Handelinge 14:1-28 – Die deur na geloof vir die heidene gaan wawyd oop

Ikonium

Die Jode wat “nie die boodskap wou aanneem nie”, word letterlik deur Lukas as “ongehoorsaam” beskryf, waarmee hy ‘n verband lê met die ongehoorsaamheid ook van hulle voorvaders. Teenstand kom dus nie net van mense af wat nie die evangelie begryp nie, maar juis ook van dié wat maar alte goed begryp wat die implikasies daarvan is, maar nie hulle lewenstyl wil laat vaar nie. En hulle wil ook keer dat ander dit doen, om te keer dat hulle ongehoorsaamheid aan die kaak gestel word.

Let op hoe God weereens die boodskap bevestig deur tekens en wonders.  Uiteindelik word die bedreiging van aanranding en steniging te veel en hulle vlug na Listra waar hulle hulle werk voortsit. Let op dat Paulus en Barnabas albei as apostels aangedui word, ’n benaming wat Lukas voor hierdie verwysing net vir die twaalf gebruik het.

Listra

In Listra raak Paulus en Barnabas by die genesing van ’n man betrokke wat met gebreklike voete gebore is.

Interessant genoeg was daar ’n bekende legende dat Zeus en Hermes in menslike gedaante die omgewing van Listra vroeër besoek het en net deur een egpaar gasvry ontvang is (Metamorphoses van die Romeinse digter Ovid). Waarskynlik wou die gemeenskap van Listra nie weer dieselfde fout maak om hulle nie te herken nie!

Hoewel hier nie ’n groot gemeenskap van Jode was nie, het die Jode van Antiogië in Pisidië en Ikonium vir hulle moeilikheid kom maak. Hulle het dit reggekry om die mense na hulle kant toe oor te haal, en stenig Paulus – iets wat hulle reeds in Ikonium wou doen, maar nie kon regkry nie – en sleep hom daarna buite die stad uit onder die indruk dat hy dood is (vgl 2 Kor 11:25). Dit wil voorkom asof Barnabas nie hierdie lot te beurt geval het nie. Dit is onvermydelik dat ’n mens hier ook iets raaklees van die lot wat Jesus te beurt geval het met sy intog in Jerusalem in, die laaste week voor sy kruisiging. Die skare het Hom ook vereer en bewonder (Joh 12:12), om uiteindelik te skreeu: “Kruisig Hom!” (Joh 19:15). Soos hulle met die Here gemaak het, so behandel hulle ook sy boodskappers.

Dit wil lyk asof die gelowiges rondom hom kom staan het om vir hom te bid, soos wat Petrus dit vir Dorkas gedoen het (Hand 9) en Paulus dit vir Eutigus sou doen (Hand 20) en hy self ’n wonderwerk beleef het. Paulus verwys moontlik daarna in 2 Korintiërs 6:9, soos onder andere Calvyn dit uitgelê het. Hoe dit ook al sy, Paulus staan op en gaan baie moedig weer die stad binne, om die volgende dag saam met Barnabas na Derbe toe te vertrek.

Antiogië

Dit moes vir Barnabas en Paulus ’n vreemde ondervinding gewees het in Derbe toe hulle die evangelie daar verkondig en geen teenstand ervaar het nie. Baie mense het gelowig geraak, onder andere ook Gaius wat later saam met Paulus sou reis (Hand 20:4). Dit sou ook gereeld gebeur dat van die bekeerlinge selfs sendelinge word op reis saam met Paulus. Dit is jammer dat die 1983-vertaling verkies om die frase “matheteo” (dissipels gemaak) met “gelowig te word” te vertaal, omdat dit die skakel met Jesus se opdrag in Matteus 28:20 wegvertaal.

Dit is ook die omdraaipunt vir die apostels op hierdie eerste sendingreis. Hulle begin terugkeer, min of meer op dieselfde roete waarmee hulle gekom het. En die doel van hierdie tweede besoeke aan Listra, Ikonium en Antiogië in Pisidië is duidelik ’n gemeenskapskeppende en versterkende een.

Die apostels spoor die gelowiges aan om getrou te bly in die geloof. Dit is ’n patroon wat hierna telkens gevolg sou word (Hand 15:36, 41; 16:1). Die apostels tree dus as die beskermers op van die prosesse wat deur die Gees en hulle bediening begin is. Die gelowiges word nie aan hulle eie genade oorgelaat nie, selfs nie aan ’n “opvolgspan” wat ná hulle sou kom nie (daar was natuurlik nie so iets nie!).

Die mense het deur hulle werk tot geloof gekom en bly daarom hulle verantwoordelikheid, ook in terme van hulle opbou in die geloof. En die apostels draai nie doekies om oor wat getrouheid gaan kos nie. Soos die gelowiges dit grafies in Barnabas en Paulus se lewe geïllustreer gesien het – in Paulus se geval selfs deur die gewelddadige steniging – leer die apostels hulle dat ons eers deur baie verdrukking (sal) moet gaan voordat ons in die koninkryk van God kom.

Daarom is die fokus in hulle versterking nie net om te preek en die evangelie te verkondig nie, maar om die onderlinge gemeenskap te versterk en spesifiek ouderlinge (“presbuteroi”) te laat kies. Dit was die sisteem wat reeds in Jerusalem se gemeente gevestig was (Hand 11:30; 21:18), en nou in al die gemeentes nagevolg word (Hand 20:17).

Waarskynlik was hierdie ouderlinge ook aanvanklik verantwoordelik vir die Woordverkondiging (soos dit die geval was op Kreta – Tit 1:9) hoewel daar later ’n onderskeiding kom tussen leidende en lerende ouderlinge (1 Tim 5:17). Eersgenoemdes was waarskynlik wat Petrus toesighoudende ouderlinge noem (1 Pet 5:1-4). Hoe belangrik hulle was vir die gemeenskap van gelowiges sien ’n mens in die feit dat selfs van Paulus se briewe aan die ouderlinge van die gemeente gerig is (Fil 1:1).

Hier was nog nie sprake van lering oor die gawes van die Heilige Gees nie – wel later in die briewe aan Korinte en Rome (1 Kor 12; Rom 12); ook nie van lering oor die gawes in terme van bedienaars nie – soos wel later in die brief aan Efese aangeroer word (apostels, profete, evangeliste, herders, en leraars – Ef 4).

Let op hoe die gemeente betrek word in die proses deur gebed en vas – net soos Barnabas en Paulus met hulle uitsending uit Antiogië in Sirië ervaar het (Hand 13). Die apostels sit die seël op die gemeente se biddende keuse deur die ouderlinge op te dra aan die Here en die plaaslike bediening aan hulle toe te vertrou.

Dit is ’n proses wat hierna in elke gemeente sou gebeur, waardeur die gemeente deur die beweging van die Gees tot ’n gemeenskapslewe saamgebind sou word wat met hulle geloof in Christus Jesus begin het.  Aan die een kant is ’n praktiese lewenstyl van saam bid en vas geskep om geloofsonderskeidend te werk te gaan as gemeenskap, en aan die ander kant is ’n leierskapstruktuur gevestig wat eenheid in diversiteit kon bewerk.

By hulle aankoms word die hele gemeente bymekaar geroep en vertel wat op die sendingreis gebeur het. t Let op hoe die fokus op God geplaas word – dit is Hy wat alles deur hulle gedoen het. Barnabas en Paulus kies deurlopend ’n nederige lewenstyl, soos ons nou al daaraan gewoond geraak het. En let ook op hoe die deur van die geloof wat na die heidene oopgemaak is, beklemtoon word. Die idee van ’n oop deur word nog op ’n paar ander plekke in Paulus se briewe aangetref (1 Kor 16:9; 2 Kor 2:12; Kol 4:3), sowel as in Johannes se brief aan Filadelfia (Op 3:7-8). Dit antisipeer die volgende fase in die uitbreiding van die evangelie waar die insluiting van die heidene en die verwagtinge wat die kerk in Jerusalem van hulle sou hê, beslis moes word (Hand 15).

View all posts in this series

Handelinge


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: