Filippense 4:2-23 – Om saam in die Here te wees, bid en leef

Paulus vervolg sy visie vir die gemeente deur hulle die wonder van saamwees, saamdink, saambid en saamleef te beskryf.  Dit is immer wat Jesus ook gedoen het.  Hy het nie ‘n boek geskryf en vir ons nagelaat nie.  Hy het ‘n gemeenskap gestig wat oor grense mense insluit wat anders is as ons.  Só herwin ons weer die bewussyn van eenheid wat God bedoel het vir die Paradys, en leef ons dit voor in hierdie wêreld, totdat almal dit weet.

Om eensgesind saam te dink in die Here

Onthou dat dit ’n gemeente is wat begin het met ’n baie diverse samestelling, onder andere ‘n ryk Grieks-Joodse vrou, Lidia, waarskynlik ’n arm slavin uit ’n ander nasie, sowel as ’n middelklas Romeinse tronkbewaarder (Hand 16).  Die potensiaal vir konflik vanuit hulle agtergronde – taal, klas, opvoeding, afkoms – was dus altyd daar.  Daarom moedig Paulus hulle aan om te fokus op eensgesindheid, spesifiek in die konflik wat daar tussen Euodia en Sintige bestaan het.  Beide was waarskynlik sterk vroue, met ’n passie vir die evangelie, en ’n roepingsbewustheid binne die gemeente.  Maar hulle sterk persoonlikhede, of die sterk bewussyn van hulle roeping, het hulle in konflik met mekaar gebring.  Paulus spreek hulle en die gemeente dus sterk aan om die eenheid wat God tussen hulle geskep het, te bewaar.   Interessant, die frase wat Paulus hier gebruik wat ons met “eensgesind te wees in die Here” vertaal, is to auto phronein en Kuriô – wat ook vertaal kan word “om saam te dink in die Here”.  Dit is presies wat ons vandag met die woord geloofsonderskeiding bedoel: om jou in te stel om saam te dink in die Here, om die Godsvrae te vra (Waarmee is God besig?  Waartoe roep God ons?), om gesprek te hê totdat daar ’n oortuiging opdaag wat harmonie en konsensus bring, iets waaraan die hele gemeenskap van gelowiges hulleself kan verbind.  En Paulus vra ook sy getroue medewerker, waarskynlik Timoteus, dat hy hierdie vroue daarin behulpsaam moet wees.  Dit beteken dat die twee sterk leiers nie aan hulle eie genade oorgelaat word nie, nie in ’n wen-verloor situasie ingedruk word nie, maar gehelp word om tot eensgesindheid in die Here en binne die gemeenskap van gelowiges te kan groei.

Om met vreugde en inskiklikheid te leef

Paulus skryf verder dat dit nie net eensgesindheid in die Here is wat kenmerkend van die gemeente (en sy leiers) moet wees nie, maar ook ’n vreugde in die Here, iets wat regdeur die brief beklemtoon word.  Hy gebruik die woord chairete (blydskap/vreugde) waarmee hy nie net die innerlike blydskap beskryf wat in God se teenwoordigheid hulle deel sal wees nie, maar ook die gesamentlike blydskap in die gemeenskap van gelowiges.  Let op dat hierdie blydskap verbind word aan ’n inskiklikheid (epieikes) teenoor alle mense.  Daarmee bedoel Paulus dat dit nie net die gemeenskap van gelowiges is wat ’n veilige, vriendelike, vreugdevolle plek moet wees nie, maar dat hierdie gesindheid ook die wyse waarop gelowiges met die publieke gemeenskap saamleef, moet stempel.  Die bereidheid om te skik, om te luister na rede, om bereid te wees om van ander te leer, of soos een kommentaar dit stel, om met: “sweet reasonableness” op te tree, moet die uitstaande kenmerk van die gemeente se interaksie met die wêreld wees.  En die primêre rede wat hierdie vreugde en inskiklikheid aanwakker, is dat die Here naby is – beide in terme van die wederkoms, die manier waarop ons dit normaalweg interpreteer, maar ook in terme van Sy teenwoordigheid in die hede.  Die gemeente kan dit dus waag om met vreugde te lewe, en inskiklik te wees teenoor alle mense, want die Here is nie ver van hulle af nie.  Dit beteken onder andere dat Hy die vermoë het om in te tree en op te tree in alle situasies binne en buite die gemeente.

Om die vrede van God in gebed te beleef

Met hierdie gedagtes oor God se nabyheid as begronding vir hulle vreugde en inskiklikheid, is dit geen wonder dat Paulus daarvandaan beweeg na die gemeente se behoeftes en besorgdhede nie.  Omdat God naby is, kan hulle oor alles en in alle omstandighede na Hom toe gaan in gebed.  Letterlik staan daar in vers 6: “maak in alles (alle situasies) julle versoeke (aitema) bekend aan God deur gebede (proseuche) en versoeke/petisies (deesis) met danksegging (eucharistie).”  Die verskillende woorde vir gebed in die vers moenie te veel onderskei word nie, omdat dit eintlik as sinonieme gelees kan word.  Die punt van die vers is eintlik net om duidelik te sê: angstigheid oor allerlei word deur voortdurende veelvuldige versoeke verlig!  Die aanmoediging tot gebed word opgevolg met een van die mees ongelooflike beloftes wat Paulus gee, letterlik vertaal: “gevolglik sal die vrede (eirene) van God, wat alle begrip/denke (nous) te bowe gaan, oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”.  Dit is die enigste plek in die NT waar só van “die vrede van God” gepraat word.  Paulus bedoel hier nie die vrede met God nie, maar die vrede van God, die vrede wat Hy self het, die vrede wat Hy self is, die vermoë wat Hy het om nie angstig te raak oor allerlei nie, maar in beheer en veral getrou aan Homself te bly.  Dít is wat die harte en gedagtes van die gemeente sal bewaar.  En dié vrede gaan alle denke te bowe – dit bedoel letterlik dat dit iets is wat beter is as die beste beplanning!  Ons gedagtes en emosies is soos ‘n oorlogsterrein wat God sal beskerm teen angstigheid en chaos.

Om waarderend en positief te leef

Paulus vervolg met die tipe gedrag wat by dié tipe gebed pas, ’n waarderende positiewe gerigte lewe. Hy moedig die gemeente aan om hulle gedagtes (beplanning) te rig op alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees.  En let op dat hy weereens homself as voorbeeld van só ’n lewe gee, en die belofte van God se vrede herhaal.

God se krag bepaal ons lewe, nie gebrek of oorvloed nie

’n Mens sien weereens die paradigma van Fil 2:6-11 in hierdie gedeelte aan die werk, hierdie keer toegepas op Paulus se ervaring van sy praktiese lewensomstandighede.  Die patroon van selfontlediging en verheerliking is nie net te siene in Christus se lewe en bediening nie (2:6-11), nie net sigbaar in Paulus se eie lewe en bediening nie (3:3-14), maar ook in Paulus se lewensomstandighede (4:10-14).  Hy weet wat gebrek, armoede en honger is, en hy weet wat is oorvloed en om genoeg te hê om te eet.  En in albei tipe lewensomstandighede het hy geleer om deur te kom, homself te behelp, omdat hy geleer het dat hy tot alles in staat is deur Christus se krag wat in hom werk (onthou Fil 3:10!).  Die woord wat hy hiervoor in vers 11 gebruik – behelp (autarkes)  – kan ook met selfgenoegsaam vertaal word, dws om vergenoegd of tevrede te wees en steeds met ’n oop hand te lewe.  Eksterne omstandighede – of dit nou gebrek of oorvloed tot gevolg gehad het – het nie Paulus se manier van lewe bepaal nie, selfs nie sy tevredenheid daarmee al dan nie.  God se krag het dit bepaal.  Daarom was hy werklik in staat tot alles. In 2 Korintiërs 9:8 het Paulus hieroor só geskryf: “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg (autarkeia) kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.

Materiële ondersteuning ontsluit God se oorvloedige voorsiening

Paulus se blydskap (in die Here) oor hulle materiële ondersteuning lê op verskillende vlakke.  In die eerste plek het hulle hulp sy omstandighede verlig.  Tronke was gewoonlik haglike plekke: vuil, donker, en koud of warm na gelang van die weersomstandighede.  Gevangenes  is aan mekaar in groepe vasgeketting. Hulle moes hulle eie kos en klere voorsien (bv deur families). Dat Timoteus, as reisgenoot, en Epafroditos, met hulp van die gemeente, dus vir Paulus bystaan, was ’n groot hulp (Fil 2:19-30). Maar, in die tweede plek, het hulle hulp die band tussen hom en die gemeente verstewig (4:10-16).  Hulle was immers van die begin af by die ondersteuning van sy bediening betrokke (onder andere in Tessalonika), wat van die intieme band tussen hulle getuig het.  In die derde plek het hulle hulp aan hom hulle eie toewyding aan die Here verstewig (vers 17-18).  Paulus noem hulle bydrae ’n liturgiese offer aan God met ’n lieflike geur, wat vir Hom aanneemlik en welgevallig is, waarmee hy sy gedagtes in Romeine 12:1-2 verder uitbrei.  Dit is nie net gelowiges se persoonlike lewens wat ’n offer is aan God nie (Rom 12); dit is ook die gemeente se korporatiewe bediening wat ’n offer is aan God (Fil 4).  Dit is waarom Paulus sê dat die offer hulle ryker maak in terme van die vrug wat hulle oplewer in die bediening.  Dit getuig van ’n al hoe groter wordende geestelike onderskeiding (aan my dink – phronein) en volwassenheid. In die vierde plek bring hierdie offer nie net lof aan God nie, maar ontsluit dit ook Sy oorvloedige voorsiening vir elke behoefte (chreia) wat hulle het (vers 19-20), dit waarvoor Paulus in die vorige perikoop gesê het hulle voortdurend moet bid.


Môre lees ons Filemon

Filippense


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

  • By die lees van die gedeelte het ‘n mens die Heilige Gees so nodig om jou hart en verstand daarmee te programmeer sodat jy elke oomblik daaruit kan leef as die grondtoon, die basis en die fokus van jou lewe. Dankie.

  • Baie dankie vir wonderlike insig:
    1.dat ons moet groei in die volle kennis van God.
    2. Christus is in ons besig om God se werk te voltooi.
    3. dat God se gehiemenis is Christus vir my geopenbaar word.

    • This Bible School focuses on reading the Bible together in a discerning manner, with some comments that I make on the daily readings. It is in Afrikaans. We have done about 23 of the books in the Bible, and will focus on Ecclesiastes and Song of Songs from the middle of April.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: