1 Korintiërs 2 – God oortuig deur getuienisse

Daar is altyd die gevaar dat ’n mens sal dink dat geleerdheid en welsprekendheid mense sal oortuig eerder as die kragtige werking van die Gees wat deur die boodskap van Jesus Christus self werk.  Paulus herinner ons daaraan dat ’n oortuiging gegrond op menslike redenasies aards bly en ontoereikend is.  ’n Oortuiging wat van God af kom, kom per definisie nie van menslike wysheid af nie, maar word aan jou geopenbaar.

Daarom het Paulus – en onthou sy ervaring op die Areopagus in Atene, waar hy argumentatief gewerk het en min sukses gehad het (Hand 17:16 vv), hoewel daar geleerdes is wat hiervan verskil – hom hier voorgeneem om by die inhoud van die boodskap van Jesus Christus te bly, en die Here te vertrou vir die uitwerking daarvan op die mense wat na hom luister.

Dit herinner my net weer daaraan dat ’n mens versigtig moet wees wanneer jy met ongelowiges in gesprek tree oor die Here, en nie te veel tyd moet spandeer aan argumente vir die geloof nie, maar veel eerder aan getuienisse oor geloof en oor God (die vertaling in vers: “geheimnisvolle waarheid” word letterlik as “getuienis” in die oorspronklike aangegee!), want daarin lê die krag van ’n openbaring van God se Gees.  Argumente vir die geloof het immers meer betekenis vir gelowiges as vir ongelowiges.

Dat Paulus hier op Jesus as die gekruisigde fokus het te make met van die probleme wat hy met die gemeente ervaar, spesifiek dat hulle nie hul eie voorkeure in terme van leiers kruisig en die eenheid in Christus belangriker ag as hulle eie “wysheid” nie.  Tog kan hy nie anders as om later voluit te praat oor die opstanding en ook die wederkoms nie (hfts 15), omdat dit die kruis in perspektief plaas en die sentrum van ons hoop vorm.

Dit is interessant dat sy bewussyn van sy swakheid, nie net terugverwys na sy ervaringe in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene nie, maar die opening laat vir God om Sy krag te demonstreer.  Dit is juis hier waar hy die gesig gekry het van God wat hom aanmoedig om aan te hou met die bediening (Hand 18:9).  En in 2 Korintiërs sal Paulus uiteindelik skrywe oor swakhede, sowel die swakhede waarvoor die Satan verantwoordelik is (die doring in die vlees), as swakhede wat inherent aan jouself of jou omstandighede is: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:9).  Daarom sê Paulus: “sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.” (12:10).

“Heersers van hierdie wêreld” dui waarskynlik hier die politieke leiers van sy tyd aan (dieselfde woord word gebruik as in Rom 13:3, waar dit onteenseglik op aardse leiers dui), hoewel die gedagte van die gevalle engele wat ’n rol speel in wêreldsake ook op die agtergrond is, waaroor Paulus meer uitgebreid sal skrywe in sy brief aan die Efesiërs (hfst 6).

View all posts in this series

getuienis, Heilige Gees, Korintiërs, oortuiging


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Inderdaad word vers 1 in die Ou Vertaling weergegee as “die getuienis van God” en in die King James vertaling, en ander vetalings waarna ek gekyk het “the testimony of God”. Wonder waar kom die nuwe vertaling aan “die geheimnisvolle waarheid van God” ?

  • N.a.v. 1 Korin. 1 – Partyskappe skend die Eenheid in Christus: Aan die ander kant – “…wat is dit aan die kerk dat dit (tog – ongeag partyskappe!) liefde betoon…juis as ander weg-kyk en anderpad-leef? Natuurlik is dit die evangelie self!…Dit gee aan die kerk ‘n identiteit, boodskap en roeping.” En verder bely ons “…EEN God en Vader, EEN Here, EEN Gees, EEN Geloof, EEN Hoop, EEN Doop, EEN Nagmaalsbeker en brood.” (Bron: Dirkie Smit. Dieper as wat ons dink, p. 103).

    • Die geheim is mense wat geleer het – soms deur skade en skande – dat daar meer seën is in om te gee as om te ontvang, en dit regkry om die voorbeeld van Christus te volg wat sy eie belange neergelê het ter wille van ander.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: