Skip to main content

Aan die Galasiërs

Paulus skryf hierdie brief aan die “gemeentes in Galasië” (Gal. 1:2) wat aandui dat dit as ’n omsendbrief bedoel was.  Hy skryf dit saam met/namens al die gelowiges by hom, óf van Korinte óf van Efese af.  ’n Sekretaris het hom heel moontlik weer bygestaan (Gal. 6:11).

Watter Galasië?

Dit is onseker watter Galasië bedoel word, omdat daar twee landstreke was wat Galasië genoem is:

  1. Die suidelike etnies-geografiese gebied Galasië in sentraal Klein-Asië (Turkye) waar immigrante van Gallië (Frankryk) hulle gevestig het in die 3de eeu v.C. en wat die gebiede van Pisidië (Hand. 13:14; 14:24), Likaonië (Hand. 14:6 – twee van die stede hier word ook deur Lukas genoem: Listra en Derbe) en Frigië (Hand. 2:10 – van die Joodse gelowiges van hier af was op Pinksterdag in Jerusalem; Hand. 16:6; 18:23) ingesluit het (die sogenaamde Suid-Galasië-teorie).
  2. Die Romeinse provinsie van Galasië wat ook die noordelike dele van Klein-Asië ingesluit het (die sogenaamde Noord-Galasië-teorie).

Indien Paulus aan gemeentes in die etnies-geografiese gebied geskryf het – Suid-Galasië-teorie –  ’n streek wat Paulus op sy eerste en tweede sendingreis besoek het, het Paulus die brief aan die Galasiërs waarskynlik uit Korinte geskryf in dieselfde jaar as die briewe aan Tessalonika, ongeveer in die jaar 50 n.C.  Dan verwys hy ook in Galasiërs 4:13 na sy eerste besoek aan hulle, soos Lukas dit in Handelinge 13-14 beskrywe het.  Sy tweede besoek was dan op sy tweede sendingreis, soos Handelinge 16:6 dit beskrywe.

Indien die brief aan die breër Romeinse provinsie geskryf is – Noord-Galasië-teorie – ’n streek wat Paulus op sy tweede sendingreis besoek het (Hand. 16:6), het Paulus die brief aan die Galasiërs waarskynlik uit Efese geskryf in dieselfde jaar as die briewe aan Rome, ongeveer in die jaar 53 n.C.  Dan verwys Galasiërs 4:13 waarskynlik na sy eerste besoek, soos Lukas in Handelinge 16:6 dit beskryf, en was sy tweede besoek aan hulle op sy derde sendingreis, soos Handelinge 18:23 dit beskryf.

As ’n mens die inhoud van die brief vergelyk met wat met sy besoek aan die etnies-geografiese gebied Galasië gebeur het, lyk die eerste moontlikheid meer waarskynlik – Suid-Galasië-teorie – hoewel ’n mens moet erken dat daar te min oor die ander besoeke (Hand. 16 en 18) bekend is, om ’n besliste keuse te maak.

Ooreenkomste met Handelinge 13

Die brief pas baie goed in by die situasie wat Lukas vir ons in Handelinge 13 beskrywe.  Dit sal baie help om Handelinge 13:13-51 as agtergrond vir ‘n studie van Galasiërs te gebruik.

In Antiochië in Pisidië het Paulus op sy eerste sendingreis ’n belangrike toespraak in die sinagoge gehou, waar hy baie spesifiek nie net aansluit by die Joodse geskiedenis van Moses tot Dawid nie, maar die gelowiges die nakomelinge van Abraham noem (Hand. 13:26 – vgl. Gal. 3:29).  Baie van die Jode en ook heidene wat die Joodse geloof aangeneem het, het Paulus se boodskap aanvaar.  Hoewel die Jode die volgende sabbat begin het om die stad teen Paulus op te sweep (byna die hele stad was daar – Hand. 13:44!), het ook baie heidene die woord van die Here aanvaar en gelowig geword.  Dit het die evangelie soos ’n veldbrand vanuit hierdie stad dwarsdeur die hele streek laat versprei.

En let op hoe Lukas die gelowiges van Antiochië (onthou daar was ook ’n ander Antiochië in Sirië, vanwaar Paulus telkens sy sendingreise onderneem het – vandag Antakya in Turkye) beskryf as “vol blydskap en vol van die Heilige Gees” (Hand. 13:52), die ander groot tema waarop Paulus in die brief aan die Galasiërs sal uitbrei (Gal. 3-6).


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Galasiërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar