Handelinge 15:1-35 – Gesamentlike geloofsonderskeiding oorbrug dreigende verskille

Dit tref my net weereens hoe groot die teenstand teen die evangelie van Jesus Christus is.  Wat wel nuut was van die teenstand wat nou opgebou het, was dat uit eie geledere ontwikkel het.  En dit gaan oor die lewenstyl vir die hede en toekoms sowel as respek vir die tradisie, in hierdie geval die besnydenis.  Wat dit uiters problematies gemaak het, was dat die voorstanders van die besnydenis dit aan gelowiges se redding verbind het.  Paulus en Barnabas het hulle onmiddellik daarteen verset, omdat enigiets wat as noodsaaklik verkondig word, naas geloof in Jesus Christus, per definisie eintlik verkeerd is en die dood in die pot vir gemeenskap.

Maar, teenstand het ook altyd ’n positiewe gevolg, in hierdie geval, dat die geloofsgemeenskap fundamenteel moes dink oor wat kan hulle van mekaar verwag in die uitleef van hulle geloof, en dat in die proses van geloofsonderskeiding, hulle ons ook wys hoe ’n mens besluitneming in die geloofsgemeenskap moet hanteer sodat dreigende verskille oorbrug kan word.

Let op dat hulle almal kans gee om hulle menings te lug – die voorstanders van die besnydenis en dié wat dink dat dit nie ’n noodsaaklike Christelike lewenspraktyk is nie.  Die hart van hulle onderskeiding is die fokus op 1) die getuienis van die Skrifte  sowel as 2) die werk van God oor die wêreld heen soos dit duidelik geword het in die bediening van die evangelie.  En hulle sorg dat daar wye instemming is voordat dit aan die res van die geloofsgemeenskap oorgedra word.

Interessant is dat twee mense saam met Paulus en Barnabas teruggaan om die goeie nuus te gaan oordra oor die besluite, Judas Barsabbas en Silas (in Latyn Silvanus – 1 Tes 1:1; 2 Tes 1:1; 2 Kor 1:19 – moontlik ook die skrywer wat Petrus met sy briewe gehelp het – 1 Pet 5:12).  Silas word natuurlik kort hierna ’n kollega van Paulus met die meningsverskil wat daar tussen Barnabas en Paulus ontstaan het oor Johannes Markus.

Almal was uiteraard bly oor die bemoedigende boodskap en die gemeente in Antiogië reageer ook met ’n groeteboodskap terug aan die gemeente in Jerusalem – ’n gebaar wat waarskynlik die agtergrond vorm van die gebruik van sommige sinodes om groeteboodskappe aan mekaar te stuur.  Gemeentes kan dit gerus ook meer gereeld teenoor mekaar doen.

Opmerkings oor selfdegeslagverhoudings

Die Bybel beskryf selfdegeslag seksuele gedrag as onsedelik

Die brief waarmee Paulus die “sinodale” besluit van Jerusalem na die gemeentes regdeur die wêreld geneem het, het nie net die evangelie ingesluit dat alle gelowiges welkom is in die kerk nie – Jode sowel as heidene wat in Jesus Christus glo – maar ook dat daar twee lewensreëls is waaraan hulle almal hulle moes hou.  Alle gelowiges moes hulle weerhou van (Hand. 15:20,29):

  • Betrokkenheid by afgodery wat bv. beteken het dat hulle afgodsoffers moes vermy, sowel as die heidense manier om diere te slag deurdat hulle hulleself weerhou: “van wat verwurg is, en van bloed.” D.w.s. diere moes volgens Gen. 9 en Lev. 17 se voorskrifte doodgemaak word – diere moes uitbloei met die slagtery – en al was die vleis self nie noodwendig taboe vir hulle nie, moes hulle enige sweem van goedkeuring van heidense praktyke probeer vermy (vgl. 1 Kor. 8 en Rom. 14:13-22);
  • onsedelikheid (porneias) wat op verskillende maniere in die res van die NT uitgespel word en ‘n term is wat gebruik kan word vir seksuele losbandigheid in selfdefamilie (1 Kor. 5:1), heteroseksuele (1 Kor. 6:18; 1 Tes. 4:3; Kol. 3:5 ens.) en selfdegeslag (1 Kor. 6:9 – vgl. ook Judas 7) kontekste.

Die rede daarvoor was aan die een kant die belangrike goeie nuus dat almal welkom is in die geloofsgemeenskap op grond van die uitnodiging van God waarheen hulle nou in geloof teruggekeer het (Hand. 15:19).

Aan die ander kant was daar ook lewensreëls nodig, net ‘n minimum, omdat dit in elk geval bekend was vir die nasies uit die wydverspreide verkondiging van die wet van Moses.  Die wet van Moses het immers sedert die vroegste geslagte in elke stad diegene wat hom verkondig en elke Sabbatdag word dit nog in die sinagoges voorgelees (Hand. 15:21).

  • Dit was vreemd vir die Jode – hulle het immers baie meer verwag vanuit hulle getrouheid aan die wet. Hulle moes dus leer om na die Skrif te kyk deur die oë van die ander, om te luister na die Skrif deur die ore van die ander.
  • En dit was vreemd vir die heidene – hulle het immers in ‘n kultuur gelewe waar min of meer geen etiese reëls gegeld het nie. Hulle moes ook leer om na die Skrif te kyk deur die oë van die ander, om te luister na die Skrif deur die ore van die ander.

Maar steeds, selfs al was dit vreemd vir die Jode, en nog vreemder miskien vir die gelowiges uit die Jode, is die wet van Moses deur die vroeë kerk op twee maniere steeds saam met die evangelie voorgehou – as lewensreëls, die voorloper van wat die Heidelbergse Kategismus later as die reël van dankbaarheid sou beskryf spesifiek ook in terme van die sewende gebod – in terme van afgodsdiens en onsedelikheid.

  • Vir die gelowiges uit die heidene was dit dinge waaraan hulle hulle nou moes hou, meer as waaraan hulle gewoond was.
  • Vir gelowiges uit die Jode was dit soortgelyk dinge waaraan hulle hulle moes hou, maar minder as waaraan hulle gewoond was.

Oral waar dié boodskap – die goeie nuus en die lewensreëls – egter aan die gelowiges uit die heidene verkondig is, was almal bemoedig, sê Lukas.  Trouens hulle was verheug oor die bemoediging (Hand. 15:30).  Ons lees nie veel oor die gelowiges uit die Jode se reaksie nie, maar ‘n mens sou tog kon aanvaar dat hulle sou inval by dié reëling omdat dit die geloofsonderskeidende insig was wat hulle gesamentlik gekry het, hoewel daar uiteraard ook teenstand was van sommige soos ‘n mens later in Handelinge 21 en verder lees .

Paulus het ook besluit om in sy eie briewe telkens aan dié sake aandag te gee, aan die een kant om die genade van die geloof in Jesus Christus in sy volle konsekwensies bekend te maak, maar ook telkens aan die ander kant te skryf oor die problematiek van afgodery en onsedelikheid, saam met ‘n hele paar ander sake wat konsekwensies was van hulle geloof in Christus.  Dié briewe was só gesagvol dat die kerk baie vroeg al kanoniese gesag aan hulle verleen het wat uiteindelik tot die kanon gelei het wat ons vandag in ons hand kan hou.

Dit is daarom ook van groot belang dat Jesus in sy brief aan Tiatira in Openbaring 2:18-29 die gemeente se gehoorsaamheid aan dieselfde twee lewensreëls meet, afgodery en onsedelikheid!

20Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet. 21Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie.

Jesus veroordeel die gemeente vir hulle laksheid aan die twee sake wat in Handelinge vir die hele kerk as riglyne gegee is en spel dit as volg uit:

22Kyk, Ek gee haar aan ’n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding—as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.

As agtergrond en begronding hiervan was dus die kerk se eie geloofsonderskeiding onder leiding van die Heilige Gees in Handelinge 15 aan die hand van die Skrifte!  Die geloofsonderskeiding was nie uit die lug gegryp nie, maar gebaseer op die Skrifte.  Die onderskeiding was ook nie van verbygaande aard nie.  Jesus meet self die gemeente van Tiatira aan die geloofsonderskeidende besluit van Handelinge 15.

View all posts in this series

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: