Kolossense 1:1-14 – Om God te ken en vir Hom te lewe
Kolossense
Die brief is uit die gevangenis geskryf – soos ook Filippense, Efesiërs en Filemon – en soos met die ander drie briewe word die brief met Paulus se Romeinse gevangeniskap verbind (Kol 4:3,10,18). Die brief was dus waarskynlik in die vroeë sestigerjare nC geskrywe, net voor ‘n aardbewing die stad getref het in 61 nC en volgens historici waarskynlik die plek verwoes het. Vandag is daar net ruïnes oor.
Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk. Dit is dus nie soseer die mense self – bv dwaalleraars – wat aangevat word nie. Hy vat eerder hulle idees en praktyke aan. Daar was in elk geval nog nooit sekerheid onder geleerdes om hierdie idees met ‘n spesieke bekende groep uit daardie tyd te verbind nie – hetsy die gnostici of die Joodse mistiek of ‘n mengsel daarvan nie.
Wat ‘n mens uit die brief aflei, is dat hierdie idees en gebruike van ’n interessante vermenging van Joodse en ander godsdienstige en filosofiese idees en praktyke gekom het.
- Dit sluit teorieë (letterlik filosofieë) en argumente (leë leringe), waarmee Paulus nie die filosowe as sodanig aanvat nie, maar dié in Kolosse wat inhoudsloos was en slegs op menslike tradisies en basiese okkultiese of astrologiese beginsels berus het (NAV se “wettiese godsdienstige reëls” vertaal die Griekse frase: ta stoicheia tou kosmos, wat eerder beteken: “die magte van die heelal” – O’Brien), en nie op Christus nie (2:8,20).
- Dit sluit ook sekere Joodse voorskrifte in – dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie (vgl ook 2:20-21), feeste wat gevier moet word (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees) en die hou van die sabbatdag (2:16).
- Daarby was daar ook sprake van ‘n aanbidding van engele (2:18), en asketiese gebruike (streng beheersing van die liggaam – 2:23).
‘n Swetterjoel vreemde invloede dus wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en hulle in bygeloof te laat verval.
In Christus is hulle immers dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (2:20). En hierdie selfgemaakte leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie (2:23). Selfs nie die besnydenis is meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (3:10). Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met selfgemaakte leerstellings, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word.
Paulus help dus die gemeente en sy leiers om vir dié idees en praktyke te kan nee sê, voor dit te veel aanhangers in die gemeente sou hê. Die brief is dus eintlik een van die vroegste Christelike Apologieë, wat die Christelike godsdiens teenoor leë filosofiese teorieë en vreemde gebruike verdedig.
Paulus wil daarteenoor sterk beklemtoon dat dit in die Christelike geloof net om Christus gaan, iets wat hy ook sterk beklemtoon het in sy brief aan Filippi (Fil 3:1 vv). Dit is waarom hy in die eerste hoofstuk soveel klem lê op die voorrang van die Seun, nie net in betrekking tot die aarde nie, maar ook met betrekking tot die hemel (Kol 1:15-20). Die enigste manier om te leef, is om vanuit ‘n verhouding met Christus te leef en Hom toe te laat om alle verhoudinge waarbinne jy leef, te beïnvloed (Kol 3 vv). Dit het ‘n invloed op jou eie menswees (3:5-17), op jou verhoudings in die huweliks- en gesinslewe, op jou verhoudings in die werksplek (3:18-4:1), sowel as op jou verhouding met mense wat nog buite die geloof staan (4:5).
Dit is ook interessant dat die brief van Kolossense sterk inhoudelike ooreenkomste het met die brief van Efesiërs. Beide gemeentes se geloof en liefde word vermeld (Kol 1:4,8 – Ef 1:15), Paulus bid vir hulle vir nog dieper geestelike insig (Kol 1:9-10 – Ef 1:17 – vgl Fil 1:9-10), Jesus word as Hoof van die kerk beskryf (Kol 1:18,24 – Ef 1:22-23) sowel as oor die magte (Kol 1:16-17 – Ef 1:21), en hulle word tot ‘n heilige lewe opgeroep (Kol 3:1-17 – Ef 4:17-5:13). Dit wil voorkom asof Efesiërs verder uitbrei op temas wat in Kolossense aangeraak is, wat geleerdes Kolossense voor Efesiërs plaas (Lincoln), maar daar is nie genoeg bewyse na watter kant toe ook al nie.
Kolossense 1:1-14 – Om God te ken en vir Hom te lewe
Lees die teksgedeelte en luister na wat die Here vir jou daardeur wil sê.
Lees dan die onderstaande bydrae vir verryking:
Paulus word weer saam met Timoteus as die skrywers van die brief aangekondig, soos vroeër ook die geval was met die brief aan 1 Tessalonisense en 2 Korintiërs, en twee van die ander gevangeniskapbriewe: Filippense, en Filemon.
Paulus maak God deel van sy gesprek met Kolosse
Dit is interessant hoe Paulus sy gebed in gesprek laat oorgaan. Hy begin deur God te dank vir die gemeente se geloof, liefde en hoop (1:3-8), doen voorbidding vir hulle (1:9-14 – dit is in Grieks een sin!), en laat die gebed dan sonder onderbreking oorgaan in ‘n gesprek om hulle aan te spoor om self ook nie op te hou om die Here te dank nie (1:12-14). Dit mond uit in ‘n poëtiese loflied op die voorrang van die Seun, wat die meeste geleerdes as ‘n loflied uit daardie tyd identifiseer (1:15-20).
In die praktyk tref ons gewoonlik ‘n onderskeid tussen gebed – waar ons met God besig is – en gesprek – waar ons met mekaar besig is. Dink egter net aan die effek wat dit kan hê as ons gebede deel van ons gesprekke sou maak. En ek bedoel nou nie om dit geforseerd te doen nie, maar heel gemaklik in ons gemeenskap met mekaar die Here te erken en Hom deel van ons gesprekke te maak. Dit kan ‘n dimensie vir ons oopmaak van God se teenwoordigheid in ons almal se lewens wat lewensveranderend kan wees.
Geloof, liefde en hoop
Let ook op na wyse waarop Paulus oor die drie groot sake van die Christelike lewe skryf: geloof, hoop en liefde (1 Kor 13:13; 1 Tes 1:3; vgl ook 1 Pet 1:3-9). Hy beskryf hier geloof en liefde as dinge wat op die hoop gebou is. En dié hoop is verbind aan (weggelê het die OAV vertaal – weggebêre) die hemel, God se werklikheid – ‘n bietjie anders verwoord as in Paulus se brief aan Korinte en Tessalonika. Hoop is hier iets waarvoor God instaan. Dit is nie iets wat deur omstandighede weggeneem kan word nie.
Geloof word uitgespel as iets wat in Christus Jesus gewortel is; liefde word uitgespel as iets wat ons verhouding met al die gelowiges definieer. Wat my laat dink dat Paulus hier na geloof verwys as iets wat gewortel is in die historiese werklikheid van Christus Jesus se eerste koms – die verlede; dat die liefde weer met die teenswoordige wêreld te make het waar ons mekaar moet vashou in liefde – die hede; en dat die hoop met die toekomstige wêreld te make het, wat ons die moed gee om hier aan God en mekaar vas te hou – die toekoms.
Om God te ken en vir Hom te lewe
Let ook op wat Paulus vir hulle bid. Hy wil hê dat vyf goed van hulle waar sal wees, vyf goed wat ons gerus ook vir mekaar kan bid:
- Dat hulle God se wil duidelik sal ken (epignosis) deur die wysheid (sophia) en insig (sunesis) wat die Gees gee;
- Dat hulle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang;
- Dat hulle vrugte sal dra deur goeie werke;
- Dat hulle sal toeneem in hulle kennis van God;
- Dat hulle in alle omstandighede geduldig sal kan volhard deur God se wonderbare krag.
View all posts in this series
- Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012 - December 9, 2011
- Kolossense 1:1-14 – Om God te ken en vir Hom te lewe - January 23, 2012
- Kolossense 1:15-23 – Jesus die Here van die Skepping en die Herskepping - January 24, 2012
- Kolossense 1:24-2:5 – om met God se energie te bedien - January 25, 2012
- Kolossense 2:6-23 – Geloof en gedrag word op Jesus as Here gebou - January 26, 2012
- Kolossense 3:1-4:1 – Leef as nuwe mense - January 27, 2012
- Kolossense 4:2-18 – Fokus op volhardende gebed en wyse woorde - January 30, 2012
Ernst Marais
In kollesense 1 ;16 staan “deur Hom en tot Hom geskape.” wat beteken tot Hom ? Help aasb
Chris van Wyk
Hi Ernst, die “tot” in daardie frase beteken dat alles onder Jesus se gesag geplaas is en alles Hom moet verheerlik. Hy is immers die rede “dat” hulle bestaan – alles het “deur” Hom tot stand gekom -en die rede “vir” hulle bestaan – hulle staan onder sy gesag en vind hulle doel in ‘n verhouding met Hom.