Efesiërs 1:1-23 – God seën ons om alles in almal te vervul

Onthou om eers tot rus te kom en self die Bybelgedeelte te lees, voor jy my opmerkings lees.  Die volgende formaat sal jou daarmee help:

RUS

  • Raak bewus van jou diepste behoeftes.
  • Gee dit in gebed aan God.

HOOR

  • Lees die Skrifgedeelte.
  • Dink na oor wat jou daarin tref.
  • Lees my verhelderende opmerkings.

LEEF

  • Wat is die Here besig om jou te leer?
  • Sluit met gebed af.

Verhelderende opmerkings

Efese was ‘n groot en belangrike stad in wat ons vandag ken as Turkye.  Historici bereken dat daar ongeveer 250 000 mense gewoon het aan die begin van ons jaartelling.  Die tempel van Artemis (vgl Hand 19), een van die sewe wonders van die antieke wêreld, was ook daar.  Vandag is daar net ruïnes oor van Efese, naby die moderne stad Selçuk.

Paulus begin sy brief aan hulle met ‘n gesprek met die gemeente wat uitmond in ‘n gebed.  In dié gesprek loof hy God die Vader vir al die seëninge van die Gees wat daar in Christus Jesus aan ons gegee is (1:3-14).  In sy gebed bid hy dat die gemeente van Efese God werklik sal kan ken (1:15-23).

Dit is al genoeg om oor na te dink!  God het ons geseën met alles wat ons nodig het vir hierdie lewe. Die kern daarvan is dat ons God kan ken en met Hom in verhouding kan lewe.  Ons oë moet net al hoe meer daarvoor oopgaan.  Dit is iets waarvoor ons self kan en moet bid.  En dit is iets wat ons van God kan verwag – ook vandag.

Let verder op na die volgende in vers 3-14:

  • Paulus herinner hulle aan die rykdom wat daar in God is as Vader, Gees en Seun.  Dit is hierdie tipe uitsprake wat die vroeë kerk oortuig het van die lering van die Triniteit.  Maar let ook op dat Paulus nie probeer om die lering regtig te verduidelik nie.  Hy erken dit net, maak die gemeente opgewonde daaroor en raai hulle aan om hierdie God te loof en te leer ken.
  • Kyk na die opeenvolgende werkwoorde in hierdie gedeelte.  Dit help baie om Paulus se gedagtegang te volg en dieper in sy boodskap in te kom.  Let op bv na die werkwoorde waarmee Paulus God se werk in ons beskryf in vers 4-6: uitverkies, bestem, prys.  God het ons met die hand uitgesoek; Hy het sy kinders gemaak; Daarom moet ons Hom prys.  Dit beteken vir my my dat ek nie sy arm hoef te draai om vir my lief te wees nie.  Ek hoef ook Hom ook nie te probeer beïndruk met wat ek doen nie.  Ek kan maar net rustig sy geselskap opsoek en  met Hom in gemeenskap lewe.  Jy kan dit met ander werkwoorde ook doen (en ook met ander Bybelgedeeltes).
  • Wat my tref – en waaroor ek die res van die dag wil nadink – is dat God ons gekies het om heilig en onberispelik voor Hom te wees (vers 4).  Dit sê vir my drie dinge: dat ek iets van God moet uitstraal vandag (heilig); dat ek in alles sal streef daarna om reg te doen (onberispelik); dat ek bewus van God sal lewe in alles wat ek doen (voor Hom).  Dit is hoe prakties die geestelike lewe is.  Laat my dink aan Miga 6:8 wat in soortgelyke taal sê dat al wat God van ons vra is om reg te laat geskied, liefde en trou te bewys en bedagsaam te lewe voor God.
  • Die uitverkiesing gebeur “in Christus”, soos vers 4 sê.  Die feit dat God dit voor die skepping van die wêreld besluit het, beteken dat God se besluit van die begin af vasstaan.  Ons kan daarop reken dat dit vir ons ook waar is.  Die feit dat dit “in Christus”  is, beteken dat alles aan ons binne die verhouding met Christus geskenk word.  Dit is waarom dit so uiters belangrik is om in ‘n verhouding met Hom te lewe.  Sonder dié verhouding loop ons die gevaar om God se gawes aan ons te mis.
  • Let op hoe Paulus in 12 tot 14 met die voornaamwoorde die eenheid beklemtoon wat in Christus gekom het.  Hy praat eers van die Jode met die gebruik van die voornaamwoord ons: “ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het”.  Dan praat hy van die gelowiges uit die heidense volkere met die gebruik van die voornaamwoord julle: “Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God”.  Dan praat hy van die Heilige Gees wat “julle as die eiendom van God beseël (het)” (die gelowiges uit die heidene) en op soortgelyke wyse van die Heilige Gees wat die “waarborg (is) dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het” (die gelowiges uit die Jode).  In taal wat ‘n mens nogal sterk herinner aan Petrus se woorde op Pinksterdag (Hand 2:38-39) begrond Hy dus die eenheid tussen gelowiges uit die Jodedom en die heidendom in die geloof in Christus en in gawe van die Heilige Gees.  Daarmee spel Paulus die praktiese implikasies uit van die eenheid waarop God die Vader besluit het, om “alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus” (vers 10).  En let op dat die eenheid kosmies van aard is, en nie net kerklik nie.

Let ook op na die volgende interessante perspektiewe in vers 15-23:

  • Saam met die dankgebed aan God vir hulle geloof en liefde, bid Hy indringend dat God die hoop in hulle verder sal aanwakker.  Dit is merkwaardig hoe baie kere Paulus oor hierdie drieling geloof, hoop en liefde skrywe – in ‘n sekere sin een van die kortste opsommings van waaroor dissipelskap gaan (1 Kor 13:13 en vele ander plekke in Paulus se briewe).  Paulus hoor dus van hulle dat hulle geloof en liefde groei en dat mense daarvan praat, maar dat hulle sukkel met die vashou aan God se toekoms vir hulle.
  • Daarom bid hy dat hulle geesteoë sal oopgaan om die hoop juis in drie goed te sien: 1) in hulle roeping hier en nou waarvoor hulle met al die geestelike seëninge in die hemel geseën is, 2) in hulle hemelse erfenis wat nie deur aardse gebeure geraak kan en sal word nie en 3) in die groot krag van God wat in hulle aan die werk is; ‘n krag wat met die opstanding en hemelvaart van Jesus Christus gedemonstreer is, en vir hulle as ‘n voorbeeld dien van wat God alles nog vir hulle kan doen.
  • Let op dat die posisie van Christus as: “hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy” uitgespel word.  Dit het volgens Paulus nie net betrekking op wat nou aan die gebeur is nie, maar sal selfs in die bedeling wat kom (die nuwe hemel en aarde) van krag wees.  En dit is dié Jesus wat die hoof van die kerk is.  Ons sal later meer hieroor nadink, veral in hoofstuk 3 en dan weer in hoofstuk 6.
  • En dan een van die rykste en wonderlikste uitsprake oor die kerk – vers 23 – “Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.”  ‘n Mens kan baie hieroor sê, maar dink net nou eers oor die een revolusionêre ding.  Paulus sê hier dat die kerk deur God gebruik word “om alles in almal te vervul”.  Dit is nie ‘n klein en onbelangrike opdrag nie.  Om die waarheid te sê, dit is meer as ‘n opdrag.  Dit word beskrywe as iets wat doodgewoon gebeur … en ons moet daarby inskakel.

Efesiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • “n Mens kan eintlik nie ophou om Hoofstuk1 oor en oor te lees nie!!Ek het vasgeval by “ons is in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.Uit die volgende versies het ek as seëninge die volgende raakgesien: 1..in Christus uitverkies 2.aangeneem as Sy kinders 3.verlos deur X se bloed 4.oortredings vergewe 5 Sy wil te ken 6 deel te wees van Sy volk 7 as eiendom beseël.. Die seëninge maak ons ‘n seën in die wêreld.. ???????.

    • Ek neem aan die vraagtekens beteken ons lewe nie bewus genoeg van die feit dat ons ‘n seëning in die wêreld moet wees nie! Hoofstuk 2 sluit vir my só mooi daarby aan, dat God in die gemeenskap van gelowiges kom woon, sodat ons ‘n seën kan wees vir die wêreld. Dié gedagte moet ons hele lewe oorneem!

  • al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.
    Weet ons wat dit behels?
    Ons ontvang seën in Christus, hoe verstaan ek dit?

    • ‘n Mens kan vers 4-14 lees as die verduideliking van wat die seëninge van die Gees alles behels: 1) uitverkiesing, 2) kindskap, 3) verlossing en vergifnis, 4) deel van God se verenigingsaksie, 4) deel van die Godsvolk, 5) beseël as eiendom van God. Paulus se gebed in vers 15-23 is dan gemik daarop dat ons die hoop en krag van al hierdie seëninge sal ervaar en met God se volheid vervul sal word. Maar jy kan selfs verder gaan en die hele brief as ‘n uiteensetting van die seëninge sien. Die vier gevolgtrekkings van hoofstuk 2-3 met die gebed aan die einde spel dan ook die inhoud van die seëninge van die Gees uit. En hoofstuk 4 noem ook nog die gawes van die Gees wat die liggaam van Christus help om in hulle begrip van wat God vir ons gee en deur ons wil doen, te groei. Die res van die boek spel dan uit hoe ons moet lewe as ons vir God dankie wil sê vir al hierdie seëninge. En, om jou vraag te beantwoord, dít is wat ons alles kry as ons in Christus glo!

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: