1 Korintiërs 11 – Oor mans en vroue in die erediens

Paulus begin hier aandag gee aan sake wat by die erediens hoort en sal:

  1. in hoofstuk 11 stilstaan by die wyse waarop mans en vrouens in die erediens moet optree, en hoe die Nagmaal gevier moet word;
  2. in hoofstuk 12 by die verskeidenheid van geestelike gawes en hoe dit die een liggaam van Christus moet opbou;
  3. in hoofstuk 13 by die liefde wat belangriker as enigiets is en eintlik die samebindende krag is wat die verskeidenheid in die liggaam tot ’n eenheid saamsnoer; en
  4. in hoofstuk 14 terugkeer na die inrigting van die erediens en stilstaan by hoe die gawes gebruik moet word tot stigting van die hele gemeente, waarin die gawe van profesie eerder as tale gebruik moet word.

Hoe mans en vroue moet bid en profeteer

Ek kan nie anders as om my te verwonder oor die jarelange debat oor die dra van hoede deur vroue al dan nie.  Dit maak my tegelyk kwaad en hartseer – kwaad omdat mense met soveel onkunde hieroor geredeneer het en geslagte van vroue aan hoede verbind het; hartseer omdat soveel mans en vroue ’n verkeerde interpretasie as die Woord van God aanvaar het en gedink het die Here self skryf hoede vir vroue voor.

En let op dat vir baie lank die eksplisiete boodskap van hierdie gedeelte gemis is, dat vroue saam met mans mag bid en profeteer in die gemeente!  ’n Boodskap wat gemis is, omdat op die hoede gefokus is, ’n voorwerp wat in elk geval nie eers genoem word in die gedeelte nie, net ’n hoofbedekking.

Paulus werk hier met die algemene sosiale gebruik (let op in vers 14-15) dat vrouens in dié tyd lang hare gehad het en ’n hoofbedekking gedra het in die openbaar, anders sou hulle as prostitute gereken kon word, dws as hulle kort of los hare gehad het en sonder ’n hoofbedekking opgetree het.  Daarom was dit die gebruik in die gemeentes, en om geen ander rede nie.

Soos die sosiale gebruike verander, moes die gebruike in die erediens ook verander het.  Maar, helaas, dit was nie die geval nie; daar is vir eeue vasgeklou aan uitgediende sosiale gebruike asof dit deur die Here self ingegee is.

Dit hang natuurlik saam met die algemene misverstaan van die rol van vroue in die kerk, waarin die swygverbod van 1 Korintiërs 14:34 en 1 Tim 2:11-12 ’n groot rol gespeel het.

  • Paulus skryf in 1 Korintiërs 14:34 oor vroue, wat soos die gebruik vandag nog in Oosterse kerke is, apart van hulle mans in die kerk gesit het , baie keer op die balkon, en dan te veel gepraat het sodat dit die gang van die erediens onderbreek het.  Dit is wat hy verbied, ’n onderlinge gepratery, nie ’n optrede binne die gemeente deur vroue nie.  Paulus het dus geen probleem gehad dat vroue as bidders en profete en met watter ander gawe hulle ook al het, optree in die gemeente nie, soos hierdie gedeelte in hoofstuk 11 bewys.
  • Paulus het ’n paar uitsonderings gemaak rondom Timoteus, waarvan die swyg-gebod in 1 Tim 2 en Timoteus se besnydenis (Hand 16) twee was.  ’n Mens wonder hoekom?  Want die situasie in die res van die kerk was só dat vroue vryelik toegelaat is om te bid en te profeteer, bv. in Korinte.  Daarom dat kommentare dink dat die verbod aan Timoteus waarskynlik met die spesifieke situasie in Efese, waar Timoteus gewerk het, te make gehad het.  Hulle wys daarop dat vroue in daardie tyd meesal as ondergeskik aan mans gereken is, uitgesonderd sommige vroue wat in aansien was of baie geld of besittings gehad het.  In die Joodse sinagoges mag alle vroue in elk geval net geluister het, en nie gepraat het nie.  Die gemeentes het egter begin om, na die voorbeeld van Jesus, vroue op ’n gelyke voet te hanteer (Gal 3:28: “dit maak nie saak of iemand … man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”).  Daarom was daar ook baie wat as diakens en mede-werkers opgetree het, selfs as leraars (Phoebe) en apostels (Junia) soos ons in Romeine 16 lees.  Die groot prediker Apollos, wat so ’n groot aanhang in Korinte gehad het, is byvoorbeeld deur Priscilla en Akwila onderrig (Hand 18:24-26).  Maar die algemene sosiale status van vroue was steeds as ondergeskik gereken, en daarom lê Paulus hier ’n swaarder beperking op hulle, waarskynlik ter wille van die heidene, sowel as die Jode, in die stad.  Dit kan ook wees dat hy skerper hier optree weens die gewoonte van sommige van die vroue in Efese om van huis tot huis te skinder en ledig, bemoeisiek en praatsiek te wees (1 Tim 5:13).  En let op dat die beperking eintlik net van toepassing is op lering aan volwasse mans (nog meer spesifiek die leiers – as ’n mens in ag neem dat sy argument rondom gesag draai), want in Titus gee hy in elk geval die riglyn dat vroue ander vroue mag onderrig (2:4-5) en hy erken eksplisiet die onderrig wat Timoteus se ouma en ma aan hom as kind gegee het (2 Tim 1:5; 3:14-15).

Lees ook my ekskursus oor ‘n paar vroue in die NT.

Hoe om die Nagmaal te gebruik

Paulus brei sy voorskrifte vir die erediens uit na die wyse waarop die Nagmaal gevier moet word.

Hier moet ’n mens in gedagte hou dat baie gelowiges in Korinte slawe was.  Weens hulle omstandighede moes hulle tot laat werk (en ook van vroeg af in terme van oggendbyeenkomste) en gevolglik baie keer laat opgedaag vir die aandbyeenkomste.  Dit het dus baie keer gebeur dat die meer vermoënde lidmate solank begin eet het – onthou dit was ’n liefdesmaal waartydens die Nagmaal ingestel is – en dat daar nie meer oor was as die ander by hulle aansluit nie.  Dit het die armes verneder en Paulus spreek hom skerp hieroor uit en stel die eenheid voorop, wat uitdrukking kry in die mededeelsaamheid van ryk en arm by die Nagmaalstafel.  Die rykes moet daarom by die huis klaar eet, as hulle nie kan wag met al die kos by die nagmaalstafel nie (vers 34)!

Na hy die lering oor die Nagmaal gegee het, wat hy by die Here self ontvang het, pas hy dit toe op ’n verdere ongepaste wyse om die Nagmaal te gebruik, naamlik om nie selfondersoek te doen nie.  Daardeur drink en eet mense ’n oordeel oor hulleself wat letterlik ’n fisiese uitwerking op hulle het en sal hê.  ’n Mens moet dit nou nie interpreteer asof net diegene dood is wat die Nagmaal verkeerd gebruik het nie, maar dat daar in die algemeen meer siektes en dood by hulle teenwoordig was wat Paulus wyt aan die feit dat hulle nie as ’n gemeente genoegsaam bedagsaam voor die Here God lewe nie.

View all posts in this series

Korintiërs, vroue


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: