Kolossense 3:1-4:1 – Leef as nuwe mense

Paulus maak nou ‘n laaste fundamentele uitspraak oor hulle verbintenis met Christus Jesus voor hy drie van die implikasies daarvan uitspel vir :  1) hulle gedagtes oor hulleself, 2) hulle lewenstyl en gedrag, en 3) al die verhoudings waarin hulle is.

Rig julle gedagtes op die dinge daarbo – 3:1-4

Dit is uiters belangrik om oor jouself vanuit jou verbintenis met Christus Jesus te dink.  Want dit beïnvloed alles.  Vir Paulus is die opstanding nie iets wat net met Christus gebeur het nie.  Dit is iets wat ook met ons gebeur, die oomblik as ons in Hom glo.  Ons status verander.  Ons is in Christus nie meer dood in ons sonde nie, maar opgewek in ‘n nuwe lewe.  Trouens, ons lewe is verborge in God.  En daarom is ons toekoms verseker.  Saam met Christus sal hierdie status aan die einde van die tyd vir almal bekend word, wanneer Christus weer verskyn.

Daarom moet ons ons gedagtes rig op die dinge daarbo.  Paulus bedoel natuurlik nie dat ons net oor die hemel moet dink, en glad nie oor die aarde nie.    Dit spel hy juis in die volgende deel uit.  Die dinge van die aarde is dinge soos onsedelikheid, slegte begeertes en gierigheid.  Dit moet nie deel van ons denke wees nie.  Die dinge daarbo is dinge soos meelewendheid, goedgesindheid en verdraagsaamheid.  Dit moet ons denke volmaak.

Leef as nuwe mense – 3:5-17

Dit is ongelooflik hoe elke woord wat Paulus hier skryf van betekenis is.  ‘n Mens kan uitvoerig uitwy oor hoe Paulus die ou lewe beskrywe wat afgelê moet word (3:5-11 – 2 groepe van 5 sondes elk word genoem) en hoe hy dan beskrywe hoe die nuwe lewe geleef moet word (3:12-17 – 15 deugdes of karaktertrekke word genoem).  Eintlik kan ‘n mens ‘n paar maande hieroor nadink, en daar sal elke dag nog dinge wees wat vir jou nuut oopgaan!  Tyd en ruimte ontbreek my egter.  Daarom maak ek net ‘n paar opmerkings hieroor:

  • Ons het ‘n prentjie nodig van die tipe mens wat God wil hê dat ons moet wees.  En die prentjie wat Paulus hier kies, is dat ons vernuwe moet word na die beeld van ons Skepper.  Dit beteken dat ons moet groei tot die volle kennis van God, want Hy is ons Skepper.
  • Dit is waarom dit so onsinnig is om klem te lê op jou afkoms (Griek of Jood), jou vorige godsdiens (besny of nie besny nie), jou taal of jou kultuur (onbeskaaf) of jou klas (slaaf of vry).  Daar is net een ding wat belangrik is, en dit is of jy in Christus glo of nie, en of Hy in jou lewe of nie.
  • En belangrik: die prentjie wat Paulus skilder van die beeld van ons Skepper is nie sy Almag, of Alomteenwoordigheid, of sy Skeppingsmag nie … maar sy karakter.  En dit is wat in ons moet groei: meelewendheid, goedgesindheid, nederigheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid.  Dit is hoe God is.  Dit is hoe ons moet wees.
  • Dit is waarom ons met mekaar geduldig moet wees, en mekaar moet vergewe … want dit gebeur nie oornag nie!  Ons moet bo alles mekaar liefhê, sodat ons nie deur onderlinge verskille uitmekaar gedryf word nie, veral nie verskille soos afkoms, taal, kultuur of klas nie.  Selfs nie ons verskille in die wyse waarop ons die karaktertrekke van die nuwe lewe al vertoon of nie, moet ons verlei om onderskeid te maak tussen gelowiges nie.
  • Let op hoe Paulus sê dat die vrede wat Christus gee die deurslag in ons lewe moet gee.  Dit moet letterlik skeidsregter speel tussen verskillende opsies.
  • En ek kan nie nalaat om ook op die koop toe klem te lê op Paulus se aandrang dat die boodskap van Christus in sy volle rykdom in ons moet bly nie.  Ons moet mekaar daarin onderrig en sorg dra dat almal van ons tot die volle kennis van God groei.
  • En dan is daar nog die dankbaarheid waarvan ons moet sing … op allerhande maniere …

Leef in verhoudings soos die Here verlang – 3:18-4:1

Let op hoe Paulus drie tipe verhoudings beskryf: huweliksverhoudings, gesinsverhoudings en arbeidsverhoudings.  Dit word deur geleerdes ‘n “huistafel” genoem, omdat al drie verhoudings tipies in ‘n huishouding voorgekom het.

Dt is belangrik om die vorige twee perikope se boodskap in berekening te bring in wat Paulus hier oor die drie verhoudings sê.  Die verbintenis met Christus Jesus (3:1-4) en die karakter van God (3:5-17) moet die vertrekpunt vorm vir die wyse waarop in elkeen van hierdie verhoudings opgetree word.  Dit wil sê, die spesifieke opdragte wat hy aan die onderskeie persone in die verhoudings gee, moet verstaan word in die lig van Jesus se Heerskappy en die karakter van God wat in ons gevorm moet word.

Dit beteken onder andere dat ‘n mens versigtig moet wees om die opdrag aan bv die vroue, kinders en slawe as ‘n billike en regverdige verwagting van die mans, ouers en eienaars te verstaan.  Dit sou tot misbruik aanleiding kon gee deur mans, ouers en eienaars, veral as dit onafhanklik van hulle eie opdrag tot liefhê, genaakbaarheid, en regverdige, billike gedrag hanteer word.  Dieselfde geld die opdragte aan die mans, ouers en eienaars.  Die gebreke van mans, ouers en eienaars kan baie maklik as beskuldigings teen hulle gebruik word, sonder om ag te slaan op die vroue, kinders en slawe se eie optrede.

Die opdrag tot onderdanigheid (wat natuurlik wedersyds is – in Ef 5:21 brei Paulus hierop uit om enige misverstand in hierdie brief aan Kolossense te voorkom), liefhê, gehoorsaamheid, die vermyding van foutvinderigheid, opregtheid, en reg en billikheid moet du seerder op ‘n positiewe wyse  aangegryp word om daardeur die karakter van God aan ander ten toon te stel.  Dit sal ons almal motiveer en aanmoedig om te leef as nuwe mense.

Kolossense


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Eksodus 36:2-38👍
  • Dave on Eksodus 36:2-38Moses was voorwaar 'n baie bevooregte man. Maak mens amper jaloers. Die offers laat my dink....
  • Chris van Wyk on Eksodus 26Hi Faan, ja, hulle het gebruik wat beskikbaar was, hoewel van die materiaal natuurlik ook saam gekarwei kon gewees het op trek van die Rooi See af. Di…
  • Chris van Wyk on Eksodus 27Hi Isaac, die Israeliete word in Jesaja 52:11 die opdrag gegee om niks onheiligs van Babel met hulle saam te neem terwyl hulle terugkeer na hulle land…
  • Chris van Wyk on Jesus se Ek is-uitsprakeHi Isaac, daar is baie materiaal by hierdie webtuiste. Dit is alles gratis.
  • Isaac Davids on Eksodus 27Goeiemore. Hoop dit Gaan goed. Ek Wil weet wat is die betekenis of openbaring in hierdie skrif Vir vandag in Jesaja 52:11 spesifiek "draers van die He…
  • Faan de Wit on Eksodus 262 dinge wat my opval is die gebreide dolfyn of Tornyn velle as buitenste bedekking van die tabernakel. Dit beteken bemagtigde vissers moes van Sinai w…
  • Isaac Davids on Jesus se Ek is-uitsprakeHi. Ek Wil van u studie materials he asb. Dankie.
  • Chris van Wyk on Eksodus 26👍
  • Marius on Eksodus 26Amen,net so en so moet ons verstaan wie ons nou in Christus is,sodat ons so kan wandel elke dag.
  • Chris van Wyk on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieDie punt van die gedeelte is dat Christus naby is. 'n Mens kan in Hom glo, want Hy het eers uit die hemel neergedaal en mens geword. Hy het toe gester…
  • Chris van Wyk on Eksodus 21Hi Frans, jy sou enige Bybelboek met die hulp van my bydraes op die webtuiste met hulle kon deurwerk. Veritas het ook 'n boek wat spesifiek op jongmen…
  • Petrus on Romeine 10:5-13 – Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nieGoeie More Chris Dus, om the se "Wie sal opvaar, " beteken nie gelowiges en regeverdiges, maar praat van Christus in die teks? Ook, "wie sal neerdaal,…
  • Frans Joseph Scheepers on Eksodus 21Goeie more my naam is Frans Scheepers en ek het laat verlede jaar hierdie besonderse ontdekking gemaak van wat u vir die Christen wêreld doen. Ek is '…
  • Chris van Wyk on RomeineHi Mariaana, jy kan Romeine lees by hierdie skakel: http://bybelskool.com/romeine/. Volg net die skakels aan die onderkant van daardie bydrae. Oor God…
%d bloggers like this: