1 Korintiërs 10 – Gemeenskap met God moet ten alle koste beskerm word
’n Mens moet altyd in gedagte hou dat die hoofstuk-indeling van Bybelboeke eers in die middel-eeue gedoen is.[1] Die brief aan Korintiërs is as ’n brief geskryf, sonder verse en sonder hoofstukke. Wat Paulus dus hier in hoofstuk 10 aan die orde stel, is integraal verbind aan dit waarmee hoofstuk 9 afgesluit is, om só die Christelike wedloop te hardloop dat jy die wenpaal kan behaal.
Paulus herinner daarom die Korintiërs aan die ervaring van die volk in Moses se tyd, dat hulle al die voorregte wat God gegee het in die woestyn kon geniet, maar tog nie die wenpaal, die intog in die beloofde land, bereik het nie.
Die oordekking met die wolk (simbool van God se teenwoordigheid) en die omsluiting met die see (simbool van God se redding) by die Uittog laat Paulus aan die funksie van die doop dink – dit ontferm en beskerm. Net so laat die voorsiening van brood (manna was “kos uit die hemel” – Eks 16:4; Ps 78:24-25) en water (Eks 17:6; Num 20:7-11) in die woestyn Paulus dink aan die funksie van die brood en wyn van die Nagmaal – dit voed en les ons dors deur ons gemeenskap met God. Die rots was beide die simbool van God se voorsienigheid sowel as sy teenwoordigheid, iets wat met die werklikheid van Christus verbind word, lank voor Hy in die vlees gekom het – ’n misterieuse wonder.
Met dié voorbeeld spoor hy die Korintiërs aan om nie in onsedelikheid en afgodsdiens te verval nie, want dit bring hulle gemeenskap met God in gedrang, wat ten alle koste beskerm moet word. Hy verwys hier terug na 5 gevalle uit die geskiedenis van Israel in die woestyn tydens die Uittog, wat vir die Korintiërs as voorbeeld en waarskuwing moet dien:
- vers 6: sondige begeertes (Num 11:4–35 – waar die volk gestraf word by Kibrot-Taäwa weens hulle lus vir vleis wat hulle in opstand teen die Here laat kom – die Here stuur wel kwartels, maar straf hulle vir hulle gulsigheid – ’n oortreding van die tiende gebod);
- vers 7: afgodsdiens (Eks 32 – die bekende verhaal van die goue kalf waar die volk die goue kalf as God aanbid het en losbandig te kere gegaan het – net Moses se tussenkoms keer dat die hele volk uitgewis word – ’n oortreding van die eerste twee gebooie);
- vers 8: onsedelikheid (Num 25 – die verhaal van die Israelitiese mans wat met Moabitiese en Midianitiese vroues seks gehad het as deel van die offers aan Baäl-Peor en deur die Here gestraf is – ’n oortreding van die sewende gebod. Terloops, Moab was een van die kinders van Lot by sy dogters [Gen 19:37]);
- vers 9: uittarting van God (Num 21:4–9 – die verhaal van die ongeduld van die volk teenoor die Here toe hulle by die Horberg verbygetrek het, en Hom verkwalik het vir die Uittog, en waar die Here giftige slange gestuur het om hulle te straf, maar daar redding was deur die koperslang wat Moses gemaak het);
- vers 10: verset teen gesag/God (Num 16 – die opstand van Korag, Datan en Abiram teen Moses en Aäron dat hulle gesag as leiers, maar hulle eintlik teen die Here en sy keuses verset, en die Here wat hulle uitwis deur die aarde wat hulle insluk).
Paulus skets dus hier op ’n baie grafiese manier die versoekings van gulsigheid, onsedelikheid, afgodediens, ondankbaarheid (die uittarting van God deur nie met sy pad met jou tevrede te wees nie), en die verset teen gesag, want dit is eintlik ’n verset teen God self.
Maar daarmee saam skets hy die pad uit die versoekings – God sal nie toelaat dat ’n mens versoekings kry wat jy nie in staat is om te weerstaan nie, want Hy sal saam met die versoekings ook die uitkoms gee, sodat hulle dit kan weerstaan.
Hy sonder dan die versoeking uit om by afgodsdiens betrokke te raak, en hoewel hy steeds erken dat ‘n afgodsoffer of ’n afgod van geen betekenis is nie, het dit wel betekenis vir die persoon wat aan ’n afgod offer. In ’n sekere sin, sê hy, is dit net soos wat die gelowiges by die Nagmaalstafel ervaar – daar is gemeenskap met God. Dit beteken dat met ’n afgodsoffer dieselfde gebeur, maar die gemeenskap is nie met God nie, maar met bose geeste, d.i. met die duiwel self, en dit bring hulle gemeenskap met God in gedrang.
Dit gaan dus in elkeen van sy voorskrifte oor die beskerming van hierdie gemeenskap met God. Niks mag met God in jou lewe kompeteer nie, nie jou eie begeertes nie, nie jou gedrag nie, en ook nie jou (af)godsdiens nie.
In vers 23 keer hy terug na ’n verwante tema, die eet van afgodsvleis, iets waaroor hy al vroeër in hoofstuk 8 geskryf het, en herhaal dat ’n mens nie jou vryheid moet gebruik ten koste van ander se gewete nie. Dit gaan nie oor die vleis nie, maar oor die een saam met wie jy eet. En nog dieper as dit gaan dit oor die eer van God – ons moet nooit aanstoot gee aan mense nie, omdat dit hulle Godsbeeld in gedrang kan bring. Hoe ons optree sê vir hulle hoe God is!
Daarom soek Paulus nie sy eie belang nie, maar dié van ander, sodat hulle gered kan word, soos hy reeds in hoofstuk 9 vertel het. Omdat hy hierin die voorbeeld van Christus navolg, moet ons hom ook daarin navolg (11:1).
Lees ook ‘n interessante bydrae oor besluitneming.
[1] Die eerste teks van die Nuwe Testament wat in hoofstukke verdeel is, was die Latynse Vulgaat, die amptelike Bybel van die Roomse Katolieke Kerk in Latyn. Die hoofstuk-indeling is deur Stephen Langton, ‘n professor van Parys, gedoen in die 13de eeu. Die eerste indeling in verse is deur Robert Estienne, ‘n Franse uitgewer, gedoen in sy 1551 uitgawe van die Griekse Nuwe Testament. Dit het verwysings na die Bybel makliker as tevore gemaak. Die indeling word vandag in alle uitgawes en vertalings van die Bybel gevolg. Die Ou Testament se indeling in verse gaan terug na die Masorete se tekstekens, die Joodse groep wat verantwoordelik was om die Bybelteks oor te skryf en te bewaar. Die gebruik van hulle tekens vir vers-indelings word aan die werk van Isaac Nathan ben Kalonymus in 1440 toegeskryf.
View all posts in this series
- Leesplan - July 21, 2010
- Week 1: Inleiding
- Paulus
- Die ontstaan van die Nuwe Testament - July 22, 2010
- Die konteks waarbinne Paulus optree - July 23, 2010
- Handelinge in die Bybelse storie - July 26, 2010
- Die briewe aan die Tessalonisense - July 27, 2010
- Kies ‘n manier van Bybellees - July 28, 2010
- Week 2: Leesplan 1 Tessalonisense
- 1 Tessalonisense 1 – Geloof, liefde en hoop energeer - July 29, 2010
- 1 Tessalonisense 2:1-16 – Paulus koester en begelei - July 30, 2010
- 1 Tessalonisense 2:17-3:13 – Paulus skep moed omdat hulle nog glo - August 2, 2010
- Waar is die Bybelse plekke vandag?
- 1 Tessalonisense 4 – Nog meer aan die Here toegewy - August 3, 2010
- 1 Tessalonisense 5 – Onverwags maar nie onverwag nie - August 4, 2010
- Week 3: 2 Tessalonisense
- 2 Tessalonisense 1 – God is regverdig en betroubaar - August 5, 2010
- 2 Tessalonisense 2:1-12 – Wetteloosheid se mag sal gebreek word - August 6, 2010
- 2 Tessalonisense 2:13-17 – God sterk ons in die goeie - August 9, 2010
- 2 Tessalonisense 3:1-5- Gebed laat die Woord versprei - August 10, 2010
- 2 Tessalonisense 3:6-18 – Verdien jou eie brood - August 11, 2010
- Die briewe aan die Korintiërs
- 1 Korintiërs – inleiding
- Week 4: 1 Korintiërs 1-6
- 1 Korintiërs 1 – Partyskappe skend die Eenheid in Christus - August 12, 2010
- 1 Korintiërs 2 – God oortuig deur getuienisse - August 13, 2010
- 1 Korintiërs 3-4 – Soos ’n goeie boer, bouer en bestuurder - August 16, 2010
- 1 Korintiërs 5 – Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap - August 17, 2010
- 1 Korintiërs 6 – Vermy onreg en onsedelikheid - August 18, 2010
- Week 5: 1 Korintiërs 7-10
- 1 Korintiërs 7:1-24 – Dis beter om nie te trou nie - August 19, 2010
- 1 Korintiërs 7:25-40 – Die koninkryk verdien onverdeelde aandag - August 20, 2010
- 1 Korintiërs 8 – Jou vryheid mag nie ander laat sondig nie - August 23, 2010
- 1 Korintiërs 9 – Om met passie jou roeping na te jaag - August 24, 2010
- 1 Korintiërs 10 – Gemeenskap met God moet ten alle koste beskerm word - August 25, 2010
- Oor besluitneming
- Week 6: 1 Korintiërs 11-16
- 1 Korintiërs 11 – Oor mans en vroue in die erediens - August 26, 2010
- Ekskursus oor vroue in die NT
- 1 Korintiërs 12 – Verskeidenheid dien die eenheid - August 27, 2010
- 1 Korintiërs 13 – Die liefde is onmisbaar in alles - August 30, 2010
- 1 Korintiërs 14 – ’n Wye reeks gawes bou gelowiges op in die erediens - August 31, 2010
- 1 Korintiërs 15-16 – Ons groot hoop: die opstanding met ’n onverganklike liggaam - September 1, 2010
- Die brief van 2 Korintiërs
- Week 7: 2 Korintiërs 1-7
- 2 Korintiërs 1:1-2:11 – God gee moed in elke omstandigheid - September 2, 2010
- 2 Korintiërs 2:12-3:18 – Ons raak God se woorde aan die wêreld - September 3, 2010
- 2 Korintiërs 4:1-5:10 – Om te lewe soos Hy dit wil - September 6, 2010
- 2 Korintiërs 5:11-6:13 – Ambassadeurs van die versoening - September 7, 2010
- 2 Korintiërs 6:14-7:16 – Toegewy aan God alleen - September 8, 2010
- Week 8: 2 Korintiërs 8-13
- 2 Korintiërs 8-9 – Vrygewigheid is regverdig - September 9, 2010
- 2 Korintiërs 10 – Om te bou en nie af te breek nie - September 10, 2010
- 2 Korintiërs 11 – Goddelike bekommernisse en besorgdheid - September 13, 2010
- 2 Korintiërs 12 – As ek swak is, is ek sterk - September 14, 2010
- 2 Korintiërs 13 – Groei in geestelike volwassenheid - September 15, 2010
- 1 Korintiërs 1:1-9 – Dit is Hy wat julle enduit sal laat vas staan - December 3, 2017