Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word

Na Paulus met soveel oorgawe oor die verlossing geskryf het wat vir alle mense geld, is dit heel natuurlik om te wonder oor die toekoms van die Jode.  Immers, as dit so is:

1.      dat die besit en kennis van die wet die Jode nie kan red nie, ten spyte van die groot voorreg daarvan, en die besnydenis beperkte waarde het, omdat dit gaan oor die innerlike gesindheid van die mens (hfst. 2), maar

2.      terselfdertyd dit so is dat God Hom onlosmaaklik verbind het aan Israel om aan hulle genade te bewys, al sou sommige van hulle aan Hom ontrou wees (hfst. 3),

wat is dan die toekoms van Israel?

Paulus wy in 3 hoofstukke uitvoerig hieroor uit.  En dit help ons om eers oorhoofs te kyk na die antwoord wat Paulus hier gee.  Let veral op hoe 1) ’n reeks vrae sy antwoord aan die orde stel, en 2) hoe die einde van hoofstuk 11 nie net die hoogtepunt van sy antwoord is nie, maar ook eintlik die beginsel is wat die hele antwoord dra:

  • 9:1-14 – Paulus is hartseer oor baie van sy volksgenote wat – ten spyte van hulle afstamming van Israel – tog nie werklik Israel is nie.  Die rede?  God ontferm Hom oor wie Hy wil.
  • 9:15-18 – Is God dan nie onregverdig nie? Beslis nie!  Hy toon sy krag daardeur.
  • 9:19-29 – Wie kan dan met God verskil? Niemand nie.  God roep uit die Joodse volk sowel as uit ander nasies mense om sy kinders te wees.
  • 9:30-10:21 – Wat is ons gevolgtrekking? Die vryspraak is vir elkeen wat glo, vir die heidene sowel as vir Israel.  Dié boodskap het regoor die wêreld uitgekring, onder andere om Israel jaloers te maak.
  • 11:1-10 – Het God dan sy volk verstoot? Beslis nie!  Paulus is immers ’n Jood en glo.  Daar is vandag nog ’n oorblyfsel van die Joodse volk wat uit genade uitverkies is.
  • 11:11-24 – Het Israel se struikeling hulle finale val beteken? Beslis nie!  Die Jode se volle getal sal gelowig word.
  • 11:25-32 – Daar is ’n verharding oor ’n deel van Israel totdat die volle getal van die heidense nasies in die koninkryk ingegaan het, maar die “hele Israel” sal gered word.
  • 11:33-36 – Uit God en deur God en tot God is alle dinge.

Ek gaan hieronder ’n paar eksegetiese opmerkings maak vir verdere nadenke, maar hier eers net uitbrei op die toekoms van Israel, of soos Paulus dit in 11:26 sê: “op hierdie manier sal die hele Israel gered word.”

Wat Paulus hier bedoel, as ’n mens vers 25 ook ingedagte hou, is: dat wanneer die volle getal uit die heidene in die koninkryk ingegaan het, sal ook die hele Israel gered wees (Jonker), dws die volle getal van die Jode wat deur God uitverkies is om gelowig te word (Dunn).

Sommige het dit wel as 3 tydperke verstaan: 1) Verharding van ’n deel van die Jode, 2) Redding van ’n deel van die heidennasies, 3) Redding van die hele Israel.  Maar dit wil eerder voorkom asof dit hier oor die wyse (“op hierdie manier”) waarop redding plaasvind gaan, eerder as die tydperke waarbinne dit gebeur.  Dit is ook duidelik dat die “hele Israel” nie elke enkele Jood kan beteken nie, omdat dit juis die punt van Paulus se betoog is, dat net ’n deel van Israel geloof as God se vryspraak aangegryp het, ’n oorblyfsel (vgl bv. 11:5, 7-10, 12).

Ander het die “hele Israel” as ’n geestelike entiteit, saamgestel uit Jode en heidene, verstaan, soms gekoppel aan bogenoemde tydperk-interpretasie.  Israel word egter konsekwent in hierdie 3 hoofstukke in die historiese betekenis van die Joodse volk gebruik, wat so ’n betekenis onwaarskynlik maak.

Die toekoms van die Jode is dus aan die een kant dieselfde as die toekoms van die heidene: die vryspraak deur die geloof maak hulle kinders van God.  Aan die ander kant is dit ook verskillend, want die heidene word deur geloof ingeënt op die Joodse olyfboom (11:17-24), wat beteken dat God nie sy volk in sy geheel verwerp nie, maar net dié wat nie in Hom glo nie.

Enkele eksegetiese opmerkings:

  • 9:1 – Let op dat ’n mens se gewete iets apart van die Heilige Gees is, en deur Hom gelei moet word.  Jou gewete word immers ook deur die gemeenskap waarbinne jy grootword gevorm, ten goede en ten slegte.
  • 9:3 – Paulus praat dieselfde taal as Moses dat hy graag in die plek van die volk van Christus afgesny wou wees, maar weet dat dit nie vir God aanvaarbaar wou wees nie (Eks 32:32).
  • 9:6-9 – Paulus herhaal die gedagte dat gelowiges soos die kinders van die belofte is en nie soos kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is nie, waaroor hy al in sy brief aan die Galasiërs 4 geskryf het met Sara en Hagar as sy metafore.
  • 9:10-18 – Die voorbeelde van Jakob en Esau, Moses en farao illustreer die OT teologie dat God vir alles verantwoordelik is.  Maar, dit moet saam met 9:30 vv se gevolgtrekking gelees word, dat God se vryspraak is vir elkeen wat glo.  God se uitverkiesing word dus sigbaar in geloof, by Jode sowel as heidene.
  • 9:19-29 – Paulus haal hier voorbeelde en profesieë uit Jeremia (pottebakker – Jer 18), Hosea (2:22; 1:10) en Jesaja (10:22-23; 1:9) aan om God se vrymagtige oordeel EN genade onomwonde te stel.  Hieruit is die dubbele uitverkiesingsleer geformuleer deur Augustinus, soos nagevolg deur Calvyn, wat in die Gereformeerde wêreld in die Dordtse Leerreëls ’n neerslag gevind het:

o   By die sinode van Dordt (Die dorpie Dordrecht in Nederland) in 1618-19 is die stryd tussen die Remonstrante (wat saam met die Arminiane op die vryheid van die wil van die mens gewys het) en die Kontra-Remonstrante (wat die ortodokse Calvinistiese leer van die onvoorwaardelike uitverkiesing gehandhaaf het) op die spits gedryf. Die sinode het midde-in ‘n bitter teologiese en politiese stryd (tussen die Remonstrant-ondersteuner Jan van Oldenbarneveldt – ‘n staatsman wat vrede en verdraagsaamheid gesoek het – en die Kontra-Remonstrante ondersteuner Maurice – die militêre leier teen die Spanjaarde wat ook in die kerk steun vir sy voortgaande oorlog teen Spanje gesoek het) plaasgevind. Die sinode het (na dit gelaai is deur die “regte” Kontra-Remonstrante ondersteuners!) die ortodokse posisie gehandhaaf, naamlik 1) die totale verdorwenheid van die mens 2) die onvoorwaardelike uitverkiesing van God (God kies mense nie uit vanweë enige aksie van hulle kant af nie), 3) die beperkte versoening (Jesus het net gesterwe vir die uitverkorenes), 4) die onweerstaanbaarheid van die genade (die uitverkorenes kan God se uitverkiesing nie weerstaan nie) en 5) die volharding van die uitverkorenes (eenmaal uitverkore, altyd uitverkore). [In Engels word dit meermale weergegee met die akroniem TULIP (T – Total inability, U – Unconditional election, L – Limited atonement, I – Irresistible Grace, P – Perseverance of the Saints).]

o   Wat my baie help om hiervan sin te maak, is om te onthou dat Dordt vir ’n uitverkiesing in Christus en in die geskiedenis gekies het (Infralapsarisme) en nie vir ’n uitverkiesing voor die sondeval (Supralapsarisme) nie.  Die uitverkiesing vind plaas in die geloofskeuse wat mense vir Christus maak, waarin God se roeping die oortuigingskrag is (9:24; 10:8,11-21), en geloof en belydenis die manier is waarop ons dit ontvang (10:9-10).  Dit is in die ongehoorsaamheid en weerspannigheid van die volk wat hulle verwerping sigbaar word (9:32; 10:3, 16-21; 11:7-10).

  • 10:9-10 – Let op hoe belydenis en geloof as twee kante van dieselfde munt geskets word.  Dit is baie keer eers wanneer jy bely dat jou geloof tot sy reg kom, of van die ander kant af gestel, dit is eers wanneer jy glo, dat jy die Here Jesus kan bely.
  • 10:14-15 – Dié gedeelte is ’n duidelike aansporing aan elkeen wat in Jesus glo om die goeie boodskap van vryspraak deur geloof aan alle mense op die aarde te bring.

Wat my uit al die wonderlike tekste uit dié 3 hoofstukke tref, is 10:11: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.”  Dit is die evangelie; dit is wat my sekerheid gee.  Om dan te hoor dat God “almal wat Hom aanroep” seën (10:12) laat my baie spesiaal voel – uitverkies!

Romeine


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Chris

    Ek weet nie of jy my sal onthou nie. Ek is Nico (Annalina) van Stellenbosch se vrou. Ek wil net vir jou dankie sê vir jou insig en lering. Ek het ‘n Bybelstudiegroep by die ouetehuis en vind geweldig baat by die lesings oor Romeine.

    Mag die Here jou ryklik seën

    Babelie

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Numeri 36Ja, alles het eintlik met alles te make in die Skrif. Dit onderstreep die waarde van elke enkele deel daarvan vir alle tye.
  • Chris van Wyk on Numeri 36My voorreg!
  • Ansie Lessing on Numeri 36Dankie. Ek mis die stukkies vir niks nie. Groete, Ansie
  • Chris van Zyl on Numeri 36Baie dankie vir jou bydraes, Chris, en betekenisse wat vir my soveel beter insig verskaf het. Die kruisverwysings tussen OT en NT het my laat besef dat die OT se verhale konteks verskaf vir die Jesus se oorwinning in die NT. Baie dankie, ek sien uit na Deut.
  • Chris van Wyk on JeremiaHi Petro, my bydraes oor Jeremia is net op die Internet by hierdie skakel beskikbaar.
  • Petro on JeremiaMiddag Waar kan ek net die boek Jeremia aflaai Dankie
  • Chris van Wyk on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesDie boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarh…
  • Marizanne Louw on Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasiesHi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??
  • Chris van Wyk on LukasHi Susanna, Lukas skryf daarvan in Lukas 24:50-53 JESUS SE HEMELVAART (Mark 16:15,19; Hand 1:4-11) 50Daarna het Jesus hulle uit die stad gelei, tot by Betanië. Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. 51Terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan, en is in die hemel opgeneem. 52Hulle het Hom…
  • Susanna Ellis on LukasWaar in Lukas en in Markus verskyn die woord Hemelvaart in die verse.
  • Chris van Wyk on Numeri 13Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse - soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroo…
  • Jerimy on Numeri 13Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?
  • Chris van Wyk on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapHi Rudi, ja, jy is reg, maar Dan word daar net genoem as "seun" van Jakob, maar anders as met die ander stamme, word die geslagsregister van Dan nie in die res van 1 Kronieke 1-9 gegee nie. Ek het dit nou helderder gestel: "Dit korreleer onder andere met die Kronis wat die stam van Dan ook in die ge…
  • Rudi van Tonder on Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskapDan is in 1 Kronieke 2 vers 1?
  • Chris van Wyk on Levitikus 27Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië…
%d bloggers like this: