1 Korintiërs 7:1-24 – Dis beter om nie te trou nie
Paulus begin in hoofstuk 7 reageer op sake wat in ’n brief van die Korintiërs aan hom gerig is. In vers 1-24 hanteer hy die vraag oor die huwelik.
Let op dat hy aansluit by ’n gedagterigting wat blykbaar by die Korintiërs ontstaan het, dat dit goed is vir ’n man om sonder ’n vrou te lewe, dit wil sê sonder seks. Sommige het blykbaar selfs besluit het dat die huwelik nie strook met hulle opvatting van Christenwees nie en wou sonder seks in die huwelik lewe of dan skei om beter die Here te kan dien.
Daarom praat Paulus eers oor getroudes, en beveel aan dat hulle steeds in die huwelik sal bly, en steeds seksueel met mekaar sal verkeer in die huwelik, veral weens die gevaar van onsedelikheid. Ons liggame behoort wel aan God (6:19), maar in die huwelik ook aan ons huweliksmaat. Daarom moet huweliksmaats mekaar nie seksueel weier nie, behalwe om ’n (kort) tyd lank te bid. Die duiwel moet nie kans kry om hulle te verlei weens hulle gebrek aan selfbeheersing nie, veral nie in ’n stad wat so berug vir sy prostitusie was nie.
Dan spits hy hom toe op die wat voorheen getroud was, die wewenaars[1] en weduwees en werk basies met twee beginsels:
- Paulus dink dit is beter om nie te trou nie (vers 1,8), maar relativeer dit deur homself as voorbeeld te gebruik, en te erken, soos hy self sê in vers 7, dit hang van ons gawes af, dinge wat die Here vir ons gee (vgl Matt 19:11 “Wie dit kan doen, laat hom dit doen”!);
- As jy jouself nie kan beheer nie, dink Paulus dit is dan beter om te trou as om deur hartstog verteer te word (vers 9). Daarom dat ook huweliksmaats mekaar in ag moet neem (vers 2-5), sodat ’n gebrek aan seks nie hulle blootstel aan verleiding deur die duiwel nie.
Die perspektief wat egter bo alles van God af kom, is, dat as jy getroud is, jy nie mag skei nie. Daarmee erken hy wat regdeur die Bybel as beginsel aangegee is, dat God nie wil hê huweliksmaats moet die band tussen hulle verbreek nie (vgl Jesus in Matt 19 bv. – dit sluit uiteraard dinge soos geweld en mishandeling uit). Let ook op dat hy werk met die beginsel van een man en een vrou (“elke man sy eie vrou en elke vrou haar eie man”), dws die monogame huwelik.
Dan spreek hy die probleem van ’n ongelowige maat in die huweliksverhouding aan, en sê basies dat die ongelowige, nie die gelowige nie!, die keuse het om te bly of te ry. Daar is ’n voordeel vir die ongelowige om te bly, maar die gelowige huweliksmaat is nie gebind aan die huwelik, as die ongelowige huweliksmaat wil skei nie. Daar is ook ’n voordeel vir die kinders, deurdat hulle in die sfeer van die Christelike gemeenskap groot word, en daardeur beïnvloed kan word. Anders sou hulle in ’n heidense omgewing grootword, wat eweneens ’n groot invloed op hulle sal hê.
[1] Paulus gebruik in vers 8 ‘n ander woord (agamos) vir “ongetroudes” as in vers 25 (parthenos – maagd), wat verskeie geleerdes laat vermoed dat hy eintlik in vers 8 van wewenaars praat, wat in die konteks beter pas in die lig van die gelykluidende raad wat hy vir die weduwees gee.
View all posts in this series
- Leesplan - July 21, 2010
- Week 1: Inleiding
- Paulus
- Die ontstaan van die Nuwe Testament - July 22, 2010
- Die konteks waarbinne Paulus optree - July 23, 2010
- Handelinge in die Bybelse storie - July 26, 2010
- Die briewe aan die Tessalonisense - July 27, 2010
- Kies ‘n manier van Bybellees - July 28, 2010
- Week 2: Leesplan 1 Tessalonisense
- 1 Tessalonisense 1 – Geloof, liefde en hoop energeer - July 29, 2010
- 1 Tessalonisense 2:1-16 – Paulus koester en begelei - July 30, 2010
- 1 Tessalonisense 2:17-3:13 – Paulus skep moed omdat hulle nog glo - August 2, 2010
- Waar is die Bybelse plekke vandag?
- 1 Tessalonisense 4 – Nog meer aan die Here toegewy - August 3, 2010
- 1 Tessalonisense 5 – Onverwags maar nie onverwag nie - August 4, 2010
- Week 3: 2 Tessalonisense
- 2 Tessalonisense 1 – God is regverdig en betroubaar - August 5, 2010
- 2 Tessalonisense 2:1-12 – Wetteloosheid se mag sal gebreek word - August 6, 2010
- 2 Tessalonisense 2:13-17 – God sterk ons in die goeie - August 9, 2010
- 2 Tessalonisense 3:1-5- Gebed laat die Woord versprei - August 10, 2010
- 2 Tessalonisense 3:6-18 – Verdien jou eie brood - August 11, 2010
- Die briewe aan die Korintiërs
- 1 Korintiërs – inleiding
- Week 4: 1 Korintiërs 1-6
- 1 Korintiërs 1 – Partyskappe skend die Eenheid in Christus - August 12, 2010
- 1 Korintiërs 2 – God oortuig deur getuienisse - August 13, 2010
- 1 Korintiërs 3-4 – Soos ’n goeie boer, bouer en bestuurder - August 16, 2010
- 1 Korintiërs 5 – Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap - August 17, 2010
- 1 Korintiërs 6 – Vermy onreg en onsedelikheid - August 18, 2010
- Week 5: 1 Korintiërs 7-10
- 1 Korintiërs 7:1-24 – Dis beter om nie te trou nie - August 19, 2010
- 1 Korintiërs 7:25-40 – Die koninkryk verdien onverdeelde aandag - August 20, 2010
- 1 Korintiërs 8 – Jou vryheid mag nie ander laat sondig nie - August 23, 2010
- 1 Korintiërs 9 – Om met passie jou roeping na te jaag - August 24, 2010
- 1 Korintiërs 10 – Gemeenskap met God moet ten alle koste beskerm word - August 25, 2010
- Oor besluitneming
- Week 6: 1 Korintiërs 11-16
- 1 Korintiërs 11 – Oor mans en vroue in die erediens - August 26, 2010
- Ekskursus oor vroue in die NT
- 1 Korintiërs 12 – Verskeidenheid dien die eenheid - August 27, 2010
- 1 Korintiërs 13 – Die liefde is onmisbaar in alles - August 30, 2010
- 1 Korintiërs 14 – ’n Wye reeks gawes bou gelowiges op in die erediens - August 31, 2010
- 1 Korintiërs 15-16 – Ons groot hoop: die opstanding met ’n onverganklike liggaam - September 1, 2010
- Die brief van 2 Korintiërs
- Week 7: 2 Korintiërs 1-7
- 2 Korintiërs 1:1-2:11 – God gee moed in elke omstandigheid - September 2, 2010
- 2 Korintiërs 2:12-3:18 – Ons raak God se woorde aan die wêreld - September 3, 2010
- 2 Korintiërs 4:1-5:10 – Om te lewe soos Hy dit wil - September 6, 2010
- 2 Korintiërs 5:11-6:13 – Ambassadeurs van die versoening - September 7, 2010
- 2 Korintiërs 6:14-7:16 – Toegewy aan God alleen - September 8, 2010
- Week 8: 2 Korintiërs 8-13
- 2 Korintiërs 8-9 – Vrygewigheid is regverdig - September 9, 2010
- 2 Korintiërs 10 – Om te bou en nie af te breek nie - September 10, 2010
- 2 Korintiërs 11 – Goddelike bekommernisse en besorgdheid - September 13, 2010
- 2 Korintiërs 12 – As ek swak is, is ek sterk - September 14, 2010
- 2 Korintiërs 13 – Groei in geestelike volwassenheid - September 15, 2010
- 1 Korintiërs 1:1-9 – Dit is Hy wat julle enduit sal laat vas staan - December 3, 2017
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
getroudes, huwelik, Korintiërs, ongetroudes, seks
Snowy Swart
Dankie Chris, Goeie perspektief wat jy oordra dat Paulus se denke oor die huwelik maar uit op eie persepsie oor die huwelik gegrond is – op grond van wat hy seker in sy lewenswerklikheid moes waarneem. Dit is goed om dit ‘n slag te hoor omdat ons sito-sito glo dat alles geskrewe in die Woord net so van God klinkklaar kom. Inderdaad moet daar ook na ander gedeeltes in die Skrif gekyk word as dit oor die huwelik en veral ook oor seksualiteit binne en buite die huwelik gaan.
Inderdaad klink Paulus maar bietjie negatief oor die huwelik!
Baie dankie. Groete.
Chris van Wyk
Ek dink Paulus dink ook uit die hoek van sy eie ongetroude status en die voordeel wat dit vir die koninkryk bring – hy is eintlik aan niks gebonde nie en kan doen wat die Here van hom vra. En laat ons eerlik wees, dit is ‘n voordeel. Dit is nou benewens die feit dat die Korintiërs regtig vreemde idees oor die huwelik gehad het, dat jy in die huwelik kan bly sonder om met mekaar saam te leef, of verloof kan wees sonder om te trou.
Ek is egter verras met ‘n hele paar (meer populêre) kommentare wat Paulus met handskoene hieroor aanvat, en steeds die gesag van sy woorde op dieselfde vlak stel as dié wat duidelik in dieselfde hoofstuk van God af kom – ten minste soos Paulus dit aan ons oordra.
En dan is dit net so dat ‘n mens die huwelik uit ‘n waarderende hoek ook kan benader, soos bv. Prediker 4 wat sê twee vaar beter as een, en die waarde daarvan vir die koninkryk kan uitspel. Paulus moes beslis ook meer aandag gegee het aan die huwelik van Akwila en Priscilla, wat aan hom ‘n stabiele omgewing gegee het vanwaar hy kon werk in Korinte (Hand 18:2). Die kerk in Efese kon ook in hulle huis bymekaar kom (1 Kor 16:19) ook in hulle huis in Rome (Rom 16:3-5) waarsonder die vroeë kerk regtig moeilik ‘n gemeenskap sou kon vorm. Telkens word die belang van huisgesinne vir die koninkryk tog ook deur Paulus beklemtoon (Chloë se mense [1 Kor 1:11]; Stefanus en sy huisgesin [1 Kor 16:15], Filippus en sy 4 profete-dogters [nogal!] … maar hulle was nou weer ongetroud! [Hand 21:9]; Onesiforus en sy huisgesin [2 Tim 4:19] ens.), dat dit jammer is dat hy nie met dit as perspektief ‘n bietjie hoër opgegee het oor die huwelik nie.
Maar, ek dink hy tel ook ‘n lyn op wat al deur Jesus aangeroer is, en dit is dat ‘n mens versigtig moet wees dat enigiets in die pad van jou toewyding aan God kom (Mark 3:31-35; Luk 14:26!) – en daarom kan/moet ‘n mens luister na Paulus, hoewel ek verseker meer uit ‘n waarderende hoek oor die waarde van die huwelik my toewyding aan die Here sal beoefen.
Vince Aslett
Ek het nou die dag gehoor hoedat iemand ernstig wonder of Paulus nie Gay was nie(Die persoon het 2 kinders wat gay is), dan heeltemal teenoorgestelde het ek in een van die Apokriewe boeke / of dalk n kommentaar gelees dat hy getroud moes gewees het omdat hy n Fariseer was en sekerlik op hierdie stadium n wewenaar was. Dankie vir die insig Chris, dis werklik lekker om deel te wees van jou Bybelskool 🙂
Vince Aslett
Chris net n vraag; Volgens v 14, “aneemlik”, beteken dit dat die ongelowige man gered word deur sy verbintenis met die gelowige vrou, en dat die kinders uit die huwelik outomaties gred word (volgens Paulus)? Of beteken dit slegs dat God dan nie teen die huwelik gekant is nie en dat die vrou dalk n rol kan speel in die bekering van haar man? Die kinder issue is vir my vaag?
Chris van Wyk
Die woordjie aanneemlik vertaal die oorspronklike woord geheilig of afgesonder (hagiazoo), wat beter verduidelik wat Paulus bedoel. Die woord heiliging beteken dat die man/vrou en ook hulle kinders in die invloedsfeer van die evangelie en die genade van God kom. Maar dit beteken nie dat hulle daardeur gered word nie. Redding kom net deur geloof in God. Heiliging kan dus tot redding lei, maar is nie vanselfsprekend nie. Juis omdat ‘n mens nie seker kan wees dat hierdie heiliging tot redding gaan lei nie, moet ‘n gelowige nie ‘n ongelowige keer wat wil skei nie (vers 16). En daaruit sien ‘n mens ook die verskil tussen die woorde heiliging en redding.
Christine
Hi Chris,
Dit lyk nie of Paulus die huwelik hoog aanslaan nie , en tog, na God Adam geskape het, het hy gesien dat “dit nie goed is dat die mens alleen is nie” en het Hy Eva vir hom as maat gemaak. Adam se opdrag was om die diere name te gee Eva het hy na Adam toe gebring . Lyk my Adam se taak was op die feitlike gerig, Eva sin op die menslike – so vul hulle mekaar aan en verrig hulle take saam tot eer van God. elk met sy haar besondere bydrae.
Wat die huwelik en saamwoon betref: Die wese van die huwelik is trou en liefde – die huwelikbevestiging in die kerk of voor ‘n magistraat maak die huwelk nie dus nie “huwelik” nie – as twee mense in trou en liefde saambly is dit mos in wese dus ‘n huwelik. ‘n Huwelik wat in die kerk of magistraatskantoor gesluit is, kan dus in wese geen huwelik wees as een van die twee ‘n verhouding met iemand anders het, of as die vrou mishandel word nie.
Is die gebruik van in die kerk trou nie ‘n gebruik wat met die tyd ontwikkel het nie?Wat is die agtergrond van die gebruik?Wat het dit die vereiste gemaak vir twee mense voor hulle mag saamwoon en saamslaap.?Mense of is dit ‘n opdrag van die Here?
Christine.
Chris van Wyk
Interessante perspektief!
Van die begin af was die gemeenskap betrokke by twee mense wat vir mekaar lief raak, al was dit net die twee families wat betrokke was (Gen 2). Met tyd is die liefdesband nie net tussen families nie, maar ook in die publiek gesluit, omdat dit ‘n belangrike deel van die gemeenskapslewe uitgemaak het (Rut). Daarom het die “kerk” en later die staat betrokke geraak op die manier wat ons dit vandag ken. Die huwelik as kerklike seremonie en/of geregtelike ooreenkoms is dus daar enersyds ter wille van publieke erkenning van twee mense se liefdesband, en andersyds ter beskerming van beide die twee mense as die gemeenskap. Maar die basis daarvan lê in die liefdesband tussen twee mense.
Groete
Chris
Christine
Hi, so, die liefdesband maak van die huwelik ‘n huwelik nie die sermonie in die kerk of magistraatskantoor nie? Kan die saamwoon van twee wat mekaar liefhet en nie “gekerk’ is nie, dus nie ook as ‘n huwelik beskou word? Ja, ek is seker nie die enigste een wat met die vrae worstel nie.
Chris van Wyk
Die probleem met saamwoon is dat dit nie eintlik doelbewus publieke goedkeuring probeer verwerf nie. Dit bly ‘n privaat en per definisie minder permanente verbintenis. Dit maak dat die kerk dit nie maklik as ‘n huwelik sal kan erken nie. In ‘n sekere sin is die woord huwelik dus eintlik ‘n baie spesifieke kerklik-publieke term wat onderskei moet en kan word van iets soos saam-woon. Maar ons sal nog moet bly praat hieroor – dit is ‘n belangrike gesprek!
Giselle Piscaer
Ek het vir 10 jaar saam met my eks man gewoon, en was daarna vir 5 jaar met hom getroud, en is net oor ‘n jaar terug van hom geskei. En my opinie van die huwelik, is dat dit ‘n wonderlike instelling is wat nie lig geag moet word nie. As ek kon terug gaan, het ek dit anders benader. Gewag vir die lewensmaat wat God vir my bestem het, met dieselfde waardes as ek. Die kat goed uit die boom bekyk, en nie summier in iets ingespring het, omdat ek eensaam was nie. Ek het dan ook getrou vir die verkeerde redes, maar is geskei vir die regte redes. Iets wat vermy kon gewees het, as ek van die begin af die situasie korrek benader het. Ek dink nie ek sal weer trou nie, nog minder saam met iemand bly. Dit waardeur ek is in die 15 jaar van my lewe saam met my eks, het my vir die res van my lewe afgesit van die huwelik, maar dit is my persoonlike ervaring. Ek is nog steeds ‘n voorstander van die huwelik, en sal vir enige jong meisie vra, om haar liggaam, haar siel, haar intellek te bewaar, en te wag vir die regte lewensmaat om dit mee te deel. Miskien het Paulus nes ek ‘n negatiewe ervaring gehad, en omdat hy mens is, en nie volmaak nie, was hy seker maar ook geregtig op ‘n porsie pessimisme. Ons moet net versigtig wees om nie toe te laat dat ons pessimisme ander mense se optimisme besmet nie. God het Adam en Eva geskep, en ek glo dat twee mense die wa beter deur ‘n drif kan trek as een. Dat man en vrou mekaar aanvul, dat God wanneer Hy na ons kyk, net die beste vir ons wil hê, en dat Hy ons geskep het om nie alleen deur die lewe te gaan nie. Dit bly egter ons keuse hoe ons daardie eensaamheid aanpak, in ‘n huwelik, in ‘n vriendekring, of in aanbidding van God, en nie een van hierdie drie hoef enigsins die ander twee uit of in te sluit nie. Daar was ‘n doel met my ervarings, dit het van my ‘n dieper mens gemaak, maar ek besef ook dat God vergewensgesind is, en dat as ek na Hom geluister het amper 17 jaar terug, my lewe ‘n ander rigting sou ingegaan het, en ek dalk minder of dalk meer seer sou gehad het. Ek weier dat “Wat as” my lewe dikteer. Ek glo vas dat God ‘n doel met my lewe het, en dat ek opreg kan sê, die huwelik is meer as ‘n stukkie papier wat sê dat jy getroud is, reg gedoen, is dit God se geskenk aan ons.
