Skip to main content

Efesiërs 6:10-24 – Soek julle krag in die Here en in sy groot mag

Paulus sluit sy brief af met ‘n fokus op wat ‘n mens krag gee in die publieke stryd om standvastig te bly in en vir die evangelie van Jesus Christus. God is besig om sy een nuwe mensheid te vestig (hfst 2) en deur die kerk uit te brei (hfst 3-4) en wil deur die krag wat Hy gee, sorg dat die liggaam van Christus die oorwinning sal behaal in die stryd om geestelike lojaliteit in die lewe van mense.  Dit is ‘n geestelike stryd wat met die ideologieë en verstaansraamwerke van mense en sisteme te make het – polities, ekonomies, en kultureel – sowel as met die kosmiese magte wat daaragter sit.

Dit sluit aan by wat Paulus al vroeër gesê het en bou op die uitsprake van God wat krag gee. Ons het juis nodig dat ons oë oopgaan vir die groot krag wat God in ons ontketen het, soos Paulus al in 1:19 geskrywe het: “Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet … hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo”!

En die rede waarom dit belangrik is, is omdat dit net God se krag is wat ons in staat sal stel om op ons pos te kan bly en mee te werk aan die vestiging en uitbreiding van die evangelie!  Ons voer die stryd nie alleen nie.

Dit is interessant om te sien wat die dinge is waardeur ons die krag van God ervaar en toelaat in ons lewe.  Paulus noem 7 maniere, waarvan net een, die Woord, met ‘n aanvalswapen gekoppel word, die swaard:

  1. Waarheid – in die lig van 5:6-20 het dit te make met die vasstaan in die lig van die waarheid, teen die onwaarhede wat mense verkondig (5:6) sowel as om die vrugtelose praktyke van die duisternis aan die kaak te stel (5:11).  In ons toewyding aan die waarheid, ervaar ons God se krag wat ons vol maak van Homself.  Die waarheid is soos ‘n gordel waarmee ‘n soldaat sy jurk opgebind het, sodat hy makliker kon beweeg.  Dit maak ons vry in ons binneste van verslawing en weerbaar teen versoeking in die publiek.
  2. Vryspraak (geregtigheid) – dit het te make met die feit dat in Christus ons in die regte verhouding met God gekom het, en dat ons nou vrye toegang tot die Vader het.  In ons blydskap oor God wat ons aangeneem het, volledig uit genade, ervaar ons die krag om standvastig te bly in die wêreld.
  3. Getuienis – die bereidheid om die evangelie na mense te neem, is ‘n kragtige bevestiging van God se werk in jou eie lewe.  Dit is soos die skoene aan die voete van die soldaat wat sorg dat hy oor ruwe terrein kan beweeg, met die getuienis van die goeie nuus van die evangelie vir alle mense.
  4. Geloof – die vertroue op God en die afhanklikheid van wat Hy doen, is die enigste manier om die aanslag van die bose af te weer.  Dit is soos ‘n skild wat jou beskerm teen die brandpyle van die vyand.  Let op dat daar nie ‘n pyl en boog in die hand van die gelowige is nie, net ‘n skild om weerbaar te wees.
  5. Verlossing (redding) – as vryspraak die objektiewe werk van Christus in ons lewe is om ons in die regte verhouding met God te bring, is verlossing die subjektiewe diep oortuiging in ons binneste dat God dit inderdaad goed bedoel met ons en ons vir Homself as kinders aangeneem het.  Dié oortuiging funksioneer soos ‘n helm op ons kop wat die sentrum van ons lewe, ons brein, beskerm.
  6. God se Woord – die enigste aanvalswapen is die Woord van die Gees, soos Paulus dit stel.  En let op dat die Heilige Gees en die Woord direk aan mekaar gekoppel word.  Die een kan nie sonder die ander nie – albei is nodig om regtig in God se wil vir jou lewe te kan wandel.
  7. Gebed – dit is die aspek waarop die meeste uitgebrei word.  Let op dat gebed allesomvattend is – by elke geleentheid, gedurig, vir alle gelowiges, vir die evangelie.

Paulus gebruik ‘n oorlogsmetafoor (soos Jesaja ook gereeld doen) wat hy uitspel in terme van ‘n wapenrusting, gordel, borsharnas, skoene, skild, en swaard.  Omdat dit ‘n geestelike stryd is wat met dié wapens gevoer word, is die term “geestelike oorlogvoering” gemunt, ongelukkig met ‘n inkleding wat min met die teks self te make het.

Kyk weer na die dinge wat Paulus uitlig, en jy sal sien dat sy opdrag nie direk met ‘n aanval op die bose magte te make het nie, inteendeel, eerder met ‘n fokus op drie aardse goed: 1) mense aan wie die evangelie verkondig moet word (vers 15), 2) mense vir wie gebid moet word (vers 18-19) en 3) jou persoonlike lewe, waarin jy vas moet staan in die waarheid, vryspraak, getuienis, geloof, verlossing, die Woord en gebed.  Nie een opdrag het met die kosmiese magte as sodanig te make nie.

Deur vas te staan in die waarheid en die geloof, deur te bid en te getuig word weliswaar die mag van die bose in mense se lewens gebreek – die mag van die politiek, ekonomie en kultuur – maar altyd met werklike mense in die oog.  Daarmee ontken ek nie die bestaan van die duiwel en bose magte nie, maar fokus op dít wat die teks van ons vra – en die teks vra nie ‘n direkte geveg met die Bose nie, maar ‘n betrokkenheid by werklike mense.  Selfs die engele skram van ‘n direkte geveg met die duiwel weg, sê Judas 8-11.  Hoe ons geestelike oorlogvoering dus die kosmiese magte raak, word nie dieper deur Paulus hier uitgespel nie.

Paulus sluit af met die enigste persoonlike woord aan hulle, oor Tigikus, die getroue dienaar, wat hulle persoonlik sal inlig oor Paulus se situasie, en waarskynlik ook vir hulle die brief sal bring (soos ook die ander gevangenskap briewe).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Efesiërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms