Skip to main content

Handelinge 11:19-30 – Barnabas help die gemeente sy bestaansdoel verwesenlik

Vervolging het altyd ook ‘n positiewe kant, in die sin dat God dit gebruik om visie vir sy mense te gee, en positiewe gevolge daaruit te laat voortspruit. Let op dat dit mense uit Afrika was, dws mense wat nie in die hart van die Jerusalem gemeente was nie, wat die evangelie aan nie-Jode verkondig in Antiogië, die derde grootste stad van daardie tyd naas Rome en Alexandrië.

Hulle volg waarskynlik die voorbeeld van Petrus, ten minste soos Lukas vir ons die verhaal vertel. Verandering kom dus uit die sentrum, Petrus wys hoe deur die paradigma te skuif (nie-Jode is nou welkom), en van die randte af, mense op die periferie wat die nuwe paradigma ‘n lewenstyl maak.

In dit alles is dit die Here wat die verandering bewerk. Hy het die leiding in Petrus se geval geneem. Hy doen dit nou ook in die res van die wêreld.   Dit is ’n sleutel insig wat Lukas ons gee vir ons eie  betrokkenheid in die wêreld.  God is konstant besig om sy koninkryk te vestig en te bou in nuwe gebiede, en ons lewensroeping is om daarby aan te sluit.

Barnabas word nou gestuur om die nuwe gelowiges te bemoedig, wat tot ‘n volgende fase van uitbreiding sou lei met Saulus wat ingetrek word in die nuwe gemeente en binnekort saam met hom onder die direkte leiding van die Heilige Gees uitgestuur sou word.  Barnabas as eenmankommissie word dus baie gou aangevul met Saulus om nie net die las van die bediening te hanteer nie, maar ook ander tipe gawes in te span om die gemeente sy bestaansdoel te laat verwesenlik.

Die situasie in hierdie gemeente wys op ’n besondere manier hoe nie net die evangelie versprei nie – apostels en gewone gelowiges doen daaraan mee – maar ook hoe ’n gemeente intern funksioneer, sowel as binne die verband met ander gemeentes.  Ons sien bv. hoe die Here “gawes” van leierskap en begeleiding gee (Saulus en Barnabas), onder andere ter wille van dinge soos gemeenskap, lering en inskakeling binne die groter verband van die geloofsgemeenskap oor die wêreld (Barnabas).

Let op hoe Barnabas se karakter deur Lukas beskryf word.  Barnabas is ’n goeie man, soos Lukas ook vir Josef van Arimatea (Luk 23:50) beskryf het, die enigste ander persoon wat die titel kry. Barnabas was ook met die Heilige Gees vervul. Daarbenewens het Barnabas ook, soos Stefanus (Hand 6:5), ’n vaste geloof gehad.

Barnabas se uitstaande bydrae tot die bediening in Atiogië, soos tevore in Jerusalem,  is dat hy die jong kerk daar aangespoor het om met hart en siel aan God getrou te bly (Hand 11:23). Dit is iets wat by uitstek kenmerkend van sy bediening was.  Die woord wat hier gebruik word om sy betrokkenheid te beskryf, is die woord “parakalei” (aanmoedig of bemoedig) wat ooreenkom met sy Hebreeuse naam Barnabas wat beteken: “seun van bemoediging/ vertroosting”.

View all posts in this series

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar