Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is
Ek onthou steeds baie helder die effek wat vers 16 op my gehad het in my standerd 5 jaar. My ma het by huisgodsdiens Romeine 8 gelees. Toe sy vers 16 lees: “Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is,” het ek in trane uitgebars. Ek was diep geraak deur die feit dat God binne in ons die sekerheid bring dat ons sy kinders is en dat dit by uitstek die werk van die Heilige Gees is.
Baie jare later sou my ma my vertel dat sy daardie dag geweet het dat ek predikant sou word. Ek moes egter ’n lang pad loop voor die oortuiging aan die einde van my skoolloopbaan tot my gekom het.
Maar ek sal nooit die vertroosting van God se aanraking daardie aand vergeet nie.
En dit is uiteindelik die boodskap van Paulus in dié hoofstuk. Daar is net een manier om die Christelike lewe te leef, en dit is deur die Gees. Geen wonder Hy word 20 keer genoem in hierdie hoofstuk nie!
’n Oorwinnende Christelike lewe kan nooit deur die wet gebeur nie, daarvoor is ons sondige vlees te swak. Dit kan net wees deur ’n daaglikse oorgawe aan die beheer van die Gees waardeur ’n einde gemaak word aan ons sondige praktyke (8:13). ’n Mens kan selfs sê soos Paulus dat daar ’n nuwe wet is, die wet van die Heilige Gees (8:2).
Hiermee sluit Paulus aan by ’n hele paar OT profete wat reeds ’n paar 100 jaar tevore verkondig het dat ware verandering net deur God self kan kom. Jeremia het daaroor gepreek in Jer 31:31-34, Esegiël het dit aan die ballinge verkondig in Eseg 11:19-20, en Jesaja laat ook van hom hoor in Jes 65:17-25.
Let op hoe Paulus dit as ’n geestelike werklikheid skets (8:9), maar ook as ’n fisiese konkrete werklikheid: “sal ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (8:11). Net soos Jesus uit die dood opgewek is, sal die Gees ons ook uit die dood opwek.
Maar, en dit is baie belangrik, hierdie werk van God word nie ’n werklikheid vir ons sonder dat ons ons daarop toelê nie. Ons het ’n verpligting om deur die Gees ’n einde te maak aan ons sondige praktyke, iets waarop Paulus in hoofstuk 12 en verder aan weer sal terugkom.
View all posts in this series
- Die brief aan die Romeine - October 20, 2010
- Romeine 1 – God spreek mense vry enkel en alleen omdat hulle glo - October 21, 2010
- Die wet in die 3 Formuliere van Eenheid
- Romeine 2 – Die innerlike lewe lei na goeddoen eerder as die wetsvoorskrifte - October 22, 2010
- Romeine 3 – God gee vryspraak sonder onderskeid aan elkeen wat glo - October 25, 2010
- Romeine 4 – Die genade van geloof - October 26, 2010
- Beoefen vandag Lectio Divina - October 27, 2010
- Romeine 5 – Vryspraak lei tot vrede en vrye toegang - October 28, 2010
- Romeine 6 – Om vir God te lewe en nie vir die sonde nie - October 29, 2010
- Romeine 7 – Die Gees is die agent van verandering, nie die wet nie - November 1, 2010
- Romeine 8:1-17 – Die Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is - November 2, 2010
- Romeine 8:18-39 – As God vir ons is, wie kan teen ons wees - November 3, 2010
- Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word - November 4, 2010
- Romeine 12 – Ons het ’n paar kopskuiwe nodig - November 5, 2010
- Romeine 13 – Julle moet mekaar liefhê - November 8, 2010
- Romeine 14 – Aanvaarding eerder as argumente - November 9, 2010
- Romeine 15-16 – Aanvaar mekaar soos Christus julle aanvaar het - November 10, 2010
- Die fundamentele vertrekpunt in etiese sake - September 9, 2017
- Word verander deur die vernuwing van julle gemoed - June 13, 2018
- Uitverkiesing en die eindoordeel - September 6, 2018