Galasiërs 4:21-5:12 – VERBONDSGEMEENSKAP: geloof wat deur dade tot liefde oorgaan

Paulus skuif na die onderwerp van die verbond, en probeer in die gedeelte ’n argument daarvoor uitmaak dat die verhouding wat daar tussen hulle en God tot stand gekom het, gekom het deur die geloof en deur Christus, nie deur die wet en die besnydenis nie.  Sola fide en Solus Christus.  Hierdie verhouding kan ook net in stand gehou word deur geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan, nie deur die wet se voorskrifte slaafs na te volg nie.

Verbondskinders kragtens die belofte  – Gal. 4:21-5:1

Pauus begin deur die teologie van die Jode af te skiet wat die nakom van die wet beklemtoon.

Nou ’n mens moet onthou dat daar natuurlik ook ’n positiewe funksie van wette is.  Ons het almal waardering vir sekere wette, bv. padreëls.  Dit beskerm almal van ons.  Dit behoort ’n rit op ons paaie veilig te maak, ten minste in die teorie!

Só ’n funksie het die Tien Gebooie ook.  Dit beskerm families deur ouerliefde uit te spel (5de gebod); dit beskerm lewe deur ’n verbod op doodmaak te plaas (6de gebod); dit beskerm die huwelik deur ’n verbod op egbreuk te plaas (7de gebod); ensomeer.  En dit bly die positiewe funksie van die wet in die lewe van gelowiges selfs in die nuwe bedeling.

Maar dit is nie waarvan Paulus hier praat nie.  Die Joodse wet het ook ’n negatiewe kant.  EEN: Die wet laat jou dink dat jy God se guns kan wen deur die wet na te kom, en dan word jy verras deur jou sondige natuur wat jou  nie toelaat om alles in detail na te kom nie.  Die nakoming van die wet het geblyk ’n doodloopstraat te wees in terme van Israel se verhouding met God.  Soos Paulus dit hier uitspel – die wet was ’n vloek, want dit kon jou nie red nie (Gal. 3:10).  Net Jesus was in staat om die wet 100% na te kom.  Niemand anders kon dit ooit doen nie, nie eers Paulus nie (Paulus gaan hierop uitbrei in Romeine 1-8).

TWEE: Die wet laat jou grense trek tussen dié wat binne is en dié wat buite is.  Dit skep ’n eksklusiewe godsdiens.  En dan wil jy hê almal moet soos jy wees.  In terme van die Joodse wet: almal moet besny wees; almal moet die Sabbat hou; almal moet vark vermy.  En só dryf jy mense uit mekaar en eer jy nie die eenheid wat God tussen diverse mense tot stand wil bring nie.

Dit is immers waarvoor Jesus Christus gekom het, sodat ons vry van die vloek van die wet kan word en in ’n verbondsgemeenskap met God kon lewe.  En ons het deel aan dié verbond deur geloof en nie deur die wet nie.

Hy gebruik (moontlik gebaseer op ’n soortgelyke allegorie van die Jode) Hagar en Sara as figuurlike simbole van twee verbonde wat teenoor mekaar staan:

  • Hagar, die slavin, staan vir die verbond van die wet; Sara, die vrygeborene, staan vir die verbond van die belofte.
  • Hagar het ’n kind gehad volgens hulle eie besluit. Sara het ’n kind gehad volgens God se belofte.
  • Hagar staan (volgens Paulus se allegoriese verstaan) vir Sinaiberg wat ’n beeld is van die huidige Jerusalem (as geestelike sentrum); Sara, by implikasie, staan vir die hemelse Jerusalem.

Gelowiges is volgens dié beeld kinders van Sara, kinders van die belofte, kinders wat vrygeborenes is, en wat hulle nie weer onder ’n slawejuk moet begeef nie.  Anders sou hulle slawekinders van Hagar wees.

Verbondskinders deur Christus – 5:2-12

Paulus maak daarom ’n dringende appèl op hulle om nie hulle band met Christus te verloor deur die dwaasheid van die Joodse wetsdrywers nie.  En hy maak aanspraak op die persoonlike band wat hom met hulle verbind.  Om die waarheid te sê, hy vertrou dat hulle vas sal bly staan in wat hy hulle geleer het, en hoop dat die dwaalleraars liewer hulleself ernstig sal beseer …

Paulus gaan so ver as om te sê dat jy die genade van God verbeur as jy ook nog die wet probeer nakom (vgl. ook Gal. 5:4), veral deur jou te besny.  Want dan moet jy die hele wet nakom – jy kan nie selektief wees en net 1 of 2 goed kies wat jou pas om na te kom nie.  Daarom dat hy dit daarteenoor so beklemtoon: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (Gal. 5:6).

Betekenis

Paulus probeer hiermee dus die volgende regkry:

  • Hulle identiteit moet in Christus gesoek word en nie in die Joodse wet- en kultuurgebruike nie, anders loop hulle gevaar om terug te val in ’n eksklusiewe Joodse geloof.
  • Hulle gedrag moet in ’n geloofsverhouding met Christus gevestig wees (wat hy in die volgende deel in terme van die Gees gaan uitspel), anders loop hulle gevaar om te leef asof Christus nog nie gekom het nie.

En moenie dink dat ons vry is van hierdie versoeking nie.  Dink net terug aan die sabbatswetgewing wat nog tot onlangs deel van ons land se wette was (nogal toegepas op ’n Sondag!) en in die kerk met oorgawe nagevolg is.  Dit berus op ’n Joodse interpretasie van die wet, nogal ’n verskraalde een, want ons het nie die besnydenis toegepas nie!   En dan praat ons nie eers van die stig van aparte kerke wat op ’n ras-gebaseerde interpretasie van die Skrif gebaseer was nie, en eweneens ’n wet vir die gemeenskap van gelowiges geword het nie.  Ons kerk nou nog aan die gevolge van daardie dwaasheid.

Paulus se woorde is dus gemik teen enige reël wat ons van toepassing maak op die gemeenskap van die gelowiges en wat nie met geloof en Christus in die eerste plek te make het nie.

Om dit saam te vat: “Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan” (5:6).  Dit moet ons in ons eie lewe navolg, en ander toelaat om dit op hulle eie wyse na te volg.

Galasiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: