1 Timoteus 2:1-15 – ‘n Lewe in gebed deur mans en vrouens

Waar Paulus nou raad vir Timoteus gegee het oor hoe om dwaalleraars en dwalinge as sodanig te hanteer, fokus hy nou op die positiewe riglyne vir die werk in ‘n gemeente.

En let op waarmee hy begin. Nie met die prediking of die organisasie nie, maar met gebed.  En hy spel die werkswyse daarin uit ook in terme van mans en vroue.

Daarna eers, in hoofstuk 3, skets hy die wyse waarop die leierskap in die gemeente moet funksioneer, ouderlinge en diakens, altyd met die fokus van die gemeente in gedagte, 1) dat hulle die gemeente is van die lewende God, en 2) dat die gemeente “die draer en beskermer is van die waarheid” (vers 15).  Maar daaroor later.

Gebed – 2:1-7

Soos in die brief aan Efese word gebed as een van die belangrikste dinge genoem wat ‘n gemeente kan beoefen.  En die gebed is nie net privaat vir die behoeftes van enkelinge of selfs van die gemeente nie, maar vir alle mense.  Hoewel regeerders uitgesonder word, veral met die oog op ‘n rustige en stil lewe in volkome toewyding aan God in alle eerbaarheid, bly die fokus alle mense.  En Paulus is baie ernstig daaroor dat God se wil is dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom – en onthou dat die gemeente die draer van die waarheid is, soos ons in die volgende hoofstuk gaan sien.

Dit is na alles ook die hart van Paulus se roeping, om die boodskap hiervan aan alle nasies te bring.  Die boodskap van Christus as Middelaar, waaroor die Heidelbergse Kategismus so roerend praat, is die motivering vir sy lewensmissie.  Almal moet hoor van die Middelaar wat versoening bring tussen mense en God.  En hiervoor moet die gemeente voortdurend en volhardend intree.

Mans en vroue in die erediens – 2:8-15

Steeds in die konteks van die liturgiese gebed in die gemeente, is Paulus se raad aan mans dat hulle by elke plek van samekoms moet bid, en moet sorg dat hulle dit met ‘n skoon gewete en sonder onmin en twis doen.  Vir vroue is Paulus se raad dat hulle waardig beskeie en ingetoë (dit kan seksueel geïnterpreteer word) moet wees.  Hulle versiering moet eerder goeie werke wees as haarkapsels, goud of pêrels, of duur klere.  .  Dit gaan dus nie oor uiterlike dinge nie, maar karakter.

Daar moet dus by mans en vroue geen wedywering of vertoon teenoor mekaar wees nie, sodat die gemeenskap van gelowiges nie verskeur word daardeur nie.

Dan spreek Paulus ‘n spesifieke saak aan – ‘n vrou in die erediens, waaroor ek op ander plekke reeds geskrywe het.  Lees bv 1 Korintiërs 11 – Oor mans en vroue in die erediens en my Ekskursus oor vroue in die NT.

Die reëling wat hy hier maak is dat ’n vrou (die Griekse woord gune kan op die vroulike eggenoot dui) in die erediens stil en onderdanig sal wees en haar laat leer.  Sy kan nie onderrig gee of oor die man (dit kan dui op die manlike eggenoot) gesag uitoefen nie.  Maar let op dat dit net in Efese is en moontlik net ten opsigte van haar eie man (afhangende van watter vertaling ’n mens vir gune kies).  Want in Kreta is die opdrag aan Titus dat die vroue wel ander vroue kan onderrig (Tit 2:3-5), en in Korinte kan vroue saam met die mans bid en profeteer in die gemeente (1 Kor 11:5).  Hierdie swyg-gebod is dus hoegenaamd nie ’n algemene verbod nie.

Dit beteken dat Paulus hier ’n uitsondering maak in sy raad aan Timoteus, soos hy dit ook gedoen het met Timoteus se besnydenis (Hand 16) – die besnydenis was immer nie meer nodig nie!  ’n Mens wonder hoekom?  Want die situasie in die res van die kerk was só dat vroue vryelik toegelaat is om te bid en te profeteer, bv. in Korinte.  Daarom dat kommentare dink dat die verbod aan Timoteus waarskynlik met die spesifieke situasie in Efese, waar Timoteus gewerk het, te make gehad het, of selfs nog meer spesifiek, met Timoteus self en hoe hy oor sake gedink het.

Hulle wys daarop dat:

  • Vroue in daardie tyd meesal as ondergeskik aan mans gereken is, uitgesonderd sommige vroue wat in aansien was of baie geld of besittings gehad het.  In die Joodse sinagoges mag alle vroue in elk geval net geluister het, en nie gepraat het nie.
  • Die gemeentes het egter begin om, na die voorbeeld van Jesus, vroue op ’n gelyke voet te hanteer (Gal 3:28: “dit maak nie saak of iemand … man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”).
  • Daarom was daar ook baie wat as diakens en mede-werkers opgetree het, selfs as leraars (Phoebe) en apostels (Junia) soos ons in Romeine 16 lees, ook as huiskerk leiers/eienaars – soos onder andere Lidia (Hand 16:40), Maria (Hand 12:12), Priscilla (Hand 18:26) en Nimfa (Kol 4:15).
  • Die groot prediker Apollos, wat so ’n groot aanhang in Korinte gehad het, is byvoorbeeld deur Priscilla, ’n vrou, en Akwila onderrig (Hand 18:24-26) en let op dat Priscilla op gelyke voet met haar man Akwila gereken word.
  • Maar die algemene sosiale status van vroue was steeds as ondergeskik gereken, en daarom lê Paulus hier ’n swaarder beperking op hulle, waarskynlik ter wille van die heidene, sowel as die Jode, in die stad, of net ter wille van Timoteus self.
  • Dit kan ook wees dat Paulus skerper hier optree weens die gewoonte van sommige van die vroue in Efese om van huis tot huis te skinder en ledig, bemoeisiek en praatsiek te wees (1 Tim 5:13).
  • En let op dat die beperking eintlik net van toepassing is op lering aan volwasse mans (nog meer spesifiek die leiers – as ’n mens in ag neem dat Paulus se argument rondom gesag draai), want in Titus gee hy in elk geval die riglyn dat vroue ander vroue mag onderrig (2:4-5) en hy erken eksplisiet die onderrig wat Timoteus se ouma en ma aan hom as kind gegee het (2 Tim 1:5; 3:14-15).

Die argumentasie wat Paulus voer rondom Adam en Eva rugsteun sy standpunt, maar kan nie as ‘n algemene riglyn geneem word nie.  Ook nie die raad rondom moederskap nie, omdat dit te uitsluitend van aard is.

Timoteus


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

    • Hi Francois, daar is baie konflik in die breë Christelike kerk oor die interpretasie van hierdie gedeelte. Ek wil my nie uitlaat oor NT Wright se siening of oor die NGK s’n nie. Wat ek wel gee, is ‘n verdere refleksie hieroor uit my boek oor Paulus wat ek verlede jaar in die gemeente aangebied het:

      Mans en vroue in die erediens – 1 Timoteus 2:8-15

      Steeds in die konteks van gebed in die gemeente, is Paulus se raad aan mans dat hulle by elke plek van samekoms moet bid, en moet sorg dat hulle dit met ‘n skoon gewete en sonder onmin en twis doen. Vir vroue is Paulus se raad dat hulle publieke gebede op soortgelyke wyse met waardigheid, beskeie en ingetoë (dit kan seksueel geïnterpreteer word, d.w.s. nie uitlokkend nie) gedoen moet word. Vroue se versiering moet daarom eerder goeie werke wees as haarkapsels, goud of pêrels, of duur klere. Dit gaan dus nie oor uiterlike dinge in die geloofsgemeenskap nie, maar oor die innerlike karakter wat van hulle moet uitstraal. Dit beteken nie dat mooi klere verkeerd is nie, maar dat ‘n mooi karakter belangriker is.

      Daar moet dus by mans en vroue geen wedywering of vertoon teenoor mekaar wees nie, sodat die gemeenskap van gelowiges nie verskeur word daardeur nie. En let op dat dit in die konteks van hulle saamstaan in gebed uitgespel word. Gebede in die geloofsgemeenskap word deur mans en vroue gelewer (vgl. 1 Kor. 11).

      Dan gaan Paulus verder om ‘n spesifieke probleem rondom vroue in die erediens aan te spreek.

      • Dit kan volgens sommige geleerdes wees dat van die vroue in Efese die vryheid misbruik het wat hulle gekry het in die kerk (Gal. 3:29) – anders as in die Joodse sinagoge waar hulle moes stilbly – om oor te vat in die Christelike erediens op ‘n onordelike wyse.
      • Dit kan volgens ander geleerdes wees dat van die vroue boonop ‘n vals lering aangehang het dat vroue ‘n voorrang bó mans het vanuit die perspektiewe van ‘n moeder-god kultus (Kroeger & Kroeger). Dit word verbind aan die moontlikheid dat daar ‘n groep ryk vroue was wat die Bybelse lering oor die skepping verwerp het en geleer het dat Adam uit Eva gebore is, en daarby van huis tot huis dit aan gemeentelede verkondig het (1 Tim. 5:13). Die groep – moontlik selfs ‘n spesifieke vrou – het dus nie net geleer dat vroue op ’n gelyke voet hanteer moet word soos Paulus dit in sy briewe geskrywe het nie. Hulle/sy wou vroue ‘n groter rol in die gemeente as mans laat speel.

      Daar is baie geskrywe hieroor en dit is moeilik om die kaf van die koring te skei. Wat my help om Paulus se uitsprake hier te interpreteer, is die verskillende getuienisse in die NT oor die aktiewe rol van vroue in die geloofsgemeenskap, sowel as Paulus se ander lering oor vroue in sy briewe.

      • Onthou bv. dat daar baie vroue was wat as diakens en mede-werkers opgetree het, selfs as leraars (Phoebe) en apostels (Junia) soos ons in Romeine 16 gelees het. Daar was ook vroue as huiskerk leiers/eienaars, soos onder andere Lidia (Hand. 16:40), Maria (Hand. 12:12), Priscilla (Hand. 18:26) en Nimfa (Kol. 4:15).
      • Onthou ook dat die groot prediker Apollos, wat so ’n groot aanhang in Korinte gehad het, deur Priscilla, ’n vrou, en Akwila onderrig is (Hand. 18:24-26). Priscilla word nie net op gelyke voet met haar man Akwila gereken nie, maar word meer kere eerste genoem waar hulle as egpaar vermeld word.
      • Paulus erken ook eksplisiet die onderrig wat Timoteus se ouma en ma aan hom as kind gegee het (2 Tim. 1:5; 3:14-15).
      • In sy vorige brief aan Korinte het Paulus baie duidelik geleer dat vroue saam met die mans mag bid en profeteer – die Woord uitlê – in die gemeente (1 Kor. 11:5). Hy sal ná hierdie brief aan Timoteus ‘n brief skryf aan Titus in Kreta met die spesifieke opdrag dat vroue (ten minste) ander vroue kan onderrig (Tit. 2:3-5).

      Die “swyg”-verbod kan dus in hierdie teks nie ‘n verbod op bid, profeteer of lering wees nie, maar eerder ‘n verbod op onordelike gepratery in die gemeente – soos in 1 Korintiërs 11 – óf ‘n verbod op ‘n vals lering oor die voorrang van die vrou bo die man.

      As ‘n mens laasgenoemde interpretasie aanvaar, is die uitsprake oor Adam en Eva dan moontlik gemik teen die vals lering van die moeder-god kultus wat Eva die oermens gemaak het waaruit die menslike geslag uitgespruit het.

      Die uitsprake oor geboorte aan die einde van die gedeelte was weer moontlik gemik op ’n ander valse lering dat vroue in die Christelike geloofsgemeenskap vrygestel was van die rol as moeders in die huwelik (vgl. 1 Kor. 7 waar sommige hulle van seks onthou het selfs in die huwelik).

      Paulus moedig daarenteen vroue aan om nie te huiwer om in die huwelik moederskap as ‘n Godgegewe rol te aanvaar nie, terwyl hulle soos elke ander gelowige geestelik groei in geloof, liefde, heiligmaking en selfbeheersing.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: