Handelinge 21:1-22:30 – Die Gees se woorde moet in die lig van jou roeping interpreteer word
Hoe om die Gees se woorde te interpreteer
Die rol van die Heilige Gees in hierdie gedeelte, en die wyse waarop die gelowiges Hom ervaar, is baie interessant en insiggewend vir ons eie verstaan van Hom en vir ons onderskeidingsprosesse.
- Dat die Gees vir Paulus voorberei vir ’n pad van lyding wat vir hom wag, is duidelik, soos Paulus vir die ouderlinge van Efese in Milete reeds gesê het (20:22-24) en soos die Here Jesus self vir Ananias opdrag gegee het om vir Paulus reg aan die begin van sy roeping te sê: “Ek self sal vir hom wys hoeveel hy vir my Naam moet ly.” (9:16) Dit was immers nie anders in die lewe van Jesus nie – Hy moes ly om die wil van God te vervul! Lyding sou deel van die roeping van Paulus wees. Dit was duidelik reeds reg aan die begin van sy roeping.
- Die gelowiges in Tirus het ook hierdie boodskap van lyding van die Gees gehoor, maar wil Paulus dit spaar en raai hom aan om nie Jerusalem toe te gaan nie (21:4). Dit sou egter Paulus se lewensroeping en die persoonlike woord van die Gees in sy lewe dwarsboom (20:2-24). Hy kan dus nie inval met hulle goedbedoelde, maar misplaaste raad nie, en gaan, nadat hulle saamgebid het, verder op die reis, juis na Jerusalem.
- Netso kom die profeet Agabus in Sesarea met die waarskuwing aan Paulus dat hy aan die heidene uitgelewer sal word, weereens onder leiding van die Heilige Gees (21:10-11). Die waarskuwing is egter vir Paulus ’n bevestiging dat hy nie moet terugdeins van die lyding wat vir hom wag nie, maar juis moet volhard in sy voorneme om Jerusalem toe te gaan. Tot Agabus se krediet volstaan hy met Paulus se reaksie op sy woord.
- Hieruit sien ’n mens die gevaar wat altyd in geestelike onderskeiding bestaan. ’n Mens hoor dieselfde woord van die Heilige Gees – ’n waarskuwing byvoorbeeld – maar maak afleidings daaroor in terme van ’n mens se eie denke – ’n mens moet gevaar vermy byvoorbeeld. Paulus daarenteen doen die regte ding, en verbind die woord van die Gees aan sy lewensroeping – lyding gaan deel wees van jou pad – en loop die pad van lyding met blymoedige dapperheid.
Om vir die Jode te word soos ’n Jood
Dit is ook baie interessant om te sien dat die Joodse gelowiges Paulus sterk aanvat dat hy die boodskap wat vir die heidense gelowiges bedoel was – dat hulle nie die wet van Moses rondom die besnydenis hoef na te kom nie – ook op gelowiges uit Joodse geledere van toepassing gemaak het. Hulle is waarskynlik verkeerd in hulle afleiding – Paulus het immers vir Timoteus laat besny, omdat sy ma ’n Jodin was (Hand 16:3 – hy het egter heeltemal tereg nie vir Titus laat besny nie, al was daar ’n aandrang daarvoor, omdat hy volledig Grieks was – Gal 2:3), maar Paulus stribbel nie teë nie.
Dit blyk dus duidelik dat die gemeente in Jerusalem geleer het om gasvry te wees – teenoor die Griekse weduwees (Hand 6) – mense van ander nasies in te sluit en nie laste op hulle te lê nie – teenoor die gelowiges uit die heiden nasies uit die res van die wêreld (Hand 15) – maar self nie verander het, of geskuif het in hulle verstaan van die belang van die wet nie. Hulle het byvoorbeeld Grieke aangestel om die weduwees te help ( al sewe mans het Griekse name – Hand 6:5), en nie Jode nie, en nie self die besnydenis versaak nie, maar steeds aangehang. Hierdie gebrek aan bereidheid om self te verander het waarskynlik bygedra daartoe dat die gemeente met die groot veranderinge wat met die verwoesting van Jerusalem gekom het, in die slag gebly het.
Hoe dit ook al sy, Paulus word hier voor ’n skerp toets geplaas. Bedoel hy werklik dat hy vir die Jode soos ’n Jood word, en is hy bereid om hom onder die wet te stel, al is hy nie meer onder die wet nie (1 Kor 9:19-23)? En hy wys dat hy dit werklik bedoel, ter wille van die evangelie, deur hulle voorstel na te kom dat hy hom in die tempel moet gaan reinig.
Paulus spreek die volk toe en lewer sy getuienis
Dit sit egter ’n proses aan die gang wat die Joodse leiers nie in berekening gebring het nie, waarin ’n mens sien hoe God sy wil uitwerk midde-in en regdeur die menslike oorwegings van die leiers in Jerusalem. Paulus word by die tempel gevange geneem, omdat hulle hom beskuldig dat hy ’n klomp Grieke in die tempel ingebring het en so die tempel ontheilig het. Dat dit nie waar was nie, skeel die oproermakers min, Jode uit sy geboorteland in Asië, en die proses om Paulus in Rome uit te bring, kom op koers, al is dit dan deur geslepe en gemene mense.
Paulus gebruik die geleentheid om die volk toe te spreek en sy getuienis te lewer. Op ’n kragtige wyse skilder hy vir hulle die werklikheid van God se ingrype in sy lewe. Let op hoe hy van ’n werklike teenwoordigheid van Jesus self praat wat op ’n verskeidenheid wyses in sy lewe ervaar kon word. Hulle wil egter nie daarna luister nie, en dit sit die volgende fase aan die gang, dat hy voor die Joodse Raad gebring word.
View all posts in this series
- WEEK 5: Handelinge 1:1-6:7 - August 18, 2011
- Handelinge 1:1-26 – Wag op die gawe van die Heilige Gees
- Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies - August 19, 2011
- Handelinge 3:1-26 – God gee geloof sodat ons kan glo - August 22, 2011
- Handelinge 4:1-37 – Die Heilige Gees maak die eerste gemeente vrymoedig en vrygewig - August 23, 2011
- Handelinge 5:1-6:7 – Die kerk groei in heiligheid en helende krag - August 24, 2011
- WEEK 6: Handelinge 6:8-9:31 - August 25, 2011
- Handelinge 6:8-7:60 – Vervolging is die stimulus vir die uitbreiding van die evangelie na Judea en Samaria
- Handelinge 8:1-25 – Saulus gaan besete tekere, maar Filippus verlos besetenes - August 26, 2011
- Handelinge 8:26-40 – Die Woord en die Gees skep geloof in ons harte - August 29, 2011
- Handelinge 9:1-19 – Die besete Saulus word ’n begeesterde apostel - August 30, 2011
- Handelinge 9:20-31 – Barnabas ontferm hom oor Saulus en word die borg vir sy bediening - August 31, 2011
- WEEK 7: Handelinge 9:32-12:24 - September 1, 2011
- Handelinge 9:32-43 – God doen wonders deur Petrus
- Handelinge 10:1-48 – Die Heilige Gees word ook vir heidene gegee - September 2, 2011
- Handelinge11:1-18 – God gee aan nie-Jode die bekering tot die lewe - September 5, 2011
- Handelinge 11:19-30 – Barnabas help die gemeente sy bestaansdoel verwesenlik - September 6, 2011
- Handelinge 12:1-24 – God antwoord gebede en bevestig die gemeente in Jerusalem in sy roeping - September 7, 2011
- WEEK 8: Handelinge 12:25-16:5 - September 8, 2011
- Handelinge 12:25-13:12 – Waar leiers en die gemeente die Here aanbid, verander Hy die wêreld
- Handelinge 13:13-52 – Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword - September 9, 2011
- Handelinge 14:1-28 – Die deur na geloof vir die heidene gaan wawyd oop - September 12, 2011
- Handelinge 15:1-35 – Gesamentlike geloofsonderskeiding oorbrug dreigende verskille - September 13, 2011
- Handelinge 15:36-16:5 – ‘n Fokus op die opkomende geslag van bedienaars - September 14, 2011
- WEEK 9: Handelinge 16:6-19:20 - September 15, 2011
- Handelinge 16:6-40 – Die Europese kerkgeskiedenis begin met die bekering van ’n vrou
- Handelinge 17:1-15 – Om die Bybel te ondersoek, maak die evangelie vir ’n mens oop - September 16, 2011
- Handelinge 17:16-34 – Paulus tree ook in die publieke sfeer op met die evangelie - September 19, 2011
- Handelinge 18:1-23 – Die Here self bemoedig Paulus om sy werk voort te sit - September 20, 2011
- Handelinge 18:24-19:20 – God doen wonderlike dinge deur Paulus in Efese - September 21, 2011
- Die doop met water is nie noodsaaklik om die Heilige Gees te ontvang nie
- WEEK 10: Handelinge 19:21-28:31 - September 22, 2011
- Handelinge 19:21-20:38 – Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang
- Handelinge 21:1-22:30 – Die Gees se woorde moet in die lig van jou roeping interpreteer word - September 23, 2011
- Handelinge 23:1-24:27 – Paulus verkondig die evangelie aan die Romeinse goewerneur Feliks - September 26, 2011
- Handelinge 25:1-26:32 – Paulus verkondiging die evangelie aan koning Herodes Agrippa - September 27, 2011
- Handelinge 27:1-28:31 – Paulus verkondig die evangelie in Rome - September 28, 2011
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016
Petrus
Beste Chris – Die handelinge van Paiulus rondom die besnydenis is vir my verwarrend. Het hy Jode wat Christene geword het laat besny twv die Joodse gebruike en nie Jode nie laat besny nie agv die Christelike leer en vryheid?
Chris van Wyk
Hi Petrus, nee, Paulus het nie Jode wat Christene geword het, laat besny nadat hulle Christene geword het nie. Jode was reeds besny as hulle ouers getroue Jode was. Paulus het ‘n uitsondering gemaak met Timoteus, want Timoteus was nie as kind besny nie, al was sy ma Eunice ‘n Jodin. Sy pa was ‘n Griek, so dié het dit waarskynlik gekeer. Paulus laat hom daarom besny ter wille van die bediening aan die Jode, omdat hulle Timoteus sou verwerp het en nie na hom sou geluister het as hy nie as gebore Jood getrouheid aan die wet sou kon demonstreer nie. Paulus het immers self die wet nagekom tot sy dood deur die feeste by te woon en selfs te offer soos ons in Handelinge 21 lees. Dit was die ooreenkoms in Jerusalem dat Joodse Christene die wet sou nakom en heidense Christene net die vier dinge van die wet sou nakom wat met afgodery en onsedelikheid verband gehou het (Hand 15). Daarom is Titus nie besny nie (Gal 2), want hy was volledig Grieks van afkoms.