Skip to main content

Die brief van 2 Korintiërs

Hierdie brief is moontlik die samevoeging van ‘n 4de (2 Kor 1-9) en 5de brief (2 Kor 10-13) van Paulus aan die Korintiërs.  Die eerste Korintiërbrief was eintlik sy tweede (1 Kor 5:9), en uit 2 Korintiërs kom ‘n mens agter daar was ook ‘n derde brief (2 Kor 2:4).  Onthou hulle het ook briewe aan hom geskrywe (1 Kor 7:1).

Daar is twee redes waarom geleerdes twee briewe onderskei: 1) die situasie van hoofstuk 1-9 blyk ‘n meer stabiele een te wees, vandaar Paulus se blydskap dat dit beter gaan in die gemeente; die situasie in hoofstuk 10-13 blyk heel anders te wees soos die geagiteerde trant van sy aanval op die valse apostels duidelik wys; 2) in 12:18 verwys Paulus moontlik na die kollekte as iets wat al gebeur het, terwyl dit in hoofstuk 8-9 nog in die toekoms is; 12:18 sou egter ook kon verwys na hulle ondersteuning van Titus.

Gordon Fee (2002: How to Read the Bible Book by Book) vergelyk 2 Korintiërs met ‘n baie gekompliseerde televisie dramareeks wat jy in die middel daarvan aanskakel. Mense praat en dinge gebeur, maar jy is nie altyd seker wie al die karakters is nie, en wat aan die gang is nie!  2 Korintiërs is soos ‘n nuwe wêreld wat jy betree na jy 1 Korintiërs gelees het. In ‘n sekere sin is die enigste raakpunte tussen die twee briewe die kollekte vir die gemeente in Jerusalem (hfst 8-9) en moontlik ‘n voorsetting van die gesprek oor afgode en vleis van afgodstempels in 6:14-7:1.

Tog, is daar ‘n dieper verband: die gespanne verhouding wat daar tussen die apostel en die gemeente is oor 1) sy beplande/uitgestelde besoeke (1:12-2:13; vgl ook 7:5-16), 2) die kollekte (hfst 8-9), 3) sy apostelskap (2:14-7:4 – die hoogtepunt van die brief om sy “skat-in-kleipotte”-apostelskap te verduidelik) en 4) die vals apostels (hfst 10-13;  vgl ook 2:14-4:6).

Vandaar die intens persoonlike trant van die brief, wat sy verontwaardiging (2:17; 3:1; 6:14-16 – “Hoe kan daar …?”) en die bytende sarkasme (10:1 “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is”) afgewissel met die sagte appèl (6:1,11; 7:2 – “Maak vir ons plek in julle harte”) aan die gelowiges in Korinte om tot hulle sinne te kom, verklaar.  Dit laat ‘n mens ook begryp waarom sommige gedeeltes soms so moeilik is om te volg, bv. die vloei van gedagtes in hoofstuk 2 tot 7.

Hoe dit ook al sy, let op dat die brief deur Paulus en Timoteus geskrywe word, terwyl Sostenes saam met Paulus by 1 Korintiërs betrokke was.  Paulus was in dié tyd in Masedonië (2:13; 7:5), moontlik in Filippi, en het daar van Titus terugvoer gekry oor hoe dit in die gemeente van Korinte gaan (7:5-7).

Hy skryf aan die een kant omdat hy bly is dat dit beter gaan in die gemeente (7:2-16), maar ook omdat hy ‘n derde keer (12:14; 13:1) by hulle besoek sou aflê om onder andere die kollekte vir die gemeente in Jerusalem te ontvang (8:4,19; 9:1-5) op sy pad daarheen, asook om hulle te waarsku oor die vals apostels (11:13).

In die proses gee hy ‘n diepsinnige teologiese besinning oor God en die bediening van die versoening, met hoofstukke 2:12-6:10 van die beste prentjies in die Nuwe Testament van die werk van die Gees in ons om God se heerlikheid te weerspieël, wat van ons nuwe skeppings van God maak (5:17), sodat ons in die triomftog van die evangelie deur die wêreld hierdie versoening van God met alle mense kan deel.  En dit alles gebeur steeds as ‘n kruis-evangelie, deur die bedienaars van die evangelie, die kleipotte wat maklik breek, maar die skat van God aan die wêreld bring.

View all posts in this series

Korintiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar