Skip to main content

Handelinge 9:20-31 – Barnabas ontferm hom oor Saulus en word die borg vir sy bediening

Saulus se bekering is radikaal en absoluut.  En die ontmoeting met Jesus het ’n passie in hom aangesteek wat nooit weer sou verflou nie.  Let op hoe hy onmiddellik dieselfde sisteem wat hy so hart en siel ondersteun het – die Joodse teenstand teen die evangelie – met passie aanvat en bedien met die evangelie soos die Skrifte dit uitgelê het.  Omdat hy ’n skrifgeleerde van formaat was, kon hy dit met baie groot oortuiging doen.

Die teenstand van die Jode bly natuurlik nie lank onder die oppervlakte nie, en hulle beplan om hom dood te maak, en hy moet self vlug uit die stad.  Letterlik staan dit in die Griekse teks, dat sy “dissipels” dws sy bekeerlinge hom help ontsnap.

Sonder Barnabas sou dié geskiedenis waarskynlik nooit gebeur het nie. Saulus se wrede poging om die kerk uit te roei (Hand 8:3) het steeds te veel teen hom getel.  Barnabas, wat ons in sy primêre rol as bemoediger aan die werk sien, verskyn egter op die toneel. Hy ontferm hom oor Saulus as niemand iets met hom te doen wil hê in Jerusalem kort na sy bekering nie. Barnabas se aanvaarding van Saulus was dus die poort waardeur die bediening van Saulus ’n kans gekry het om te ontwikkel, en dit sou uiteindelik die hele Christelike bediening transformeer.

Let op hoe Lukas dit vertel: Barnabas dra Saulus se verhaal oor deur eerstens op twee dinge klem te lê wat God gedoen het: Saulus het Jesus gesien, en die Here het met hom gepraat – albei dinge wat baie belangrik vir sy uiteindelike status en aanvaarding as apostel sou wees. En daarby lê hy klem op wat Saulus direk na sy bekering gedoen het: hy het openlik in Damaskus in die Naam van Jesus gepreek, presies die teenoorgestelde as waarvoor hy daarheen deur die hoëpriester gestuur is.

Dit lei uiteindelik tot ’n openbare erkenning van sy bediening – letterlik staan daar, hy kon “in en uit Jerusalem gaan saam met hulle” – hoewel daar steeds Grieksprekende Jode was wat hierdie verraaier vyandig gesind gebly het en hom wou vermoor. Dit noop die gelowiges om hom weg te stuur na Sesarea en daarvandaan na Tarsus toe, sy tuisdorp, ter wille van sy eie veiligheid.

Uit die verdere verloop van die verhaal weet ons dat dit nie ’n uitskuif-en-vergeet aksie was nie. Saulus gaan in dié tyd deur ’n intense voorbereiding. Presies wat dit behels het, word ons nooit vertel nie, maar hy word uiteindelik deur dieselfde Barnabas na die aktiewe bediening in die eerste gemengde gemeente, Antiogië, genooi.

View all posts in this series

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar