Skip to main content

Galasiërs 4:21-5:12 – VERBONDSGEMEENSKAP: geloof wat deur dade tot liefde oorgaan

Paulus skuif na die onderwerp van die verbond, en probeer in die gedeelte ’n argument daarvoor uitmaak dat die verhouding wat daar tussen hulle en God tot stand gekom het, gekom het deur die geloof en deur Christus, nie deur die wet en die besnydenis nie.  Sola fide en Solus Christus.  Hierdie verhouding kan ook net in stand gehou word deur geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan, nie deur die wet se voorskrifte slaafs na te volg nie.

Verbondskinders kragtens die belofte  – Gal. 4:21-5:1

Pauus begin deur die teologie van die Jode af te skiet wat die nakom van die wet beklemtoon.

Nou ’n mens moet onthou dat daar natuurlik ook ’n positiewe funksie van wette is.  Ons het almal waardering vir sekere wette, bv. padreëls.  Dit beskerm almal van ons.  Dit behoort ’n rit op ons paaie veilig te maak, ten minste in die teorie!

Só ’n funksie het die Tien Gebooie ook.  Dit beskerm families deur ouerliefde uit te spel (5de gebod); dit beskerm lewe deur ’n verbod op doodmaak te plaas (6de gebod); dit beskerm die huwelik deur ’n verbod op egbreuk te plaas (7de gebod); ensomeer.  En dit bly die positiewe funksie van die wet in die lewe van gelowiges selfs in die nuwe bedeling.

Maar dit is nie waarvan Paulus hier praat nie.  Die Joodse wet het ook ’n negatiewe kant.  EEN: Die wet laat jou dink dat jy God se guns kan wen deur die wet na te kom, en dan word jy verras deur jou sondige natuur wat jou  nie toelaat om alles in detail na te kom nie.  Die nakoming van die wet het geblyk ’n doodloopstraat te wees in terme van Israel se verhouding met God.  Soos Paulus dit hier uitspel – die wet was ’n vloek, want dit kon jou nie red nie (Gal. 3:10).  Net Jesus was in staat om die wet 100% na te kom.  Niemand anders kon dit ooit doen nie, nie eers Paulus nie (Paulus gaan hierop uitbrei in Romeine 1-8).

TWEE: Die wet laat jou grense trek tussen dié wat binne is en dié wat buite is.  Dit skep ’n eksklusiewe godsdiens.  En dan wil jy hê almal moet soos jy wees.  In terme van die Joodse wet: almal moet besny wees; almal moet die Sabbat hou; almal moet vark vermy.  En só dryf jy mense uit mekaar en eer jy nie die eenheid wat God tussen diverse mense tot stand wil bring nie.

Dit is immers waarvoor Jesus Christus gekom het, sodat ons vry van die vloek van die wet kan word en in ’n verbondsgemeenskap met God kon lewe.  En ons het deel aan dié verbond deur geloof en nie deur die wet nie.

Hy gebruik (moontlik gebaseer op ’n soortgelyke allegorie van die Jode) Hagar en Sara as figuurlike simbole van twee verbonde wat teenoor mekaar staan:

  • Hagar, die slavin, staan vir die verbond van die wet; Sara, die vrygeborene, staan vir die verbond van die belofte.
  • Hagar het ’n kind gehad volgens hulle eie besluit. Sara het ’n kind gehad volgens God se belofte.
  • Hagar staan (volgens Paulus se allegoriese verstaan) vir Sinaiberg wat ’n beeld is van die huidige Jerusalem (as geestelike sentrum); Sara, by implikasie, staan vir die hemelse Jerusalem.

Gelowiges is volgens dié beeld kinders van Sara, kinders van die belofte, kinders wat vrygeborenes is, en wat hulle nie weer onder ’n slawejuk moet begeef nie.  Anders sou hulle slawekinders van Hagar wees.

Verbondskinders deur Christus – 5:2-12

Paulus maak daarom ’n dringende appèl op hulle om nie hulle band met Christus te verloor deur die dwaasheid van die Joodse wetsdrywers nie.  En hy maak aanspraak op die persoonlike band wat hom met hulle verbind.  Om die waarheid te sê, hy vertrou dat hulle vas sal bly staan in wat hy hulle geleer het, en hoop dat die dwaalleraars liewer hulleself ernstig sal beseer …

Paulus gaan so ver as om te sê dat jy die genade van God verbeur as jy ook nog die wet probeer nakom (vgl. ook Gal. 5:4), veral deur jou te besny.  Want dan moet jy die hele wet nakom – jy kan nie selektief wees en net 1 of 2 goed kies wat jou pas om na te kom nie.  Daarom dat hy dit daarteenoor so beklemtoon: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (Gal. 5:6).

Betekenis

Paulus probeer hiermee dus die volgende regkry:

  • Hulle identiteit moet in Christus gesoek word en nie in die Joodse wet- en kultuurgebruike nie, anders loop hulle gevaar om terug te val in ’n eksklusiewe Joodse geloof.
  • Hulle gedrag moet in ’n geloofsverhouding met Christus gevestig wees (wat hy in die volgende deel in terme van die Gees gaan uitspel), anders loop hulle gevaar om te leef asof Christus nog nie gekom het nie.

En moenie dink dat ons vry is van hierdie versoeking nie.  Dink net terug aan die sabbatswetgewing wat nog tot onlangs deel van ons land se wette was (nogal toegepas op ’n Sondag!) en in die kerk met oorgawe nagevolg is.  Dit berus op ’n Joodse interpretasie van die wet, nogal ’n verskraalde een, want ons het nie die besnydenis toegepas nie!   En dan praat ons nie eers van die stig van aparte kerke wat op ’n ras-gebaseerde interpretasie van die Skrif gebaseer was nie, en eweneens ’n wet vir die gemeenskap van gelowiges geword het nie.  Ons kerk nou nog aan die gevolge van daardie dwaasheid.

Paulus se woorde is dus gemik teen enige reël wat ons van toepassing maak op die gemeenskap van die gelowiges en wat nie met geloof en Christus in die eerste plek te make het nie.

Om dit saam te vat: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (5:6).  Dit moet ons in ons eie lewe navolg, en ander toelaat om dit op hulle eie wyse na te volg.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Galasiërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.