2 Korintiërs 10 – Om te bou en nie af te breek nie

Let op die sarkastiese toon waarmee Paulus hierdie hoofstuk begin (vgl ook vers 10): “ek, wat mos ‘gedwee’ is as ek by julle is, maar ‘manhaftig’ teenoor julle as ek van julle af weg is”.  Dit is ‘n duidelike aanduiding dat die volgende paar hoofstukke ‘n skerper aanslag gaan hê, dat dit inderdaad ook miskien ‘n ander  brief (moontlik die tranebrief van 2:4?) is, wat êrens by die eerste brief (2 Kor 1-9) gevoeg is.

Tog koppel hy die persoonlike beroep aan die Naam van Christus wat sy sarkasme relativeer.  Let op hoe hy van Christus se nederigheid (die meeste vertalings het “sagmoedigheid”, wat ek verkies – vgl Moses: Num 12:3 en Jesus Matt 11:29; 21:5) en vriendelikheid praat.  Tog gee hy daarmee ook ‘n gesag aan sy woorde, dit is nie maar net ter wille van homself wat hy hulle aanspreek en sy apostelskap verdedig.  Dit is ter wille van en met die gesag van God self wat hy optree.

Anders as Jeremia het Paulus nie die opdrag om af te breek nie, maar te bou (vers 8)! Dit is betekenisvol – en ‘n belangrike meetinstrument om van die profete van vandag te beoordeel wat eerder Jeremiades loods teen mense, gewoonlik ook nog dié wat anders as hulle dink, as om opbouend die evangelie soos Paulus te verkondig, nederig en vriendelik soos wat ons Here is!  Lees die opdrag aan Jeremia om die verskil agter te kom: Jer 1:10 spel sy opdrag in 6 woorde uit: 4 wat afbreek (afbreek, uitroei, vernietig, platslaan) en net 2 wat bou (bou, vestig).  Maar dit was vir ‘n ander tyd …

Dit gee ‘n mens ook perspektief op sy gereedheid om streng te wees (vers 2), met elke ongehoorsaamheid af te reken (vers 6), sonder egter om hulle bang te maak (vers 9).  Sy opdrag en motivering is opbouend en nie afbrekend nie.  Hy hoop dat hulle geloof sal toeneem (vers 15).

Ek weet die skeidslyn tussen “beroep doen” (vers 1) en “bang maak” (vers 9) is baie fyn, en dat die verdediging van sy apostoliese gesag in hierdie brief dit nog moeiliker maak om daartussen te onderskei.  Een manier om te sorg dat jy binne jou perke bly, is om, soos Paulus, 1) seker te maak dat jy in jou eie werkkring optree, en 2) seker te maak dat dit God se opdrag aan jou is (vers 13).

Sommige is geneig om vers 3-6 direk aan geestelike oorlogvoering te verbind, maar Paulus is eintlik hier besig om die verkeerde idees aan te vat wat sommige van die Korintiërs het oor sy apostelskap.  ‘n Mens kan wel in die tweede plek sy gedagtes op die aanvat van ander vestings in mense se gedagtewêrelde van toepassing maak, maar moet eers goed sy primêre boodskap verstaan.

Hy spel nie die kragtige wapens van God direk uit nie, maar ‘n mens lei af uit vers 4-6 dat dit op gedagtes:  redenasies, en hooghartige aanvalle teen die kennis van God (intellektuele en ideologiese denkraamwerke en wêreldbeskouings), sowel as ongehoorsaamheid gerig is, dws hoe mense dink en hoe mense leef (moreel-eties).  Dit kom ooreen met wat Jesus gesê het oor die waarheid wat vrymaak (Joh 8:31-32: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak.” – vgl ook Joh 1:10 waar Johannes skrywe oor die mense wat Jesus nie erken nie, en 1 Kor 1:21 waar Paulus die gebrekkige waarde van wêreldse wysheid en kennis uitwys).

Die waarheid verander dus beide ‘n mens se gedagtewêreld en jou gedrag.  En dit is in wese wat geestelike oorlogvoering behels, nie ‘n aksie teen duiwels in die eerste plek nie, maar die bring van die waarheid wat die vestings van ongeloof en ongehoorsaamheid in mense se gedagtes en gedrag kan verower en hulle aan Christus verbind.

En hou ook in gedagte dat Paulus in Romeine 1:16 en 1 Kor 2:4 die krag van God spesifiek uitspel in terme van die invloed wat die evangelie in mense se lewens het.  Dit is nie gebed teen die geeste wat mense oortuig nie, maar die evangelie wat aan die mense verkondig word. Die strydveld is die gedagtewêreld van mense en dit is waar ons die stryd moet voer!

Dit is in wese wat Paulus ook in die latere brief aan die Efesiërs gaan skrywe (hfst 6:10-20) dat die “stryd teen die geeste” oor sewe goed gaan: die 1) waarheid, 2) vryspraak, 3) verkondiging, 4) geloof, 5) verlossing, 6) God se woord en 7) gebed vir gelowiges en die bedienaars van die evangelie sal gaan.  En let op dat Paulus glad nie voorskryf dat ons moet bid TEEN enigiets nie, nie teen mense nie, ook nie teen geeste nie.  Net VIR die 7 sake wat hy daar noem.

View all posts in this series

geestelike oorlogvoering, Korintiërs


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: