Die brief aan die Romeine

Paulus skryf hierdie brief waarskynlik van Korinte af naby die einde van sy derde sendingreis, ongeveer in die jaar 57 nC in die 3 maande wat hy in Griekeland deurgebring het (Hand 20:2-3).  Hy is op pad met die dankoffers wat gemeentes in Masedonië en Agaje bygedra het vir die gemeente in Jerusalem (vgl Rom 15:25-26 met 1 Kor 16:1-7) .

Die brief is gerig aan die gemeente in Rome, waarvan, hoewel hy nie by hulle stigting betrokke was nie (Jode uit Rome het op Pinksterdag die evangelie gehoor, wat moontlik tot die stigting van die gemeente van Rome aanleiding gegee het: vgl Hand 2:10), baie mense aan hom bekend is (Rom 16:3-16 – hy groet meer as 26 mense by name, waarvan ’n derde vroue is!)

Dit is duidelik dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl 16:5,14,15).  En die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie?  Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl Gal 5:2-12) en die voedsel wette (Rom 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom. Dit sluit natuurlik ook die onderhouding van die Sabbat in, hoewel Paulus dit nie hier eksplisiet noem nie (vgl egter Kol 2:16).

Selfs met Paulus se laaste besoek aan Jerusalem aan die einde van sy drie sendingreise, sou dié vraag steeds krities wees.  Vergelyk die klem wat die gelowiges in Jerusalem op die wet van Moses plaas in Hand 21:17-26.  Dit is juis sy inval by hulle planne wat hom in die moeilikheid bring en uiteindelik as gevangene in Rome bring, sy eerste besoek daar, maar in boeie.

Daarom skryf Paulus hierdie brief om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees.  God spreek mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie – ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangegryp het: die wonder van God se genade aan sondaars.

Dink maar net aan Luther wat tot inkeer gekom het deur die evangelie in hierdie teks en die Reformasie wat hieruit voortgevloei het.  Geen wonder dat baie geleerdes dink dit is die belangrikste brief wat Paulus ooit geskryf het (Barth, Jonker).

Let op hoe Paulus in ’n retoriese trant skryf (die sogenaamde diatribe) wat leraars van daardie tyd baie keer gebruik het, ’n soort vraag-en-antwoord metodiek geplaas in ’n verbeelde dialoog.  ’n Mens sien dit op ’n paar plekke in die brief, bv. 2:1-5, 17-24 waar hy in ’n verbeeldingsgesprek is met ’n Joodse gespreksgenoot en in 11:13-24 met ’n gelowige uit die heidense nasies.  Let ook op hoe Paulus in beide gevalle hulle selfverheffing op grond van hulle afkoms aanvat, omdat dit van geen betekenis is binne die nuwe gemeenskap wat God geskep het nie (in die brief aan die Efesiërs sal hy weer terugkom na dié gedagte).

Hy stuur die brief waarskynlik saam met Febe (Rom 16:1-2 – Kenchreë is die oostelike hawe in Korinte), ook omdat hy graag met hulle hulp die evangelie verder sou wou vat na Spanje (Rom 15:22-33).  Maar die belangrikste rede is om hulle teen verdeeldheid te waarsku – sommige verklaarders dink dat Joodse gelowiges apart van gelowiges uit die heidennasies in hulle huiskerke vergader het (vgl die huiskerke waarvan in 16:5, 14, 15 gepraat word) – en te wys dat só ’n praktiese reëling die evangelie in sy wese kan aanrand.

Hy wil hê dat hulle “eensgesind onder mekaar sal wees soos Christus Jesus dit wil hê” (15:6) – iets waaroor hy in die brief aan die Filippense later op inspirerende wyse sal skryf (Fil 1:27-11) – sonder om die evangelie op enige manier aan ’n Joodse interpretasie van die wet onderdanig te maak (die hele eerste 8 hoofstukke gaan daaroor, met hoofstuk 9-10 wat spesifiek uitbrei oor die vraag na God se verkiesing van Israel en hulle toekoms).  Christus het immers gekom vir alle mense: die Joodse nasie sowel as al die ander nasies (Rom 15:7-11).

Leesplan

Paulus skryf die brief (gedikteer aan Tertius – 16:22) in 4 hoofdele met ‘n slot wat aansluit by die fokus van die 4de deel:

1.       Hoofstuk 1-4 – hy fokus op die evangelie van Jesus Christus wat die reaksie van God is op die sondigheid van alle mense en vryspraak vir almal bring;

2.       Hoofstuk 5-8 – hy fokus op hoe mense van hulle sondigheid verlos kan word deur die geloof in Christus Jesus en in ’n nuwe lewe kan leef deur die gawe van die Heilige Gees;

3.       Hoofstuk 9-11 – hy fokus op die eenheid wat God gebring het tussen Jode en heidene en beantwoord die brandende vraag na die toekoms van Israel;

4.       Hoofstuk 12-16 – hy fokus op praktiese sake en veral die onderlinge verhoudinge van die geloofsgemeenskap sowel as hulle lewe in die breër gemeenskap.

Ons gaan die brief in die volgende 3 weke deurlees:

  • Hfst. 1-4 – 21-27 Oktober
  • Hfst. 5-8 – 28 Oktober tot 3 November
  • Hfst. 9-16 – 4-10 November.

Daarna sluit ons hierdie kwartaal se Bybelskool af met die lieflike kortverhaal Rut.

Romeine


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (6)

  • Annatjie Erasmus

    Hallo Chris, ons predikant het die afgelope Sondag uit Romeine gelees en die onderwerp van die geregtigheid van God het my so aangegryp dat ek dadelik na die kerk met pen en papier deur die hele Romeine gewerk het en al die verse wat oor die geregtigheid van God gaan, neergeskryf en die moontlike verskillende aspekte van die betekenis uit elke vers probeer verstaan en in konteks plaas het, ek wil voor die einde van die week by my predikant gaan sit en oor die verse gesels. Dis ewe skielik vir my asof die Here met die hele proses voor my kom staan het en ewe skielik vir my ‘n nuwe verwysingsraamwerk kom gee het – dis nogal moeilik om dit regtig lekker te verduidelik maar ek het ‘n nuwe besef van wat regtig saak maak gekry – en dit het my nuut laat kyk na die wereld rondom my – my belewing van die wereld rondom my is dat meeste mense dink dit wat in die koerante staan of in tydskrifte of wat of die tv nuus kom, ens belangrik is, die belangrikste is dat ons ‘n begrip van konsepte soos die geregtigheid van God het en hierdie begrippe die hoekstene van ons lewe maak. In elk geval, ek was vroeg op vanoggend en het op News 24 van Oscar se besoek aan die klub gelees en toe lees ek sy verwysing na Frankl en dit vang toe my aandag en ek weet nie hoe dit toe verder gebeur het nie, toe besluit ek om my tablet nader te trek en gou te kyk of ek kommentare oor Romeine kan kry en so kom ek toe by jou blad uit – in elk geval ek dink dit sal baie beter met ons samelewing gaan as ons by ‘n ware verstaan van God en Christus se karakters kan uitkom. Lekker dag

    • Jou ervaring bevestig vir my die waarde van die Woord wat soos ‘n huis word waarin ons woon. Die hele evangelie van Matteus draai bv. om die konsep van geregtigheid. Dit is die hart van die Bergrede, dit is waaroor die gelykenisse van Jesus gaan, dink aan die gelykenis van die werkers wat op verskillende tye gehuur is ensomeer: Lees Matteus hier.

  • Baie baie dankie vir die wonderlike web blad en die manier waarop jy God se worpd omskryf. Dit maak dit soveel meer verstaanbaar. Jou skryfstyl maak dit ‘n lekker lees en leer sessie. Dankie dat jy God se roeping aangehoor het deur Sy woord op die manier te verkondig!

  • Goeie dag Chris .
    Ek is tans ‘n teologiese student aan Hugenote Kollege en put baie lees- , leer – en waardevolle stof uit jou Bybelstudie .
    Dankie daarvoor .
    Net ‘n vraag : Die brief van Paulus aan Romeine ; is dit nie geskryf 57 nC nie ? Ek sien jy geskryf 57 vC . Ek vra maar net ter wille van ander Bybelstudente .
    Dankie.
    Hou aan met die goeie werk .
    Die Here seën jou .

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: