Handelinge 23:1-24:27 – Paulus verkondig die evangelie aan die Romeinse goewerneur Feliks

Voor die Joodse Raad

Waar Paulus met sy aanvanklike gevangeniskap nog die volk probeer oortuig het van die waarheid van die evangelie, en hy selfs die kommandant op sy regte gewys het as Romeinse burger om ’n regverdige verhoor te kry, wat natuurlik voorkom dat die kommandant sy eie wette oortree, is dit duidelik dat Paulus vreesloos is vir die Joodse Raad.  Hy lewer ’n sterk getuienis vir beide sy onkreukbaarheid in terme van sy Joodse agtergrond sowel as sy keuse vir die evangelie van Jesus Christus, en gooi die spreekwoordelike kat in die hoenderhok met sy opmerking oor sy geloof in die opstanding, wat die faksies in die Joodse Raad ontbloot en teen mekaar laat draai.

Let op dat die Here Jesus weereens persoonlik aan Paulus verskyn om hom moed in te praat en die belofte/opdrag te gee dat Paulus hierdie getuienis tot in Rome sal bring.

Die komplot teen Paulus

Die gekonkelry van die Joodse Raad duur voort, soos vroeër met Jesus, en hulle smee ’n komplot teen Paulus wat gelukkig deur die seun van Paulus se suster gefnuik word.  ’n Mens wonder hoe die seun in ’n posisie was om die inligting te bekom, maar, hoe dit ook al gebeur het, dit loop uit op die beskerming van Paulus se lewe en hy word onder begeleiding na Feliks in Sesarea gestuur.

Paulus voor Feliks

Die gevleiery van Feliks deur die Joodse afvaardiging om Paulus te beswadder help hulle egter niks, want Feliks is reeds bekend met die hooftrekke van die verloop van die verspreiding van die Christelike godsdiens.  Maar Paulus kry dus nou die kans om die evangelie persoonlik aan Feliks te verkondig deur middel van die hofsaak en die latere gesprekke.  Dit is belangrik om te hoor wat Lukas eintlik in 24:22 sê.  Feliks word daar aangehaal dat hy van Christenskap as die WEG praat, wat vertaal is in die NAV met die “leer van Christus”.  Die klem was dus op die manier van lewe, nie op die manier van dink, die leer of dogma nie (soos die vertaler gekies het om dit weer te gee nie).

Geen wonder dat  as Feliks en sy vrou Drusilla (onthou Pilatus se vrou wat ook ’n rol gespeel het met Jesus se kruisiging – Matt 27:19) meer oor Christus te wete wil kom, Paulus dan met hulle praat oor ’n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing, en oor die komende oordeel.  En ’n mens sien nou hoe die prentjie ontvou: dít is die motivering vir hierdie sameloop van omstandighede, die lydingspad wat Paulus te beurt geval het, dat hy die evangelie vir die goewerneur moet verkondig.   Feliks word egter nie uiteindelik daardeur oortuig nie.  Hy raak bang, onder andere waarskynlik omdat Drusilla sy derde vrou was, wat hy boonop van die koning van Sirië afgeneem het (sy was aan hom belowe, maar het die verbintenis verbreek om met Feliks te trou – dit is as egskeiding beskou in die Joodse kultuur), en begin eerder dink daaraan om Paulus te misbruik tot sy eie voordeel.  Hy’t miskien gedink dat Paulus vermoënd was, gegewe die geldelike bydrae waarvan Paulus in 24:17 praat, hoewel dit natuurlik die bydrae van die gemeentes van Paulus se sendingreise was.  En dit hou twee jaar lank aan.  Korrupsie kom al ’n lang pad met ons!

Maar, belangrik, die boodskap van die evangelie het deurgedring tot in die goewerneur se invloedsfeer, net soos Jesus aanvanklik dit met Pilatus reggekry het, of hy nou daarop gereageer het of nie.

’n Interessante feit kom na vore in Paulus se toespraak, dat hy in Jerusalem in die tempel gaan offer het (24:18).  In die lig van die feit dat Christus die finale offer was, en die offerkultus daarmee as van verbygaande aard uitgewys is, val dit vreemd op.  Dit pas waarskynlik in sy roeping in, om vir die Jode soos ’n Jood te wees (1 Kor 9:19-23).  Daarby het hy natuurlik die offer namens die 4 mans uitgevoer (Hand 21:22-26), en nie namens homself nie.

View all posts in this series

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: