2 Korintiërs 13 – Groei in geestelike volwassenheid

Paulus eindig hierdie brief met ‘n paar slotopmerkings oor sy komende besoek aan hulle en die pragtige trinitariese seënwens wat predikante sedertdien meestal aan die einde van ‘n erediens in die kerk gebruik.  Die aanhaling uit Deut 19:15 word waarskynlik gemaak om die stelligheid van sy besoek te bevestig, veral aangesien hulle hom verkwalik het dat hy sy vorige besoek afgestel het.

Hy plaas sy opmerking in die vorige hoofstuk – dat as hy swak is, is hy sterk – in perspektief.  Hy leef soos Christus uit die krag van God en by sy volgende besoek sal hulle dié krag te siene kry.  Daarom moedig hy hulle aan om hulle lewens in orde te kry, en nie as “praktiese atëiste”  (Pat Keifert se term) te leef nie, wat nie rekening hou daarmee dat Christus in die geloof in hulle leef nie.  Selfondersoek bly ‘n belangrike geestelike gewoonte op enige stadium van geestelike groei.

Hy bid dat hulle dit sal regkry om die goeie te doen en geestelik volwasse sal leef, want hy wil hulle verder kom opbou en nie tyd spandeer aan die afbreek van dit wat sleg is nie (vgl 10:18).  Let op hoe belangrik geestelike volwassenheid vir hom is, hy noem dit twee keer (vgl ook 12:19).

As teken van die eensgesindheid en vrede wat onderling moet heers, roep Paulus hulle op om mekaar met die soen van Christelike gemeenskap te groet, ‘n gebruik wat wel vreemd in die Grieks-Romeinse wêreld van dié tyd was, maar tog in die Midde-Oosterse wêreld bekend was.  Dit wys net hoe radikaal die eenheid was wat Christus tussen mense van alle vlakke van die samelewing geskep het.

View all posts in this series

Korintiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: