van die drietal: geloof (x2), hoop (x3) en liefde (x2) praat, maar dus die klem hier meer op die hoop laat val.

5:1-11: Die eerste perikoop van hoofstuk 5 is ’n lofsang en geloofsbelydenis oor die vrede wat daar nou tussen ons en God gekom het op grond van sy vryspraak.

Let op hoe hierdie genadegawe alles verander: aan die een kant bring dit die hoop dat ons deel sal hê aan die heerlikheid van God self.  Aan die ander kant kan ons ons ook verheug in ervarings van swaarkry, want dit bring volharding, wat lei tot egtheid (beproefdheid) van geloof, wat net soseer as die  ervaring van genade lei tot hoop.

Wat dit vir my in ’n afgeleide sin sê en beteken is dat ek my kan verheug oor God se voorsiening, want dit skep hoop by my.  Maar ek kan my ook verheug oor swaarkry omdat dit net soseer hoop by my skep deur die vrug wat dit bring in terme van volharding en egtheid.

Dit alles is moontlik omdat God se liefde in my hart uitgestort is deur die Heilige Gees wat my oortuig dat Hy in my woon en in ’n verhouding met God kan laat groei.

5:12-21: Paulus keer terug na die onderwerp van die sonde, maar sit vir die eerste keer Adam op die tafel om daarmee die universele reikwydte van die sonde sowel as die vryspraak te illustreer.

Hierdie is een van die kerngedeeltes wat die erfsonde se bestaan motiveer.  In Adam se sonde as die simboliese beginpunt van die menslike geslag het alle mense deel.  Adam se sonde het die dood gebring vir alle mense.

Adam – die oorsprong van die menslike geslag – word egter met Christus gekontrasteer – die oorsprong van die nuwe menslike geslag – wat die lewe moontlik maak vir alle mense.  Jesus is in ’n baie spesifieke sin die nuwe mens waaruit God die nuwe mensheid laat voortspruit.  En deur Hom voer die genade nou heerskappy eerder as die dood met die heerlike vooruitsig dat dit tot die ewige lewe lei.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Romeine


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar