Titus 3:1-15 – Gesonde lewe
Vers 1-2 – Publieke verantwoordelikheid
Hy spel die publieke verantwoordelikheid op twee maniere uit. Aan die een kant is ‘n gesonde gemeenskapslewe afhanklik van instemming en gehoorsaamheid aan owerhede en gesagsinstansies. Daarsonder verval ‘n gemeenskap in anargie en wetteloosheid. Aan die ander kant moet die gemeenskapslewe ook nie net in stand gehou word soos wat dit bv in die verlede was nie, maar positief ontwikkel word deur gelowiges wat bereid is “om alles te doen wat goed is.”
Soos Paulus in Filippense beklemtoon het dat waarderende dinge gedink en bedink moet word, lê hy hier in Titus klem op die doen van dinge wat goed is. Verheffende gedagtes kan net mense inspireer as dit in goeie dade gestalte kry. En die tipe dade waarvan Paulus praat is beide dinge wat vermy word: kwaadpraat en rusie soek, sowel as dinge wat gedoen moet word: inskiklik (vgl Fil 4:5) en bedagsaam wees teenoor almal.
Vers 3-8 – God het ons laat herleef
Paulus motiveer hierdie opdrag deur te verwys na hulle eie geestelike geskiedenis, waar God hulle van hulle vroeëre haatlike bestaan verlos het deur sy liefde. Daarin moet hulle nou vasstaan en vanuit God se genade hulle toelê op goeie werk, werk wat goed en nuttig is vir die mense (vgl Fil 2:12-13 waarin dieselfde gedagtes uitgespreek word).
Paulus gee ‘n baie interessante perspektief op die wyse waarop die Triniteit saamwerk in ons verlosing: “God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser.” (3:6). God in sy totaliteit is betrokke by die innerlike vernuwing van haatlikheid na liefde wat in ons gebeur, en wat ons laat herleef het. Let op dit alles God se gawe aan ons is. Hy is die instrument van verandering, soos dit in die volgende vers uitgespel word.
Paulus gebruik hier die frase “bath of regeneration” (loutrou paliggenesias) en “renewal (anakainooseoos) by the Holy Spirit” om die hernuwing te beskrywe. Ek gebruik doelbewus die Engelse vertaling, omdat die woord paliggenesias baie keer in Afrikaans met wedergeboorte weergegee word, soos in beide die 1933 en 1983 Afrikaanse vertaling. Die woord dui egter nie op iets wat weer gebeur nie, maar op iets wat herstel word, of getransformeer word, soos ‘n nuwe tak wat by ‘n afgesnyde stomp weer uitgroei. Dit moet dus eerder met iets soos die “bad van hergenerasie/herstel/hernuwing/herlewing” vertaal word.
Doop
Die woord bad (loutrou)in vers 5 word meesal met die doop in verband gebring. Indien dit die geval is, dui dit op die eenmalige doop in die Naam van die Drie-enige God en die volgende frase op die voortgaande heiligmakende werk van die Heilige Gees onder die heerskappy van die Here Jesus Christus. Die doop is in die hande van God ‘n kragtige instrument tot verandering en herlewing!
Dit is ook hoe die woord in Ef 5:26 gebruik word, waar die waterdoop beskou word as deel van die reinigende werk van die Here Jesus Christus in die lewe van die kerk “deur die bad met water (loutrou hudatos) in die woord (rêma)” (vgl ook 1 Kor. 6:11). Die meeste geleerdes bring hierdie verwysing ook met die doop in verband, en verbind die “woord” met óf die evangelie self, óf die doopsformulier “in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees”.
Herlewing
Let op dat Paulus hier ‘n ander woord vir herlewing (soos dit hier vertaal is wedergeboorte) as wat Johannes gebruik. Hy praat nie van ‘n geboorte (gennaoo) soos Johannes nie, maar van ‘n generatiewe proses, ‘n herlewing (paliggenesias). Johannes praat natuurlik ook van ‘n geboorte van bo-af (gennêthê anoothen) dws ‘n geboorte van God af, wat Nikodemus verkeerdelik verstaan as opnuut en wat Jesus dan korrigeer. Jesus praat in Johannes dus eintlik nie van ‘n wedergeboorte nie, maar van ‘n geestelike geboorte. Lees meer daaroor in my hantering van Johannes 2:23–3:36 – As iemand nie van bo-af gebore word nie.
Interessant genoeg praat Paulus hier ook eerder die taal van Matteus wat die woord gebruik vir die herskepping van die hele skepping (Matt 19:28 – vgl ook Open 21:5). Hy pas dit egter hier toe op die herlewing of hernuwing wat in die lewe van die kerk en in die lewe van gelowiges gebeur. (Vgl ook Joh 1:12–13; 3:3–8; Jak 1:18; 1 Pet 1:3, 23; 1 Joh 3:9–10; 5:18 vir meer perspektiewe op hierdie belangrike aspek van die geestelike lewe.)
Paulus gebruik hier ook dieselfde woord vir herlewing of hernuwing as wat hy in die bekende Romeine 12:1-2 teks inspan, anakaninooseoos (Vgl ook soortgelyke gedagtes, hoewel dieselfde woord nie gebruik word nie, in 2 Kor 4:16; Kol 3:10; Heb 6:6). In Romeine is die fokus op die vernuwing van gedagtes en die impak wat dit op ‘n mens se hele lewe het in die onderskeiding van God se wil. In Titus is die fokus op die vernuwing of herlewing van die lewe as sodanig, moontlik binne konteks meer verbind aan die doen van goeie werke, soos Paulus in vers 8 sê:”sodat dié wat tot geloof in God gekom het, hulle op goeie werk kan toelê, werk wat goed en nuttig is vir die mense”.
Hierdie verlossing gee aan ons ‘n besondere toekoms, soos Peterson vers 7 in The Message vertaal: “And there’s more life to come – an eternity of life! You can count on this.” Let op dat hy nie soseer praat van die langdurigheid van die ewige lewe nie, maar van die oorvloed wat vir ewig op ons wag, en waaraan ons trouens al reeds deel het.
Vers 9-11 – Hou op met dwase strydvrae
In die lig daarvan sê Paulus, moet die gemeentelede hulle nie ophou met dwase strydvrae en geslagsregisters en ‘n getwis oor die wet van Moses nie, want dit is nutteloos en sinneloos. En met mense wat hierin volhard en steeds skeuring in die gemeente veroorsaak, moet hulle niks te doene hê nie.
Vers 12-15 – Laaste opdragte
Paulus vervolg met ‘n paar persoonlike opdragte aan Titus. Hy belowe hulp aan Titus in die persoon van óf Artemas (ons weet nie enigiets meer van hom nie) of Tigikus (medewerker in Efese – 2 Tim 4:12 – op wie Paulus baie peil getrek het – Hand 20:4; Kol 4:7; Ef 6:21 – en ook die gevangenskap briewe afgelewer het saam met Onesimus), en wil graag hê dat Titus by hom aansluit in Masedonië, by die hawe in Nikopolis. Hy vra ook hulp vir ander bedienaars, Sena, ‘n regsgeleerde (verder onbekend), en Apollos (van Alexandrië in Egipte), waarskynlik dieselfde een wat in Efese (Hand 18:24-28) en Korinte (1 Kor 1:12) groot werk gedoen het, om hulle reis via Kreta te kan voortsit. Ons weet nie presies waarheen nie.
Paulus sluit af met ‘n verdere opdrag aan die gemeente oor eerlike werk om in hulle eie behoeftes te kan voorsien, en wat sal sorg dat hulle nie geestelik onvrugbaar sal wees nie.
View all posts in this series
- Paulus se gevangeniskap – en pastorale briewe – Bybelskool vanaf 12 Januarie 2012 - Dec 9, 2011
- Titus - Feb 21, 2012
- Titus 1:1-16 – Gesonde geloof
- Titus 2:1-15 – Gesonde leer - Feb 22, 2012
- Titus 3:1-15 – Gesonde lewe - Feb 23, 2012