Skip to main content

2 Korintiërs 4:1-5:10 – Om te lewe soos Hy dit wil

Paulus is besig om te skryf oor die verandering in sy reisplanne.  In hoofstuk 2:14 het hy homself onderbreek om eers oor die evangelie self te skryf.  In hoofstuk 7:5 sal hy weer terugkom na sy reisplanne.

Om die onderbreking oor die evangelie goed te verstaan, help dit om na die metafore te kyk wat hy gebruik.  In sy beskrywing van die triomf van die evangelie en die wonder van die nuwe verbond het hy drie metafore gebruik om die rol van die evangelie in ons lewens te beskrywe: ons is soos wierook, briewe en spieëls.  Daaroor het ek gister geskryf.

Hier gaan hy nou verder om die evangelie en sy impak in gelowiges se lewe te beskrywe aan die hand van drie ander metafore: 1) die evangelie is die lig wat in die duisternis skyn (4:1-6); 2) die evangelie is ‘n skat wat in erdepotte opgesluit is, potte wat egter maklik breek (4:7-15); 3) die evangelie skep in ons ‘n verlange na ons vaste gebou in die hemel (ons hemelse liggaam – vgl 1 Kor 15) wat God belowe vir ons wat nou net ‘n tentbestaan (ons aardse liggaam) voer (4:16-5:10).

Met die eerste metafoor van die lig van die evangelie spel hy die implikasie daarvan vir die gelowiges se lewe na buite, in die wêreld uit – mense van die lig kan die praktyke van die duisternis nie verdra nie, veral nie dinge soos bedrog en vervalsing nie.  Die resultaat: ‘n eerlike lewe laat die lig van Jesus vanuit jou hart regdeur jou skyn.

Met die tweede metafoor van die skat in kleipotte, spel Paulus die effek van die evangelie op die omstandighede van die gelowige uit – ons lot is verdrukking, verleentheid oor raad en vervolging wat fisiese leed insluit.  Tog laat die krag van God nooit toe dat ons terneergedruk, radeloos, God-verlate of vernietig word nie.  Die lewe van Jesus word in ons sigbaar, juis in ons gebrokenheid en weerloosheid.  Daarom dat ons volhard omdat God se genade só steeds meer en meer mense kan bereik.  Hierdie gedagtes sal Paulus nog verder in die brief aan die Filippense uitwerk (Fil 2).

Met die derde metafoor van die gebou in die hemel, spel Paulus die hoop en verwagting uit wat ons in ons omdra.  Die swaarkry van hierdie lewe gaan verby, en ons wag vir dít wat God gaan bring en wat vir ewig sal staan.  Dit het ‘n tweërlei uitwerking op ons: aan die een kant sug ons dat ons die oorgang na die hemelse werklikheid kan beleef, en aan die ander kant het ons die Gees wat ons moed gee om te wag op God se tyd.  Let op dat anders as met die Grieke, wat net aan ‘n voortbestaan van die siel gedink het, Paulus steeds aan ‘n gebou dink, dws aan ‘n liggaam wat voortbestaan, soos ook in 1 Kor 15.

In dit alles, sê Paulus, het ons net een begeerte, om te lewe soos Hy dit wil (let weer op die ooreenkomste met die brief aan die Filippense, hierdie keer hfst 1:20 vv).

View all posts in this series

Korintiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar