Skip to main content

Kolossense 3:1-4:1 – Leef as nuwe mense

Paulus maak nou ‘n laaste fundamentele uitspraak oor hulle verbintenis met Christus Jesus voor hy drie van die implikasies daarvan uitspel vir :  1) hulle gedagtes oor hulleself, 2) hulle lewenstyl en gedrag, en 3) al die verhoudings waarin hulle is.

Rig julle gedagtes op die dinge daarbo – 3:1-4

Dit is uiters belangrik om oor jouself vanuit jou verbintenis met Christus Jesus te dink.  Want dit beïnvloed alles.  Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie.  Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo.  Ons status verander.  Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe.  Trouens, ons lewe is verborge in God.  En daarom is ons toekoms verseker.  Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn.

Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo.  Paulus bedoel natuurlik nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie.    Dit spel hy juis in die volgende deel uit.  Die dinge van die aarde is dinge soos onsedelikheid, slegte begeertes en gierigheid.  Dit moet nie deel van ons denke wees nie.  Die dinge daarbo is dinge soos meelewendheid, goedgesindheid en verdraagsaamheid.  Dit moet ons denke volmaak.

Leef as nuwe mense – 3:5-17

Dit is ongelooflik hoe elke woord wat Paulus hier skryf van betekenis is.  ‘n Mens kan uitvoerig uitwy oor hoe Paulus die ou lewe beskrywe wat afgelê moet word (3:5-11 – 2 groepe van 5 sondes elk word genoem) en hoe hy dan beskrywe hoe die nuwe lewe geleef moet word (3:12-17 – 15 deugdes of karaktertrekke word genoem).  Eintlik kan ‘n mens ‘n paar maande hieroor nadink, en daar sal elke dag nog dinge wees wat vir jou nuut oopgaan!  Tyd en ruimte ontbreek my egter.  Daarom maak ek net ‘n paar opmerkings hieroor:

  • Ons het ‘n prentjie nodig van die tipe mens wat God wil hê dat ons moet wees.  En die prentjie wat Paulus hier kies, is dat ons vernuwe moet word na die beeld van ons Skepper.  Dit beteken dat ons moet groei tot die volle kennis van God, want Hy is ons Skepper.
  • Dit is waarom dit so onsinnig is om klem te lê op jou afkoms (Griek of Jood), jou vorige godsdiens (besny of nie besny nie), jou taal of jou kultuur (onbeskaaf) of jou klas (slaaf of vry).  Daar is net een ding wat belangrik is, en dit is of jy in Christus glo of nie, en of Hy in jou lewe of nie.
  • En belangrik: die prentjie wat Paulus skilder van die beeld van ons Skepper is nie sy Almag, of Alomteenwoordigheid, of sy Skeppingsmag nie … maar sy karakter.  En dit is wat in ons moet groei: meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid.  Dit is hoe God is.  Dit is hoe ons moet wees.
  • Dit is waarom ons met mekaar geduldig moet wees, en mekaar moet vergewe … want dit gebeur nie oornag nie!  Ons moet bo alles mekaar liefhê, sodat ons nie deur onderlinge verskille uitmekaar gedryf word nie, veral nie verskille soos afkoms, taal, kultuur of klas nie.  Selfs nie ons verskille in die wyse waarop ons die karaktertrekke van die nuwe lewe al vertoon of nie, moet ons verlei om onderskeid te maak tussen gelowiges nie.
  • Let op hoe Paulus sê dat die vrede wat Christus gee die deurslag in ons lewe moet gee.  Dit moet letterlik skeidsregter speel tussen verskillende opsies.
  • En ek kan nie nalaat om ook op die koop toe klem te lê op Paulus se aandrang dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in ons moet bly nie.  Ons moet mekaar daarin onderrig en sorg dra dat almal van ons tot die volle kennis van God groei.
  • En dan is daar nog die dankbaarheid waarvan ons moet sing … op allerhande maniere …

Leef in verhoudings soos die Here verlang – 3:18-4:1

Let op hoe Paulus drie tipe verhoudings beskryf: huweliksverhoudings, gesinsverhoudings en arbeidsverhoudings.  Dit word deur geleerdes ‘n “huistafel” genoem, omdat al drie verhoudings tipies in ‘n huishouding voorgekom het.

Dt is belangrik om die vorige twee perikope se boodskap in berekening te bring in wat Paulus hier oor die drie verhoudings sê.  Die verbintenis met Christus Jesus (3:1-4) en die karakter van God (3:5-17) moet die vertrekpunt vorm vir die wyse waarop in elkeen van hierdie verhoudings opgetree word.  Dit wil sê, die spesifieke opdragte wat hy aan die onderskeie persone in die verhoudings gee, moet verstaan word in die lig van Jesus se Heerskappy en die karakter van God wat in ons gevorm moet word.

Dit beteken onder andere dat ‘n mens versigtig moet wees om die opdrag aan bv die vroue, kinders en slawe as ‘n billike en regverdige verwagting van die mans, ouers en eienaars te verstaan.  Dit sou tot misbruik aanleiding kon gee deur mans, ouers en eienaars, veral as dit onafhanklik van hulle eie opdrag tot liefhê, genaakbaarheid, en regverdige, billike gedrag hanteer word.  Dieselfde geld die opdragte aan die mans, ouers en eienaars.  Die gebreke van mans, ouers en eienaars kan baie maklik as beskuldigings teen hulle gebruik word, sonder om ag te slaan op die vroue, kinders en slawe se eie optrede.

Die opdrag tot onderdanigheid (wat natuurlik wedersyds is – in Ef 5:21 brei Paulus hierop uit om enige misverstand in hierdie brief aan Kolossense te voorkom), liefhê, gehoorsaamheid, die vermyding van foutvinderigheid, opregtheid, en reg en billikheid moet du seerder op ‘n positiewe wyse  aangegryp word om daardeur die karakter van God aan ander ten toon te stel.  Dit sal ons almal motiveer en aanmoedig om te leef as nuwe mense.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kolossense


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders