Skip to main content

Kolossense 2:6-23 – Geloof en gedrag word op Jesus as Here gebou

Hier kom ons nou by die hart van die boodskap van hierdie brief.  Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk.  Dit is dus nie soseer die mense self – bv dwaalleraars – wat aangevat word nie.  Hy vat eerder hulle idees en praktyke aan.

Wandel in die Here – vers 6

Let op hoe Paulus hier in vers terugverwys na die loflied op Jesus as Here – van beide die Skepping en Herskepping (1:15-20) – en dit dan gebruik as basis vir sy oproep aan hulle om hulle hele lewe te fokus op Christus Jesus. Aangesien hulle Hom as Here aangeneem het (nog beter gestel: Hom as Here ontvang het, soos dit in die Grieks staan), is dit net logies dat hulle verbonde aan Hom sal lewe.

Die vertaling in verbondenheid met Hom lewe, beteken letterlik wandel in Hom.  Die Griekse woord wandel (peripateo) beteken in wese dat ander mense in jou lewenswandel – die manier wat jy lewe,  jou lewenstyl – sal sien dat jy die die Here ontvang het en verbonde aan Hom lewe.  Dit moet dus sigbaar wees vir ander dat jou lewe om die Here draai.  Jou geloof en jou gedrag moet dieselfde wees.

Paulus se verduideliking  van hierdie lewensverbondenheid laat my dink aan die metafoor van ‘n boom: gewortel en opgebou in Hom, bevestig in die geloof, en vervul tot oorlopens toe met dankbaarheid.   Dit het te make met die onsigbare en persoonlike dele van ons geestelike lewe (wortels en voeding), sowel as die sigbare en publieke dele daarvan (takke en vrugte).   In alles, waar jy alleen is, en waar jy in ander se geselskap is, moet dit duidelik wees dat jou lewe om die Here draai, dat Hy die eerste plek in jou lewe inneem, presies soos Hy die eerste plek in die heelal inneem (1:15-20).

Vermy leë filosofieë en ‘n selfgemaakte godsdiens – vers 7-15

Dit beteken onder andere dat hulle nie aandag moet gee aan dinge wat Jesus se Heerskap in hulle lewens kan verdring ov vervang nie. Dit is dinge soos:

  • Leë filosofieë wat eintlik op ‘n magiese verstaan van die wêreld berus. Dit sluit teorieë (letterlik filosofieë) en argumente (leë leringe) in, waarmee Paulus nie die filosowe as sodanig aanvat nie, maar dié in Kolosse wat inhoudsloos was en slegs op menslike tradisies en basiese okkultiese of astrologiese beginsels berus het (NAV se “wettiese godsdienstige reëls” vertaal die Griekse frase: ta stoicheia tou kosmos, wat eerder beteken: “die magte van die heelal” – O’Brien), en nie op Christus nie (2:8,20).  Dit moet vermy word deur te fokus op Jesus, as Here van alles, wat alle ander verduidelikings van hoe die wêreld werk, vervang.

Vermy allerlei vreemde voorskrifte en visioene – vers 16-23

Dieselfde geld die Joodse klem op die besnydenis. Die leringe daaroor moet vermy word deur te fokus op die doop wat ‘n vereniging met Jesus Christus is, en die geskenk van ‘n nuwe lewe inhou. Dieselfde geld ook sekere Joodse voorskrifte– dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie, feeste wat gevier moet word (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees) en die hou van die sabbatdag.  Daarby was daar ook sprake van ‘n aanbidding van engele, en asketiese gebruike (streng beheersing van die liggaam – 2:23).

‘n Swetterjoel vreemde invloede dus wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en hulle in bygeloof te laat verval.

In Christus is hulle immers dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (2:20).  En hierdie selfgemaakte leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie (2:23).  Selfs nie eers die besnydenis is meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (3:10).  Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met selfgemaakte leerstellings, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word.

Dis waarom niemand jou kan voorskrywe oor allerlei nie, want jy het die hoogste verbintenis wat daar is en wandel deur hierdie lewe met die Here van die heelal aan jou sy.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kolossense


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda