2 Korintiërs 2:12-3:18 – Ons raak God se woorde aan die wêreld

Dit is waarskynlik dat hierdie reis na Masedonië (2:12-13) dieselfde een is waarvan Lukas ons vertel in Handelinge 20, hoewel Lukas daar niks van Paulus se wroeginge rondom Titus vertel nie.  Die min detail is waarskynlik te wyte daaraan dat Lukas in Filippi agtergebly het (Hand 16) met Paulus se tweede sendingreis en eers weer ‘n paar jaar later in Troas by hulle aangesluit het tydens Paulus se derde sendingreis op die finale tog na Jerusalem.

Paulus gee ons hier dus meer inligting en wei uit oor Titus se sending na Korinte om nuus van die gemeente te bekom.  Toe dít nie gou genoeg kom nie, het Paulus hom gaan soek.  In 2 Kor 7:5-7 gee Paulus ‘n nog meer persoonlike perspektief daarop deur uit te brei oor hulle eie ervaringe in dié tyd – dat hulle geen rus of duurte gehad het nie, dat daar van alle kante druk was op hulle, van buite onenigheid en van binne sorge, kortom dat hulleself bemoediging nodig gehad het (vgl ook 1:8-9).

Dit tref my hoe dit presies in sulke omstandighede is wat hulle die ervaring van God se sorg ondervind: “Maar God wat die neerslagtiges opbeur” het “ons ook opgebeur deur die koms van Titus” (2 Kor 7:6).  God werk dus deur die gemeenskap van gelowiges, wat vir ‘n mens verklaar hoekom Paulus nie gemoedsrus kon kry in Troas nie, selfs al was daar ‘n oop deur vir die evangelie, en deurgedruk het na Masedonië, en eers tot rus gekom het toe hulle met Titus verenig is.

Hierdie intens persoonlike ervaringe van Paulus laat my die loflied wat hy in vers 14 aanhef oor die triomftog van die evangelie anders lees.  God soek nie in die eerste plek “lone rangers” wat lyk asof geen ontbering hulle van stryk bring nie.  Nee, hy soek mense wat, in afhanklikheid van Hom, bewus van hulle broosheid, in noue gemeenskap met mekaar die geur van Christus versprei in die wêreld.

Die vier beginsels wat Paulus dus vir sukses in die verkondiging van die evangelie aanstip in vers 17: 1) in opregtheid, 2) verbonde aan Christus, met 3) ‘n duidelike opdrag van God en 4) in finale verantwoordelikheid aan God, moet dus aangevul word met hierdie klem op die uitvoering van jou roeping in die gemeenskap met en ondersteuning van ander gelowiges.

Let op hoe al die metafore vir ons rol as Christene – wierook, briewe, spieëls –  in hoofstuk 2 en 3 met ‘n publieke sigbaarheid van die evangelie te make het.

  • Ons is soos wierook[1] wat ‘n geur versprei aan die hele wêreld.
  • Ons is ook soos ‘n oop brief wat deur die wêreld gelees kan word.
  • Ons weerspieël die heerlikheid van die Here aan die wêreld.
  • En telkens gaan dit oor die boodskap van Christus wat deur ons versprei word.

Interessant genoeg word die effek van hierdie boodskap op drie verskillende maniere uitgespel.

  • Die beeld van die wierook word gebruik om om die verkiesing van God te illustreer: dit bring ‘n lewensgeur vir dié wat gered word, en ‘n doodsreuk vir dié wat verlore gaan.
  • Die beeld van die briewe word gebruik om aan die een kant die apostels se werk aan te beveel, maar ook die nuwe verbond (kontrak) te illustreer wat God tot stand gebring het met mense.
  • En die beeld van Christene as spieëls van God se heerlikheid het die ongelooflike betekenis dat die spieëls SELF verander word om soos Christus te word.  Die spieëls reflekteer dus nie net die heerlikheid van God nie, hulle word letterlik verander om soos Christus te begin lyk.

In die proses kontrasteer Paulus die ou verbond met sy basis in die wet, met die nuwe verbond met sy basis in die Gees.  Ons het nie net God se woorde in ons hande nie, ons het dit in ons harte, meer nog:

Ons raak letterlik God se woorde!  Dit is revolusionêr!

Wat my dus bybly van dié gedeelte is die vier beginsels waaraan ek my eie bediening ook moet meet – opregtheid, verbondenheid aan Christus, besig met my opdrag en verantwoordelik aan God.  En ek hoef dit nie alleen te doen nie, gelukkig nie!

Maar die belangrikste is: dat mense God letterlik deur my lewe hoor – my kinders lees my, my vrou lees my, my kollegas lees my, my naaste voor my deur lees my.  Dit is ‘n ongelooflike voorreg … en ‘n ontsaglike verantwoordelikheid.  En as daar darem nie regdeur woorde gestaan het nie soos: “aan God die dank! Hy voer ons altyd saam …” (2:14), “geskrywe … met die Gees van die lewende God” (3:3) en “Dit doen die Here wat die Gees is” (3:18), sou dit net ‘n onhaalbare droom gewees het.


[1] Paulus werk hier eerder met ’n beeld van die wierook wat in die tempel gebrand word en soos die geur van die tempel af versprei, het dit ’n effek op die mense wat dit ruik.  Baie verklaarders dink aan die wierook wat soms by die terugkoms van die oorwinnaars op die slagveld gebrand is en vir die oorwinnaars ’n lewensgeur was en vir die verloorders ’n doodsgeur was.  Dit was egter nie ’n gereelde gebruik nie, wat eersgenoemde interpretasie moontlik meer waarskynlik maak.

View all posts in this series

Korintiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Ds. Dankie u breek die woord so oop vir my dat ek verstaan wat die bedoeling is. As u studie materiaal oor die wierrook ark het en wil deel sal ek dankbaar wees. Vrede vi u.
    Adri Arnoo.

    • Hi Adri, jy kan meer lees by my bydrae oor Eksodus 30. Hier is ‘n kort aanhaling daaruit: “Die salfolie was ‘n besondere geurige parfuum wat van spesiale speserye: mirre (aromatiese hars), kaneel, kalmoes (geurige moerasplant van die Acoraceae familie), kassia (Chinese kaneel) en olyfolie gemaak is. Dit was net vir spesifieke godsdienstige gebruik deur gemagtigde persone. Die wierook is gemaak van hars (harpuis), naeltjies (dit kan ook die skulp van ‘n seedier wees), galbanum (die gom van ‘n plant van die Ferula familie) en suiwer wierook. Dit moes ook net vir die gebruik in die Heilige deel van die Tabernakel gebruik word. Die uitvoering hiervan word in Numeri 4:15-20 beskrywe.”

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: