Efesiërs 6:10-24 – Soek julle krag in die Here en in sy groot mag
Dit sluit aan by wat Paulus al vroeër gesê het en bou op die uitsprake van God wat krag gee. Ons het juis nodig dat ons oë oopgaan vir die groot krag wat God in ons ontketen het, soos Paulus al in 1:19 geskrywe het: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet … hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo”!
En die rede waarom dit belangrik is, is omdat dit net God se krag is wat ons in staat sal stel om op ons pos te kan bly en mee te werk aan die vestiging en uitbreiding van die evangelie! Ons voer die stryd nie alleen nie.
Dit is interessant om te sien wat die dinge is waardeur ons die krag van God ervaar en toelaat in ons lewe. Paulus noem 7 maniere, waarvan net een, die Woord, met ‘n aanvalswapen gekoppel word, die swaard:
- Waarheid – in die lig van 5:6-20 het dit te make met die vasstaan in die lig van die waarheid, teen die onwaarhede wat mense verkondig (5:6) sowel as om die vrugtelose praktyke van die duisternis aan die kaak te stel (5:11). In ons toewyding aan die waarheid, ervaar ons God se krag wat ons vol maak van Homself. Die waarheid is soos ‘n gordel waarmee ‘n soldaat sy jurk opgebind het, sodat hy makliker kon beweeg. Dit maak ons vry in ons binneste van verslawing en weerbaar teen versoeking in die publiek.
- Vryspraak (geregtigheid) – dit het te make met die feit dat in Christus ons in die regte verhouding met God gekom het, en dat ons nou vrye toegang tot die Vader het. In ons blydskap oor God wat ons aangeneem het, volledig uit genade, ervaar ons die krag om standvastig te bly in die wêreld.
- Getuienis – die bereidheid om die evangelie na mense te neem, is ‘n kragtige bevestiging van God se werk in jou eie lewe. Dit is soos die skoene aan die voete van die soldaat wat sorg dat hy oor ruwe terrein kan beweeg, met die getuienis van die goeie nuus van die evangelie vir alle mense.
- Geloof – die vertroue op God en die afhanklikheid van wat Hy doen, is die enigste manier om die aanslag van die bose af te weer. Dit is soos ‘n skild wat jou beskerm teen die brandpyle van die vyand. Let op dat daar nie ‘n pyl en boog in die hand van die gelowige is nie, net ‘n skild om weerbaar te wees.
- Verlossing (redding) – as vryspraak die objektiewe werk van Christus in ons lewe is om ons in die regte verhouding met God te bring, is verlossing die subjektiewe diep oortuiging in ons binneste dat God dit inderdaad goed bedoel met ons en ons vir Homself as kinders aangeneem het. Dié oortuiging funksioneer soos ‘n helm op ons kop wat die sentrum van ons lewe, ons brein, beskerm.
- God se Woord – die enigste aanvalswapen is die Woord van die Gees, soos Paulus dit stel. En let op dat die Heilige Gees en die Woord direk aan mekaar gekoppel word. Die een kan nie sonder die ander nie – albei is nodig om regtig in God se wil vir jou lewe te kan wandel.
- Gebed – dit is die aspek waarop die meeste uitgebrei word. Let op dat gebed allesomvattend is – by elke geleentheid, gedurig, vir alle gelowiges, vir die evangelie.
Paulus gebruik ‘n oorlogsmetafoor (soos Jesaja ook gereeld doen) wat hy uitspel in terme van ‘n wapenrusting, gordel, borsharnas, skoene, skild, en swaard. Omdat dit ‘n geestelike stryd is wat met dié wapens gevoer word, is die term “geestelike oorlogvoering” gemunt, ongelukkig met ‘n inkleding wat min met die teks self te make het.
Kyk weer na die dinge wat Paulus uitlig, en jy sal sien dat sy opdrag nie direk met ‘n aanval op die bose magte te make het nie, inteendeel, eerder met ‘n fokus op drie aardse goed: 1) mense aan wie die evangelie verkondig moet word (vers 15), 2) mense vir wie gebid moet word (vers 18-19) en 3) jou persoonlike lewe, waarin jy vas moet staan in die waarheid, vryspraak, getuienis, geloof, verlossing, die Woord en gebed. Nie een opdrag het met die kosmiese magte as sodanig te make nie.
Deur vas te staan in die waarheid en die geloof, deur te bid en te getuig word weliswaar die mag van die bose in mense se lewens gebreek – die mag van die politiek, ekonomie en kultuur – maar altyd met werklike mense in die oog. Daarmee ontken ek nie die bestaan van die duiwel en bose magte nie, maar fokus op dít wat die teks van ons vra – en die teks vra nie ‘n direkte geveg met die Bose nie, maar ‘n betrokkenheid by werklike mense. Selfs die engele skram van ‘n direkte geveg met die duiwel weg, sê Judas 8-11. Hoe ons geestelike oorlogvoering dus die kosmiese magte raak, word nie dieper deur Paulus hier uitgespel nie.
Paulus sluit af met die enigste persoonlike woord aan hulle, oor Tigikus, die getroue dienaar, wat hulle persoonlik sal inlig oor Paulus se situasie, en waarskynlik ook vir hulle die brief sal bring (soos ook die ander gevangenskap briewe).
View all posts in this series
- Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012 - December 9, 2011
- Handelinge 18:18-19:40 – God doen wonderbaarlike dinge in Efese - January 31, 2012
- Handelinge 20:17-38 – Om te gee, maak ‘n mens gelukkiger as om te ontvang - February 1, 2012
- Efesiërs 1:1-23 – God seën ons om alles in almal te vervul - February 2, 2012
- Efesiërs 2:1-22 – God woon in die gemeenskap van gelowiges - February 3, 2012
- Efesiërs 3:1-21 – God vervul ons met krag, geloof, liefde, insig, ervaring en Sy volheid - February 6, 2012
- Efesiërs 4:1-16 – Om saam in alle opsigte te groei na Christus toe - February 7, 2012
- Efesiërs 4:17-5:20 – Die Heilige Gees vervul ons om heilig en in liefde te leef - February 8, 2012
- Efesiërs 5:21-6:9 – Ander se belange word eerste gestel in die huwelik, gesin en werkplek - February 9, 2012
- Efesiërs 6:10-24 – Soek julle krag in die Here en in sy groot mag - February 10, 2012
- Selfopofferende versus selfbevredigende liefde - July 5, 2016
Anler
Hi Ds Chris. Ek is van Port Elizabeth en was al vele keer ‘n diens bygewoon in julle gemeente. Ek verlang sommer nou terug na PE. Ek het gister aand ‘n gesprek met my Pappa gehad, waar ek nou werk is ek tussen bos en dal en voel veral naby aangesien dit baie natuur om my is, en met Hom gepraat soos ek met my pa sal praat op aarde en Hom my harts begeerte gevra en in ‘n droom gisteraand is daar vir my gese ek moet Efesiërs gaan lees. Ek het nou navorsing gaan doen op die web en so op die tuisblad gekom. Ek kan nie ‘n antwoord op my vraag sien in Efesiers nie of miskien is ek net oor haastig. Kan u my asb leiding gee waaroor die boek gaan en hoe ek op ‘n antwoord kan kom. Ek sal ook bitter graag per epos met u in verbinding wil tree. Baie dankie en groete aan my tuis dorp. L 🙂
Chris van Wyk
Hi – Ek het ‘n paar woorde oor Efesiërs geskryf by http://bybelskool.com/efesiers/. Jy kan ook hier vrae vra en ek sal antwoord soos ek tyd kry. As jy kontak wil maak, kan jy my e-pos acv.vanwyk@gmail.com gebruik. Groete.