Handelinge 17:16-34 – Paulus tree ook in die publieke sfeer op met die evangelie
Atene was destyds ’n soort wêreld op sy eie. Amper soos Londen of New York. ’n Soort kultuursentrum van tempels, teaters, markpleine – waar mense van oor die hele wêreld saamgetrek is. Amper ‘n soort geestelike middelpunt vir die denkendes van daardie tyd. Dit was die soort plek waar die lewe nie stilstaan nie, maar waar nuwe dinge daagliks gebeur.
Soos Lukas dit hier stel: “Die Ateners in die algemeen en die uitlanders wat daar gewoon het, het hulle tyd aan niks anders bestee as om iets nuut te sê of te hoor nie.”
Paulus raak verontwaardig (sy gees roer in hom) weens die baie afgodsbeelde in die stad. Maar let op dat hy nie sy verontwaardiging uitspreek en op ander mense aflaai nie. Nee, hy begin waar hulle is, en hak mettertyd die evangelie daaraan.
Sy strategie is om, soos op die ander plekke, in die sinagoge met die Jode en ander godvresendes te begin praat maar hier iets ekstra te doen, om met die verbygangers op die stadsplein, by die pottebakkersmark, die kerameikos, wat weens die baie afgodsbeelde ook die godemark genoem is, te praat. Aan die westekant was die Stoa Poikile, ’n pilaargang wat met bont kleure geverf was, waar die wysgere en redenaars, die retore, bymekaargekom het.
Hy kryt nie alles as boos uit nie, en hy begin nie om die afgodsbeelde en altare af te breek nie of geestelike oorlogvoering op die manier wat dit soms vandag gedoen word nie. Hy begin eerder ‘n gesprek daaroor!
Dan begin ‘n klomp filosowe met hom in gesprek tree (eintlik ‘n strydgesprek), veral Epikureërs en Stoïsyne, Lukas sê hulle het met hom gestry en hom ‘n praatjiesmaker genoem. Die woord kom van ‘n beskrywing van ‘n voël wat saadjies oppik, en wat ook gebruik is om mense wat stukkies kennis hier en daar oppik te beskryf.
Sommige het hom ‘n boodskapper van vreemde gode genoem, omdat hy van “Jesus en die opstanding” gepraat het. Leringe oor vreemde gode kon terloops met die dood gestraf word. Die woord vir opstanding, Anastasis, kon vir hulle geklink het soos die naam van ‘n godin, en vandaar die idee van vreemde gode.
Epikureërs (Epikuris – 3de eeu v.C.) was baie materialisties en praktiese ateïste. Hulle het nie gedink dit is belangrik of nodig om God te soek nie. Geluk en plesier was die enigste lewenstyl wat sin gemaak het. Hulle het geglo dat die grootste goed was om eenvoudige plesier na te streef en pyn te vermy. Lewensgenot was die hoogste goed. Dit kon jy kry deur kennis, vriendskap en matigheid. Dit staan teenoor die radikaliteit van die offervaardigheid van Christus en die lewe van gehoorsaamheid aan God in dissipelskap.
Epikurus het daarby geleer dat die hele wêreld bestaan uit atome en alles ontstaan het uit die toevallige bymekaar kom van die atome. Klink dit nie verdag baie soos die modernistiese idee van die toevallige evolusie van alles uit ‘n oersop van materie nie? Voeg daarby hulle idee dat God de facto nie kan bestaan nie, veral vanuit die voorkoms van lyding in die wêreld, en dit is nie moeilik om die vertrekpunt van baie van vandag se moderniste se filosofiese idees oor God se nie-bestaan by hulle te vind nie.
Die Stoïsyne weer was panteïste wat geleer het dat die goddelike logos, die goddelike rede, die hele wêreld besiel en dat ‘n redelike en deugdelike lewenstyl die meeste sin maak. Dit is gebaseer op die idees van Zeno (ook 3de eeu v.C.) wat klem gelê het op self-beheersing en die regte gedrag ten spyte van impulse van buite af of selfs emosies van binne af. Innerlike onverstoorbaarheid en uiterlike gedissiplineerde optrede. Die gode was onpersoonlik en ‘n soort noodlot waarin jy moes berus. Na jou dood keer jy terug na die kosmiese siel.
Die mense neem hom toe na die Areopagus waar hulle hom kans gee om beter te verduidelik wat hy bedoel met die nuwe leringe, want dit het vir hulle baie vreemd voorgekom. Die Areopagus is vernoem na Ares, die god van oorlog, ook Mars genoem.
Paulus praat dan met die Ateners en hak aan by hulle godsdienstigheid (hy kon ook bedoel het, bygelowig) en lig spesifiek die agnostici uit – die mense wat ‘n altaar gebou het vir die onbekende god (ἄγνωστος θεός).
Dié God verkondig hy dan aan hulle (en let op hy praat glad nie oor die Joodse geskiedenis nie, want dit sou nie relevant wees nie). Hy begin met dít wat hulle in gemeen het in hulle denke oor God en vorder dan na die boodskap van die opstanding. Hy skets God:
- as die Skepper, en hy doen dit uitvoerig met verwysing na die kosmos, die hemel en die aarde, en die skepping van mense.
- Daarna skets hy God as die God van die Geskiedenis wat die nasies en hulle wel en wee bepaal. Interessant is dat hy nie hiermee eintlik die bestaan van die verskillende nasies en hulle grense in beton wil giet nie (soos dit verkeerdelik soms in die verlede verstaan is), maar dat hy eintlik wil wys hoe dit een God is wat die verskillende nasies tot gevolg het, en dat daar nie verskillende gode vir die verskillende nasies bestaan nie, ‘n baie algemene geloof in daardie tyd.
- Daarna gee hy vir hulle ‘n antropologiese les. Hy sê dat God die mens gemaak het met ‘n ingebore behoefte na Homself (iets wat Augustinus later ook sou sê). “God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind.”
- En dan gee hy ‘n skets van God se teenwoordigheid, wat nie ver is van enigeen van ons nie. Om die waarheid te sê, “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” en “van Hom stam ons af”. Hy gebruik hier twee aanhalings van hulle digters om die punt te maak dat ons in ons wese aan Hom verbind is en van Hom afhanklik is.
- Die eerste frase “deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons” kom waarskynlik van Epimenides. Hoewel Epimenides begin by die lewende mens en van hieruit argumenteer tot by ’n lewende God, en die lering van Jesus eintlik presies die teenoorgestelde is (vgl. bv. Luk 20:37 e.v.), gebruik Paulus dit net as ‘n aanknopingspunt.
- Die tweede aanhaling, naamlik “ons stam van Hom ook af” is van beide Kleantes en Aratus. In hulle gebruik daarvan, is die lof van Zeus besing, maar weereens is dit net ‘n aanknopingspunt vir Paulus.
Bruce wys daarop dat hy baie behendig die Epikureërs se leer dat God niks van die mens nodig het en daarom nie deur mense gedien kan word nie, asook die Stoïsyne se geloof dat God die bron van alle lewe is, kombineer. Paulus praat dus met ’n soort retoriese tegniek wat hom soveel moontlik gemene grond met sy gehoor gee.
Die reaksie. Die meeste lag hom uit. Ander wil verder hoor. En net ‘n paar mense, onder andere Dionisius, ‘n lid van die Areopagus, en ‘n vrou Damaris, en ‘n paar ander kom tot bekering, of soos Lukas dit stel, word gelowig. Dionisius was moontlik later die biskop van Atene.
View all posts in this series
- WEEK 5: Handelinge 1:1-6:7 - August 18, 2011
- Handelinge 1:1-26 – Wag op die gawe van die Heilige Gees
- Handelinge 2:1-47 – Die Heilige Gees maak alle gelowiges getuies - August 19, 2011
- Handelinge 3:1-26 – God gee geloof sodat ons kan glo - August 22, 2011
- Handelinge 4:1-37 – Die Heilige Gees maak die eerste gemeente vrymoedig en vrygewig - August 23, 2011
- Handelinge 5:1-6:7 – Die kerk groei in heiligheid en helende krag - August 24, 2011
- WEEK 6: Handelinge 6:8-9:31 - August 25, 2011
- Handelinge 6:8-7:60 – Vervolging is die stimulus vir die uitbreiding van die evangelie na Judea en Samaria
- Handelinge 8:1-25 – Saulus gaan besete tekere, maar Filippus verlos besetenes - August 26, 2011
- Handelinge 8:26-40 – Die Woord en die Gees skep geloof in ons harte - August 29, 2011
- Handelinge 9:1-19 – Die besete Saulus word ’n begeesterde apostel - August 30, 2011
- Handelinge 9:20-31 – Barnabas ontferm hom oor Saulus en word die borg vir sy bediening - August 31, 2011
- WEEK 7: Handelinge 9:32-12:24 - September 1, 2011
- Handelinge 9:32-43 – God doen wonders deur Petrus
- Handelinge 10:1-48 – Die Heilige Gees word ook vir heidene gegee - September 2, 2011
- Handelinge11:1-18 – God gee aan nie-Jode die bekering tot die lewe - September 5, 2011
- Handelinge 11:19-30 – Barnabas help die gemeente sy bestaansdoel verwesenlik - September 6, 2011
- Handelinge 12:1-24 – God antwoord gebede en bevestig die gemeente in Jerusalem in sy roeping - September 7, 2011
- WEEK 8: Handelinge 12:25-16:5 - September 8, 2011
- Handelinge 12:25-13:12 – Waar leiers en die gemeente die Here aanbid, verander Hy die wêreld
- Handelinge 13:13-52 – Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword - September 9, 2011
- Handelinge 14:1-28 – Die deur na geloof vir die heidene gaan wawyd oop - September 12, 2011
- Handelinge 15:1-35 – Gesamentlike geloofsonderskeiding oorbrug dreigende verskille - September 13, 2011
- Handelinge 15:36-16:5 – ‘n Fokus op die opkomende geslag van bedienaars - September 14, 2011
- WEEK 9: Handelinge 16:6-19:20 - September 15, 2011
- Handelinge 16:6-40 – Die Europese kerkgeskiedenis begin met die bekering van ’n vrou
- Handelinge 17:1-15 – Om die Bybel te ondersoek, maak die evangelie vir ’n mens oop - September 16, 2011
- Handelinge 17:16-34 – Paulus tree ook in die publieke sfeer op met die evangelie - September 19, 2011
- Handelinge 18:1-23 – Die Here self bemoedig Paulus om sy werk voort te sit - September 20, 2011
- Handelinge 18:24-19:20 – God doen wonderlike dinge deur Paulus in Efese - September 21, 2011
- Die doop met water is nie noodsaaklik om die Heilige Gees te ontvang nie
- WEEK 10: Handelinge 19:21-28:31 - September 22, 2011
- Handelinge 19:21-20:38 – Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang
- Handelinge 21:1-22:30 – Die Gees se woorde moet in die lig van jou roeping interpreteer word - September 23, 2011
- Handelinge 23:1-24:27 – Paulus verkondig die evangelie aan die Romeinse goewerneur Feliks - September 26, 2011
- Handelinge 25:1-26:32 – Paulus verkondiging die evangelie aan koning Herodes Agrippa - September 27, 2011
- Handelinge 27:1-28:31 – Paulus verkondig die evangelie in Rome - September 28, 2011
- Lees die vier evangelies en Handelinge - June 20, 2016