Kolossense 4:2-18 – Fokus op volhardende gebed en wyse woorde
Paulus fokus op twee laaste belangrike goed:
- Volhardende gebed vir die voortgang van die evangelie (Kol 4:2-4); Dit is opvallend dat Paulus ‘n paar keer spesifiek vra dat gemeentes vir oop deure vir die evangelie moet bid (vgl ook 1 Kor 16:9; 2 Kor 2:12; Open 3:8; Vgl ook Hand 14:27 waar Paulus oor die oop deure getuig). Ons onderskat die rol van gebed in die uitbreiding van die evangelie. God werk wonders deur ons gebede.
- Wyse woorde in hulle publieke optredes in die gemeenskap (4:5-6). Daar is geen verskoning vir onvriendelike dwase kwetsende woorde in ons openbare getuienis nie. Ons woorde moet van respek vir mense en deernis met hulle situasies getuig.
Paulus sluit die brief af met groete en ‘n paar mededelings oor die mense wat saam met hom is (‘n hele paar van hulle word ook in die brief aan Filemon genoem):
- Tigikus (Kol 4:7-8) was ‘n gelowige uit die provinsie Asië (Hand 20:4) en iemand wat ‘n hele paar keer vir Paulus gehelp het. Hy het moontlik al die gevangeniskap briewe afgelewer op sy reis na Kolosse en Efese (Kol 4:9; Ef 6:21) en het ook twee ander kere onderskeidelik na Efese en Kreta gereis in opdrag van Paulus (2 Tim 4:12; Tit 3:12) om die gemeentes te ondersteun.
- Onesimus word ook genoem, die slaaf van Kolosse wat na Filemon teruggestuur is, en wat deur Paulus die getroue medegelowige genoem word (Kol 4:9).
- Aristargos is een van die bekeerlinge in Tessalonika wat ‘n medewerker van Paulus geword het (Hand 20:4; 27:2).
- Markus is waarskynlik die skrywer van die evangelie van Markus en neef van Barnabas (soos ons hier in Kol 4:10 lees).
- Jesus Justus is die ander Joodse gelowige wat saam met Paulus is. Jesus was sy Joodse naam (eintlik Josua – Jesus is die Griekse vertaling van Josua) en Justus sy Latynse naam, soos Paulus se twee name: Saulus – Joodse naam; Paulus – Latynse naam. Ons weet nie iets meer van hom af nie.
- Epafras is saam met Paulus ‘n gevangene, en word verbind met die stigting van die gemeente van Kolosse (Kol 1:7). Hy is ‘n voorbidder van formaat (Kol 4:12).
- Lukas is die skrywer van die evangelie van Lukas en die Handelinge van die Apostels en word hier spesifiek ‘n dokter genoem (Kol 4:15).
- Demas het kort hierna die teenswoordige wêreld lief gekry het en na Tessalonika vertrek (2 Tim 4:9-10).
- Nimfa was van Laodisea en leier van die huisgemeente daar. Daar is twee tekslesings vir dié persoon se naam. Die OAV het die manlike vorm aanvaar, en die NAV die vroulike. Al hoe meer geleerdes interpreteer dit egter as ‘n vrou. Nimfa was dus, soos Lidia, ‘n geestelike leier wat haar huis tot beskikking van die kerk gestel het.
- Argippus word opgeroep om die bediening wat die Here vir hom gegee het, te omarm en uit te voer. Hy word ook in Filemon genoem en was waarskynlik die seun van Filemon en Affia van Kolosse.
View all posts in this series
- Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012 - December 9, 2011
- Kolossense 1:1-14 – Om God te ken en vir Hom te lewe - January 23, 2012
- Kolossense 1:15-23 – Jesus die Here van die Skepping en die Herskepping - January 24, 2012
- Kolossense 1:24-2:5 – om met God se energie te bedien - January 25, 2012
- Kolossense 2:6-23 – Geloof en gedrag word op Jesus as Here gebou - January 26, 2012
- Kolossense 3:1-4:1 – Leef as nuwe mense - January 27, 2012
- Kolossense 4:2-18 – Fokus op volhardende gebed en wyse woorde - January 30, 2012
Petrus
Beste Chris
Vrede, vandag vir jou.
Kol. 1: 15 -20- “Voor alles was Hy al daar ….Hy is die eerste wat uit die dood opgestaan het,” en alles oor Jesus. My geloof en almal wat in Jesus glo.
My vraag en bietjie wonder? Party se dat die Engel wat by Lot en ander teenwoordig was, was Jesus? Hoe is Hy dan gebore uit ‘n vrou en het Hy gesterf om op te staan sodat ons die Heilige Gees kon ontvang?
Was Hy dan steeds ‘n Engel of Goddelike wese terwyl hy ook op aarde was?
Ek glo Hy was altyd daar, maar in Gees omdat God geweet het Hy sal “Sy Seun” eendag offer om vir ons Sy erfenis en Liefde te gee. Kan meer uitwei, maar ek wil graag hoor hoe jy dit verstaan asseblief?
Mooi Dag
Chris van Wyk
Hi Petrus, Jesus was na sy Godheid van altyd af daar (Joh 1:1). Hy is God van die Skepping en Herskepping, soos Paulus tereg hier in Kolossense sê. Na sy mensheid is Hy egter in tyd gebore uit ‘n vrou. Met ‘n dubbele natuur. Daarom was Josef nie betrokke nie. Jesus is uit God en uit Maria gebore. Daarby is dit duidelik as ‘n mens die OT lees dat Jesus in die NT optree soos die sigbare Jahwe van die OT. Lees hier meer daaroor. Groete, Chris.
Louise
Ek lees in 1933 en 1953 dat nimfa man was maar in 1983 is Nimfa n vrou gewees wat haar huis oop gemaak het vir kerk, asb versuidelik my daai stuk, Kol 4:15
Chris van Wyk
Die naam Nimfa (Numfa) word op twee maniere geaksentueer in die ou manuskripte. Sommige het ‘n circumflex op die laaste lettergreep (Νυμφᾶν). Dan verwys dit na ‘n man. Soos in die tekste wat die 1933- en 1953-vertaling gebruik het. Sommige het ‘n akuut op die eerste lettergreep (Νύμφαν). Dan verwys dit na ‘n vrou. Soos in die tekste wat die 1983- en 2020-vertaling gebruik het.
Die eerste groep tekste het dan ook die ooreenstemmende manlike voornaamwoord αὐτοῦ hier, terwyl die tweede groep tekste die vroulike αὐτῆς hier lees. Daar is ook verskeie manuskripte wat die meervoud αὐτῶν (hulle) lees wat dan verwys na die “broers in Laodisea” in die eerste deel van die vers.
Geleerdes kies al hoe meer die “vroulike” lesing, omdat dit die “moeiliker” lesing is. (The NET Bible First Edition Notes)