Skip to main content

Handelinge 14:1-28 – Die deur na geloof vir die heidene gaan wawyd oop

Ikonium

Die Jode wat “nie die boodskap wou aanneem nie”, word letterlik deur Lukas as “ongehoorsaam” beskryf, waarmee hy ‘n verband lê met die ongehoorsaamheid ook van hulle voorvaders. Teenstand kom dus nie net van mense af wat nie die evangelie begryp nie, maar juis ook van dié wat maar alte goed begryp wat die implikasies daarvan is, maar nie hulle lewenstyl wil laat vaar nie. En hulle wil ook keer dat ander dit doen, om te keer dat hulle ongehoorsaamheid aan die kaak gestel word.

Let op hoe God weereens die boodskap bevestig deur tekens en wonders.  Uiteindelik word die bedreiging van aanranding en steniging te veel en hulle vlug na Listra waar hulle hulle werk voortsit. Let op dat Paulus en Barnabas albei as apostels aangedui word, ’n benaming wat Lukas voor hierdie verwysing net vir die twaalf gebruik het.

Listra

In Listra raak Paulus en Barnabas by die genesing van ’n man betrokke wat met gebreklike voete gebore is.

Interessant genoeg was daar ’n bekende legende dat Zeus en Hermes in menslike gedaante die omgewing van Listra vroeër besoek het en net deur een egpaar gasvry ontvang is (Metamorphoses van die Romeinse digter Ovid). Waarskynlik wou die gemeenskap van Listra nie weer dieselfde fout maak om hulle nie te herken nie!

Hoewel hier nie ’n groot gemeenskap van Jode was nie, het die Jode van Antiogië in Pisidië en Ikonium vir hulle moeilikheid kom maak. Hulle het dit reggekry om die mense na hulle kant toe oor te haal, en stenig Paulus – iets wat hulle reeds in Ikonium wou doen, maar nie kon regkry nie – en sleep hom daarna buite die stad uit onder die indruk dat hy dood is (vgl 2 Kor 11:25). Dit wil voorkom asof Barnabas nie hierdie lot te beurt geval het nie. Dit is onvermydelik dat ’n mens hier ook iets raaklees van die lot wat Jesus te beurt geval het met sy intog in Jerusalem in, die laaste week voor sy kruisiging. Die skare het Hom ook vereer en bewonder (Joh 12:12), om uiteindelik te skreeu: “Kruisig Hom!” (Joh 19:15). Soos hulle met die Here gemaak het, so behandel hulle ook sy boodskappers.

Dit wil lyk asof die gelowiges rondom hom kom staan het om vir hom te bid, soos wat Petrus dit vir Dorkas gedoen het (Hand 9) en Paulus dit vir Eutigus sou doen (Hand 20) en hy self ’n wonderwerk beleef het. Paulus verwys moontlik daarna in 2 Korintiërs 6:9, soos onder andere Calvyn dit uitgelê het. Hoe dit ook al sy, Paulus staan op en gaan baie moedig weer die stad binne, om die volgende dag saam met Barnabas na Derbe toe te vertrek.

Antiogië

Dit moes vir Barnabas en Paulus ’n vreemde ondervinding gewees het in Derbe toe hulle die evangelie daar verkondig en geen teenstand ervaar het nie. Baie mense het gelowig geraak, onder andere ook Gaius wat later saam met Paulus sou reis (Hand 20:4). Dit sou ook gereeld gebeur dat van die bekeerlinge selfs sendelinge word op reis saam met Paulus. Dit is jammer dat die 1983-vertaling verkies om die frase “matheteo” (dissipels gemaak) met “gelowig te word” te vertaal, omdat dit die skakel met Jesus se opdrag in Matteus 28:20 wegvertaal.

Dit is ook die omdraaipunt vir die apostels op hierdie eerste sendingreis. Hulle begin terugkeer, min of meer op dieselfde roete waarmee hulle gekom het. En die doel van hierdie tweede besoeke aan Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië is duidelik ’n gemeenskapskeppende en versterkende een.

Die apostels spoor die gelowiges aan om getrou te bly in die geloof. Dit is ’n patroon wat hierna telkens gevolg sou word (Hand 15:36, 41; 16:1). Die apostels tree dus as die beskermers op van die prosesse wat deur die Gees en hulle bediening begin is. Die gelowiges word nie aan hulle eie genade oorgelaat nie, selfs nie aan ’n “opvolgspan” wat ná hulle sou kom nie (daar was natuurlik nie so iets nie!).

Die mense het deur hulle werk tot geloof gekom en bly daarom hulle verantwoordelikheid, ook in terme van hulle opbou in die geloof. En die apostels draai nie doekies om oor wat getrouheid gaan kos nie. Soos die gelowiges dit grafies in Barnabas en Paulus se lewe geïllustreer gesien het – in Paulus se geval selfs deur die gewelddadige steniging – leer die apostels hulle dat ons eers deur baie verdrukking (sal) moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom.

Daarom is die fokus in hulle versterking nie net om te preek en die evangelie te verkondig nie, maar om die onderlinge gemeenskap te versterk en spesifiek ouderlinge (“presbuteroi”) te laat kies. Dit was die sisteem wat reeds in Jerusalem se gemeente gevestig was (Hand 11:30; 21:18), en nou in al die gemeentes nagevolg word (Hand 20:17).

Waarskynlik was hierdie ouderlinge ook aanvanklik verantwoordelik vir die Woordverkondiging (soos dit die geval was op Kreta – Tit 1:9) hoewel daar later ’n onderskeiding kom tussen leidende en lerende ouderlinge (1 Tim 5:17). Eersgenoemdes was waarskynlik wat Petrus toesighoudende ouderlinge noem (1 Pet 5:1-4). Hoe belangrik hulle was vir die gemeenskap van gelowiges sien ’n mens in die feit dat selfs van Paulus se briewe aan die ouderlinge van die gemeente gerig is (Fil 1:1).

Hier was nog nie sprake van lering oor die gawes van die Heilige Gees nie – wel later in die briewe aan Korinte en Rome (1 Kor 12; Rom 12); ook nie van lering oor die gawes in terme van bedienaars nie – soos wel later in die brief aan Efese aangeroer word (apostels, profete, evangeliste, herders, en leraars – Ef 4).

Let op hoe die gemeente betrek word in die proses deur gebed en vas – net soos Barnabas en Paulus met hulle uitsending uit Antiogië in Sirië ervaar het (Hand 13). Die apostels sit die seël op die gemeente se biddende keuse deur die ouderlinge op te dra aan die Here en die plaaslike bediening aan hulle toe te vertrou.

Dit is ’n proses wat hierna in elke gemeente sou gebeur, waardeur die gemeente deur die beweging van die Gees tot ’n gemeenskapslewe saamgebind sou word wat met hulle geloof in Christus Jesus begin het.  Aan die een kant is ’n praktiese lewenstyl van saam bid en vas geskep om geloofsonderskeidend te werk te gaan as gemeenskap, en aan die ander kant is ’n leierskapstruktuur gevestig wat eenheid in diversiteit kon bewerk.

By hulle aankoms word die hele gemeente bymekaar geroep en vertel wat op die sendingreis gebeur het. t Let op hoe die fokus op God geplaas word – dit is Hy wat alles deur hulle gedoen het. Barnabas en Paulus kies deurlopend ’n nederige lewenstyl, soos ons nou al daaraan gewoond geraak het. En let ook op hoe die deur van die geloof wat na die heidene oopgemaak is, beklemtoon word. Die idee van ’n oop deur word nog op ’n paar ander plekke in Paulus se briewe aangetref (1 Kor 16:9; 2 Kor 2:12; Kol 4:3), sowel as in Johannes se brief aan Filadelfia (Op 3:7-8). Dit antisipeer die volgende fase in die uitbreiding van die evangelie waar die insluiting van die heidene en die verwagtinge wat die kerk in Jerusalem van hulle sou hê, beslis moes word (Hand 15).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Baie dankie vir die verduideliking, dit is hoekom ek hier is om te kan leer.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:13-33Dit breuk ñ mens se hart dat die Isrealiete ten spyte van al die tekens en wonders hulle telkemale opstandig word en GOD met so min agting behandel, en dat selfs Abraham vir hulle in die brese tree, en hoeveel keer die volk homself ook laat sondig het. Ek kan net sê ons dien ñ genadige GOD en GOD so…
  • Chris van Wyk on Psalm 106:6-12Die verskillende vertalings - "Rietsee", "Rooi See" en "Skelfsee" – het ontstaan omdat die Hebreeuse uitdrukking יַם־סוּף (yam sûf) verskillend vertaal is. Die Hebreeuse teks in Eksodus 13:18 beteken letterlik "See van Riete" of "Skelfsee" soos die 1933-vertaling dit vertaal het (skelf = riete, 'n w…
  • Chris van Wyk on Psalm 105:37-45Baie waar, vergifnis is genesend.