Filippense 1:1-11 – Laat julle liefde in onderskeiding toeneem

Let op dat Timoteus ook as skrywer aangedui word in vers 1, en daarby saam – en op dieselfde vlak – met Paulus as dienaars (douloi – slawe) van Christus bekendgestel word.  Paulus kies dus om homself nie as apostel bekend te stel nie, maar as ’n dienaar, soos Timoteus.  Dit is betekenisvol.  Trouens dit is die eerste en enigste keer wat Paulus só skryf oor homself in samehang met iemand anders.  En dit word nie net gedoen omdat Timoteus vroeër in Filippi gewerk het, en nou weer op pad was daarheen nie (Fil 2:19), maar omdat Paulus daarmee iets van die selfontlediging illustreer wat in hoofstuk 2 aan die orde gestel sal word.

Vennote in die evangelie

Paulus begin die inhoud van sy brief met waardering en danksegging, veral omdat hulle vennote in die verkondiging van die evangelie geword het (vers 5).  Hy gebruik die Griekse woord koinonia hier in die betekenis van vennootskap (partnership) wat op ander plekke in die betekenis van gemeenskap (fellowship) gebruik word.  Dit sê vir hom dat die genade van God regtig sy werk gedoen het in die praktyk van hulle lewe (vers 7).  En daaroor is hy baie bly, trouens die hele brief word deur hierdie onderliggende toon van blydskap gekenmerk.

Na aan die hart

Let op hoe Paulus twee keer praat van sy hart.  Die eerste keer, in vers 5, praat hy daarvan dat hulle hom na aan die hart lê[1].  Die tweede keer, in vers 7, praat hy van die verlange na hulle wat van Christus Jesus se liefde in sy hart af kom.  Ons moet dit egter nie net as emosies verstaan nie, soos ons gewoonlik die woord hart gebruik nie.  Die hart is in Grieks (en in die NT) nie net die setel van emosies nie, maar ook van denke.  Net so is die woord wat hy gebruik vir dink (phronein), in vers 5, ’n woord wat juis ook gevoelens insluit.  Paulus het dus nie net ’n diep gevoel van liefde vir hulle nie (gebore uit die liefde van Christus Jesus wat in sy hart uitgestort is – Rom 5:5 verbind dit aan die werking van die Heilige Gees), maar dink ook die hele tyd aan dinge wat hulle belange op die beste manier kan dien, presies dit waaroor hy later in Fil 2:3-4 gaan skryf.

Liefdesonderskeiding

Dit hang saam met wat Paulus dan in vers 9-10 beskryf.  Ons praat gereeld van geloofsonderskeiding – om in geloof te onderskei wat God se wil is.  Hier praat Paulus van liefdesonderskeiding, waar hy die woord liefde (agape) koppel aan die woorde betekenisvolle kennis  (epignosis) en  alle onderskeiding  (pase aisthesis) in die oorspronklike Griekse teks, wat in die NAV met liefde, begrip en fyn aanvoeling onderskeidelik vertaal word.  Die woordjie alle (onderskeiding) beteken nie soseer volledige onderskeiding nie, maar ’n breë of diep begrip van wat op die spel is. Paulus bid dus dat hulle liefde só sal toeneem, spesifiek in betekenisvolle kennis (begrip/insig/praktiese kennis) en diep onderskeiding (ervaring/fyn aanvoeling/diep begrip), dat hulle die dinge kan onderskei waarop dit regtig aankom.  Hulle perspektief op wat God doen, moet dus – soos ’n dataprojektor se lens – verhelder en skerper gefokus word.  So kan hulle intelligente keuses maak deur te onderskei wat God wil, gebaseer op ‘n liefde wat groei in/deur kennis en onderskeiding!  En die doel daarvan is 1) persoonlik: om geheel en al in die regte verhouding met God te kom – om “the best people possible” te wees, en 2) publiek: sodat hulle manier van leef en liefhê tot God se lof en eer sal wees – om “the best choices possible” te maak.

Vertroue en verantwoordelikheid

Paulus sit dus twee konsepte reg aan die begin van die brief op die agenda: vertroue en verantwoordelikheid.  Hy is oortuig daarvan dat God die goeie werk in hulle begin het, en dat Hy dit end-uit sal voer en voleindig op die dag van Christus (Fil 1:6).  Sy vertrekpunt, vertroue en verwagting is dus dat die gelowiges met God se voortdurende betrokkenheid en genade (Fil 1:7) staande sal kan bly.  Maar, dit sal ook nie gebeur sonder dat elke gelowige hulle verantwoordelikheid nakom nie.  Daarom die klem hier op onderskeidende liefde, wat deur die brief aangevul sal word met ’n oproep tot persoonlike, en publieke gehoorsaamheid wat in ooreenstemming is met die evangelie van Christus Jesus is.  Dit sal verseker dat hulle op die dag van Christus onberispelik en sonder blaam sal wees, en deur Jesus Christus geheel en al in die regte verhouding met God. En sy gebed is dat hierdie proses tot God se lof en eer sal bydra, die einddoel en mikpunt van alles (Fil 1:10-11).

 


[1] Dit sou ook vertaal kon word: “dat ek na aan julle hart lê” wat die klem op hulle gevoel vir hom sou plaas.

Filippense


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

  • In my verdere nadenke hieroor, besef ek dat hierdie twee konsepte van vertroue en verantwoordelikheid, natuurlik die sentrale boodskap van die Psalms ook is. Dit is wat ‘n lewe in integriteit beteken: om volledig verantwoordelik te lewe in ‘n vreeslose vertroue op God se aktiewe betrokkenheid in die lewe. En ek praat doelbewus van DIE lewe en nie MY of JOU lewe nie.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: