Kolossense 2:6-23 – Geloof en gedrag word op Jesus as Here gebou

Hier kom ons nou by die hart van die boodskap van hierdie brief.  Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk.  Dit is dus nie soseer die mense self – bv dwaalleraars – wat aangevat word nie.  Hy vat eerder hulle idees en praktyke aan.

Wandel in die Here – vers 6

Let op hoe Paulus hier in vers terugverwys na die loflied op Jesus as Here – van beide die Skepping en Herskepping (1:15-20) – en dit dan gebruik as basis vir sy oproep aan hulle om hulle hele lewe te fokus op Christus Jesus. Aangesien hulle Hom as Here aangeneem het (nog beter gestel: Hom as Here ontvang het, soos dit in die Grieks staan), is dit net logies dat hulle verbonde aan Hom sal lewe.

Die vertaling in verbondenheid met Hom lewe, beteken letterlik wandel in Hom.  Die Griekse woord wandel (peripateo) beteken in wese dat ander mense in jou lewenswandel – die manier wat jy lewe,  jou lewenstyl – sal sien dat jy die die Here ontvang het en verbonde aan Hom lewe.  Dit moet dus sigbaar wees vir ander dat jou lewe om die Here draai.  Jou geloof en jou gedrag moet dieselfde wees.

Paulus se verduideliking  van hierdie lewensverbondenheid laat my dink aan die metafoor van ‘n boom: gewortel en opgebou in Hom, bevestig in die geloof, en vervul tot oorlopens toe met dankbaarheid.   Dit het te make met die onsigbare en persoonlike dele van ons geestelike lewe (wortels en voeding), sowel as die sigbare en publieke dele daarvan (takke en vrugte).   In alles, waar jy alleen is, en waar jy in ander se geselskap is, moet dit duidelik wees dat jou lewe om die Here draai, dat Hy die eerste plek in jou lewe inneem, presies soos Hy die eerste plek in die heelal inneem (1:15-20).

Vermy leë filosofieë en ‘n selfgemaakte godsdiens – vers 7-15

Dit beteken onder andere dat hulle nie aandag moet gee aan dinge wat Jesus se Heerskap in hulle lewens kan verdring ov vervang nie. Dit is dinge soos:

  • Leë filosofieë wat eintlik op ‘n magiese verstaan van die wêreld berus. Dit sluit teorieë (letterlik filosofieë) en argumente (leë leringe) in, waarmee Paulus nie die filosowe as sodanig aanvat nie, maar dié in Kolosse wat inhoudsloos was en slegs op menslike tradisies en basiese okkultiese of astrologiese beginsels berus het (NAV se “wettiese godsdienstige reëls” vertaal die Griekse frase: ta stoicheia tou kosmos, wat eerder beteken: “die magte van die heelal” – O’Brien), en nie op Christus nie (2:8,20).  Dit moet vermy word deur te fokus op Jesus, as Here van alles, wat alle ander verduidelikings van hoe die wêreld werk, vervang.

Vermy allerlei vreemde voorskrifte en visioene – vers 16-23

Dieselfde geld die Joodse klem op die besnydenis. Die leringe daaroor moet vermy word deur te fokus op die doop wat ‘n vereniging met Jesus Christus is, en die geskenk van ‘n nuwe lewe inhou. Dieselfde geld ook sekere Joodse voorskrifte– dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie, feeste wat gevier moet word (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees) en die hou van die sabbatdag.  Daarby was daar ook sprake van ‘n aanbidding van engele, en asketiese gebruike (streng beheersing van die liggaam – 2:23).

‘n Swetterjoel vreemde invloede dus wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en hulle in bygeloof te laat verval.

In Christus is hulle immers dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (2:20).  En hierdie selfgemaakte leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie (2:23).  Selfs nie eers die besnydenis is meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (3:10).  Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met selfgemaakte leerstellings, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word.

Dis waarom niemand jou kan voorskrywe oor allerlei nie, want jy het die hoogste verbintenis wat daar is en wandel deur hierdie lewe met die Here van die heelal aan jou sy.

Kolossense


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Goeie môre Chris.
    Eerstens, baie dankie vir die stukkies elke dag. Dis ‘n wonderlike manier om mens se dag te begin, veral in vandag se gejaagde leefstyl.
    Net ‘n vinnige vraag oor die stuk hier onder (ek’s so bietjie agter, verskoon maar J):
    In vers 16 & soos jy hier onder genoem het, moet mens nie vasgevang raak in die vreemde (mensgemaakte) voorskrifte nie. Een van die voorbeelde waarna verwys word is die sabbatdag. Word hier verwys na ‘n spesifieke Joodse instelling, of na die sabbat (Sondag) soos wat ons dit normaalweg ken (ses dae moet jy werk & alles doen wat jy moet, maar op die sewende dag moet jy rus?)?
    Lekker dag verder.
    Groete,
    Henno Jansen van Rensburg

    • Dankie!
      Hier word na die Joodse viering verwys. Maar dit het natuurlik ook betekenis vir ons eie interpretasie van die Sondag. Soos die Heidelbergse Kategismus dit stel, die rus op die sabbat verwys eintlik na die rus van ons sondige werke, om in die rus wat Jesus deur sy verlossing vir ons bring te leef, soos God eintlik ook in die ewige sabbat leef (die sewende dag het eintlik nie ‘n einde nie, soos Genesis dit vertel). En dit is eintlik wat ons op Sondag, die opstandingsdag, vier.
      Ek het meer hieroor geskrywe op die webtuiste in ‘n ekskursus by Jesaja 56-57: https://www.bybelskool.com/jesaja/jesaja-56-57-%e2%80%93-almal-is-welkom-by-god/

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: