1 Timoteus 2:1-15 – ‘n Lewe in gebed deur mans en vrouens
En let op waarmee hy begin. Nie met die prediking of die organisasie nie, maar met gebed. En hy spel die werkswyse daarin uit ook in terme van mans en vroue.
Daarna eers, in hoofstuk 3, skets hy die wyse waarop die leierskap in die gemeente moet funksioneer, ouderlinge en diakens, altyd met die fokus van die gemeente in gedagte, 1) dat hulle die gemeente is van die lewende God, en 2) dat die gemeente “die draer en beskermer is van die waarheid” (vers 15). Maar daaroor later.
Gebed – 2:1-7
Soos in die brief aan Efese word gebed as een van die belangrikste dinge genoem wat ‘n gemeente kan beoefen. En die gebed is nie net privaat vir die behoeftes van enkelinge of selfs van die gemeente nie, maar vir alle mense. Hoewel regeerders uitgesonder word, veral met die oog op ‘n rustige en stil lewe in volkome toewyding aan God in alle eerbaarheid, bly die fokus alle mense. En Paulus is baie ernstig daaroor dat God se wil is dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom – en onthou dat die gemeente die draer van die waarheid is, soos ons in die volgende hoofstuk gaan sien.
Dit is na alles ook die hart van Paulus se roeping, om die boodskap hiervan aan alle nasies te bring. Die boodskap van Christus as Middelaar, waaroor die Heidelbergse Kategismus so roerend praat, is die motivering vir sy lewensmissie. Almal moet hoor van die Middelaar wat versoening bring tussen mense en God. En hiervoor moet die gemeente voortdurend en volhardend intree.
Mans en vroue in die erediens – 2:8-15
Steeds in die konteks van die liturgiese gebed in die gemeente, is Paulus se raad aan mans dat hulle by elke plek van samekoms moet bid, en moet sorg dat hulle dit met ‘n skoon gewete en sonder onmin en twis doen. Vir vroue is Paulus se raad dat hulle waardig beskeie en ingetoë (dit kan seksueel geïnterpreteer word) moet wees. Hulle versiering moet eerder goeie werke wees as haarkapsels, goud of pêrels, of duur klere. . Dit gaan dus nie oor uiterlike dinge nie, maar karakter.
Daar moet dus by mans en vroue geen wedywering of vertoon teenoor mekaar wees nie, sodat die gemeenskap van gelowiges nie verskeur word daardeur nie.
Dan spreek Paulus ‘n spesifieke saak aan – ‘n vrou in die erediens, waaroor ek op ander plekke reeds geskrywe het. Lees bv 1 Korintiërs 11 – Oor mans en vroue in die erediens en my Ekskursus oor vroue in die NT.
Die reëling wat hy hier maak is dat ’n vrou (die Griekse woord gune kan op die vroulike eggenoot dui) in die erediens stil en onderdanig sal wees en haar laat leer. Sy kan nie onderrig gee of oor die man (dit kan dui op die manlike eggenoot) gesag uitoefen nie. Maar let op dat dit net in Efese is en moontlik net ten opsigte van haar eie man (afhangende van watter vertaling ’n mens vir gune kies). Want in Kreta is die opdrag aan Titus dat die vroue wel ander vroue kan onderrig (Tit 2:3-5), en in Korinte kan vroue saam met die mans bid en profeteer in die gemeente (1 Kor 11:5). Hierdie swyg-gebod is dus hoegenaamd nie ’n algemene verbod nie.
Dit beteken dat Paulus hier ’n uitsondering maak in sy raad aan Timoteus, soos hy dit ook gedoen het met Timoteus se besnydenis (Hand 16) – die besnydenis was immer nie meer nodig nie! ’n Mens wonder hoekom? Want die situasie in die res van die kerk was só dat vroue vryelik toegelaat is om te bid en te profeteer, bv. in Korinte. Daarom dat kommentare dink dat die verbod aan Timoteus waarskynlik met die spesifieke situasie in Efese, waar Timoteus gewerk het, te make gehad het, of selfs nog meer spesifiek, met Timoteus self en hoe hy oor sake gedink het.
Hulle wys daarop dat:
- Vroue in daardie tyd meesal as ondergeskik aan mans gereken is, uitgesonderd sommige vroue wat in aansien was of baie geld of besittings gehad het. In die Joodse sinagoges mag alle vroue in elk geval net geluister het, en nie gepraat het nie.
- Die gemeentes het egter begin om, na die voorbeeld van Jesus, vroue op ’n gelyke voet te hanteer (Gal 3:28: “dit maak nie saak of iemand … man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”).
- Daarom was daar ook baie wat as diakens en mede-werkers opgetree het, selfs as leraars (Phoebe) en apostels (Junia) soos ons in Romeine 16 lees, ook as huiskerk leiers/eienaars – soos onder andere Lidia (Hand 16:40), Maria (Hand 12:12), Priscilla (Hand 18:26) en Nimfa (Kol 4:15).
- Die groot prediker Apollos, wat so ’n groot aanhang in Korinte gehad het, is byvoorbeeld deur Priscilla, ’n vrou, en Akwila onderrig (Hand 18:24-26) en let op dat Priscilla op gelyke voet met haar man Akwila gereken word.
- Maar die algemene sosiale status van vroue was steeds as ondergeskik gereken, en daarom lê Paulus hier ’n swaarder beperking op hulle, waarskynlik ter wille van die heidene, sowel as die Jode, in die stad, of net ter wille van Timoteus self.
- Dit kan ook wees dat Paulus skerper hier optree weens die gewoonte van sommige van die vroue in Efese om van huis tot huis te skinder en ledig, bemoeisiek en praatsiek te wees (1 Tim 5:13).
- En let op dat die beperking eintlik net van toepassing is op lering aan volwasse mans (nog meer spesifiek die leiers – as ’n mens in ag neem dat Paulus se argument rondom gesag draai), want in Titus gee hy in elk geval die riglyn dat vroue ander vroue mag onderrig (2:4-5) en hy erken eksplisiet die onderrig wat Timoteus se ouma en ma aan hom as kind gegee het (2 Tim 1:5; 3:14-15).
Die argumentasie wat Paulus voer rondom Adam en Eva rugsteun sy standpunt, maar kan nie as ‘n algemene riglyn geneem word nie. Ook nie die raad rondom moederskap nie, omdat dit te uitsluitend van aard is.
View all posts in this series
- Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012 - December 9, 2011
- 1 en 2 Timoteus - February 13, 2012
- 1 Timoteus 1:1-20 – ‘n Lewe in geloof wat pas by die gesonde leer
- 1 Timoteus 2:1-15 – ‘n Lewe in gebed deur mans en vrouens - February 14, 2012
- 1 Timoteus 3:1-13 – Ouderlinge en diakens van karakter - February 15, 2012
- 1 Timoteus 3:14-4:16 – Die gemeente as draer en beskermer van die waarheid - February 16, 2012
- 1 Timoteus 5:1-25 – Om met oorleg mekaar te onderskraag - February 17, 2012
- 1 Timoteus 6:1-21 – Rykdom in God is die enigste belegging wat sal hou - February 20, 2012
- 2 Timoteus - February 24, 2012
- 2 Timoteus 1:1-18 – Getrou aan die evangelie
- 2 Timoteus 2:1-26 – Getrou aan Jesus Christus - February 27, 2012
- 2 Timoteus 3:1-17 – Getrou aan die Woord - February 28, 2012
- 2 Timoteus 4:1-22 – Getrou aan jou roeping - February 29, 2012
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Francois
https://ntwrightpage.com/2016/07/12/womens-service-in-the-church-the-biblical-basis/
Mag ek vra of Wright se uitleg van 1 Timoteus 2 en veral vanaf Vers 8 tot 15 geloofwaardig is en strook met ons (NG)Kerk en jou sienings.
Chris van Wyk
Hi Francois, daar is baie konflik in die breë Christelike kerk oor die interpretasie van hierdie gedeelte. Ek wil my nie uitlaat oor NT Wright se siening of oor die NGK s’n nie. Wat ek wel gee, is ‘n verdere refleksie hieroor uit my boek oor Paulus wat ek verlede jaar in die gemeente aangebied het:
Mans en vroue in die erediens – 1 Timoteus 2:8-15
Steeds in die konteks van gebed in die gemeente, is Paulus se raad aan mans dat hulle by elke plek van samekoms moet bid, en moet sorg dat hulle dit met ‘n skoon gewete en sonder onmin en twis doen. Vir vroue is Paulus se raad dat hulle publieke gebede op soortgelyke wyse met waardigheid, beskeie en ingetoë (dit kan seksueel geïnterpreteer word, d.w.s. nie uitlokkend nie) gedoen moet word. Vroue se versiering moet daarom eerder goeie werke wees as haarkapsels, goud of pêrels, of duur klere. Dit gaan dus nie oor uiterlike dinge in die geloofsgemeenskap nie, maar oor die innerlike karakter wat van hulle moet uitstraal. Dit beteken nie dat mooi klere verkeerd is nie, maar dat ‘n mooi karakter belangriker is.
Daar moet dus by mans en vroue geen wedywering of vertoon teenoor mekaar wees nie, sodat die gemeenskap van gelowiges nie verskeur word daardeur nie. En let op dat dit in die konteks van hulle saamstaan in gebed uitgespel word. Gebede in die geloofsgemeenskap word deur mans en vroue gelewer (vgl. 1 Kor. 11).
Dan gaan Paulus verder om ‘n spesifieke probleem rondom vroue in die erediens aan te spreek.
Daar is baie geskrywe hieroor en dit is moeilik om die kaf van die koring te skei. Wat my help om Paulus se uitsprake hier te interpreteer, is die verskillende getuienisse in die NT oor die aktiewe rol van vroue in die geloofsgemeenskap, sowel as Paulus se ander lering oor vroue in sy briewe.
Die “swyg”-verbod kan dus in hierdie teks nie ‘n verbod op bid, profeteer of lering wees nie, maar eerder ‘n verbod op onordelike gepratery in die gemeente – soos in 1 Korintiërs 11 – óf ‘n verbod op ‘n vals lering oor die voorrang van die vrou bo die man.
As ‘n mens laasgenoemde interpretasie aanvaar, is die uitsprake oor Adam en Eva dan moontlik gemik teen die vals lering van die moeder-god kultus wat Eva die oermens gemaak het waaruit die menslike geslag uitgespruit het.
Die uitsprake oor geboorte aan die einde van die gedeelte was weer moontlik gemik op ’n ander valse lering dat vroue in die Christelike geloofsgemeenskap vrygestel was van die rol as moeders in die huwelik (vgl. 1 Kor. 7 waar sommige hulle van seks onthou het selfs in die huwelik).
Paulus moedig daarenteen vroue aan om nie te huiwer om in die huwelik moederskap as ‘n Godgegewe rol te aanvaar nie, terwyl hulle soos elke ander gelowige geestelik groei in geloof, liefde, heiligmaking en selfbeheersing.
proregno
Beste dr. Chris, ek is as mede-gelowige dankbaar vir die sterk standpunt wat u geneem het en seker nog steeds neem teen die gay agenda wat die kerke so oorstroom.
Tog is dit met hartseer dat ek in u verklaring hierbo lees, dat u ongelukkig in wese dieselfde met die Skrif doen, as wat die gay verklaarders doen, dit verander die Skrif se waarheid oor die man en vrou se rol, ook in die kerk, na ‘tydsgebonde’, terwyl die gereformeerde geloof en teoloë nog altyd die standpunt gehad het dat dit wel ‘tydsgerig’ is, maar nie ‘tydsgebonde’ in sy uitsprake oor die leer en ook die kerkregering soos in 1 Tim. 2 se geval, nie.
Waarom as u meen dat 1 Tim. 2:11-15 is tydsgebonde, waarom is al die uitsprake teen homoseksualisme in die Bybel, o.a. in Rom 1, 1 Kor. 6, 1 Tim. 1 ens… nie ook ‘tydsgebonde’ nie?
As u 1 Tim. 2:14,15 so maklik kan ‘wegverklaar’, waarom nie ook die teen-homoseksuele tekste nie?
Nee, in beide 1 Tim. 2 en Rom. 1 word gewys op wat teen God se skeppingswil ingaan, in beide die geopenbaarde Woord, asook in die natuur, albei wat van God kom, NGB art. 2
Ek hoop u en ander NG lidmate wat nog wil vasstaan vir die suiwer evangelie en Woord midde die NG kerke, tog opnuut sal besin en besef dat die verval in die gay agenda ‘identiteitspolitiek’ alreeds begin het met die verval in die vroue in die besondere ampte agenda se feministiese politiek, en onderliggend aan albei is die ‘sosio-historiese/kritiese’ Skrifbeskouing wat dan die skeppingsorde van ons Here vir sy skepping en kerk en vir man en vrou verdraai.
U kan meer daaroor hier lees soos ek die onmisbare skakel tussen vrou in die besondere ampte na die homosekuele agende uitwys:
https://proregno.com/2015/07/11/romeine-1-van-die-vida-plan-na-die-hida-plan/
https://proregno.com/2018/10/04/wanneer-geslag-nie-meer-saak-maak-nie-van-vida-na-homoseksualisme-na-pedofilie/
Sterkte toegebid
U broeder in Christus
Slabbert
Chris van Wyk
Hi Slabbert, ek weet nie waar jy lees dat ek dit “tydgebonde” interpreteer nie. Ek interpreteer die verbod in Timoteus as plek- of situasiegebonde, omdat ‘n vrou wel daar verbied is om lering te gee, en ek dit daarom handhaaf, maar vroue op ander plekke in die Bybel wel toegelaat word om te leer, Priscilla bv, en te bid en profeteer (1 Kor 11; Stefanus se dogters ens), en ek soortgelyks dit handhaaf. Ek het ‘n Bybelse standpunt wat uit die hele Bybel se boodskap kom, nie ‘n tydsgebonde een nie. Ek lees ook nie die Bybel deur ‘n feministiese bril, of enige ander (post-)modernistiese bril nie. Ek probeer sin maak van die teks self en van die talle gevalle waarin vroue in leierskap posisies optree, en spesifiek ook lerend (dink bv aan Gulda wat Josia leer hoe om die wet te interpreteer in die OT). Jy is welkom om met my te verskil, maar doen dit op die regte gronde.
proregno
Dr Chris, ons kan dit verskillende name noem, maar om te sê 1 Tim. 2:11-15 is begrond in die plek- of situasie is om dit ‘tydgebonde’ te maak = dit geld net vir eerste eeu en Efese, en nie vir die hele NT bedeling nie as skeppingsorde en kerkorde vir die gesinne en gemeentes nie.
Waar staan dit in die teks self wat u daar in lees, u eie woorde ‘moontlik’ wat uself gebruik ‘n paar keer erken dit self, waar staan dit in die Teks self oor die rede vir Paulus se verbod is die susters van daardie tyd, bloot net die 1ste eeuse situasie? Let wel: ek erken 100 persent die tye en konteks van die hele Skrif, in die lyn van Bavinck se verstaan daarvan, die vraag is egter: waarin, in watter gesag of bron begrond Paulus 1 Tim. 2:11-12, en dan is dit duidelik hy gaan nie na sy tye nie, maar na die skeppingsorde, Gen. 1 en 2, en dan ook Gen. 3, die sondeval ongeag of juis omdat Christus gekom het.
Nee dr. Chris, ek sê dit met deernis as oud NGer en liefde daar vir mede-gelowiges: dit is ‘n latere 20ste eeuse ‘sosio-historiese’ INlees, INsegese wat u en andere ongelukkig doen, die druk van ons feministiese tydsgees wat geweldig is, en nou oorgaan na die woke- en gay agenda druk, ens. Die ‘moontlike’ buite bybelse bronne en sistuasie is nie die bepalende nie, dit is hulp maar nie SLEUTEL van die teks nie. Ons glo definitief nog altyd aan ‘kultuurhistoriese’ inligting/agtergrond (wat gereformeerdes nog altyd verwelkom, sien SCW Duvenhage se werk daaroor) wat tereg help en dienend is, maar die duidelike teks self is bepalend, so sê die Here, en deur die ‘sosio-histories-kritiese’ metode word die Teks nou self onderwerp aan die onduidelike, die spekulatiewe ‘moontlike situasie gebonde’ inligting, dit geveto en verander wat nog altyd duidelik was vir die kerk deur die eeue, ook die kerke van gereformeerde belydenis …. tot en met die opkoms van die feministiese teologie en ideologie wat ongelukkig ons susterskerke van die 1950s en later begin infiltreer het, en nou sit ons met die gay agenda.
Paulus, soos in 1 Kor. 14, beroep hom op die Here self, sy wet, sy skeppings orde van Gen. 1 en 2, en ook die sondeval en gevolge, Gen. 3 as begronding van ‘n ewigdurende onderskeid in hierdie bedeling, in v. 12-14, om die orde vir die gesin en gemeente daar te stel.
Die gay verklaarders doen dit met Rom. 1 en ander tekste, beroep hul op die ‘sosio historiese’ slegte homoseksuele verhoudinge in die 1ste eeu, en ontken dat dit God se skeppingsordelike en bevelswil wat oortree word met homoseksualisme, hulle soek nou net ‘liefdevolle gay verhoudings’… presies die argument vir susters om in die leer/regeer dienste of ampte te doen, dat word gepleit vir ‘goeie susters wat kan preek en leer as leraars en ouderling’, nie die ‘onordelikes’ nie, maar waar staan dit in die Teks self, in verse 13-15?
Verder is ‘n kenmerk van afwyking van gereformeerde skrifverlaring, wanneer ‘beskrywende’ gedeeltes (u skryf o.a. dat u u in hierdie saak baie laat lei deur ‘die verskillende getuienisse in die NT oor die aktiewe rol van vroue in die geloofsgemeenskap’) gebruik word om die ‘voorskrywende’ gedeeltes te verstaan, terwyl dit juis andersom moet wees, die duideliker ‘bevele’ moet die minder duidelike beskrywende gedeeltes bepaal, die beskrywende stof moet in die lig van die duidelike bevele gelees word, ook nie net in die NT, maar God se hele skeppingsorde van Gen.1 en 2, asook die wet en bevelsorde wat hy vir gesin en gemeente daargestel het.
Sien gerus die skrywe van oud-prof PW Buys in hierdie verband: “Skrifgesag en skrifberoep in die etiek”
https://www.koersjournal.org.za/index.php/koers/article/view/884
“Abstract: The issue that is dealt with in this paper centres on the ways in which the centuries-old Biblical principles and norms in ethics should be applied after twenty and more centuries within a totally different, modern cultural situation. This issue has become especially topical since 1970 when Kuitert, in his article Het Schriftberoep in de Ethiek, maintained that the Scriptural injunction in practice seemed to be a monumentally arbi trary injunction.”
Hoe verklaar dr. Chris dan ook die DUIDELIKE konteks van 1 Tim. 2:12-15 = 1 Tim. 3:1,2 = ‘die man van een vrou’?
Dankie vir u antwoord.
Chris van Wyk
Hi Slabbert, lees wat ek skryf, nie wat jy dink ek skryf nie. Ek begrond nie die brief aan Timoteus in die konteks van daardie situasie in Efese nie, soos jy sê ek doen nie. Ek sê wel Paulus maak ‘n uitspraak vir daardie situasie. Die boodskap wat hy hier gee, het vir hulle as absolutes gegeld. Daar kan tye vandag wees waar presies dieselfde situasie heers, en ons kan presies dieselfde uitsprake dan maak.
Ek wil egter nie met jou in ‘n debat hieroor gaan nie, want ek het ‘n hele aantal tekste genoem waar vroue leiding gee, profeteer, bid, lering gee ensomeer, en jy verduidelik nie hoe dit in dieselfde Skrif kan staan en hoe dit met mekaar in verband staan nie.
Ek gaan ook nie in debat met jou oor die selfdegeslagverhoudingsaak nie. My standpunt daaroor is duidelik en wyd bekend dat die Skrif dit nie toelaat nie en dat dit vandag nog as absolute geld. Ek volstaan daarmee.
proregno
Beste dr. Chris, kan u my verwys na u skrywes hier of elders waar u die volgende dan begrond en verduidelik vanuit die Skrif:
“Ek gaan ook nie in debat met jou oor die selfdegeslagverhoudingsaak nie. My standpunt daaroor is duidelik en wyd bekend dat die Skrif dit nie toelaat nie en dat dit vandag nog as absolute geld. Ek volstaan daarmee.”
Let wel, ek stem met u saam oor wat u hier skryf in die aanhaling, ek wil dit dan graag gaan lees om te sien hoe daardie ‘absolutes’ vandag nog geld …. maar vir een of ander vreemde redes geld die ‘absolutes’ van 1 Tim. 2 en 3 nie ook vir vandag nie, en laat die Skrif dan wel vroue as leraars/ouderlinge toe?
Dankie vir die verwysings, groete.
Chris van Wyk
Dit is op hierdie webtuiste, maar ek sal dit vir jou e-pos.