Chris van Wyk
Ek is beïndruk met jou optimisme en hoë waardering vir die huwelik, al het jy ‘n negatiewe ervaring gehad. Dit is darem wonderlik hoe só ‘n lewenshouding ‘n mens help om ‘n dieper mens te wees.
Mathilda
Tov Paulus … wat uit die prentjie gelaat word is dat Paulus geglo het dat Jesus (nes ander dissiples) in sy tyd, binnekort gaan terugkom … wat sou beteken het die einde van tyd soos ons as mens dit ken. Baie van Paulus se skrywes was gerig met die Apokaliptiese idee voorop. Daaroor het hy geglo dit sou sinneloos wees om in huwelik te tree as daar so min tyd hier op aarde oor is om dit uit te leef. Ek glo daaroor was Paulus ‘n askeet en daaroor het hy besluit om sy laaste dae/maande net aan die Here te wy. Sy vlees/begeertes het nie gepla nie… omdat hy op die Here se koms gewag het. Hy was gefokus op die Here se onmiddelike koms- parousie. Daaroor sy 1 Kor 7 teks/brief
Giselle Piscaer
Ek weet die saamwoon gesprek is ‘n baie sensitiewe onderwerp, maar wil graag my stuiwer in die armbeurs hieroor ingooi. Die redes waarom ek en my eks saamgewoon het, was ‘n sameloop van omstandighede, wat as iemand my daaroor wil uitvra, ek nie skaam is om te deel nie, maar vir hierdie doeleindes , is dit ‘n relaas te lank om te herhaal. Saambly op ‘n intellektuele en emosionele vlak kan meer skade berokken as wat dit oënskynlik blyk te wees. En nee om saam te bly is nie so goed as om getroud te wees nie, en ja jy het ‘n papiertjie nodig wat sê dat jy getroud is, want daardie papiertjie spel commitment uit, dit sê, dat jou lewensmaat, jou waarde so hoog geag het, dat hy of sy ‘n kontrak met jou wou gesluit het, nie vir net ‘n week of 10 jaar nie, maar vir ‘n leeftyd. Soos met enige kontrak, moet ‘n mense die fynskrif lees, for better for worse, in sickness and in health, en bereid wees om die 7 sakke sout saam op te eet. Saamwoon sê, huurkoop, toetsbestuur die model, en as jy nie hou van wat jy ervaar nie, gee terug of loop weg. Trou is nie perde koop nie, daarom is dit ‘n kontrak wat goed deurdink moet word, voordat dit aangegaan word. Die huwelik nooi God binne, die verbintenis is meer innig, en dit laat jou spesiaal voel, want iemand het jou so liefgehad om met jou ‘n lewenslange kontrak aan te gaan. Om saam met bly, gaan die vraag onbewustelik, selfs dalk bewustelik by jou opkom, wat is jou waarde vir daardie ander persoon, dat hy of sy, jou nie genoeg respekteer of waardeer om daardie commitment te maak nie. Dit is makliker om saamwoon te ontbondel as ‘n huwelik, daarom sal ‘n mens binne ‘n huwelik twee keer dink voordat jy skei, twee keer so hard werk daaraan om dit te laat werk, as binne ‘n saamwoon situasie. Die vrae wat opkom binne ‘n saamwoon situasie, veral as kinders die prentjie betree, veroorsaak introspeksie wat seermaak, en dikwels lei daartoe dat daar ‘n kloof ontstaan, wat uiteindelik die verhouding kelder. En dan begin die bytjie blommetjie siklus van saamwoon verhoudings wat nooit so innig of vervullend is as die huwelik nie. Ek dink dat hoewel uit ‘n Christelike oogpunt die huwelik soveel meer sin maak, maak dit ook uit ‘n sielkundige oogpunt baie meer sin.