2 Korintiërs 8-9 – Vrygewigheid is regverdig

Dit is ongelooflik om te sien op hoeveel wyses Paulus die gemeente van Korinte aanmoedig om vrygewig teenoor die gelowiges in Judea te wees met ‘n mildelike dankoffer.  Hy motiveer hulle op ten minste die volgende 13 wyses:

  1. Met die voorbeeld van die vrywillige vrygewigheid van die arm gemeentes in Masedonië (Filippi, Berea, Tessalonika), die noordelike provinsie van Griekeland (8:1-5);  Dit is ‘n teken van God se genade in hulle lewens!
  2. Met die feit dat die Korintiërs eintlik ‘n oorvloed in alles het wat hulle kan motiveer om vrygewig te wees (8:7);
  3. Met die voorbeeld van Christus wat arm geword het dat hulle ryk kon wees (8:9);
  4. Met die herinnering aan hulle vroeëre gawe en die feit dat hulle die eerste was wat gewillig was om iets te doen (8:10);
  5. Met die perspektief dat só ‘n gawe ewewig bring in die Christelike gemeenskap wat ook in die toekoms tot hulle eie voordeel kan wees (8:13-15);  Let op hoe hy in vers 15 aanhaal uit Eks 16:18 waar die Israeliete manna uit die hemel ontvang het en kon optel vir hulle behoeftes!
  6. Met die belofte dat die geld korrek hanteer sal word en by die regte plek sal uitkom: “ons is daarop gesteld om reg op te tree” (8:21)!
  7. Met die herinnering dat hulle voorbeeld eintlik die ander gemeentes aangespoor het om betrokke te raak. Paulus het met hulle gespog by die ander gemeentes deur te sê: “Agaje is al ‘n jaar reg om te help” (9:2); Let op dat in hoofstuk 8 hy die Korintiërs aanmoedig met die voorbeeld van die Masedoniërs; In hoofstuk 9 herinner hy weer die Korintiërs (Agaje) daaraan dat hy hulle voorbeeld gebruik het om die Masedoniërs aan te moedig!  Ek reken hy kry eintlik so ‘n Noord-Suid wedywering in mildadigheid hier aan die gang (Masedonië vs Agaje), iets wat ons in die rugbywêreld in Suid-Afrika goed sou verstaan!
  8. Met die waarskuwing dat hulle baie skaam sal word as hulle nie gereed is as die broers kom om die dankoffer in te samel nie (9:4);
  9. Met die aansporing dat dié wat karig saai, karig sal maai, waarmee hy hulle eintlik wys op die geestelike vrug van hulle dankbaarheid (9:6);
  10. Met die herinnering dat God in staat is om hulle oorvloedig te seën om ook verder te kan bydra vir elke goeie werk (9:8,10-11), wat ook die fisiese vrug van hulle mildadigheid uitspel.
  11. Met ‘n herinnering aan die boodskap van Psalm 112:9 dat sulke dankoffers ‘n teken van regverdigheid is: “(Die regverdige) deel uit en gee aan die armes; hy bly altyd vrygewig.” (9:9)  Lees ook die konteks van Psalm 112 dat dié aksie van regverdiges goddeloses op hulle tande laat kners omdat dit die aansien van regverdiges verhoog!  En onthou, daar word nie van die Here hier in die eerste plek gepraat nie, maar van sy regverdiges.
  12. Met die perspektief dat hierdie gawe tot groot dankbaarheid en eer aan God sal aanleiding gee (9:11-13);
  13. Met die interessante laaste motivering dat dié mense ook vir hulle sal bid en na hulle sal verlang (9:14)!  Hoe meer ons tot ‘n seën vir ander mense is, hoe meer seën sal ons self ontvang – wat ‘n bonus!

Die ding wat vir my uitstaan is die klem op regverdigheid en dankbaarheid wat eintlik regdeur die twee temas is wat die gawe beskryf.

  • Vrygewigheid is ‘n teken van “die regverdige” (Ps 112), bring ewewig in die gemeenskap van gelowiges, wat maar net ‘n ander manier is om regverdigheid te beskryf, en laat God regverdig optree teenoor almal.  Om die waarheid te sê, daardeur skenk en skep Hy leterlik oorvloed!
  • Net so kom die gawes voort uit dankbaarheid, kan letterlik as ‘n dankoffer beskryf word, en lei daartoe dat God gedank word.

Vrygewigheid word dus in die genadige en regverdige karakter van God begrond (8:1,9) sowel as in sy voorsiening (8:1,7; 9:8,10-11,15).  En dit word as die normale Christelike praktyk voorgehou, soos dit reeds sigbaar was in die eerste gemeente in Jerusalem (Hand 4:32).

Baie mense vra dikwels hoeveel ‘n mens moet gee.  Benewens die riglyn van die tiende wat eintlik regdeur die Bybel ‘n beginsel bly (hoewel die klem sterk skuif van ‘n wetlike voorskrif na een wat vrywillig gegee word) gee Paulus hier die volgende riglyne wat jou kan begelei: 1) ’n Mens moet jou beloftes gestand doen (8:10; 9:3); 2) jy moet gee soveel as wat jy kan (8:12, 9:6); 3) jy moet sélf, uit jou hart uit, besluit hoeveel (9:7);  en 4) dít wat jy gee, moet in verhouding wees met dit wat God vir jóú gegee het (9:10).

Die grootte van jou dankoffer berus dus op die genade en voorsiening van God, wat aan ons gee sodat ons weer vir ander mense kan gee.

Interessant, die broers wat saam met Titus gestuur word, hoewel ons nie hulle name ken nie, word in die oorspronklike Grieks “apostels” genoem (8:23).  Dit beteken hier egter moontlik meer dat hulle afgevaardigdes van die gemeente is, as dat hulle gestuurdes van God is, wat dan met die woord apostels weergegee sou kon word.  Hier sien ‘n mens ‘n verdere voorbeeld (vgl Hand 15) van die gebruik van die vroeë kerk om gevolmagtigde afgevaardigdes na ‘n ander gemeente of ‘n meerdere vergadering van die kerk te stuur vir die uitvoering van ‘n sekere opdrag – iets wat ons vandag gereeld doen in terme van die kontak met ander gemeentes, sowel as in verhouding met die ring en sinode in ons konteks.

View all posts in this series

dankoffers, Korintiërs, Tiendes, vrygewigheid


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: