Skip to main content

Handelinge 16:6-40 – Die Europese kerkgeskiedenis begin met die bekering van ’n vrou

Dit is opmerklik hoe nou en onlosmaaklik die verband is tussen Jesus en die Gees; dit is die Gees van Jesus wat hier Paulus lei om Europa te betree, aan die een kant deur hom te verhinder om sy eie kop te volg, en aan die ander kant deur ’n gesig wat die rigting aandui.  Let op dat dit ’n gesamentlike besluit was: “omdat ons tot die oortuiging gekom het”.

Lukas het dus nou by Paulus, Silas en Timoteus aangesluit en reis saam na Filippi,’n Romeinse kolonie in Masedonië.  Dit is ongeveer 50 of 51 n.C.  Daar was nie ‘n sinagoge nie (jy het 10 mans nodig gehad daarvoor) en daarom het die Joodse gelowiges, ons lees hier net van vroue, moontlik getroud met Grieke, by ‘n bidplek by die rivier, die Gangitis, vergader.

En dan gebeur die wonder, die hele Europese kerkgeskiedenis begin met ‘n eenvoudige verhaal van ‘n vrou, nogal ryk ook, wat langs ‘n rivier in Jesus begin glo.  Ironies dat ‘n Masedoniese man Paulus in ‘n droom hierheen lok, en dat die eerste bekeerling ‘n vrou is!  Wys jou net hoe die evangelie nie langs die normale sosiale konvensies loop nie.

Dit is interessant hoe God ongewone mense gebruik in die verspreiding van die evangelie na nuwe gebiede.  In Afrika was dit ‘n Ethiopiese ontmande. In Europa was dit ‘n Grieks-Joodse vrou.  Dit is asof God sulke mense kies om van die begin af te wys dat HÝ agter die diversiteit in mense staan en verandering bring van die periferie af om só ‘n sterk eenheid tussen diverse mense te smee.

Sy nooi Paulus-hulle onmiddellik na haar huis, en so word haar huis die eerste huisgemeente in Europa, een van die mooiste gemeentes waarvan ons lees in die Nuwe Testament.  Daar is geen gemeente wat die apostel so hoog geroem het as dié van Filippi nie en geen gemeente van wie hy meer liefde ontvang het nie.

Ons lees regdeur die brief aan die Filippense hoe Paulus hierdie eerste Europese gemeente liefgehad het en dat hulle hom terug liefgehad het.  Geen wonder dat die brief so vol van vreugde en blydskap is nie, en daarby ‘n oproep is aan almal is om dié vreugde oral te versprei.

Soos met die proseliete-doop vir heidene wat die Joodse geloof aanneem, word Lidia se huismense (oikos) ingesluit toe sy gedoop word as een wat in Jesus glo.  Interessant is dat haar kinders waarskynlik ingesluit is en dat dit onmiddellik gebeur het.

Paulus mors dus nie tyd nie – wanneer jy met hou hele hart glo, is jy alreeds ‘n deel van die liggaam van Christus, en moet jy daarom gedoop word.  Geen kategese nie, net geloof in Christus.

En soos in alle vorige plekke waar die evangelie verkondig is, bly die teenstand nie uit nie.  Geen goeie ding gebeur immers ooit sonder dat die magte van die bose monster om dit te dwarsboom nie!

Die slavin met ‘n waarsêergees is die eerste teenstand.  Die woord wat gebruik word vir die waarsêergees, is puthon-gees.  Die Puthon was die mitologiese slang of draak wat die orakel of tempel van Delphi bewaar het en deur Apollo doodgemaak is.  Blykbaar het mense onder die invloed van dié gees met buikspraak gepraat, d.w.s. sonder dat hulle lippe beweeg het.

Maar, Paulus dryf, na ‘n paar dae, die gees uit haar uit, wat waarskynlik beteken dat sy die tweede lidmaat van die gemeente was.

Die eerste hindernis, die slawemeisie, demonstreer op geen onseker wyse nie, dat God sterker is as die magte van die duisternis.  Maar die oorlog het natuurlik nog net begin!

Met die konsternasie wat haar eienaars vir Paulus veroorsaak, want die slavin het nou nie meer geld ingebring nie, verskerp die teenstand en word hulle in die tronk gegooi.

Net om daar die derde lidmaat van die gemeente tot bekering te bring, die tronkbewaarder.  Hy en sy huisgesin (oikos) word ook gedoop en Paulus-hulle word in ‘n volgende huis gasvry ontvang.  Interessant dat die Romeine Brutus en Cassius juis in Filippi selfmoord pleeg, soos ons lees dat die bewaarder wou doen om sy eer te red.  Jesus red hom egter van homself en daarby ook sy huisgesin.

Die tweede hindernis, die stadsraad wat Paulus en Silas in die tronk gooi, word dus nie net oorkom deurdat die aardbewing die deure van die tronk oopforseer nie, maar die tronkbewaarder self kom tot bekering, hy en sy hele huis, en hulle word gedoop.

Aan die einde van die verhaal, sien ons dat hulle almal weer bymekaar kom in Lidia se huis.  En die grondslag vir die eerste gemeente is gelê.

Paulus sou hulle nog twee keer besoek (20:1 en 6) en uiteindelik die pragtige brief aan die Filippense skryf uit die tronk in Rome.  En hulle sou hom die meeste kere ondersteun van alle gemeentes wat Paulus ooit gestig het.  Die eerste lidmate van hierdie pragtige gemeente begin dus hulle lewe in die huis van Lidia en word die grootste ondersteunersgroep van Paulus in die res van sy bediening.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • perfectly57edc75df4 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteDankie, Matteus het deurgekom. Was eers 'n dag laat, maar nou daagliks op tyd. Sover kry ek 'n paar interessante gedagtes wat mens maklik miskyk as jy net lees v/d geboorte en nie na die mesnlike aspekte kyk nie. Dankie and Vrede.
  • sparklybc467b2e69 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteGoeie môre, baie dankie, ja dit maak sin, want dit is hoekom Dawid ñ man na GOD se hart was, hy was ook elke keer gehoorsaam aan GOD. Daar is egter iets wat my so diep geraak het, terwyl ek u opmerkings lees, JESUS die seun van GOD het geen rykdom of enige voortrekkery ontvang nie, HY was regtig so…
  • originalblizzard19aaa84c56 on Josef-hulle vlug van Betlehem na EgipteTans so gepas in my vrou en my se lewe. Moet noukeurig let op die detail van die Heer se leiding. Kan nie wag om die volgende stappe te volg nie. Dankie.
  • Philip Vermaak on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Wat my weer getref het is God se liefde vir alle mense en Dawid se nederige houding as hy tot God roep en hom met alles aan God "oorgee" En- wat ons het is aan ons deur God geskenk en wat ons is is slegs Genade Baie dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms