1 Korintiërs 8 – Jou vryheid mag nie ander laat sondig nie

Paulus skuif aan na die vraag oor vleis wat aan ’n afgod geoffer is, waarmee hy waarskynlik terugverwys na die spreekwoord wat hy aangehaal het in 6:13: “Die maag is vir kos, en kos vir die maag.”  Wat ’n mens ook in gedagte moet hou, is dat die situasie in Korinte so was, dat sommige van dié (sterk) gelowiges ook in die afgodstempels gaan vleis eet het (die restaurante van daardie tyd!), omdat die tempels baie keer ook die enigste plek was vanwaar jy vleis kon bekom.  Die oorskot van die tempel offervleis is selfs op die markpleine verkoop.  Maar, omdat jy van buite af kon insien by die tempels, het ander (swak) gelowiges aanstoot daaraan geneem (vers 10).

Let op hoe hy eers die beginsel van die liefde neerlê en verduidelik voordat hy sy antwoord op hulle vraag gee.  Basies sê hy, dat kennis goed is, maar nie genoeg nie.  Die liefde is belangriker (vgl. 13:2: “en besit ek al die kennis … maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.”), ook in ons verhouding met God.  Om die waarheid te sê, dit is wanneer ons God liefhet, dat ons in ’n verhouding kom met Hom waar Hy vir ons ken – iets wat baie belangriker is as wat ons weet (of dat ons Hom ken).

Hy sal nog meer uitbrei op hierdie idee later in sy brief aan die Galasiërs (in 4:8: “noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken”).  Vergelyk dit ook met die gelykenis van die tien meisies in Matteus (in 25:12 waar die bruidegom vir die 5 onverstandiges sê: “Ek ken julle nie”!”)

In sy antwoord sluit hy dan by hulle kennis aan, en erken dat daar eintlik niks aan die vleis verander as dit aan ’n afgod geoffer is nie.  Om die waarheid te sê, daar is eintlik geen ander God, behalwe Een nie.  En al sou mense dink daar is sogenaamde gode (let op sy woorde!) bestaan hulle nie vir ons nie, want ons het net een God, die Vader en Sy Seun deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe.

Maar nou is dit so dat nie almal dié kennis het nie, en uit liefde vir hulle, moet ’n mens hulle onkunde in ag neem, en nie iets doen waardeur hulle gewete, wat alreeds swak is, nog verder verswak sal word nie.  Ons vryheid (let weer op hoe hy daarmee terugverwys na hfst. 6:12-13) mag nooit ’n aanleiding vir ander word om te sondig nie (vgl. Jesus ook hieroor in Matt 18:6: “Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.”).

Om die waarheid te sê, jy sondig eintlik teen die onkundiges, as jou vryheid hulle laat sondig.  Daarom sal Paulus nie sulke vleis eet nie (gelukkig nie alle vleis nie!) want hy wil nie sy medegelowiges se val veroorsaak nie.  Hy reël darem ook later dat ’n mens nou nie hoef navraag te doen oor vleis wat jy in ’n slaghuis koop, of dit nou aan ’n afgod geoffer is of nie, en jy dit dan maar mag eet (10:23-33).  Maar die gewete van die swakkeres bly ook daar ’n bepalende faktor.

Let ook op dat hierdie beginsel van die liefde na ander sake deurgetrek kan word – jou medegelowige se standvastigheid in die geloof is belangriker as jou eie kennis en vryheid in die geloof.  En lees gerus in Romeine 14:19 en 15:2 Paulus se verdere gedagtes hieroor.

’n Mens moet onthou dat Paulus hier natuurlik skryf oor mense wat pas uit die heidendom na Christus oorgekom het en nog die impak van die heidense gebruike sou ervaar.  Hy praat nie oor mense wat eintlik net hulle eie bekrompe idees op ander van toepassing wil maak nie en van beter behoort te weet nie.

Dit help my nogal om só daaroor te dink, want dit is eintlik vir my swaar woorde dié van Paulus: en ek sou ook saam met sommige gelowiges wou uitskreeu, soos Paulus hulle aanhaal in 10:29-30: “Waarom moet my vryheid beperk word deur ’n ander se gewete?”  Maar die punt is dat ons nie ons eie belang kan soek nie, want dit is die beginsel van die liefde, en die weg van die kruis (2:2).

En dit is soos Forrest Gump sê: “That’s all I have to say, about that.”

View all posts in this series

gewete, Korintiërs, liefde, vleis


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Ek dink daar is n baie fyn lyn tussen geregtige onderhoud en geld maak uit die Evangelie, wat ook interesant is vir my is dat Paulus (soos Jesus) bereid was om sy regte op te gee sodat hy die evangelie kon versprei – so anders as wat ons vandag ervaar deur die stakings waar massas juis hulle sg regte op eis ten koste van ander.

    Dankie Chris dat jy al hierdie werk gratis aan bied, jy doen n ongelooflike werk

  • Dankie – maar ek doen die werk darem primêr vir my gemeente, en ek word deur hulle onderhou. Dit is dus eintlik die gemeente wat hulle bronne deel met die res van die Christelike gemeenskap. Anders sou ek dié goed op my eie tyd moes doen.

    Oor die stakers – jy is natuurlik reg dat hulle ten koste van ander optree, veral waar lewensverlies en eiendomsbeskadiging ter sprake is as gevolg van stakers se optrede.
    Maar, dit is ‘n komplekse saak, die werkgewers, die staat in hierdie geval, het die hef in die hand as dit by onderhandelinge kom. ‘n Mens sou met reg kon vra of hulle billik is in hulle aanbod, sowel as in die wyse waarop hulle die onderskeie vergoedingskale van bestuurders relatief tot werkers hanteer. Ek het nie genoeg inligting om my daaroor uit te spreek nie.
    En dieselfde geld die vakbondleiers – tot wie se voordeel dryf hulle die stakings op die spits?
    Plaas die hele situasie binne die groter konteks van Afrika, en jy kan met reg vra: maak die leiers die regte keuses – as jy kyk na groeiende armoede, blyk die antwoord nee te wees, soos Greg Mills in sy nuwe boek Why Africa is Poor beweer: Swak keuses bring armoede in vanoggend se Die Burger in die Oos-Kaap. Kry egter nie die artikel op die Internet by hulle webblad nie.
    Dit lyk vir my al te veel na ‘n stryd tussen leiers van die regering en Cosato onderskeidelik met die werkers/stakers as hulle manskappe … of wat praat ek alles?

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: