Skip to main content

Romeine 1 – God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo

Let op die meer uitvoerige bekendstelling van Paulus in sy skrywe aan die Romeine.  Hoewel hy baie van hulle ken (vgl hfst. 16), was daar talle wat hom nie geken het nie.

Anders as met die Galasiërs prys hy hulle vir hulle geloof, en wil hulle juis besoek om 1) wedersyds in die geloof versterk te word en 2) soos op ander plekke sy roeping om mense vir Christus te wen, na te kom (vgl 1 Kor 9).  Hierdie roeping sluit die Grieke en die nie-Grieke (barbare of onbeskaafdes soos die Grieke ander genoem het), die ontwikkeldes (wyses) en die ongeleerdes (ongeletterd) in.

Let op hoe opgewonde hy is oor die ingeboude krag van God in die evangelie van Jesus Christus wat mense vryspreek.  En dit is vir Jode sowel as Grieke (Hellene of heidene): “enkel en alleen omdat hulle glo” (Hab 2:4).  Sola fide – die hoofboodskap van dié brief.

Met hierdie inleiding roer hy sy eerste onderwerp aan wat tot aan die einde van hoofstuk 4 behandel sal word: God se voorsiening vir die probleem van die sonde geïllustreer in die voorbeeld van Abraham, waardeur aan die een kant die oneffektiwiteit van die wet en die besnydenis uitgewys gaan word, en aan die ander kant die krag van geloof in Jesus Christus wat mense vryspreek.

1:18-23 teken ’n goddelose mensdom (adikia – ongeregtig) wat ten spyte van God se algemene openbaring in die skepping Hom nie erken nie. Niemand kan egter hom- of haarself verontskuldig dat hulle nie geweet het nie, want die kennis van God is van altyd af daar.  Hulle wysheid is eintlik dwaasheid, want dit lei tot afgodery.  Hulle verruil die Skepper vir die skepping.

1:24-32 teken die Goddelike gevolge hiervan vir mense. Drie keer word gesê: “Daarom gee God hulle oor” (24,26,28).  Dit het ’n impak op seksualiteit, beide in terme van heteroseksuele (24-25) en homoseksuele losbandigheid (26-27), asook op onbetaamlike gedrag, ’n lysie van 24 ondeugdes (28-31).  God keer mense dus nie meer van die gevolge van hulle perverse keuse vir die skepping eerder as die Skepper nie, nie in terme van hulle seksualiteit nie, en ook nie in terme van hulle algemene gedrag nie (hoewel Hy ’n alternatief in Jesus Christus geskep het, maar daaroor sal Paulus eers later praat).

Opmerkings oor Homoseksualiteit (opgedateer 2016)

Ek het vroeër hieroor geskrywe, maar intussen ‘n baie deeglike studie onderneem oor die vraag na die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif en die Gereformeerde leer.  Ek plaas hier die deel wat ek oor Romeine geskryf het.

Romeine 1:18-32 – Oorgegee aan onsedelikheid, skandelike drange, en onbetaamlikheid

Opsomming – Oorgegee aan onreinheid, skandelike drange, en onbetaamlikheid – dit is die hoofteks oor die saak volgens die meeste kommentators en verdien daarom ook die meeste aandag.  ‘n Mens moet ‘n paar algemene opmerkings in gedagte hou in jou interpretasie van Romeine:

  1. die Romeins-Griekse konteks wat positief oor selfdegeslagverhoudings was;
  2. die Joodse konteks wat kontra-kultureel en geestelik-godsdienstig negatief oor selfdegeslagverhoudings was;
  3. dat ‘n mens Romeine 1 in die lig van die hele brief moet lees;
  4. dat Romeine 1 Paulus se eie woorde is, nie ‘n “interpolasie” soos sommige voorstel nie;
  5. dat hy die algemene woorde vir mans en vrouens gebruik, arsen vir mans en thelus vir vroue, nie dié vir getroudes nie;
  6. dat “teen-natuurlik” semanties as skeppingsmatig beskou moet word;
  7. en dat dit hier om ‘n geestelike en morele beoordeling van die mensdom gaan, nie net ‘n kulturele of etniese beoordeling nie.

Dit is die vertrekpunte waarmee ‘n mens die eksegese van Romeine 1 moet doen om so veral die volle gewig van die “oorgee”-aksie van God te erken in die beskrywing van onder andere onsedelikheid in die algemeen, skandelike selfdegeslag drifte en onbetaamlike gedrag wat deel is van die afvallige goddelose en ongeregtigde mensdom, waarvan alle mense deel is.

1.  Die Grieks-Romeinse konteks waarbinne Paulus dié brief skrywe

Dit is duidelik uit die brief aan die Romeine dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl. 16:5,14,15).  Die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie?  Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl. Gal. 5:2-12) en die voedsel wette (Rom. 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom. Dit sluit natuurlik ook die onderhouding van die Sabbat in, hoewel Paulus dit nie hier eksplisiet noem nie (vgl. egter Kol. 2:16).

Daarom skryf Paulus hierdie brief om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees.  God spreek alle mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom. 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie – ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangegryp het: die wonder van God se genade aan sondaars.

Maar dié gemeente is in Rome en die impak van die wêreld waarin hulle gelowiges moes wees, was steeds enorm.  Keiser Nero was toe al 3 jaar aan die bewind in Rome en sou tot in 68 n.C. aan bewind bly.  Dit was bekend dat Nero twee keer getroud was met mans in sy termyn, wat beteken dat dit nie net deel was van die manier van doen in die Romeinse samelewing nie, maar iets wat op die hoogste vlak gebeur het.  Trouens, dit was nog meer bekend in die Griekse samelewing van dié tyd.  Paulus sou dus met oogklappe moes gelewe het om nie daarvan te geweet het nie.

Paulus was waarskynlik ook bekend met die idees van die Griekse filosowe, soos duidelik uit sy taalgebruik en aanhalings blyk.  Hy sou waarskynlik geweet het van Plato wat in sy Symposium die kulturele houdings van sy tyd teenoor homoseksualiteit vertolk in die woorde van Phaedrus dat elke soldaat in die weermag eintlik selfdegeslag minnaars vir mekaar moes wees.

Hy sou ook waarskynlik geweet het dat dit nie noodwendig Plato se absolute houding daaroor was nie, want op ander plekke skryf hy negatief daaroor, soos ook Aristoteles en Aristophanes, wat veral oor die passiewe partner in homoseksuele gedrag negatief is.  Maar dit is hoe Plato die houding van ‘n deel van die Ateense samelewing opsom en hy reageer nie negatief daarop nie.

Onthou ook dat Korinte in Griekeland is, die plek vanwaar Paulus skryf.  Alles om maar net te sê, Paulus was goed bekend met die konteks van sy tyd. Daarom haal hy hulle digters aan (o.a Aratus, Epimenides, en Kleantes in Hand. 17), en praat hy met die Epikureërs en Stoïsyne.

2.  Die Joodse konteks waarbinne Paulus dié brief skrywe

Dit is natuurlik ook nog net een deel van die konteks.  Want, maak geen fout nie, Paulus het ook die OT en die Joodse konteks geken, hy was ‘n Jood sonder weerga.  En dié wêreld is deur die wet van Moses in elke faset daarvan gestruktureer en bepaal: dieet, feeste, offers, seksualiteit, familie ensomeer.  Dié wette is uitgebrei op ‘n verskeidenheid maniere deur die rabbi’s en Fariseërs en histories verklaar deur die Talmoed en die Mishna tot in die fynste voorskriftelike detail.

‘n Mens kan ‘n sterk saak uitmaak daarvoor dat sy “sondelysies” in die briewe aan Korinte en Timoteus ‘n uitleg van die wet is, in die vorm van die Tien Gebooie.  Ook waar hy oor homoseksuele gedrag in dié lysies praat, is dit waarskynlik meer spesifiek gegrond op Levitikus 18 en 20 se verbod op seksuele gemeenskap tussen mans.  Daaroor egter later in die briewe aan Korinte en Timoteus.

‘n Mens kan dus nie vir jou twee meer verskillende wêrelde voorstel as die Romeins-Griekse en die Joodse een nie.  Waar die een wêreld onbeperkte seksualiteit beoefen het, was die ander gekenmerk deur baie eng seksuele beperkings.

Daarom dat Paulus soveel moeite doen om die evangelie van Jesus Christus as in wese nie net kontra-kultureel vir gelowiges uit die Romeins-Griekse wêreld te beskryf nie, maar ook kontra-geestelik.  Die gelowiges wat uit dié agtergrond kom, moes op ‘n ander manier leer lewe.  Hy wou nie hê, soos die kerk besluit het by die Handelinge 15 vergadering, dat hulle die seremoniële dele van die wet rondom dinge soos dieet, besnydenis en die sabbat nakom nie.  Maar hulle lewens moes ‘n onberispelike sedelike peil illustreer uitgedruk in die liefdesgebod (Rom. 13) en die Handelinge 15 besluite (i.t.v. porneia).

Soos Paulus in hfst. 13 skryf: “12Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”

Die gevolge van ‘n lewe in ontug en onsedelikheid is te verskriklik om nie gelowiges ernstig daaroor te waarsku nie.  Soos hy later aan die Efesiërs sou skryf (hfst. 5): “3Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. 4Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. 5Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.”  Jy kan die koninkryk mis!

3.  Dit is belangrik om Romeine 1 in die lig van die res van die brief te lees.

Rom. 1-3 se hantering van onreinheid, losbandigheid, ontering van liggame, teen-natuurlike selfde geslag omgang, en onbetaamlike gedrag kan nie in isolasie van die res van die brief gelees word nie.

  • Dit moet ook gelees word in die lig van wat Paulus in Rom. 6:19 sê: “soos julle julle ledemate (melê) in diens van onsedelikheid en losbandigheid gestel het om losbandig te lewe, so moet julle nou julle ledemate in diens stel van geregtigheid om heilig te lewe.
  • Dit moet ook gelees word in die lig van Rom. 12:1 se opdrag om ons: “liggame (sômata) as ‘n lewende, heilige en aanneemlike offer vir God aan te bied.”
  • Dieselfde geld Rom. 13:14 se waarskuwing dat ons nie voorsiening moet maak vir ons “sondige natuur (sarkos) om sy drange te bevredig nie”. Dit vorm deel van die argument wat Paulus in Rom. 1-3 op die tafel sit rondom die probleem van die sonde.

4.  Dit is belangrik om die inhoud van Romeine 1 as Paulus se eie gedagtes te verstaan.

Daar is sommige geleerdes wat reken dat Rom. 1:18-32 ‘n “interpolation” is wat nie Paulus se gedagtes bevat nie weens die verskille in taal, konteks en teologiese inhoud met sy ander briewe (J. C. O’Neill, Paul’s Letter to the Romans, en W.O. Walker, “Romans 1.18-2.29: A Non-Pauline Interpolation?, NTS 44).  Sulke argumente is egter moeilik volhoubaar omdat taal altyd verbind is aan die onderwerp waaroor jy skryf, en dit heel logies is dat Paulus se taal hier gekleur word deur die onderwerp waaroor hy skryf.  Hy skryf immers nêrens anders hieroor nie.   ‘n Mens kan ook sonder moeite sy teologiese gedagtes kan verbind met nie net die OT tekste oor selfdegeslagverhoudings nie, maar ook die Joodse geskrifte hieroor, bv. Philo en Josephus, soos hierbo al aangedui

Daar is nóg geleerdes wat op ander gronde Rom. 1:18-32 as ‘n “interpolation” beskou, onder andere Calvin Porter (Romans 1.18-32: Its Role in the Developing Argument). Hy argumenteer dat hierdie gedeelte sentimente bevat wat met ‘n Joodse diskoers teen die Grieke verbind kan word, en dat Paulus juis hulle gedagtes wil besweer omdat dit ‘n hindernis is in die evangelieverkondiging aan die heidene.  Hy gebruik dus ‘n Joodse polemiek wat gereeld teen die heidene gebruik is, om te wys dat dit teenproduktief is.  Rom. 2:1 se uitroep: “O, mens,” is dan ‘n teregwysing dat ‘n mens nie só kan dink nie.

Dit is egter ‘n onhoudbare siening, nie net omdat só ‘n siening nie enige tekstuele bron kan aantoon wat Paulus se aanhaling kan verklaar nie, maar omdat dit baie moeilik is om te aanvaar dat Paulus hier so ‘n lang “aanhaling” maak – 15 verse! – sonder om dit van ‘n inleidende opmerking te voorsien.  Paulus het immers juis in Rom. 1:17 ‘n aanhaling gemaak uit Habakuk 2:4 en dit eksplisiet aangedui met die frase: “soos daar geskryf staan”. Daarby het hy in Rom. 1:16-17 die sentrale opmerking gemaak dat die evangelie van verlossing ‘n openbaring van God is, wat in Rom. 1:18-32 opgevolg word met ‘n soortgelyke stelling dat God se toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense ‘n openbaring van God uit die hemel is. Die oplossing van dié twee openbarings van God word dan in Rom. 3 gegee in die belangrike uitspraak oor die vryspraak wat God vir Jode en heidene gegee het, die vryspraak wat daar in Christus Jesus gegee word.  Die twee gedeeltes is dus intrinsiek en inhoudelik verbind en kan net aan Paulus toegeskryf word.

Daar is verder in die onmiddellike konteks van Romeine 1 regtig niks wat ‘n mens sou laat dink dat Paulus hier ‘n klomp Jode probeer aanvat wat die heidene wil uitsluit oor hulle verkeerde selfdegeslagverhoudings nie.  Hy wil eerder in die retoriese trant van Rom. 2:1-5 en 17-24 sy gehoor in die gemeente van Rome oortuig van die waarheid van die evangelie vir beide Jode en Grieke (1:16-18) deur die lyn rondom die sondigheid van die wêreld (2:18-32), die skuld ook van die Jode (2:1-3:8) trouens van alle mense (3:9-20) te volg om die boodskap van die vryspraak deur geloof (3:21-31) en die nuwe lewe deur die Gees te kan verkondig.

Hy gebruik, soos die meerderheid geleerdes dit uitspel, die tegniek van die  sogenaamde diatribe in 2:1-5, ‘n gesprek met ‘n verbeelde Joodse gelowige, om enige selfverheffing op grond van die Joodse afkoms, in die kiem te smoor.  Dié tegniek word ook elders in die brief gebruik, bv. 11:13-24 waar Paulus in ‘n verbeelde dialoog met ‘n “heidense” gelowige in gesprek tree (vgl. ook 3:1-9; 3:27-4:25; 9:19-21; 10:14-21; 14:10-11).  Dit is ‘n bekende tegniek wat leraars van daardie tyd gebruik het, ’n soort vraag-en-antwoord metodiek geplaas in ’n verbeelde dialoog (vgl. C Kruse, Paul’s Letter to the Romans vir ‘n verdere bespreking hiervan – so ook J Dunn, Romans 1-8; NT Wright, Paul for Everyone, Romans Part One: Chapters 1-8).

Die meeste Nuwe Testamentici, mense soos NT Wright, Scott McKnight, Andrie du Toit, Jan van der Watt, Robert Cagnon, en William Loader, en selfs Dan Via, sowel as die nuwere kommentare op Romeine van Frank Matera 2010, Hultgren 2011, en die nuutste een van Michael Wolter 2015 beskou dus dié teks in Romeine as Paulus se eie woorde.

Soot NT Wright sê: “We are not at liberty, though, to say that Paul did not mean what he said, or that he was quoting somebody else with whom he was then going to disagree (see below). That is the exegetical equivalent of the marathon runner who jumps on a bus in the middle of the race to get out of the hard slog and go straight to the finish.” (Paul and the Faithfulness of God, 2013).

5.  Paulus gebruik die algemene byvoeglike woorde vir “manlik” en “vroulik” in sy beskrywing van homoseksuele gedrag in Romeine 1.

Hy gebruik die algemene Griekse woord arsen vir manlik en thelus, die algemene Griekse woord vir vroulik (Louw & Nida, Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains).

Dit is betekenisvol, want hy sou ander woorde kon gebruik het wat duidelik sou maak dat hy bv. van pederastie praat.  Hy sou ook van die ander Griekse woorde vir getroude mans (bv. upandros) en getroude vroue (bv. gune) – soos hy doen in Rom. 7:2! – kon gebruik het, as hy van homoseksuele gedrag wat deur (getroude) heteroseksueles uitgevoer word, gepraat het.

Die wyse waarop hy die Griekse woorde arsen en thelus dus inspan, dui in die konteks duidelik op ‘n algemene beskrywing van “mans” en “vrouens”, nie soseer op getroude mans en hulle getroude vrouens nie (vs. König).  Dit gaan ook oor die selfdegeslag seksuele gedrag as sodanig, nie enige ander beskrywing van die mense wat daarby betrokke is nie.  Dit pas ook in by sy meer algemene beskrywing van die mensdom in Rom. 1:18 waar hy die algemene woord anthropôn vir mensdom gebruik om dié gedeelte mee in te lei.

Dit beteken ook dat die tipe homoseksuele verkeer wat hier ter sprake is, nie met pederastie alleenlik verbind kan word nie, veral omdat dit as iets konsensueel en wederkerig en nie as ‘n uitbuiting of mishandeling geteken word nie (vs. Scrogg).  Jan du Randt het ook al gewys daarop dat die verbod op homoseksualiteit in Rom. 1 nie net oor pederastie kán gaan nie, omdat dié teks ook spesifiek oor vroue praat, nie net oor mans nie.  Pederastie was geslag spesifiek en die noem van lesbiese verhoudinge skiet die interpretasie in die voet.

6.  Dieselfde geld die gebruik van “natuurlik” (phusin) en “teen-natuurlik” (para fusin) om selfdegeslag seksuele gedrag in hierdie gedeelte te beskryf.

Louw en Nida dui dit aan as: “the nature of something as the result of its natural development or condition—‘nature.’”  Soos William Loader sê: “With a fair degree of probability Paul would have had much in common with Philo and Josephus and other Jewish writers of his time, who, in addition to such common values, also equated the way things ought to be, nature (including what we might sometimes call convention), with how God made things to be, creation, and rejected excess.” (Sexuality in the New Testament).

Deur Paulus se gebruik van die Griekse woord phusin te probeer interpreteer asof dit ‘n heteroseksuele persoon is wat selfdegeslag seks beoefen en daarom as teen-natuurlik vir heteroseksueles gesien kan word, doen die teks geweld aan.  Dit is verseker nie wat Paulus gedink het nie, hoewel daar natuurlik baie mense is wat vandag so dink.  Sulke tipe interpretasies maak egter ‘n moderne idee op anakronistiese wyse van toepassing op die gedagtewêreld van Paulus en oorspan die betekenis van die teks.

Dieselfde geld die poging van sommige om “teen-natuurlik” as iets wat met kultuur te make het, te interpreteer.  Paulus sou dan daarvolgens eintlik bedoel het dat selfdegeslag seksuele verhoudings nie deel van die Joodse kultuur was nie, en daarom “anti-kultureel”.

7.  Dit gaan oor ‘n geestelike beoordeling van wat aan die gang is in die wêreld rondom dinge soos onder andere selfdegeslag seksuele verkeer, nie oor spesifieke gevalle van bv. selfdegeslag seksuele gedrag nie.

Paulus wyt dit aan die feit dat mense – in die algemeen, nie heidene nie! – die waarheid oor God onderdruk het, waarop God se reaksie was om hulle aan verskillende drange en sedelike onreinheid en ander onbetaamlike gedrag oor te gee.  Dit sluit dus ook die lysie van sondes in wat aan die einde van die hoofstuk genoem word.  Mense is “oorgegee” of “uitgelewer” aan ‘n verskeidenheid van sondige begeertes weens hulle weiering om God as God te erken.

James Dunn wys in sy kommentaar op Romeine 1:18-32 uit hoe die afgryse van homoseksualiteit in die vroeë Judaïsme nie net gemik was teen die Griekse kulturele moraliteit nie, maar veral gebore is vanuit hulle eie verstaan van die sondeval, afgodediens en die seksuele perversie wat onder andere daaruit voortgevloei het in die mensdom.  Hy skryf: “In other words, antipathy to homosexuality remains a consistent and distinctive feature of Jewish understanding of what man’s createdness involves and require`s. That homosexuality is of a piece with idolatry is taken for granted (as several of the same passages show), both understood as a demeaning of the people who indulge in them. The link between man’s fall (Gen 3) and sexual perversion (as here) is also typically Jewish, since Gen 6:1–4 also played a considerable part in Jewish attempts to account for the origin of sin (Jub. 4.22; 5.1–10; 7.21; 1 Enoch 6–11; 86; T. Reub. 5; T. Naph. 3.5; CD 2.18–21; etc.).

Dit gaan dus nie oor spesifieke mense wat hulleself aan afgodediens blootgestel het, en nou die noodwendige gevolge daarvan in terme van selfdegeslag seksualiteit dra nie.  Dit gaan oor die hele mensdom wat God nie erken nie, Jode en heidene ingesluit, en daarom deur Hom oorgegee is aan allerlei sondes, onder andere aan heteroseksuele losbandigheid, onder andere aan teen-natuurlike omgang, en onder andere aan ‘n wye reeks ander onbetaamlike gedrag.

Daar word nie eers ‘n oordeel gevel oor watter hiervan nou meer sondig is as die ander nie.  Enigeen van dié dinge dui op ‘n radikale fout wat daar in die mensdom ingesluip het, en wat reggestel moet word.  Trouens, Rom. 2 sal uitbrei op die problematiek van die Jode wat met wet en al ook gesondig het, en Rom. 3:23 sal dit opsom deur te sê: “almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie”.

Terselfdertyd sal Paulus die oplossing en voorsiening van God aankondig in Rom. 3:24: “maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.  Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoenig bewerk het vir dié wat glo.”  Dit sluit onsedelikes, perverses en onbetaamlikes in – almal van ons.

Dit gaan hier ook nie in die eerste plek om bv. ‘n etiese beoordeling van selfdegeslagverhoudings –wat gepas en wat nie gepas sou wees nie – volgens die standaarde van die Romeins-Griekse kultuur waarbinne die mense geleef het nie.  Dit gaan oor ‘n geestelike beoordeling in die lig van God se algemene openbaring van Homself in die skeppingswerklikheid, dinge wat mense moes kon sien, maar geweier het om aan aandag te gee.

Eksegeties-hermeneutiese lees van Romeine 1:18-32

Paulus het so pas in Rom. 1:1-17 homself op uitvoerige manier bekendgestel aan die gemeente.  Hoewel hy baie van hulle ken (vgl. hfst. 16), was daar talle wat hom nie geken het nie.

Anders as in sy brief aan die Galasiërs het hy die gemeente in Rome geprys vir hulle geloof, en wil hy hulle juis besoek om wedersyds in die geloof versterk te word en soos op ander plekke sy roeping om mense vir Christus te wen, na te kom (vgl. 1 Kor. 9).  Hierdie roeping sluit die Grieke en die nie-Grieke (barbare of onbeskaafdes soos die Grieke ander genoem het), die ontwikkeldes (wyses) en die ongeleerdes (ongeletterd) in.

Sy opgewondenheid in hfst. 1 oor die ingeboude krag van God in die evangelie van Jesus Christus wat mense vryspreek, is aansteeklik.  En dit is bedoel vir Jode sowel as Grieke (Hellene of heidene): “enkel en alleen omdat hulle glo” (1:16-17; vgl. Hab. 2:4).  Sola fide – die hoofboodskap van dié brief.

Trouens, dit is juis God se geregtigheid wat in die evangelie openbaar is.  God se geregtigheid berus volledig, geheel en al, op geloof.  Dit is die boodskap wat Jode en Grieke moet hoor en waardeur hulle in die regte verhouding met God kan kom.

Met hierdie inleiding roer hy sy eerste onderwerp aan wat tot aan die einde van hoofstuk 4 behandel sal word: God se voorsiening vir die probleem van die sonde geïllustreer in die voorbeeld van Abraham, waardeur aan die een kant die oneffektiwiteit van die wet en die besnydenis uitgewys gaan word, en aan die ander kant die krag van geloof in Jesus Christus wat mense vryspreek.

Ter wille van die voordeel van ‘n meer direkte vertaling word die weergawe van die Bybel Direkte Vertaling (BDV) hier gebruik:

18 God se toorn word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te onderdruk, 19 aangesien dit wat van God geweet kan word, onder hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. 20 Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; 21 want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. 22 Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. 23 Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir ‘n afbeelding soos dié van ‘n sterflike mens en van voëls en diere en kruipende diere.

24 Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onsedelikheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer 25 —hulle wat die waarheid van God vir die leuen verruil het en geskape wesens aanbid en gedien het in plaas van die Skepper, wat tot in ewigheid lofwaardig is. Amen. 26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike drange: Hulle vroue het die natuurlike seksuele omgang verruil vir omgang wat teen die natuur is. 27 Net so het ook die mans, terwyl hulle die natuurlike seksuele omgang met die vrou laat vaar het, vurig begin brand van begeerte na mekaar; mans het met mans skandelikheid bedryf en in hulleself die verdiende loon vir hulle afwyking ontvang. 

28 En omdat hulle dit as verwerplik beskou het om aan God erkenning te gee, het God hulle oorgegee aan ‘n verwerplike denkwyse, sodat hulle onbetaamlik optree. 29 Hulle is vol van elke vorm van onreg, boosheid, hebsug, kwaad; vol afguns, moorddadigheid, twisgierigheid, geslepenheid, kwaadwilligheid; hulle is skindertonge, 30 kwaadstokers, haters van God, brutaal, hooghartig en grootdoenerig, vindingryk om slegte dinge te bedink, ongehoorsaam aan hulle ouers; 31 onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, sonder medelye 32 —dié soort mense wat die voorskrif van God ken, naamlik dat mense wat hierdie dinge doen, die dood verdien. Tog doen hulle dit nie net nie, maar praat dit boonop goed wanneer ander dit doen.”

In die eerste gedeelte, Rom. 1:18-23, teken Paulus ’n goddelose mensdom, vol van ongeregtigheid  (adikia) wat ten spyte van God se algemene openbaring in die skepping Hom nie as God erken nie.  Niemand kan egter hom- of haarself verontskuldig dat hulle nie geweet het van God nie, want die kennis van God is van altyd af daar, sê Paulus.  Hulle wysheid is eintlik dwaasheid, want dit lei tot afgodery.  Hulle verruil die Skepper vir die skepping.

In die tweede en derde gedeelte, Rom. 1:24-27 en 28-32 teken Paulus die Goddelike gevolge hiervan vir die mensdom, beide in terme van teen-natuurlike seksuele gedrag as in terme van ‘n verskeidenheid ander tipes onbetaamlike gedrag.

Teenoor die openbaring van God se geregtigheid aan elkeen wat glo (1:16-18), staan die openbaring van sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te onderdruk.  ‘n Verkeerde teologie lei immers altyd tot ‘n verdraaiing van menswees en uiteindelik afgodery.

Dit sluit ook ‘n verkeerde beskouing oor seksualiteit in: “Paul’s primary argument is that what led to wrong sex was wrong theology. He employs the common biblical theme of idolatry, even to the extent of listing categories more applicable to the biblical world than to Rome, such as worship of birds, animals and reptiles. His Jewish tradition connected idolatry with descent into sexual wrongdoing, illustrated in Wisdom 13—15.”  (William Loader).

Paulus se argument in Romeine 1:24-32 het drie elemente. God het die mensdom (nie net sommiges nie) OORGEGEE aan drie goed weens hulle afvalligheid (goddeloosheid en ongeregtigheid) van Hom.  Die drie sake word telkens ingelei met die frase: “Hy het hulle oorgegee” aan:

  1. Sedelike onreinheid wat waarskynlik op die seksuele onreinheid wat onder alle tipes seksualiteite gevind word van toepassing gemaak moet word, heteroseksuele seksualiteit (en homoseksuele seksualiteit) ingesluit, omdat die seksuele ontering net in die algemeen as onrein beskryf word en die seksuele oriëntering nie gespesifiseer word nie. Hier is die fokus op die disrespek (ontering) vir God en vir mekaar se liggame. Dit word as verdraaiing van die waarheid en Godsonterend geteken (vers 24-25).  Paulus beskryf in vers 24 hierdie seksuele gedrag as seksueel onrein (akatharsia).  Dit sluit die seksuele ontering van mekaar se liggame buite die huwelik in, of dit nou heteroseksueel of homoseksueel gebeur.
  2. Selfdegeslag “skandelike drange”, vrou-vrou en man-man wat in selfdegeslag seksuele gedrag na vore kom. Hier is die fokus ook op disrespek, maar in dié geval die disrespek vir die natuurlike omgang met die teenoorgestelde heteroseksuele geslag.  Dit word as skandelik (disgraceful), teen-natuurlik (d.w.s. nie-heteroseksuele omgang) en pervers uitgebeeld (vers 26-27).  Selfdegeslag seksuele gedrag word beskryf as skandelike drifte (pathê atimias).  Dit gebeur waar vroue met vroue seks het (1:26), en mans met mans (1:27) – sonder uitsondering.  Hierdie selfdegeslag seks het nie met prostitusie – daar is geen geld of ‘n tempel betrokke nie – of met pederastie te make nie – vroue het immers nie pederastie bedryf nie – maar met wedersyds-instemmende selfdegeslag seks tussen volwassenes van dieselfde geslag.  Die algemene byvoeglike woorde vir vroue en mans word gebruik – arsen en thelus – nie die Griekse woorde vir getroude vroue en mans nie.  Paulus beskryf in vers 26 selfdegeslag seksuele gedrag ook as teen-natuurlik (para fusin – Louw-Nida: natuurlik = “The result of its natural development or condition”).  Daarmee bedoel Paulus dat dit teen die skeppingsbedoeling vir die mens is, soos uit sy gebruik van skeppingsterminologie uit Genesis blyk (hemel, mensdom, kosmos, skepsel, Skepper).  Dit gaan hier nie oor ‘n heteroseksuele persoon wat selfdegeslag seks beoefen nie. Dit is ook nie kultureel-bepaald nie, maar word godsdienstig-eties afgewys.  Paulus beskryf in vers 27 selfdegeslag seksuele gedrag ook as seksuele losbandigheid of perversie (planê), wat lei tot onbetaamlike dade wat sy eie verdiende straf dra.  Paulus laat dus nie toe vir óf korttermyn, óf langtermyn selfdegeslag seksuele gedrag nie, selfs nie as dit in liefde en trou gebeur nie.  Die enigste ruimte wat hy vir seks erken, is die ruimte van die huwelik tussen man en vrou (1 Kor. 5-7), soos Jesus ook geleer het (Matt. 19).
  3. Onbetaamlike gedrag waarin 24 verdere slegte gedragspatrone gelys word (vers 28-31). Dié dinge is nie onbelangrik nie, en kan selfs op dieselfde vlak as die vorige sondes hanteer word. Vir die doel van hierdie bydrae word egter nie nou daarop ingegaan nie.

Drie keer word daar dus gesê: “Daarom het God hulle oorgegee” (24,26,28).  Dit het ’n impak op seksualiteit, beide in terme van waarskynlik algemene seksuele onreinheid (24-25) en homoseksuele losbandigheid (26-27), asook op onbetaamlike gedrag, uitgespel in ’n lysie van 24 ondeugdes (28-31).  Paulus wys dus alle heteroseksuele EN homoseksuele losbandigheid as afwykings aan, nie deur na die oriëntasie te verwys nie, maar na die seksuele gedrag.  In beide gevalle is dit disrespekvol teenoor God en teenoor mense se liggame.

Drie keer word ook die taal van ‘n “exchange” gebruik, om te beskryf wat met mense gebeur wat God nie erken nie.  Hulle verruil die waarheid oor God vir die leuen (vers 25).  Hulle verruil die natuurlike (heteroseksuele) omgang vir die teen-natuurlike, selfde geslag seks, beide die vrouens (vers 26) en die mans (vers 27).

Die gevolg is dat hulle hulle liggame onteer (atimazesthai) onder mekaar.  Die probleem is ook nie die passie of begeerte as sodanig nie: “The problem is its strength (burning) and misdirection (for one another).” Dit bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit (vers 27) wat deur Jewett met Hippokrates se beskrywing van die pyn van anale omgang verbind word (vgl. Loader).

Soos Loader dit uitspel:

“This notion of denying what is and putting something in its place which is not true or in accord with reality connects 1.18–23, 25 and 1.24, 26–27. It follows the pattern: deny my reality and dishonour me, and I’ll have you deny yours and dishonour yourselves!

God keer mense dus nie meer van die gevolge van hulle perverse keuse vir die skepping eerder as die Skepper nie, nie in terme van hulle seksualiteit nie, en ook nie in terme van hulle algemene gedrag nie (hoewel Hy ’n alternatief in Jesus Christus geskep het, maar daaroor sal Paulus eers later praat).

Tom Wright som die boodskap van die eerste hoofstuk van Romeine dus as volg op:

“The point of Romans 1 as a whole is that when humans refuse to worship or honour God, the God in whose image they are made, their humanness goes into self-destruct mode; and Paul clearly sees homosexual behaviour as ultimately a form of human deconstruction. He is not saying that everyone who discovers homosexual instincts has chosen to commit idolatry and has chosen homosexual behaviour as a part of that; rather, he is saying that in a world where men and women have refused to honour God this is the kind of thing you will find.” (Communion and Koinonia: Pauline Reflections on Tolerance and Boundaries by http://ntwrightpage.com/Wright_Communion_Koinonia.htm).

Dít is die dinge wat eintlik God se toorn oor die mensdom verbeeld (vers 32).  God het die mensdom aan hulle eie gekose lot oorgelaat sodat hulle volgens eie wyse kan opsnork, by wyse van spreke, maar waarvoor elke mens natuurlik ook rekenskap sal moet gee. Waar God hulle “oorgegee” het, het hulle die verering van God “verruil” en die natuurlike omgang “verruil” vir die teen-natuurlike.

Maar soos Loader sê: “Having such dishonourable passions is no excuse for acting them out.

‘n Mens moet in gedagte hou dat Paulus die “verbeelde” argument hier rondom voortsit in Romeine 2 en daar die Jode herinner daaraan dat hulle nie moet dink hulle kan wegkom met hulle veroordeling van die “ander mense” nie, asof hulle nie deel is van die mensdom nie, want hulle staan almal saam ook onder die oordeel van God. As hulle nou die wet nakom op sekere punte – bv. deur nie dié drie goed te doen nie – maar op ander nalaat – bv. deur te steel nie, en interessant genoeg, word dit nie in die lysie van 24 onbetaamlike dinge genoem nie! – sal hulle steeds ook die oordeel van God ervaar.

Daarna vervolg Paulus met die verdere uitleg van die evangelie, waarvan Romeine 1:1-17 reeds die inleiding was. In Romeine 3-4 verkondig Paulus die uitweg vir die mensdom, Jode ingesluit.  In Jesus Christus is daar verlossing, en in die werk van die Heilige Gees heiligmaking moontlik (Rom. 5-8).  En in Rom. 12 sal hy uitspel hoe verlossing ook vir onteerde liggame kom, deur dit aan God as heilige en aan Hom welgevallige offer te gee.

Loader sê daarom ‘n artikel van hom in die Hervormde tydskrif van 2014 (Same-sex relationships: A 1st-century perspective): “Paul assumes that all people are heterosexual and that the prohibitions  of Leviticus should apply also to lesbian relations.” Dit wil sê, Paulus is konsekwent negatief oor enige gedrag wat homoseksueel van aard is, omdat hy ’n kind van sy tyd was en dit die aannames was wat sy standpunt veroorsaak het.

Hy sê daarom: “The temptation to modernise Paul either by explaining away his comments  as applicable to only special instances or by transforming his comments on desires into neutral pathology or natural sexual orientation is to be resisted.”

Hy verskil van John Boswell en  Walter Wink dat Paulus net vir heteroseksuele skryf wat homoseksuele gedrag openbaar: “it is highly unlikely that Paul would have differed from all other Jews of the time whose writings survive, who rejected such distinctions. Nor does it make sense to argue that Paul is only concerned with same-sex acts in cultic contexts … His focus is not just concerning acts but also attitude and ultimately, mind, which is independent of location.”

Paulus wys dus hier in Romeine 1 alle selfdegeslagverhoudings konsekwent af.  Dié besef is skokkend radikaal en absoluut.  ‘n Mens wens amper Paulus was verkeerd, óf dat ons vandag dié woorde kan ignoreer.  Vir ‘n kerk wat die Bybel as die Woord van God aanvaar, is dit egter onmoontlik.  NGB 7 sê: “Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie.”  NGB 13 sê: “Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.”

Wat ons wel kan doen, is om geen gelowige mens wat ‘n selfdegeslag aantrekkingskrag beleef, uit te sluit nie.  Vgl. Sam Allberry en ander se insette hieroor by livingout.org.  Dieselfde geld mense wat saamwoon, buite-egtelike verhoudings het, skei en selfs hertrou.  Niemand word versaak nie, maar so ook nie die boodskap van die Bybel nie.

Jub. Jubilees

1 Enoch Ethiopic, Slavonic, Hebrew Enoch

  1. Reub. Testament of Reuben
  2. Naph. Testment of Naphtali (in T. 12 Patr.)

CD Cairo (Genizah text of the) Damascus (Document)

 


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Geloof, Homoseksualiteit, Romeine, Vryspraak


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar