Skip to main content

1 Korintiërs 5 – Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap

Paulus skryf verder oor van die sake wat Chloë se mense aan hom vertel het, hier oor bloedskande, ’n man wat met sy stiefma saamleef (Lev  18:8 verbied dit), maar steeds deel van die gemeente is.  Dit blyk dat dit algemene kennis was (die eerste frase van vers een kan so vertaal word) en nie net bekend aan ’n klein groepie nie.  Let op dat hy eintlik net oor die man se sonde skryf, nie oor die vrou s’n nie (moontlik was sy ’n ongelowige?), en wou hê dat hy as ’n tugmaatreël uit hulle midde verwyder sou word.

Paulus beskrywe hierdie tughandeling met die woorde: “om hierdie man aan die Satan oor te gee”, woorde wat herinner aan die gesprek tussen God en Satan in Job 1:12, en hou in die gees ’n imaginêre tugvergadering saam met hulle.  Deur hom oor te gee aan die Satan, kan dié hom tref met allerlei teenspoed (soos in Job se geval) wat hom hopelik tot ander insigte sou bring (vgl 1 Tim 1:20 waar Paulus dieselfde doen met Himeneus en Aleksander, mense wat hulle gewete onderdruk het), al sou die man se redding nie in die laaste instansie in gedrang wees nie (vgl 1 Kor 3:15 waar iets soortgelyks van toepassing is op gemeentebouers).

Paulus gebruik dan die geval om hulle aan te vat oor hulle selfverheffing, deurdat hulle hantering van dié saak wys dat hulle nie iets het om hulle oor aan te stel nie.  Nog dieper as dit – deur niks te doen aan openlike sondes nie, benadeel ’n gemeente nie net die persoon nie, maar ook die gemeenskap van die gemeente self.  Sonde suurdeeg deur in ’n gemeenskap, net soseer as wat reinheid en waarheid dit doen.

Dit is duidelik dat die gemeente dit makliker gevind het om sondaars uit die wêreld te vermy, maar dit moeilik gevind het om sondaars binne die gemeente onder tug te plaas.  Ek dink baie gemeentes sukkel vandag nog daarmee!  En hulle het dit probeer regverdig deur die voorskrifte in sy vorige brief – om sondaars te vermy – verkeerdelik aan te wend.  Maar daarmee het hulle twee sleutelfoute begaan: hulle het die kwaliteit van hulle eie gemeentelewe benadeel, sowel as hulle roeping in die wêreld versaak, wat tog gemik is juis op mense wat vasgevang is in hulle sonde.

Hy sluit met ’n algemene reël, dat dit nie verantwoord is om oor mense buite die gemeente te oordeel nie. Dit is God se werk.  Maar, binne die gemeente, het die gemeente die verantwoordelikheid om sensuur toe te pas.

Die klem wat Paulus hier lê op die onderlinge sorg vir mekaar, wat vermaning en tug insluit, bly my by.  Sonde is nie ’n klein saak nie.  Dit het ’n groot effek op die sondaar self, maar dit het net so ’n groot effek op die gemeenskap van die gemeente.  Geen wonder dat Paulus in hoofstuk 3 so duidelik geskryf het oor die gemeente as die tempel waar die Gees woon, iets waaroor hy verder sal skrywe in hoofstuk 6.

Sonde skaad dus ook die verhouding van die gemeente met God.  En daarom is in die Reformasie geoordeel dat die toepassing van tug een van die kenmerke van die ware kerk is (Nederlandse Geloofsbelydenis 29).  En ons sal goed doen om Paulus se voorskrifte hierin te begin navolg.

So, opsommenderwys, tug fokus op die sondaar – om hom te red; op die gemeente – om die gemeenskap te suiwer; op die Gees – om sy teenwoordigheid te verseker.

View all posts in this series

Korintiërs


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar