Skip to main content

1 Korintiërs 15-16 – Ons groot hoop: die opstanding met ’n onverganklike liggaam

Paulus wend hom nou tot ’n onderwerp wat hy self op die tafel sit en van kardinale belang vir die Korintiërs se geloof is – die opstanding van Christus.  Dit vorm die basis vir die geloof in hulle eie opstanding uit die dood en is dié ding wat hulle moet aanspoor om standvastig en onwankelbaar te wees, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat die hoop op die opstanding hulle oortuig dat hulle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie (vers 58).

Hy begin deur uit te brei op die kruis-evangelie van hoofstuk 2 en herinner hulle aan die die 4 hoofpilare van hulle geloof, dát Christus gesterf het, dát Hy begrawe is, dát Hy opgestaan, en dát Hy verskyn het aan die gelowiges.  Let op hoe die historiese feite (gesterf, begrawe, opgestaan, verskyn) met sy interpretasie daarvan (vir ons sonde, volgens die Skrifte) as lewensveranderende evangelie bevestig word.

Die verskeidenheid van die 6 verskynings wat Paulus beskrywe val ook op, aan enkelinge, kleiner groepe en groot groepe.  Let op ook op dat die twaalf (dissipels) onderskei word van die apostels, wat ’n groter groep was, waaronder Andronikus en Junia was (Rom 16).  Paulus sluit homself as ontydig geborene en geringste van die apostels in, weens sy vervolgingsgeskiedenis, hoewel hy trots is daarop dat hy harder as almal gewerk het, darem weens die genade van die Here.

Met hierdie opstandings-evangelie as vertrekpunt beweeg hy dan direk oor na die verwagting van die opstanding van die dooies waarsonder hulle geloof waardeloos en sonder inhoud en betekenis sou wees.  Hy stel dit daarom duidelik dat soos Christus opgewek is uit die dood, sal dié wat aan Hom behoort, by Christus se koms, lewend gemaak word en opstaan uit die dood.  Dit is die evangelie en dit is ons hoop!

As dit nie waar was nie, sou ook die werk van die evangelie-bedienaars tevergeefs wees, en sou ’n mens eerder kon eet en drink asof alles tot ’n einde sal kom (hy haal hierdie spreuk uit die werk van die Griekse digter Menander aan – 341-291 vC).

Oor die verwysing na die Korintiërs wat hulle vir die dooies laat doop het, is al baie gedink, maar daar is regtig nie goeie verklarings daarvoor nie.  Al wat ’n mens kan sê, is dat Paulus dié gebruik ook inspan om die onsinnigheid van ’n geloof uit te wys wat nie rekening hou met die opstanding uit die dood nie.

Daarna praat Paulus oor die opstandingsliggaam om alle onduidelikheid daaroor op te klaar.

Ons moet onthou dat die Grieke nie in die opstanding van die liggaam geglo het nie, selfs al het hulle die idee gekoester dat die siel van die mens onsterflik is en na die dood sou kon voortbestaan.  Daarom dat Paulus soveel klem lê op die voortbestaan van gelowiges in ’n liggaamlike staat, nie net ’n geestelike nie.

Let op hoe hy in vers 36-41 sy siening begrond deur 3 voorbeelde uit die natuur te gebruik, voordat hy in vers 42-43 sy gevolgtrekkings sal maak en in vers 44-49 verder daarop sal uitbrei.

Hy gebruik eerstens die voorbeeld van die saad wat in die grond val en sterf om in ’n ander gestalte, die koringplant, voort te leef (vers 36-38).  Daarmee wys hy die onderskeid tussen die verganklike en die onverganklike liggaam aan sowel as die wesenlike kontinuïteit al is dit in ’n ander gestalte (vers 42).

Tweedens skryf hy oor die verskil tussen die vleis van mense, diere, voëls en visse (vers 39).  Daarmee probeer hy die geringheid van die aardse liggaam teenoor die heerlikheid van die hemelse liggaam aandui sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees (vers 43a).

In die derde plek beskryf hy die verskil tussen dowwer en helderder hemelliggame soos die maan en sterre versus die son, en selfs sterre onderling (vers 40-41).  Daarmee probeer hy die swakker karakter van die aardse liggaam teenoor die krag van die hemelse liggaam uitdruk sowel as die herkenbaarheid van die onderskeie soorte wat ná die opstanding nog sodanig sal wees (vers 43b).

In sy uitbreiding in vers 44-49 kontrasteer hy die natuurlike karakter van ons liggame hier met die geestelike karakter van ons liggame na die opstanding.  Dit is soos die verskil tussen die eerste mens, Adam, en die laaste Adam, die lewendmakende Gees, die hemelse mens, di Christus.  Die een se liggaam is uit die aarde, en is stoflik; die tweede se liggaam is uit die hemel, en is hemels (In Romeine 5-6 sal hy weer terug kom op ’n vergelyking tussen Adam en Christus).

Die dooies sal dus as onverganklikes opgewek word, net soos dié wat dan nog lewe, in ’n oomblik ook met onverganklikheid beklee sal word.  Dan is dit die einde van die dood, en daarmee die einde van die sonde, want die oorwinning van God sal dan onverganklik wees.

Daarom kan ons saam met Paulus die Here altyd dank en standvastig en oorvloedig in die werk van die Here wees, omdat hierdie opstanding, hierdie onverganklikheid, ons hoop is.

Hoofstuk 16

Paulus sluit af met drie perikope:

  • Vers 1-4: ’n opdrag om die kollekte vir Jerusalem voor te berei deur op elke Sondag iets opsy te sit – ons gebruik van dankoffers opneem op Sondae by ons eredienste kom onder andere van dié verse vandaan; dit is ook die eerste geskrewe aanduiding van die byeenkoms van gelowiges op ’n Sondag en nie ’n sabbat nie.
  • Vers 5-12: ’n Kykie na sy reisplanne wat ’n besoek aan hulle in die winter insluit; hy vra hulle ook om hulle oor Timoteus te ontferm op pad terug na hom toe; hy vra ook dat hulle Apollos se afwesigheid sal verskoon – wonder of sy “beslis nie nou nie”-houding iets met die verdeeldheid in die gemeente te make gehad het?
  • Vers 13-24: laaste versoeke en persoonlike detail; let op hoe hy in vers 14 en 24 weereens oor die liefde praat, ’n boodskap waarmee hy die brief begin het, in hoofstuk 13 breedvoerig geskryf het en hulle hier weer aan herinner.

Môre begin ons met 2 Korintiërs – ek publiseer dus saam met hierdie bydrae ‘n Inleiding op 2 Korintiërs en die leesplan vir die volgende week.  Jy kan dit vandag lees of môre.  Lekker lees!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Korintiërs, liggaam, opstanding


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.