1 Tessalonisense 2:1-16 – Paulus koester en begelei

Paulus herinner die gemeente daaraan dat hulle bediening in Tessalonika vrug gedra het, anders as die wandelende filosowe en heiliges van sy tyd, wat meer aangedryf is deur gierigheid as geloof.  Daarom het hy die ambag, tentmakery, wat hy in sy opleiding aangeleer het daar beoefen, soos elke rabbi van daardie tyd gedoen het.

Dit tref my dat die inspirasie vir sy onvermoeide ywer, ten spyte van belediging (psigies deur as Romeinse burger onregverdiglik in die tronk gegooi te word) en mishandeling (fisies deur geseling), soos pas tevore in Filippi (Hand 16), van God af kom wat hulle die moed gee om die evangelie te verkondig ten spyte van felle teenkanting (vers 2).

Die twee metafore wat hy gebruik om sy bediening aan hulle te beskryf, val op:

  • Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel (vers 7).  Die woord liefdevol beskryf ’n ma wat haar kind borsvoed.  Dit is ’n baie intieme en sorgsame beeld.  Hierdie beeld druk dus op uitsonderlike wyse die liefde en aanvaarding wat hy vir hulle gehad het uit.  Dit bevestig die verhouding met hulle.
  • Soos ‘n pa sy kinders het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe (vers 11).  Hierdie beeld druk sy droom vir hulle uit, dat hulle nou al tot God se eer sal lewe, en eendag in sy heerlikheid sal deel.  Dit moedig hulle aan om nie tevrede te wees, maar volstoom te werk aan hulle verhouding met God.

Hy bemoedig die gemeente ook deur hulle te herinner aan hulle aanvanklike ontvangs en aanneming van Paulus-hulle se prediking as die Woord van God.  Die woordjie aangeneem word ook gebruik wanneer jy iemand gasvry ontvang.  Paulus sê daarmee dat hulle God se Woord gasvry ontvang het, wat gelei het daartoe dat dit ’n kragtige uitwerking in hulle lewe gehad het. Die radikale verandering in hulle lewenswyse bewys dat daar iets spesiaal met hulle gebeur het.

Dat daar steeds geweldige teenstand uit die Joodse gemeenskap was (Hand 17) en is, soos dit inderdaad ook in Judea was en is, bewys eintlik dat dit God se Woord was.  Teenstand moet hulle dus nie ontmoedig in hulle Christelike stryd nie, maar juis bemoedig omdat dit ’n teken van God se werk in hulle lewe is.

Paulus spreek my op twee maniere met hierdie gedeelte aan.

Eerstens kan ’n bediening net vrug dra as ’n mens regtig lief raak vir die mense wat jy bedien, in ’n familie, ’n kleingroep en ’n gemeente.  Paulus sou selfs sy lewe wou gee vir die Tessalonisense.  Daarom het hy self vir sy eie brood en botter in sy verblyf daar gewerk, en nie die voorreg van ’n apostel gebruik om deur die gemeente versorg te word nie.  Hoekom?  Omdat hy lief is vir hulle, en op geen manier iemand iets negatiefs oor sy bediening wil laat sê nie.  Hy het natuurlik ook in die oog dat daar van hulle is wat nie werk nie, en wou ook vir hulle ’n voorbeeld stel.

Tweedens, ’n mens kan nie net sag wees en koester nie.  Daar is ook aanmoediging en bemoediging en uitdagings nodig om mense te inspireer tot alles wat hulle kan wees, sodat God in hulle lewens gesien en geëer kan word.  En Paulus doen al twee: hy koester en hy karring, hy bederf en hy begelei.

View all posts in this series

Tessalonisense


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: