Filippense 3:1-4:1 – Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde
Ontwrigting kom van tradisionaliste en vrysinniges
Die gemeente in Filippi het nog steeds groot ontwrigting ervaar van teenstanders, onder andere van die gemeenskap (Fil 1:28-30), maar ook toenemend vanweë mense binne die geloofsgemeenskap. Aan die een kant was daar tradisionaliste wat klem gelê het op die Joodse tradisie, maar deur Paulus as dwaalleraars uitgewys word. Hy noem hierdie dwaalleraars “honde”[1] soos dit letterlik in vers 2 staan – ironies genoeg presies die term waarmee Jode soms die heidene beskryf het. Hulle was gelowiges wat steeds aan die Joodse tradisies vasgehou het, en die besnydenis as verpligtend geag het ook vir gelowiges uit die heidene, eerder as die verbintenis aan Christus alleen. Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-Joods, en nie net aan Christus verbind nie. Aan die ander kant was daar ook vrysinniges, of libertyne. Hulle was weer gelowiges wat geen morele beperkinge aanvaar het nie en hulle eie lewensreëls aangehang het in terme van die bevrediging van allerlei liggaamlike behoeftes (“skande” het waarskynlik ’n seksuele konnotasie – vers 19). Hulle wou die gemeenskap van gelowiges uit die heidene dus ver-wêrelds, waarin hulle self die sentrum van hulle lewens kon bepaal, eerder as dat hulle kennis van Christus dit sou bepaal. In albei gevalle wou hierdie mense nie die boodskap van die kruis – ’n lydende selfontledigende Messias – as paradigma vir hulle lewe aanvaar nie (vers 18), wat vir Paulus beteken dat hulle “as vyande van die kruis van Christus lewe”. En dié mense het die gelowiges in die gemeente van Filippi onseker gemaak.
Ontwrigting moet groter gehoorsaamheid en getrouheid stimuleer
Paulus se raad aan die gemeente is om nie afgeskrik of geïntimideer te word deur óf die teenstanders óf die dwaalleraars óf die vrysinniges nie, maar vas te bly staan in die geloof, volkome eensgesind verder saam te stry vir die evangelie, en koers te hou op die pad wat hulle tot dusvêr ingeslaan het (vers 16) in navolging van Paulus (vers 17) en in getrouheid aan die Here (Fil 4:1). Hulle sekerheid (vers 1) moes nie in hulle afkoms of die onderhouding van uiterlike dinge gesoek word nie – juis die voordele wat Paulus laat vaar het ( gebore Israeliet, Benjaminiet soos koning Saul, egte Hebreër [ma en pa was Jode], nougesette Fariseër) – maar in die vashou aan en vertroue op die Een wat sekerheid bring. Die verwarring wat die Joodse tradisionaliste veroorsaak het, en die versoeking waarvoor die vrysinniges hulle geplaas het, moes hulle dus stimuleer tot groter gehoorsaamheid en getrouheid, presies die dinge wat Christus in hulle lewens wou bewerk. En om hulle hierin te help, wys Paulus op die voorbeeld wat hyself by hulle gestel het, en ander steeds doen (vers 17): “Follow my example and copy those who live the way we showed you” (New Century Version).
Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde
Die voorbeeld wat Paulus vir hulle gestel het en waaraan hy sy hele lewe gewy het, was om Christus Jesus te ken (vers 10), en om deur Hom geken te word (vers 12). Dit oortref alles in waarde. Wat vroeër vir hom ’n bate was, is nou vir hom eerder ’n las. Om Christus te ken, is waarom dit nou vir Paulus gaan teenoor alle ander dinge waarin mense wins en voordeel soek. “Ons het die ware besnydenis[2] … óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie … want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde” (vers 3, 8). En dié waarde spel Paulus uit op twee maniere. Dit lê in die vryspraak (geregtigheid) wat God gee aan dié wat in Christus glo, sodat hulle met Hom in ’n versoende verhouding kan leef. En dit lê in die gelykvormigheid aan Christus in die selfontlediging van Sy dood en die verheerliking met sy opstanding (vgl vers 10 met 2:6-11). Dit is die enigste wens wat Paulus vir homself het, en dit is waar om sy roeping en lewe wentel. Dit is immers presies in hierdie gelykvormigheid wat die hoop van die opstanding ook lê. Daarmee gee Paulus ook ’n baie spesifieke inhoud aan wat met geestelike volwassenheid (vers 15) bedoel word: dit beteken nie om volmaak te wees nie, maar om al hoe meer gestempel te word deur die kennis van Christus, en te leef uit die werklikheid dat Hy: “my reeds Syne gemaak het” (vers 12). Paulus wil dus in die werklikheid van sy persoonlike alledaagse lewe al hoe meer ervaar wat Hy glo en teologies weet die waarheid is.
Die opstanding maak ons liggame gelykvormig aan Christus s’n
Paulus skryf in vers 10 oor sy hoop om nie net deel te hê aan die lyding van Christus nie, maar ook die krag van Sy opstanding te ervaar in die hoop dat hy ook deel sal hê aan die opstanding (exanastasis[3]) van die dooies (nekron). Hy verduidelik sy verstaan daarvan verder in vers 21 met twee Griekse woorde: metaschematizo (transformeer of verander) en summorphos (gelykvormig te maak aan) wat die verandering van ’n nederige (tapeinosis) liggaam na ‘n verheerlikte (doxa) liggaam, dws soos Christus s’n, beskryf.[4] Dit beteken dat die perspektief wat Paulus in Fil 2:9-11 op Christus se verheerliking geskets het, ook iets is waarin gelowiges sal deel. Dit is dus ook hierdie verwagting wat ons motiveer om selfontledigend te lewe (Fil 2:6-8), en nie van stryk gebring te word deur die uitdagings van valse leringe (tradisionaliste) of lewenswyses (vrysinniges) nie, want anders sal ons tereg ook as vyande van die kruis bestempel kan word.
[1] Jesaja praat van valse profete as “stom honde” – Jes 56:10 – mense wat sonder insig optree.
[2] Paulus gebruik twee woorde vir besnydenis in vers 2 en 3. In vers 2 gebruik hy die woord katatome wat verminking beteken, waarmee hy die Joodse gelowiges se klem op besnydenis ironiseer. In vers 3 gebruik hy die normale woord vir besnydenis – peritome – waarmee hy die hartsverandering bedoel wat Christus bring in die lewe van gelowiges. Vgl ook Rom 2:28-29 en Kol 3:11 wat dit verder teologies begrond.
[3] Dit is die enigste plek in die NT waar die woord gebruik word, moontlik ’n nuwe skepping van Paulus.
[4] Die woord wat Paulus in sy brief aan Korinte gebruik om die opstanding (egeiro) van gelowiges te verduidelik, is ’n ander woord vir transformasie – allassô (1 Kor 15:51-51) – waarmee hy die proses verduidelik hoe ’n onverganklike geestelike (pneumatikos) liggaam as’t ware aangetrek (enduô) word, om die verganklike natuurlike (psuchikos) liggaam te vervang of te verplaas.
View all posts in this series
- Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012 - December 9, 2011
- Handelinge 16:6-40 – Die kerk in Europa begin met die bekering van ’n vrou - January 12, 2012
- Filippense 1:1-11 – Laat julle liefde in onderskeiding toeneem - January 13, 2012
- Filippense 1:12-2:4 – Wees eensgesind na buite en na binne - January 16, 2012
- Filippense 2:5-30 – Jesus se selfontlediging inspireer ons as ligdraers in die wêreld - January 17, 2012
- Filippense 3:1-4:1 – Om Christus Jesus te ken, oortref alles in waarde - January 18, 2012
- Filippense 4:2-23 – Om saam in die Here te wees, bid en leef - January 19, 2012
Will Barnard
Wonderlike woord en ontleding vir hedendagse toepassing, veral in die pandemie met allerande kennis kenners wat mense met hulle sienings probeer oortuig. Dankie Ds. Daar is wonderbare krag in Bloed van die Lam getuines van Hom & Sy werk in ons lewens. Seën groete.
Chris van Wyk
Dankie Will. Ja, die krag van God aan die werk in ons. Watter wonderlike voorreg.