Skip to main content

Handelinge 27:1-28:31 – Paulus verkondig die evangelie in Rome

Die verhaal wys hoe God se wil ontvou beide in

  • die normale verloop van omstandighede (skeepsroetes, reisskedules op grond van weertoestande, die stormwind Eurakilon) en die keuses van leiers (die keuses van die Julius en die kaptein  en eienaar van die skip)
  • asook in die insette van God self (engel).

Die impak van verkeerde keuses word deur God ingespan en oorkom om sy wil te laat geskied.  Dit is ook opmerklik dat Paulus tree-vir-tree deur God gelei word,

  • aanvanklik met sy eie insig dat daar lewensverlies kan wees (ek sien) wat doodgewone “common sense” is,
  • en later met God se insig, dat daar geen lewensverlies sal wees nie, aan die hand van die gesig wat hy van die engel kry.

God gebruik beide normale maniere as abnormale maniere om sy wil ten uitvoer te bring.

Dit tref my dat Paulus leiding neem deur die amper 300 mense op die skip in te trek in sy verhouding met God, deur brood te breek, God te dank, en Sy wil te verkondig, wanneer hulle in gevaar is.  Dit moes ’n kragtige getuienis gewees het wat groot impak op hulle gehad het, natuurlik ook op Lukas en Aristargos (van Tessalonika) wat saam met hom reis na Rome.

Hy maak dit duidelik dat God hulle beskerm (uit sy goedheid), en God self maak dit duidelik dat Hy Paulus beskerm (die slanggif het geen effek op hom nie), sodat Paulus in Rome vir Hom kan getuig.

Amper terloops kom die redding van die evangelie ook vir Malta, weereens begelei met die wonders van God se genesende aanraking, soos dit soveel male in Handelinge gebeur he.

Tog beteken dit nie dat Paulus nie ook die normale gemeenskap van gelowiges nodig het nie.  Let op hoe God in al hierdie wonderlike gebeure steeds sorg dat daar ook gewone gemeenskap van gelowiges is, in die dorpie Puteoli, waardeur Paulus versterk word deur ’n klompie gewone gelowiges en waardeur hy weer moed skep vir die laaste been van die reis(28:25).

So gebeur dit dan dat die Jode (en ander) in die Romeinse hoofstad ook die evangelie hoor, hoewel met wisselende resultate, soos ‘n mens nou al aan gewoond geraak het. Weereens word die skuif van die verkondiging van die evangelie weg van die Jode af na die heidene vertel en gewyt aan die hardheid van hart van die Jode, soos Jesaja dit al ervaar en voorspel het.

Ons word nie vertel of Paulus uiteindelik wel die keiser gesien het nie, hoewel dit ’n sterk moontlikheid is.  Sommige tradisies vertel dat keiser Nero Paulus om die lewe gebring het, terwyl ander weer vertel dat hy sy reis na Spanje voortgesit het.  Dit is moeilik om te weet presies wat gebeur het.

Lukas sluit sy verhaal af met die mededeling dat Paulus in elk geval sy doel bereik het. Hy kon 2 jaar lank die koninkryk verkondig sonder enige verhindering in Rome, en die gemeente wat hier tot stand gekom het, sou die toets van die tyd deurstaan het, in die vorm van die Katolieke kerk wat mettertyd hieruit gegroei het, die oorsprong van al die groot denominasies deur die wêreld, en die evangelie so versprei het regdeur die wêreld.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar