2 Korintiërs 6:14-7:16 – Toegewy aan God alleen

Paulus eindig sy beskrywing van Christenskap deur gelowiges weer te beskryf met die metafoor van die tempel van God wat daarom nie ‘n vennootskap met die ryk van die duisternis kan hê nie (6:14-7:1).  Dit is ook die beste hoek vanwaar af ‘n mens die opdrag in vers 14 moet probeer verklaar: “Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie.”  Niks moet hulle gemeenskap met Christus en mekaar in die gedrang bring nie, want hulle is God se tempel.

Paulus haal hierdie frase aan uit Deut 22:10 wat ‘n verbod plaas daarop om ‘n os en donkie saam in te span om te ploeg.  Hoewel sommige daaruit aflei dat gelowiges alle bande met ongelowiges moet verbreek, maak dit nie sin in die lig van Paulus se lering in 1 Kor 5:9-13 en sy verstaan van sy roeping in 9:19-23 nie waar hy juis kontak met ongelowiges aanmoedig ter wille van die bediening van die evangelie.  Dit is immers hoe die evangelie werk – dit is die goeie nuus van God wat bedoel is vir mense wat vasgevang sit in duisternis en hulle sondige lewenswyse.

Nog ander dink dat Paulus – soos juis uit 1 Kor 5 afgelei kan word – hier eerder van mense binne die kerk praat, wat nie volledig met hulle sondige lewenswyse breek nie, en eintlik soos ongelowiges lewe, en dat gelowiges nie met hulle in ‘n vennootskap moet leef nie.  Maar Paulus raai gelowiges op verskeie plekke in 1 en 2 Korintiërs (1 Kor 5; 2 Kor 2) om sulke mense te vermaan en te tugtig deur onder andere die gemeenskap met hulle te verbreek, maar om die gemeenskap dan weer te hervat, indien daar inkeer en berou sou wees.

Hoewel dit dus nader aan die waarheid sou kon wees, lyk dit beter om uit die 5 kort retoriese teenstellende vrae (reg/onreg; lig/duisternis; Christus/Belial [naam vir die duiwel]; gelowige/ongelowige; tempel van God/tempel van die afgode) wat Paulus gebruik om sy punt tuis te bring, af te lei dat hy praat van enigiets wat ‘n kompromie sou beteken tussen hulle Christelike waardes en standaarde en dié van die ongelowiges.  Dit kan dus mense wees, binne of buite die gemeenskap van die gelowiges, wat jou tot onreg of duistere optredes sou kon verlei.  Jy moet nie met hulle in ‘n vennootskap wees nie.

En let op dat dit eintlik gaan oor wat die effek op die gelowige gaan wees, nie soseer as maar net ‘n algemene reël dat ongelowiges vermy moet word nie.  Dit sou dwaas wees om ongelowiges te vermy in die lig van die evangelie wat juis by alle mense moet uitkom.

Met 3 aanhalings wat in 10 OT tekste voorkom (Vers 16: vgl. Lev. 26:12; Jer. 32:38; Eseg. 37:27; Vers 17: Jes. 52:11; Jer. 51:45; Eseg. 20:34; vgl ook Op. 18:4; Vers 18: Vgl. 2 Sam. 7:8; 7:14; Jes. 43:6; Jer. 31:9) word sy punt onderstreep: Niks mag die gemeenskap met God in gevaar stel nie.  En dit is nie net waar van ‘n mens se verhouding met ander nie, maar ook van jou eie persoonlike lewe: jou liggaam en gees moet gereinig word van alles wat jou gehoorsaamheid aan God in die gedrang kan bring, sodat jy in volkome toewyding aan Hom kan lewe.

Dan tel Paulus in hoofstuk 7:2 weer die draad op wat hy in hoofstuk 2:13 onderbreek het, en vertel van sy blydskap toe hy Titus weer raakgeloop het, en kon hoor dat dit goed gaan met die gelowiges in Korinte.  Hy is veral bly dat sy brief by hulle vrug gedra het.  Al was hulle hartseer, was hulle hartseer volgens die wil van God en het dit tot ‘n verdieping van hulle geloof gelei.  Dit kan Paulus sien in die feit dat hulle meer erns maak met hulle roeping as gelowiges en met groter verantwoordelikheid in die gemeente optree.

Wat my tref van hierdie hoofstuk, en eintlik daarmee van die hele korrespondensie van Paulus met die Korintiërs, is dat die gemeenskap met God só belangrik is, dat niks, MAAR NIKS – nie binne jouself of binne die gemeenskap van die gelowiges of binne die wêreld daarbuite – jou gemeenskap met God mag bedreig of in gevaar stel nie.  Gemeenskap met God is ononderhandelbaar.  Dit moet nagejaag word met alles wat in jou is, elke dag en elke oomblik van elke dag.

Dit laat my nog meer waardering kry vir die impak wat die lewe van Brother Lawrence gehad het, die ongeletterde kok in ‘n klooster, wat met sy lewenspraktyk wat bekend geword het as Practicing the Presence of God die verbeelding van die Christelike wêreld aangegryp het, toe hy sy lewensverhaal vir iemand vertel het en dié dit in boekvorm vir ons bekendgestel het.

Dit is belangriker as enigiets – om jouself en die gemeente as ‘n tempel van God te beskou en gemeenskap met Hom te beoefen – ALTYD en in ALLES en ORAL!  Geen wonder nie dat Paulus homself in hoofstuk 2 onderbreek het om dié feit net weer vir ons te onderstreep nie.

View all posts in this series

Korintiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

    • Hi Malcolm. Paulus verwys waarskynlik na ‘n brief wat hy vroeër vir hulle geskryf het om hulle te betig oor allerlei (2 Kor 2:4). Daardie brief is óf 1 Korintiërs óf ‘n ander brief aan die Korintiërs wat ons nie meer besit nie. Indien dit na 1 Korintiërs verwys, het hy moontlik verwys na die man wat met sy ma in ‘n verhouding was (1 Kor 5). Indien dit na ‘n ander brief verwys, praat hy moontlik oor iemand wat sy apostoliese gesag uitgedaag het.

      Hoe dit ook al sy, hy kom agter die gemeente het hulle plig nagekom om die persoon tereg te wys, en prys hulle daarvoor. En hy gebruik die geval om hulle te leer wat die verskil is om hartseer te wees oor iets wat tot inkeer lei teenoor om hartseer te wees oor iets wat nie tot inkeer lei nie, omdat dit volgens wêreldse oorwegings is.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: